Die pad na finansiële selfstandigheid vir skole

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Deur Melanie Buys

Die grondwetlike hof se uitspraak oor toelatingsregulasies in Gauteng se skole op 20 Mei 2016 plaas ʼn verdere beperking op skoolbeheerliggame – en gemeenskappe – se inspraak in die onderwys van hul kinders in openbare skole. Skoolgemeenskappe wat oor jare heen die instandhouding en ontwikkeling van skoolgeriewe uit hul eie sakke gefinansier het, het nie meer die finale sê oor die skool se voedingsarea, maatstawwe vir toelating of bepaling van die aantal kinders nie.

Goeie bestuur en versigtige finansiële beplanning het dit moontlik gemaak om meer klasse te bou en bykomende personeel aan te stel en op te lei ter wille van gehalte-onderrig en kleiner groepe. Ná 22 jaar van ANC-bewind skryf die Gautengse LUR vir onderwys goeie skole se uitmuntende prestasie egter steeds aan “onbillike bevoordeling” toe. Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat hierdie “bevoordeelde” kwintiel 5-skole aansienlik minder onderwysposte en slegs ʼn vyfde van die finansiële toewysing van die staat ontvang, as wat kwintiel 1- tot 3-skole kry. Volgens die nasionale norme en standaarde vir skoolbefondsing ontvang kwintiel 5-skole in 2016 net R204 per leerder per jaar van die staat, terwyl die oorgrote meerderheid openbare skole in kwintiel-1, -2 en -3 ʼn bedrag van R 1 177 per leerder per jaar kry. Feitlik alle Afrikaanse skole in Gauteng is kwintiel 5-skole.

Minder geld, meer voorskrifte

Die staat se finansiële ondersteuning van openbare skole word jaarliks minder, verpligte kwytskeldings van skoolgeld word meer en voorskrifte van die onderwysdepartement neem toe. Druk op Afrikaanse skole om nie-Afrikaanse leerders toe te laat het tot gevolg dat daar in 2014 net 168 skole uit die 2070 openbare skole in Gauteng was wat nog in Afrikaans onderrig aangebied het.  Enkelmedium Afrikaanse skole is selfs minder.

Die jaarlikse toename in skoolgeldvrystellings kan ook nie bloot deur hoër skoolgeld opgemaak word nie. Die formule vir berekening van kwytskeldings maak bloot die inkomstedrempel waarop ouers kwalifiseer vir kwytskelding hoër namate ʼn skool meer skoolgeld vra. In sommige skole kwalifiseer ouers met ʼn jaarlikse inkomste van R500 000 reeds vir kwytskeldings! Terwyl skole jaarliks miljoene rande se inkomste aan skoolgeld moet kwytskeld, is die staat se terugbetaling aan skole in baie gevalle minder as die koste van die ouditeursverslag wat terugbetalingaansoeke moet vergesel. Die staat wil dus al minder betaal maar al meer beheer hê.

Selfbestuur

Dit is wêreldwyd die neiging in Eerstewêreldlande om soveel moontlik selfbestuur van skole toe te laat terwyl die staat onderwys volledig befonds. In Oos-Europese lande wat ná sosialisme wegbeweeg van sentrale beheer oor onderwys en nie meer in staat is om skole volledig te befonds nie, privatiseer goeie skole al meer. In Afrika is daar volgens die Wêreldbank se onderwysverslag van 2009 ʼn duidelike verband tussen private onderwys en gehalte-onderrig.

Afrikaanse openbare skole is uitnemende instellings wat oor die jare met onderwysers, ouers en kinders se geld en harde werk ontwikkel is. Die feit dat heelwat van openbare skole se personeel deur die staat betaal word en die grond en geboue staatseiendom is, maak volledige privatisering van skole baie moeilik. Aan die ander kant is die koste en voorskrifte verbonde aan die oprig van private skole baie hoog. Op die kort- tot mediumtermyn kan skoolgemeenskappe egter veel groter beheer bewerkstellig deur skenkings, vrywillige bydraes en fondsinsamelings bloot anders te bestuur.

Verskansing van fondse

Deur die gebruik van trusts of organisasies sonder winsoogmerk kan gemeenskapsfondse steeds tot die beskikking van die skool wees, sonder dat beheer en eienaarskap outomaties oorgaan na die staat. Dit kan verduidelik word deur die volgende twee scenarios:

In die eerste geval koop ʼn skool grond aangrensend aan die bestaande skoolterrein en bou noodsaaklike ekstra klaskamers daarop met geld wat deur die skoolgemeenskap ingesamel is. Waarde word toegevoeg aan die staat se eiendom en wanneer die onderwysdepartement die skool se leerlingkapasiteit bepaal, word daardie klaskamers getel en met 35 of 40 gemaal.

In die tweede geval word skenkings en fondsinsamelings deur ʼn gemeenskapstrust gekanaliseer, wat eiendom langs die skool aankoop, ʼn naskoolsentrum daarop ontwikkel en ook soggens die klasse aan die skool verhuur. Die eiendom bly in besit van die trust as aparte regspersoon, maar word in belang van die leerders aangewend, sonder dat die kapasiteit van die skool vergroot. Wins wat deur die naskoolsentrum en verhuring van fasiliteite gemaak word, bly steeds tot die skool se beskikking.

Ander voorbeelde sluit in ontwikkeling van private koshuise wat aan kinders uit die platteland ʼn woonadres bied binne die voedingsarea van die beste skole in die stad. Of ʼn organisasie sonder winsoogmerk wat ʼn sportsentrum aangrensend tot die skoolterrein ontwikkel wat nie slegs ʼn diens aan die skool lewer nie, maar aan die breë gemeenskap. Dit staan die organisasie natuurlik vry om sy wins te gebruik om sportafrigters aan te stel of die openbare skool finansieel te ondersteun. Eienaarskap gaan egter nooit oor na die staat nie en die departement kan nie voorskryf hoe hierdie fondse aangewend moet word nie.

Afrikaanse skole is baie versigtig om hul kapasiteit uit te brei deur klasse aan te bou, maak nie saak hoe nodig dit is nie. Dit is opvallend hoeveel skole van tydelike klaskamers gebruik maak, maar verkies om eerder beskikbare fondse te bestee om hul sportfasiliteite drasties op te gradeer.

Neseier vir privatisering

Ouers, sakeondernemings en skoolgemeenskappe was nog altyd bereid om in belang van hul kinders se onderwys by te dra. Deur hierdie bydraes net nie meer direk in die skool se rekening te stort nie en alle ontwikkeling nie net meer op die staat se grond te doen nie, kan Afrikaanse skole steeds ondersteun word terwyl fondse uit die gemeenskap steeds volhoubaar vir die gemeenskap beskikbaar bly. Dan kan broodnodige klasse gebou word om groepe kleiner te maak, sonder om te vrees dat die LUR dit bloot weer met klasse van 40 gaan volmaak. Indien dit ooit regtig nodig raak om Afrikaanse onderwys te privatiseer is daar ʼn neseier opgebou om so ʼn inisiatief moontlik te maak.

Skole ontvang soms bo en behalwe skoolgeld ook geld in die vorm van skenkings, borge of erflatings. Die skoolbeheerliggaam is verplig om skoolfonds ooreenkomstig departementele voorskrifte te administreer, maar effektiewe bestuur van vrywillige bydraes kan verhoed dat dit ook eenvouding in die skoolfonds gestort word en onder beheer van die LUR kom. Volgens die SA Skolewet moet skenkings ooreenkomstig die voorwaardes van die skenking of trust aangewend word. Skoolgemeenskappe wat hul huiswerk goed doen kan verseker dat skenkings sonder veel moeite apart van die skoolfonds bestuur word. Skenkingsvoorwaardes wat bepaal dat die skoolbeheerliggaam of trustees skenkings in ʼn aparte rekening moet bestuur en dat bates van die skenkingsooreenkoms of trust geen ander partye se eiendom mag word nie, maak dit vir beheerliggame van openbare skole makliker om beheer oor skenkings te behou.

Daar is wêreldwyd ʼn neiging in suksesvolle lande dat ouers en gemeenskappe toenemend betrokke raak by onderwys. Toewyding van alle partye in die onderwys het in die verlede bygedra tot die besondere standaard van Afrikaanse skole in Suid-Afrika. Om daardie standaard te behou en uit te bou vir toekomstige geslagte is dit nodig dat skoolgemeenskappe op ʼn nuwe manier voortbou op hierdie tradisie van betrokkenheid, ywer en vrygewigheid vir ons kinders se onderwys.

Melanie Buys is ‘n spesialis in skoolbeheer en -bestuur. Sy voltooi tans haar meestersgaad in onderwysbestuur aan UJ, verhandeling oor “Privaat befondsing van openbare skole”. Sy is ook ‘n onafhanlike bestuurskonsultant, lid van ‘n skoolbeheerliggaam en Fedsas se provinsiale raad. Sy was voorheen provinsiale bestuurder van Fedsas in Gauteng.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zach Coetzee ·

Net toe ek nie meer uitkoms kon sien nie! Hierdie is ‘n langtermyn – oefening. Moes dit al veel vroeer bedink het! Dankie vir die skrywer vir hierdie kreatiewe ‘oplossing’ vir die Afrikaanse skool dilemma en hoe om te keer dat Onderwys owerhede nie toekomstige ouer-bydraes teen ons kultuur aangewend word nie.

Disselboom ·

Die voorgestelde werkswyse is darem ‘n begin om nie net oop oë die huidige regering te vertrou nie. Bietjie laat, maar hier is ons nou.

Die plan veronderstel egter nog steeds afhanklikheid van die openbare skool. Is dit nie ‘n beter langtermynplan om die privaatskole wat behoorlik privaat is uit te bou en nuwes op te rig nie? Sou die staat se mening (bv toelatingsbeleid) op die Afrikaansmedium-skole afdwing en dit onmoontlik word om die Christelik-Afrikaanse karakter voort te sit, sit jy naderhand met so soort van ‘n kwartskool op ‘n ongerieflike adres langs ‘n staatskool wat jou vyandig is?

Laat die debat rol, dat ons vir mekaar raad kan gee en die beste opsie vind.

Oupa ·

Stem Disselboom. Ons maak korttermyn planne om loopholes in die wetgewing te soek. Die staat verander bloot die wette en dan beplan ons weer. Die langer termyn oplossing is om Afrikaanse privaatskole te begin. Die infrastruktuur by bestaande sommige veral stedelike Afrikaanse skole is buitendien ten volle benut, vervoer, water, krag ens
Wat my onderkry is die beheerliggame wat klaskamers ens gebou het toe die huidige saak reeds ver gevorder was

hans ·

Kon nog nooit verstaan dat die beheerliggame die pragtigste nuwe sportterreine ontwikkel en ander geboue oprig op staatsgrond,ten spyte daarvan die gevaar van die optrede aan hul uitgewys is. Stem heelhartige saam met sienswyses wat deur outer uitgespreek is.

Leonard van der Dussen ·

Dis ‘n denkraamwerk wat moet verander van “privaat befondsing van openbare skole” (slawe van die staat), tot “privaat befondsing van privaatskole” (vryheid van die staat).

Die Suid-Afrikaanse politieke landskap en wetgewing en vyandige amptenary maak die vryheid nie maklik nie, maar dis moontlik. Dit word reeds gedoen. Dit kan ordegroottes versnel word met nie eers sulke groot beleggings per persoon nie, maar daardie beleggings moet gemaak word. Die sakestrukture daarvoor is al gevorm en is gereed om die kapitaal te ontvang. Die prototipe werk reeds.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.