Die pad graf toe vir Afrikaanse koerante lyk geteer

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Org Potgieter

Die skrif is aan die muur vir die gedrukte media in Suid-Afrika. Die Engelse koerante het dalk nog die kapitaal en die wil om voort te steier, maar dit lyk maar donkernag vir die vier Afrikaanse koerante. Die vraag is nou watter een eerste deur die direksie van Naspers gesluit gaan word.

Van ʼn hoogtepunt in die jare 70 – toe daar vyf Afrikaanse koerante aan die Rand was – is daar vandag net Beeld, en sy sirkulasie val jaarliks soos ʼn klip. Volgens die jongste ABC-sirkulasiesyfers (die bedryf se bybel) verkoop Beeld nou gemiddeld 48 647 koerante op weekdae. Dit is gemiddeld 11 000 minder per dag as ʼn jaar gelede en 52% minder as ʼn dekade gelede, toe daar meer as 102 000 kopers per dag was.

Met die ander Naspers-titels gaan dit nie beter nie. Die Burger (Wes en Oos, 52 973) is 52% laer as in 2005. Volksblad – die land se oudste Afrikaanse dagblad (gestig in 1904) is die een wat die grootste gevaar loop om gesluit te word. Hy verkoop maar 17 000 eksemplare, 40% minder as ʼn dekade gelede.

Dit gaan ook nie veel beter in die Engelse mark nie. Die magtige Sunday Times het die afgelope vyf jaar 162 000 kopers ingeboet en sy sirkulasie is op ʼn allerlaagtepunt van 338 000 verkope.

In die Wes-Kaap, waar ʼn kwaai stryd tussen die regerende DA en die ANC heers, oorleef die Cape Argus en die Cape Times (albei 30 000) danksy die kapitaal van die Sekonjala-groep van Iqbal Survé. Dit wil voorkom of die eens gerespekteerde Cape Times deesdae net ʼn propagandamondstuk vir die ANC is. ʼn Dekade of twee gelede was die Cape Argus se sirkulasie net oor die 100 000.

Maar in die Afrikaanse mark is die koerant wat die swaarste ly Rapport. Dié Sondagkoerant het oor die laaste dekade 55% van sy verkope ingeboet en staan nou op 143 000 – 20 000 minder as net ʼn jaar gelede. Tien jaar gelede was die syfer nog 325 000.

Soos iemand al gesê het: “In die ou dae het die dagblaaie Rapport se onthullings opgevolg, deesdae volg Rapport Huisgenoot se berigte op.”

Dit is so anders as in die 1970’s, toe die nuutgestigte Sondagkoerant Die Beeld (wat later Rapport geword het) met Willem Wepener aan die stuur meer as ʼn halfmiljoen lesers – die predikante se afkeur ten spyt! – ná kerk gelok en die magtige Sunday Times met sy groot aantal swart lesers en al verbygesteek het.

Dit was die goue jare van die Afrikaanse koerant, maar het ook met ʼn groot magstryd tussen Naspers en Perskor gepaard gegaan. Voor die koms van die dagblad Beeld in Transvaal het Perskor wal gegooi en naas sy Die Transvaler en Vaderland ook Oggendblad en Hoofstad in die lewe geroep met ʼn aanloklike aanbod aan adverteerders: Koop een advertensie en dit verskyn in vier koerante!

Dit was ʼn uitmergelende stryd tussen die persreuse van die tyd en is uiteindelik deur Naspers gewen nadat Perskor se kullery met sirkulasiesyfers ontbloot is en hy verbied is om oggendkoerante te verkoop.

Daarna het sy twee oorblywende middagkoerante saamgesmelt voordat hulle weens groot verliese gesluit is. Perskor is ook gedwing om The Citizen (wat midde-in die Inligtingskandaal gestaan het omdat hy met regeringsgeld gestig is) aan Caxton-uitgewers te verkoop.

ʼn Mindere maar belangrike rede was dat die Perskor-koerante se joernalistieke vaardighede te wyd versprei moes word en hulle baie aan gehalte ingeboet het.

Die stryd in die naweekmark het ewe fel gewoed. Eers moes Perskor se Landstem en Dagbreek en Sondagnuus saamsmelt teen die kompetisie van die Sondagkoerant Die Beeld. Al drie het later as Rapport saamgesmelt en die Argus-groep se Sondagstem moes sluit.

Die groot rede vir die agteruitgang van die gedrukte koerant – wêreldwyd moes talle ikoniese publikasies al sluit, is natuurlik die koms van die internet en sy versnelling in die nuwe millennium.

Wat die Afrikaanse koerant betref is daar ook ander redes. Die direksie van Naspers se besluit dat hy nie koerante om nostalgiese redes gaan subsidieer nie – ondanks die miljarde rande se wins wat hy in China maak – het gelei tot ʼn groot afname in gehalte.

Om te bespaar is daar nou min ervare redaksielede en ʼn yslike omset van goedkoper, maar swak opgeleide joernaliste. Die besnoeiings beteken ook daar is minder redigeerders en min sprake van ondersoekende joernalistiek. Die Burger het nie meer gespesialiseerde joernaliste soos ʼn stadsverslaggewer nie, sy hoofredaksie is van sewe tot drie ingekort en daar is lankal nie meer plattelandse korrespondente nie.

Ironies genoeg vind dieselfde besparings op gehalte weerklank in die gehalte van Naspers se nuuswerf Netwerk24.

Die vermaarde Piet Cillié se reaksie in ʼn jaar toe Die Burger wel ʼn wins getoon het, sê baie: “Gmf! Ons is nie hier om ʼn wins te maak nie. Ons is hier om ʼn goeie produk te lewer.”

As ʼn redakteur dit vandag sê, sal die boontjietellers natuurlik rol van die lag….

Die Afrikaanse koerant voer ook nie meer die stryd vir sy tradisionele lesers nie – anders as in die dae toe hy die politiek van die Konserwatiewe Party en later ook die HNP en die AWB verguis het.

In sy poging om te transformeer is baie lesers vervreem en het Beeld veral weens sy beriggewing en standpuntinname oor die Puk se sogenaamde “Hitler-saluut” groot sirkulasieskade met openlike boikotte gely.

Die Burger het sy eie graf vinniger help grawe met die afskaffing van sy perdeblad en die stigting van die poniekoerant Son, met ʼn omslagprys van R2 en gemik op bruin lesers (sirkulasie 80 000, wat 35 000 minder is as vyf jaar gelede). Vandag – in sy 100ste jaar – is 56% van Die Burger se kopers bruin, wat die koerant ook tot ander benaderings gedwing het.  

Die meer onlangse oordadige voetewassery van Naspers oor sy destydse steun vir apartheid het ook nie goed by sy tradisionele lesers afgegaan nie – veral nie die lesers wat die beleid deels ook in sy tydsgees beoordeel nie.

Naspers se terughoudende rapportering oor die aksies van AfriForum en Solidariteit en die lou standpuntinname oor die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch dra by om sy lesers verder te vervreem.

Die Afrikaanse koerant het sy stem en die steun van baie voormalige lesers verloor, nie net weens die internet nie.

Redakteurs het gekom en gegaan, in die meeste gevalle van swak tot swakker. Die dae van die Piet Cillié’s, Willem Wepeners en Schalk Pienaars en groot leserstalle sal nie weer aanbreek nie. Die Afrikaanse koerante se grootste verkope is in die groep 50 jaar en ouer (40%) en daal tot so laag as 10% (Die Burger) vir die groep 15-24 jaar.

  • Maroela Media (gestig in 2011) is vandag die grootste gratis Afrikaanse portaal met 638 000 unieke besoekers (Bron: Effective Measure, Oktober 2015). Netwerk24, waar jy R99 per maand betaal, het 1 500 000. Maroela Media word gevolg deur Huisgenoot (604 000), Son (278 000) en Sarie (201 000).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

47 Kommentare

Kenpachi ·

Maar waarmee moet ek dan my papegaaie se hokke uitvoer?

Cathy Kotze ·

Mense is ontnugter met Nuus24 se koerante. Hulle het heeltemal vergeet wie werklik hulle produk koop en besluit om die ANC se Afrikaanse vennoot in “transformasie” te word.

Afrikaners se Christenskap is pal in die spervuur. Daar word gedurig fout gevind met al die Afrikaanse kerke, terwyl agnostici se oortuigings geloof word.

Kontroversiële kommentators – ongeag hoe ongewild hulle uitkyk is, se artikels word gereeld gepubliseer. Hierdie mense konsentreer steeds op die sogenaamde “nalatenskap van apartheid.” Hulle is redelik lou oor huidige regerinsvergrype, of dig dit toe aan die sg verdrukking van ander deur Afrikaners.

Dis mense soos Max du Preez, Christi van der Westhuizen, Adriaan Basson, Abel Pienaar, Piet Croucamp, ens wat Afrikaanse lesers totaal vervreem.

Anon* ·

Sjoe! Dis nogal skrikwekkend! Maroela dankie dat ons gratis nuus kan lees. Julle is tops!! Hou so aan ;-)

martin ·

Ai, en koerante maak die beste motorvensters skoon. Wat gaan ek maak!!!! :-)

Hendrik ·

As jy jou eie lesers verag, moet jy nie ‘n ander uitkoms verwag nie. Lank lewe Maroela!

Karolis ·

O genade, wat gaan gebeur met die emmerstelsel en die puthuisies?

Johann Marx ·

Tyd vir ‘n EG AFRIKAANSE KOERANT…..deur Afrikaanses, vir Afrikaanses, met Afrikaanses van bo tot onder. ‘n Koerant wat onomwonde die waarheid publiseer soos dit daar is, nie bang is om op tone te trap nie, en OPVOLG artikels doen sodat die lesers kan weet wat gebeur. Daar is niks so goed soos “vars nuus” oor “ou nuus” nie………..maar hedendaagse koerante publiseer meesal swak en onjuiste sogenaamde feite…en dan hoor jy niks weer van ‘n storie nie. Waarom sal ek dit koop en lees?

Magda v Z ·

Ek stem saam. Hulle publiseer net wat die ANC wil hoor. Ek was n getroue leser van die Burger vanaf ek die eerste keer op 3 jarige ouderdom vir my n Burger gekoop het met die tiekie wat my pa my gegee het. Nou gebruik ek die koerante om my honde se piepie op te vang. Maroela is tops ek kan soggens nie wag om die Maroela nuus te lees nie. Dankie Maroela

Johann Marx ·

En o ja………….hou ‘n hele bladsy uit in elke uitgawe om ons te herrinner aan die ware geskiedenis van Suid Afrika. Teveel mense is verdwaal want hulle weet nie waar hulle vandaan kom nie…

Christo Hattingh ·

Ek kyk na my motortydskrifte e n besef dat WIEL al lankal gesluit het.

Ian ·

Ek is so bly ons boikot is besig om vrugte af te werp. Maroela bo!

Louw Boepens ·

Die dag toe Adriaan Basson as Beeld se redakteur aangestel is het ek geweet dat ek die koerant nie meer vir lank gaan koop nie.Die dag begin verlede jaar toe beeld die Puk verguis het met sy berigte oor die sogenaamde Nazi saluut was dit die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.Van daardie dag af het ek nooit weer Beeld gekoop of gelees as dit perdalks in `n toilet rond gele het nie.Ek lees nou net Maroela se berigte aanlyn en dit is genoeg vir my.Beeld het volksvreemd geword!Maak hom toe!

Nestus Venter ·

Dieselfde hier, na die hantering van die PUK het ons nog nie weer ‘n Beeld gekoop nie.

Gideon ·

Maroela julle is die beste- ek beveel julle aan so vêr as wat ek gaan!!
Beeld, julle het gevra om gesluit te word!! Ek voel vir julle nie ‘n duit nie!! Julle is soos ‘n slegte stiefma, het ons wat julle ondersteun het, swak behandel!!
Ek kry die idee dat RSG Maroela Media gebruik om bulletins op te stel, want ek lees dit op Maroela en dan later hoor ek dit eers op RSG.

Gideon Jones ·

Beeld, Rapport, Media 24, is behep met die tirades van selfaangestelde, voorskriftelike woordesmouse wat daagliks perdekuttels as vye verkoop. Moenie dink die engelssprekende heersers en elite gaan hulle dieselfde behandel wanneer die Afrikaanse koerantwese tot ‘n einde kom nie.

Marita Marais ·

Bly ons kan in die skadu van Maroela ons Afrikaanse nuus geniet. ‘n Plek waar ‘n mens kan TUIS voel.

Hannes ·

Ek moet saam stem dat die Beeld nie juis pro afrikaans is nie en dat dit sy lesers vervreem met sy oordrewe politieke korrekte sienings.

Bv. gister oggend se Beeld opskrif gee voor dat Stellenbosch se akademi steun die afskaffing van afrikaans. As jy na die getalle kyk is dit net sowat 10% van hulle wat dit steun.

Dee ·

Maroela Media met 638000 lesers! En ek het gedink dit is net ons groepie van 10 wat gereeld saam gesels en saam skinder in die Maroela Forum! Netjies Maroela, julle is waardig! Org Potgieter sê met reg: ‘Die Afrikaanse koerant het sy stem en die steun van baie Afrikaanse lesers verloor, nie net weens die Internet nie’. Dìt is ‘n groot waarheid. Maroela Media het die muntstuk omgedraai want dinge word reg gedoen.

Flip van der Steen ·

In 2005 het die Rapport redakteur vir my gese dat mense wat hier in ons kontrei dood is omdat daar nie ambulanse beskikbaar was nie is te local, was die laaste strooi. Dit was die laaste Rapport wat ek gekoop het. Die Volksblad lewer per dag so tussen 3 en 5 artikels op oor die NoordKaap. Dit dien dus geen doel om die koerant op Upington te koop nie. Daar is selde nuus in oor ons kontrei. Poletieke nuus word ook baie skraps geplaas. Dit lyk ook vir my of dit eers deur ‘n baie spesifieke bril bekyk word voor dit geplaas word. Ek dink ‘n groot deel van die koerante se ellende is deur hulle self geskep.

Gerhard Burger ·

Met ‘n verskil hier en daar, stem ek saam met meeste van die kommentare – en veral met Org se artikel. Oor Beeld kan ek my nie te veel uitlaat nie, behalwe om te noem dat Adriaan Basson se aanstelling daardie tyd as redakteur ‘n reuse oordeelsfout was. Sy aanstellers en hy het die gewone lesers van die koerant verkeerd beoordeel en benader. Beeld kan nooit die plek van die Vrye Weekblad inneem nie. Dit was gedoem tot mislukking. Oor Rapport: wel, ek is van mening dat Waldimar Pelser ‘n goeie keuse was. Indien sy insigte, lyftaal, benadering en algemene argumentasie, soos dit in die program ‘Insig’ op kyknet my gewoonlik tref, in die koerant neerslag vind, behoort Rapport tog veilig te wees. Ek dink Waldimar moet gaan nadink oor die koerant se benadering. Natuurlik is die verwagting nie dat dit koerant allerhande Afrikaner enklaves moet goedskryf nie, ook nie dat Afrikaanssprekendes tot die hemele verhoog moet word nie. Maar, Afrikaanssprekendes wil ook nie voortdurend net onderworpe wees aan verkwaliking van en verguising as gevolg van die verlede nie. Afrikaanssprekendes wat met die regering verskil en op swakheid in ons land weens die regering wat nie kan regeer nie wys, wil ook nie voortdurend in ‘n posisie van redaksionele verwyt geplaas word nie. Dit opsigself is nie net ‘n mistasting van die historiese feite nie, maar ‘n oorvereenvoudiging daarvan. Soos in hierdie kommentaar bedoel word, gaan dalende verkope natuurlik nie net oor elektroniese nuus ens nie. Natuurlik het die ‘harde’ koerant steeds ‘n plek. Maar, in die jare wat ek Rapport ontdek het was Izak de Villiers die redakteur en ondersoekende joernaliste soos de Wet Potgieter het gereeld die koerant se voorblaaie gehaal. Daar kan verwyte van regeringsondersteuning wees, maar die beginsel van koerant-bedryf is waarheen ek mik. de Wet het ook gewys dat hy nie op die NP-trein vasgehak was nie. Soos iemand hierbo opgemerk het – die ‘scoops’ as gevolg van goeie, volgehoue en behoorlike joernalistiek gevolg. In hierdie opsig slaag Rapport relatief goed daarin. Sonder om gewoon die politiek korrekte standpunt in te neem teenoor die weergee van ‘n meer behoorlike en gebalanseerde wyse van nuusdekking, is Rapport na my mening op die pad. Ek hoop net dat Rapport ten aansien van dit wat tans aan die Stellenbosse Universiteit aan’t gebeure is in ‘n behoorlik gebalanseerde standpunt teenoor die meerderheid van sy sprekers sal weergee. Ook in hierdie opsig het Rapport nog nie die weg van Die Burger ingeslaan nie. Ek sal dus op hierdie stadium voortgaan om Rapport te koop. Wat Beeld betref, die volgende: weens my woonadres koop ek nie die koerant nie. Julle daar Noord, kan wel. Of julle moet voortgaan, dit weet ek nie. Die kere wat ek wel die Noorde besoek het en Beeld sedert Basson se kapperjolle gekoop het, het ek ‘n punt bereik waar ek ‘n misdadiger (polities – en sommer gewoon omdat ek ‘n Afrikaner is) in my eie land – let wel, begin gevoel het. Terwyl Basson selfvoldaan was. Wel, minstens het hy so voorgekom. Soos met die onlangse gesprek daar in die Noorde oor waar die Afrikaners kwansuis ‘in- of uitpas’. Klaarblyklik is hulle op geen plek ‘in’ nie. Ook nie eers meer op Stellenbosch nie. Of julle in die Noorde die Beeld nog moet of kan koop? Nou ja. Die antwoord hierop is die volgende: in aanloop tot die 1994-verkiesings was Pik Botha en Thabo Mbeki op tv in ‘n onderhoud/debat betrokke. Toe die ouderhoudvoerder aankondig dat elkeen ‘n laaste woord kan spreek, het die twee deelnemers dit gedoen. Thabo het die gewone ANC-oproepe tot wat ookal gedoen. Pik daarenteen, of jy nou van die man gehou het of nie, was sy ou skerp en het die volgende kwytgeraak: ‘baie dankie aan die ondersteuners van die Nasionale Party wat julle ondersteuning vanaand hier kom wys het. Julle moet asseblief veilig huistoe ry. Aan die ondersteuners van die ANC – nou ja, wie is ek om vir julle te se hoe om te ry!’ Tot Thabo moes voor die humor buig. In die lig hiervan, wie is ek om vir die gereelde kopers van Beeld voor te skryf wat om te doen. Nou, die arme Die Burger! Foeitog! Die ou bejaarde in die stal van Media 24. Vandag se berigte in Die Burger bevestig weereens dat Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch hulle nie ‘n bloue duit skeel nie. In verhouding tot die artikel van Leopold Scholtz voel dit of hulle ‘blaaie’ vol teen-Afrikaanse beriggewing voorrang laat kry. Met foto’s en al. Dit natuurlik bo en behalwe die algemeen uiters flou reaksie hieroor. ‘n Skokkende besef van DIE BURGER se standpunt/beskouing was egter die meeste sigbaar toe die redakteur toegelaat het dat Max du Preez sy artikel oor Afrikaans aan die US of nie, publiseer het. Toe ek die beriggewing hieroor dit sien het ek dadelik gedink aan Max du Preez, die ou media suurstofdief, se rubriek in Die Burger laas Saterdag (14/11). Dieselfde DIE BURGER wat met Afrikanergeld begin is en met Afrikaanse geld (nie-wit en wit) in stand gehou word (minstens moet word), PUBLISEER WYDLOPENDE ONWETENSKAPLIKE TEEN-AFRIKAANSE ARTIKELS VAN MAX – baseer op sy individuele kromgetrekte sentiment wat wat ookal mag wees. Maar, verseker dien dit nie die mense in wie se taal dit verskyn het nie, EN OOK NIE DIE BELANG VAN HULLE KOERANT NIE. OM EEN OF ANDER REDE IS DIT VREEMD WAAROM DIE BURGER VERSUIM OM HARD EN DUIDELIK STANDPUNT TEN GUNSTE VAN AFRIKAANS AS GELYKE TAAL AAN DIE UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH IN TE NEEM. ‘N STANDPUNT WAT OOR KLEURGRENSE SAL STREK, TERWYL DIT SOMMER OOK DIEGENE WAT DIE BURGER KOOP/WIL KOOP, SAL DIEN. Waarom? Dit is tog immers ‘n voor die handliggende roete wat DIE BURGER sou of behoort te volg. Hoe kan ‘n gereelde en gerespekteerde rubriekskrywer, soos Leopold Scholtz, asook die gevolgtrekking en aanbevelings van die Gerwel-ondersoek, ondersoeke oor hierdie onderwerp van regoor die aardbol – en les bes ons Grondwet, as prominente rolspelers wat op gegronde rede ten gunste van Afrikaans as gelyke vennoot op Stellenbosch is afgemaak word? Op grond van die Max se onwetenskaplike argumentspunte en DIE BURGER se jammerlike apatie. BOIKOT!? JA, EN GEREGVERDIG. EK HET VANDAG, TOT VERDERE KENNISGEWING, my laaste DIE BURGER gekoop. Bun kan maar wakker word. Pas Tim du Plessis nie ook iewers in hierdie maatskappy nie?

saarkie ·

Die dag toe Beeld meegehelp het om die Pukke af te bring het ek besluit: Beeldmustfall#!!

Bruno Stef ·

As oud Afdelings Bestuur Voorsitter van die Konserwatiewe Party is dit vir my n besondere gebeurtenis dat die beeld tot niet gaan.Die ouer geslag sal onthou van die verguising wat veral Willem de Klerk in sy voortvarendheid as redakteur van beeld met die verkiesings/referendums tot en met veral die onderhandelings by die “World Trade Centre” by Kemtonpark gehad het.As broer van FW de Klerk was hy besonder giftig saam met die Broederbond om te sorg dat ons in vandag se posisie sit en boonop is hy n stigterslid van die DP wat later verander is na die DA toe hulle saamgesmelt het met die NP. Daar is vele ander oud Ja-Broers wat verdwyn het maar ek let op dat sommige weer so skelm/skelm nader staan ons mense moet versigtig wees”Once bitten twice shy”

Patricia Hardman ·

Patricia Hardman
Wie is Org Potgieter? Ek sal n antwoord waardeer. Niemand werk verniet nie en niks is verniet nie… almal hierbo wat so negatief is, jy was nog nooit gedwing om Beeld of enige ander koerant te lees….

martin ·

Patricia, ek dink nie dit is dat hulle dit lees en negatief is nie. Die prentjie staan so. Dit is mense wat vir jare lank die koerant gelees het (ondersteun het). Soos die jare aangaan kom hulle agter dat die inhoud nie meer is soos voorheen nie. Hulle hou aan koop en lees. En op ‘n dag besluit hulle, dis nie meer die moeite werd nie. Dis hoekom getalle krimp.
Die groot ding ook is dat mense wil NOU weet as iets gebeur. Hulle wil nie môre oggend of vanaand dit hoor nie, en die Internet bied dit vir hulle.
Vir myself hou ek van die lees van ‘n koerant of tydskrif in gedrukte formaat.

Suné van Heerden ·

Dagsê Patricia

Dankie vir jou navraag. Org Potgieter was jare lank in die perswese en toe by die SAUK. Hy doen tans vryskutwerk met taalversorging en vertaling.
Die rubriek is as ‘n meningstuk op Maroela Media gepubliseer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Koos ·

Dankie Maroela! Ek vir een gaan ‘n helse partytjie gooi indien Beeld en Die Burger hul deure sluit. netwerk 24 skarrel rond soos afkop hoenders. Eers neem hulle kommentaar opsie weg ( natuurlik bang dat die lesers hulle twak openlik uitwys) en dan plaas hulle dit weer terug.

AmY ·

Ek lag lekker vir die kommentare. Maar ja, as jy buig voor die ANC, moet jy maar dié gevolge dra.

Toela Lambrechts ·

Grassie, terwyl jy jou ribbetjie braai en jou verlustig dat koerante sluit, dink asb. bietjie aan duisende gesinne (kontrakteurs) kantoorwerkers ens. wat dan sonder inkomste sit. Ekself ry die jaar al 20 jaar. Ek sal altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat my gegun word. Laat die son oor almal skyn soos God van ons verwag.

KG ·

Ek het baie langer as jy gery maar hoe die Kontrakteurs die laaste 2jr behandel is, laat veel te wense oor. Ek kan jou die lys gee maar wil nie in detail ingaan nie. Lojaliteit en lang diens het vir On the Dot geen waarde gehad

Rikus ·

Nee Org Potgieter , die grootste rede is nie die koms en versnelling van die internet nie…. As jy jou eie lesers verguis, verdag maak ,verkleineer en probeer indoktrineer met marxistiese witskuld propaganda – is dit net logies dat almal se oë eventueel sal oopgaan en jou sal “drop soos ‘n bad habit” Good riddance !

Adriaan ·

Die dag toe ek self my 4 daaglikse koerante moes begin koop het ek vir al 4 oorgeskakel elektronies toe, ek lees daagliks Duitse, Nederlandse en Engelse dagblaaie op die Net op my foon. So ja, elektronika het invloed uitgeoefen. Maar ook weer, die jeug lees nie koerant. In my skooldae moes jy koerant lees as deel van huiswerk vir Afrikaans, Gedkiedenis (hier is seker darem nog mense wat sal onthou wat dit was), Aardrykskunde, selfs Wiskunde. Nou kan die jeug nie meer lees nie maar hulle wil Universiteits opleiding hê, jy het lees en begripsvaardighede daarvoor nodig. Predikante sal nie meer sake uit koerante as voorbeeld kan neem nie want dis net so vreemd soos Bybektekste. O wee! Ons betree die nuwe Donker Eeue!

Lorraine ·

So weereens verloor Afrikaners en Blanke werkloosheid syfers styg

Piet Pompies ·

Die oplossing is om weg te beweeg van die politiek, SA koerante het nog altyd daardie slegte nasmaak gehad, fokus op oplossing. Tans lees ek die kort berig oor ‘n voorval in Beeld, volgende week volg dieselfde berig in Huisgenoot met so bietjie meer vleis aan. Alles net goedkoop telefoniese berig gewing met “copy and paste” inligting en foto’s. Ondersoekende berig gewing is wat ons nodig het, regte foto’s van die insident. Dit is nie vir my nuus dat 7de Laan se akteur gay is…. maar dit is vir my nuus as ‘n verslagewer vir dae ‘n grenspos beman en foto’s en feite bymekaar maak van korupte beamptes en hulle aan die pen laat ry, so ook dat die kruising van 11de Laan en 8ste Laan deur “smash and grab” getreiter word. Die verslagewer neem foto’s en bekom inligting en met sy hulp word die misdadigers gevang. Dit is mos verslag gewing en so ‘n koerant sal ‘n topverkoper word vir enige landsburger.

Louis ·

Die Beeld was maar niks anders as ‘n ou goedsesinde NP koerant gewees. Die NP het gesneuwel so ook is sy koerant besig om 6 voet onder te gaan.

Ludwig Visser ·

Ek was veertig jaar lank self redaksielid van Die Burger. Ek het gewerk in die dae toe die koerant nog met gesag gepraat het, sterk standpunt ingeneem het, en nie ‘n uitskot-werf geword het vir elke Jan Rap en sy Maat wat sy of haar politieke sieninge en beskuldigings aan ons probeer opdwing nie, Wie het besluit Max du Preez behoort ‘n teenwoordigheid in die koerant te kry? Vir wat moet ‘n SAUK-man soos Ivor Price gedurig sy mening daar lug? Hoekom het ou gevestigde rubrieke soos Van Alle Kante nou ‘n verhogie geword waar dese en gene hul plituieke onderrok kan laat uithang? Wat het geword van goeie beriggewing en veral goeie opvolg-beriggewing? Wat het geword van die duisende plattelandse lesers wat altyd daarop kon staatmaak dat hul nuus, hoe gering ook al, wel die koerant sou haal? Die Burger se belangstellingsveld strek nou net tot by die Paarl, niks verder nie. Org Potgieter, wat jare lank self in die sportredaksie was, verwoord hierbo eintlik net wat ons ou Burger-manne almal voel, en dink. Die Burger se lesers was al die jarfe gewoond aan ‘n sterk standpunt deur die koerant, of hulle daarmee saamstem of nie, maar dit ontbreek nou gedurig. Soos nou weer oor Afrikaans, en veral op Stelllenbosch. Ons harte is seer as ons sodink aan die begrafnis wat ons binnekort sal moet gaan bywoon.

Marie Swanepoel ·

Ons gaan dikwels SanLameer toe aan die Suidkus. Groot was my verbasing en ontsteltenis toe ek moes verneem Beeld word nie meer aan die Suidkus versprei nie.
Hoekom nie? Is daar dan GEEN mense wat nog Afrikaans lees aan die Suidkus nie?

Gerhard Burger ·

Ingeval iemand dink die Gerhard Burger wat hierbo op Org se artikel kommentaar gelewer het, is die Gerhard Burger wat ‘n sportskrywer was en bo verdienste tot ander poste in die noordelike koerante bevorder is … dis nie ek nie. Ek kan nie so lank skryf nie en buitendien huldig ek heeltemal ander menings oor hierdie onderwerp as my naamgenoot en verskeie ander deelnemers.

Andries Erwee ·

Wil julle nie die prentjie volledig gee nie. Ek weet dat Son geweldig baie kannibaliseer op Die Burger. Julle noem dt terloops, maar lees daar nou minder mense koerant as voor Son, Sun, City Press gestig is. Hoe lyk Star en Voice se syfers. Vreet New Age engelse koerante se verkoop syfers.

p de wet ·

Net soos die NG kerk het liberalime ook sy tol van die koerante geeis.Die Volksblad is lankal bekend as die Volksklad

Jaco Daubert ·

Om aanlyn te lees ipv wag tot die volgende dag vir die nuutste nuus het die plek van meeste koerante gevat. Ons kan nuus amper dadelik kry soos dit gebeur en die lekkerste is jy kan jou opinie lig (Dankie Maroela). Maar dis nie vir my soveel die kwaliteit van nuus wat die koerante seer maak nie maar die feit dat jy kan kies wat jy wil lees. Ek wil nie heel dag lees oor die ANC en al hulle gemors nie, so vir my is die era waarin die hele proses in beweeg nogal duidelik.

Emile ·

Dit was aangenaam om Maroelamedia so paar jaar gelede te ontdek. ‘n Gratis Afrikaanse aanlynkoerant met balans en waar ek kan kommentaar lewer. Dis ironies dat Media24, die grootse maatskappy in Afrika, in m.i. op die Afrikaner se rug gebou, hom nou die rug toegekeer het. Eers was die gratis aanlyn Nuus24 (Beeld, Burger, Volksblad en Rapport) nog in Afrikaans beskikbaar, toe word dit oornag Engelse News24 (met Zoeloe) en skielik moet Afrikaans betaal vir Netwerk24 wat die Afrikaner verguis. Dit maak eenvoudig nie sin dat ek moet betaal vir iemand om my te beledig nie; hy kan dit op sy eie onkoste doen. Soos my pa van hulle sou se^, hulle het hulle eie [email protected] toegestop.

Met erkenning aan Maroela se klein redaksiespan en beperkte hulpbronne, is my enigste kritiek tans die relatiewe stadige byvoeg van vars nuusartikels. Dalk iets wat sal verbeter met vergrootte redaksie wat met groter lesergetalle en groter borge gepaardgaan.

Dalk tyd vir ‘n Afrikaanse bank wat Maroela kan borg?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.