Die ou Volksraadsaal: Gister se debatte en vandag se tragedies

Roets en Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte en antikorrupsie-eenheid.

Die ou Volksraadsaal by die Suid-Afrikaanse parlement het tot en met die nuwe bedeling in 1994 as vergaderplek van Suid-Afrika se volksraad gedien. Die mure en bankies in die ou saal was oor die jare getuie van vurige debatte – tussen NATTE en SAPPE, NP’s en KP’s.

Die lokaal het baie verander oor die jare. Voor 1961 was die feit dat Suid-Afrika onder Britse bewind val, baie sigbaar – iets wat ná Republiekwording vinnig verander het. In die Verwoerd-gedenkversameling in Orania hang twee foto’s wat dié twee eras van ons geskiedenis duidelik uitbeeld. Die twee foto’s is enkele maande uit mekaar geneem. In die foto wat voor 31 Mei 1961 geneem is, pryk die Britse koninklikes op reuseportrette in die agtergrond. Op die een wat daarna geneem is, skitter die Britte in hul afwesigheid.

Dit is in daardie raadsaal wat die destydse Britse eerste minister, Harold MacMillan Suid-Afrika se politieke beleid uitgedaag het. Dit is in daardie raadsaal wat daar gesprekke oor die moontlikheid van oorlog gevoer is en dit is ook daar wat Volksraadslede hul uiteenlopende standpunte gelug het oor die skote wat op ons land se grense klap. Dit was ook in daardie raadsaal wat dr. HF Verwoerd net meer as 52 jaar gelede deur die bode Demetrios Tsafendas vermoor is.

Ná 1994 was die lokaal nie meer groot genoeg om al die verkose verteenwoordigers te akkommodeer nie en moes ʼn groter vergaderplek gebou word. Die nasionale vergadering huisves tans die parlementsitting van die 400 parlementslede van oor die land. Die ou Volksraadsaal dien tans as vergaderplek vir komitees.

Die afgelope week was die ou Volksraadsaal weer ’n plek van omstredenheid. Verskeie belanghebbendes is genooi om die ad hoc-komitee wat die ondersoek lei na die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet toe te spreek.

Presies 52 jaar ná die moord op Verwoerd, neem die adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, sy plek in – enkele treë van waar die moord plaasgevind het. Hy draai nie doekies om nie en sê in geen onduidelike terme wat ʼn onreg ’n beleid van onteiening sonder vergoeding sal wees.

Roets voer verder aan dat daar meer sinvolle stappe is wat gedoen kan word om grondhervorming op ’n gesonde wyse te bewerkstellig. Dit sluit die volgende in:

  • Die erkenning van eiendomsreg as vertrekpunt;
  • Die doeltreffende bekamping van korrupsie, in besonder korrupsie wat met grondhervorming gepaard gaan;
  • Restitusie wat op ’n feitelike en bewysbare perspektief op die verlede geskoei is; en
  • Die uitreik van titelaktes aan miljoene lede van die publiek wat op staatsgrond woon.

Die reaksie van die ANC en die EFF was te wagte gewees. Die nuutste tragedie wat hom egter op die historiese dag van 6 September in daardie raadsaal afgespeel het, was die reaksie van opposisiepartye. Steve Swart van die ACDP en Glynnis Breytenbach van die DA het teen AfriForum te velde getrek en hulle van AfriForum se voorlegging gedistansieer. Nie een opposisieparty het vir die grootste verteenwoordiger van Afrikanerbelange in die bresse getree nie.

Opposisiepartye sal moet besluit of dit wys is om ’n aggressiewe bedreiging op eiendomsreg met politieke korrektheid te bestry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

koos1 ·

Wat my ook op geval het is dat die VF+ ook met ‘n mond vol tande gesit het! Geen woord van hulle kant af is gehoor nie.
Is stilswye ook ‘n antwoord of hulle hulle ‘n troefkaart in die mou?

Tikkel tokkel ·

Die VF+ het hul eie agenda en slegs hulle weet wat dit is. Let maar op hoe vermy hulle enige gesprek of kommentaar wat met selfbeskikking te doen het.

Hendrik ·

Stil bly is ook ‘n antwoord en net so is geen stem tydens ook ‘n verkiesing ook .

Boerboel ·

Die partye was slegs veronderstel om vrae vir Afriforum te vra. Die VF Plus kon nie net inspring nie.

Jerry ·

Almal weet teen die tyd dat die forum binnelands n onversetlike en ondermynende standpunt benadering volg en vyande maak ten einde stukrag te verleen aan hulle minderheidsgroep agenda vir buitelandse steun en simpatie. Vir die skrywer om verras te wees oor die politieke korrektheid van opposisie partye en dit te veroordeel grens aan absurd! As die forum of enige Suid Afrikaner regtig verbaas is wys dit maar net in watse babbel hulle hulself bevind. Die forum benadering en optredes regverdig muishondstatus!

ZAR ·

Ou Jerry. Staaf asb jou woorde met bewyse, hoe kan feite en waarheid ondermynend wees? Dis waar dat hulle onversetlik is, gelukkig, want die afrikaners met die rubber arms het genoeg skade aangerig. Dis snaaks hoe jy sê dat die veroordeling van politieke korrektheid absurd is.. wanneer dit eintlik absurd is dat daar mense is wat dit nie veroordeel nie. Moenie sleg goed noem en goed sleg nie Jerry. Politieke korrektheid het sy dae gehad, dis nou waarheid se beurt.

Kryger ·

@ Jerry. ‘n Forum is ‘n vergadering waar verskillende opinies gelig word oor ‘n sekere kwessie.
Se jy dus dat hierdie vergadering vyande maak en regverdig muishond status?
Die ANC het dekades gelede buitelandse steun en simpatie gewerf, ek kan nie eintlik sien hoe dit hier ter sprake is nie.
Jou opinie hier maak geen sin nie, kan jy dalk probeer verduidelik wat jy bedoel?

Patrick McCabe ·

It is shocking to see that the beleagred white population (Afrikaans and English) are being so naive to believe anything “verbally” from the ANC, have there not been enough lessons learnt since 1994..? What makes anyone believe the ANC at this time, especially as the 2019 elections will obviously prove to be pivotal to any transparent non-corrupt South African sustainable governance!

Vliegende Struisvogel ·

BURGEROORLOG is waarmee die ANC/EFF gedreig het na die presentatie van Afriforum. BLF het letterlik ‘n volksmoord aangekondig.
Die enige oplossing, myns insiens, is 2x eie geconsolideerde mini volksrepublieke, so groot soos Swaziland. Ons enige obstakel na vryheid: mense met vour en kinders op skool, en werkgeleentheid. Die voorttrekkers het hul huis op wiele gehad. Ons mense het caravans en 4×4 Hilux Raiders..

Casper Labuschagne ·

@Leon, nooit is ‘n baie lang tyd. Ek was self al briesend gewees oor voorvalle toe die VF+ rustig gesit het en hulself besadig parlementêr gedra het toe hulle namens ons volk met hand en tand moes teruggeveg het. Maar kyk eerstens na wie die FV+ verteenwoordiger daar was en tweedens, soek gerus op YouTube na videos waar Pieter Groenewald asook Anton Alberts wel met hand en tand terugveg teen die oorheersing deur die meerderheid waaraan ons volk nou onderwerp word. Nee, ek dink eerder ons moet aandring dat die VF+ huis skoonmaak en van die ou hout wat daar in die parlement ronddryf ontslae raak.

ZAR ·

Onthou asb mense dat daar net kans gegun is vir mense wat besware gehad het téén Afriforum se voorlegging. Dis hoekom VF+ niks gesê het nie, hulle het geen besware gehad nie.
VF+ sal hul standpunte duidelik maak tydens die vrae-en-antwoord sessie. Hou maar dop.

Hans ·

Die DA en ACDP is maar anc-lite so ek steur my nie veel aan hulle woordvoerderz se kommentaar nie. Die anc sal nie n nasionale orde aan hul toeken vir politiek korrekte uitsprake nie.

Boerboel ·

Vir die mense wat wonder hoekom die VF Plus nie vir Afriforum opgekom het nie, dit is omdat die partye was veronderstel om net vrae te vra vir Afriforum. Dit was nie ‘n debat nie en die VF Plus kon nie net inspring nie.

Gerhard ·

Daar is ook ‘n ander kant van wat hier bespreek word. So bv. kan ek nie verstaan waarom Afriforum en Solidariteit nie openlik die enigste party wat vir Afrikaner regte in die parlement veg ondersteun nie en ook hulle eie ondersteuners aanmoedig om vir die VF+ te stem nie. Miskien is dit tyd vir nadere samewerking oor die saak sodat die groepe mekaar meer kan help in die sake waaroor hulle in elk geval saamstem.

Hello ·

Die parlementslede distansieer hulself van Afri-Forum se voorlegging en politieke inkorrektheid omrede hulle nie agter die kap van die byl kan kom vir wat die eintlike motief is wat agter die bravade van Ernie Roets skuil nie. Dit is egter nou nie meer n geheim nie dat die motief is om almal en alles, selfs mede Afrikaners te blameer, in die eerste plek vir Afri-Forum se doelbewuste en onbewuste mislukkings (beskerming van Afrikaner belange soos taal in die breer Suid Afrikaanse gemeenskap) en tweedens strek dit, die forum tot voordeel, deurdat Afrikaners vervreem word van die breer Suid Afrikaanse gemeenskap en sodanig gedwing word om van slegs Afri-Forum en Solidariteit instansies gebruik te maak. Eenheid van Afrikaners word dus geskep deur misleiding en onder dwang.

Casper Labuschagne ·

Afriforum het ‘n kwart miljoen betalende lede en verteenwoordig sekerlik nagenoeg ‘n miljoen mense wat hoofsaaklik Afrikaners is, aangesien min huishoudings meer as een betalende lid van Afriforum sal hê. Afriforum het alle reg om die uitgangspunt en die belange van daardie belangegroep te stel. Dat daardie uitgangspunt klaarblyklik ‘n felle reaksie vanaf die meerderheidsgroep tot gevolg het, verander hoegenaamd niks aan die korrektheid asook regverdigbaarheid van Afriforum se standpunte nie.

Gert ·

Baie Afrikaners haat hulleself en daarom hulle eie volk, hulle is dus erg gekant teen Afriforum en VF+ vir die fantastiese werk wat hulle doen om Afrikanerbelange te beskerm en bevorder.

Jerry ·

Jy is n expert wanpersepsie skepper, ja jy ou Gert, maar terwyl jy so van haat praat sal ek jou n brief in breil gee dat die Afrikaners die forum leiers met n passie gaan haat wanneer hulle uitvind dat die forum leiers hulle mislei het en vanaf die wal tot in die sloot gelei het! Lekker uitgesluit en geisoleerd sit almal op die eiland van selfbeskikking en die eerste keer toe dit hooggety raak toe is die eiland weg!

Ben ·

‘n “Jammer dat ek lewe” houding het nog nooit respek afgedwing nie. As jy ‘n muis is, sal jy ‘n muis baar. Die gat waarin sommige ,soos hier bo, wil kruip, is klaar vol. Na die ‘swart maandag’ optog het die minister van verdediging al gedreig met ‘n bugeroorlog. Die waarheid is soms ongemaklik.

Gerhard ·

Dit is reeds waarom die Kaders onverstoord aangaan met hul revolusie, niemand kla nie.

John ·

‘n Saak wat nog min aandag gekry het, is wat gaan die ANC met die huidige werkers op boereplase doen na hulle die grond aan hul ‘bekwame’ keuses gegee het. Die huidige plaaspersoneel sal nimmer as te nooit ewe gedwee vir vreemdes werk wat ook nog minder as hulle weet nie en dan ook nog vir ander salarisse en voordele. Dit is ‘n klein atoombommetjie wat gaan ontplof. En sou die werkers die plaas kry, sal daar groot baklei wees oor wie ‘baas’ sal speel. CR gaan klop by Xi aan vir raad maar die oom weet niks van ons boeregemeenskap en die knusse gemeenskapslewe nie. As Zuma nie vir CR nagmerries gee nie kan hy hom klaar maak vir ‘n hele paar ander.

Jerry ·

John, wat jy reken as n nagmerrie en klein tydbom is nie noodwendig so vir CR nie. Wat goed is volgens ons en vir ons is sleg volgens hulle en vir hulle. Jou verlies bly hulle aanwins, al lei dit later tot niks of onmin of wat ookal. Dit bly jou verlies, nie hulle sn nie en dit is waaroor dit gaan. Hy het niks nie en dit wat hy nou kry is oor n paar jaar weer niks nie, maar die punt is jy het ook niks nie. Dit wat jou ontstel, ontstel hulle nie, dit verbly hulle en visa versa! Daarom moet ons op onsself fokus, ons moet ons strategie aanpas, ons moet ons lewenswyse aanpas, ons oorlewing bepaal leef en laat leef vir ons nageslagte. Hulle het Afrika tyd om te doen wat hulle moet, maar ons het nie, ons tyd raak min om te doen wat ons moet doen. Ons moet minder met lede se bydraes gaan vakansie hou hier en oorsee en eerder voltyds skouer aan die wiel sit.

Kobus ·

Jerry;
1) Ondermynende standpunt, so jy gaan al jou bates sonder vergoeding oorhandig?
2) Vyande maak? Is die EFF en ANC met die grondgryp sonder vergoeding nie alreeds vyandig nie?
3) Politieke korrektheid van opposisie partye? Deur grondgryp sonder vergoeding te ondersteun?
4) Verbaas? Gladnie, hierdie is maar nog net die punt van die ysberg.
Jerry is ek verkeerd as ek aanneem die reënboognasie is vir jou die beste ding na gesnyde brood?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.