Die pad na ’n beter konstitusie

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

Die tekortkominge in die Suid-Afrikaanse Grondwet, soos in die vorige vyf artikels behandel, behels nie dat die Grondwet bloot verkeerd toegepas word nie. Die swakhede is inherent. Dit is dus onwaar dat ons aan die een kant ʼn lofwaardige Grondwet het, wat aan die ander kant, bloot vanweë verkeerde uitleg en toepassing, verongeluk word.

Die rede waarom die howe (meer bepaald die konstitusionele hof) nie ʼn toereikende rem en teenwig teen die regerende party (in die wetgewer en die uitvoerende gesag) is nie, is nie slegs daaraan te wyte die regters hier in Suid-Afrika toevallig agente van transformatisme is nie. Dit lê dieper. Dit is dat dit ʼn inherente eienskap van die hoogste howe is om met betrekking tot ideologiese kwessies nie ʼn grondige rem vir en teenwig teen die regering kan wees nie. Dit is omdat howe soos in die vierde artikel verduidelik, reëlmatig saam met die regerende party deel van dieselfde regerende elite uitmaak.

Om ʼn behoorlike konstitusionele orde te bewerkstellig – een wat werklik toegerus is om geregtigheid vir almal, met inbegrip van alle gemeenskappe te bewerkstellig – het jy veel meer as individuele regte en ʼn egte en behoorlik funksionerende regbank nodig. Hierdie dinge is maar enkele van die nog veel meer noodsaaklike dinge wat vir ʼn gesonde konstitusionele orde noodsaaklik is.

Magte vir gemeenskappe; nie slegs regte vir individue nie

Vir ʼn gesonde konstitusionele orde is dit noodsaaklik dat die klem ook op magte (en nie net individuele regte nie) geplaas word – magte wat setel in organe van selfregerende gemeenskappe en outonome instellings van die burgerlike samelewing en die ekonomiese sektor. Vanweë die grondwetlike heilsleer met sy uitsluitlike fokus op individuele regte en die regbank, word magte vir gemeenskappe en formasies van die georganiseerde burgerlike gemeenskap as noodsaaklike bestanddele van ʼn gesonde konstitusionele orde bykans heeltemal uit die oog verloor.

Selfbesturende gemeenskappe

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Gemeenskappe, meer bepaald kultuurgemeenskappe met die begeerte en vermoë om self besluite te neem en uit te voer oor kwessies wat hulle besondere belange raak, behoort oor die mag te beskik om dit te doen. Hierdie standpunt strook perfek met die mees basiese beginsel van selfregering wat ʼn wesenlike kenmerk van demokrasie is. Dit strook eweneens met persoonlike selfbeskikking van volwasse persone rakende hul persoonlike lewens.

Wat meer is, is dat hierdie aanspraak op selfregering teruggaan na die wortels van ons eie tradisie, meer bepaald na die Nederlandse denker, Johannes Althusius. Althusius het sy pleidooi vir ʼn omvattende federalisme reeds in 1602 in Politica – Politiek, metodies uiteengesit en met godsdienstige en wêreldlike voorbeelde geïllustreer (eie vertaling van die titel) gelewer. Daarin het hy ook die saak vir selfregering bepleit. Sedertdien, veral oor die afgelope nagenoeg dertig jaar, is die saak vir selfregering oneindig in politieke geskrifte en politiek-filosofiese en juridiese werke versterk.

In die huidige tydsgewrig is dit eintlik slegs in linkse, sogenaamde progressiewe kringe soos die ANC, waarin verdienste vir selfregering verwerp word. Op grond van sy ideologie van transformatisme, moet alles daarenteen vanuit die sentrum beheer word. Die meerderheidswil soos deur regerende party vertolk, moet despotiese beheer oor die minderhede uitoefen en minderheidsgemeenskappe moet in die meerderheid opgeneem word en gevolglik verdwyn – ʼn standpunt wat pertinent deur Friedrich Engels ingeneem is, en wat neerslag in transformatisme vind.

Hiervolgens is daar dus selfregering vir die meerderheid, dog geen selfregering vir die minderhede nie. Daar is regering deur die meerderheid oor die minderhede en ʼn program vir die likwidasie van die minderhede. Dit druis natuurlik reëlreg in teen die mees basiese instink vir geregtigheid en demokrasie.

Vanweë die feit dat die Suid-Afrikaanse Grondwet magte vir gemeenskappe ignoreer en alle mag in die meerderheid sentreer, baan dit juis die weg na dominasie oor en die likwidasie van die minderhede.

Met selfregerende magte wat in minderheidsgemeenskappe setel, geld die teenoorgestelde egter. Dit is nie aan die hof se interpretasiegesag onderworpe nie. Regeringsgesag setel eenvoudig in die gesagstrukture van minderheidsgemeenskappe, wat hierdie gemeenskappe in staat stel om hulself te bestuur.

Flip Buys se boek Op pad na selfbestuur (met ʼn belangwekkende ondersteunende voorwoord deur die vermaarde historikus, Hermann Giliomee), wat in September verlede jaar verskyn het, is ʼn baie belangrike keerpunt in Afrikaners se grondwetlike oortuigings en vir die rigting waarin gemeenskappe hul politieke energie moet kanaliseer – na daadwerklike selfstandige politieke gesag vir gemeenskappe.

Die daadwerklike bewerkstelliging van selfbestuur is natuurlik ʼn enorme uitdaging. In die laaste afdeling behandel ek dit kortliks.

Instellings van die georganiseerde burgerlike samelewing

Selfstandige magte en selfbestuur gaan egter veel verder as selfregerende magte vir kultuurgemeenskappe. Instellings van die burgerlike gemeenskap behoort ook telkens oor selfbestuur vry van regeringsvoorskrif te beskik.

By instellings van die burgerlike samelewing sluit ek die breedste moontlike spektrum van instellings en georganiseerde sfere in: universiteite en ander onderwysinstellings, die professies en ambagte, die georganiseerde sakesektor en sakeondernemings, kerke, die media, werkgewersorganisasies, vakbonde, verbruikersorganisasies, kultuurorganisasies, sportliggame, belange-organisasies, liefdadigheidsorganisasies, drukgroepe en trouens enige ander formasies in die burgerlike samelewing.

Dit is noodsaaklik dat elkeen van hierdie instellings oor sy eie magte moet beskik en dus selfbesturend moet wees. Hulle moenie aan staatsvoorskrifte onderworpe wees nie.

Hulle moet vrye instellings wees, sodat voorkom word dat hulle eintlik die karakter van staatsdepartemente aanneem. Hulle moenie gestaatsdepartementaliseerd raak en derhalwe as’t ware dienspligtig aan ʼn staatsideologie, soos voorgeskryf deur die regerende politieke elite, word nie. Hulle moet dus nie, soos in die geval van Suid-Afrika, dienstige agente van transformatisme wees nie.

Ek gee hier kortliks aan vier stelle instellings aandag:

  • Universiteite het ʼn lang tradisie van outonome regering, wat terugdateer na die Middeleeue. Te midde van die huidige verstaatlikte ideologie, soos kragtens transformatisme in Suid-Afrika, het universiteite egter in ʼn beduidende mate die karakter van staatsdepartemente aangeneem. Rektors neig om te metaformeer na adjunkdirekteurs-generaal en senior ampsdraers by universiteite neem die karakter van staatsamptenare aan, wat die verantwoordelikheid dra om te sorg dat daar aan die heersende staatsideologie uitvoering gegee word. Dit is presies dit wat kragtens die ideologie van transformatisme gebeur.
  • Professies, byvoorbeeld die regsberoep, behoort oor outonome bestuur van die beroep te beskik – oor sake soos die toelating tot die professie, opleiding en gehaltebeheer. Die betrokke beroep, in plaas van die regerende party, regering of ʼn staatsdepartement is klaarblyklik in die beste posisie om hieroor te oordeel. Dieselfde geld vir elke ander beroep en ambag. Dog, op grond van ʼn tafereel statutêre maatreëls geskoei op transformatisme het die regerende elite reeds beduidende beheer oor die beroepe verkry met die gevolg dat hulle ook in beduidende mate gestaatsdepartementaliseerd geraak het.
  • Die handel en nywerheid en die sakesektor is ook nie primêr ʼn staatsaangeleentheid nie. Gevolglik behoort sakebedrywighede ook by wyse van selfbestuur van elke deel van die sakesektor hanteer te word. Soos met die professies, is die deelnemers aan elke sektor weer eens in die beste posisie om interne bestuur te behartig.

Benewens selfbestuur, is die beste vorm van beheer oor die gehalte van onderrig van opvoedkundige instellings en van die gehalte van die goedere en dienste wat die professies, ambagte en die sakesektor lewer, ten slotte sanksies deur die publiek aan wie goedere en dienste aangebied word. Dit geskied individueel of deur verbruikersorganisasies en dergelike instellings. Vir sover die staat hoegenaamd hierin ʼn rol speel, is dit bloot sekondêr.

  • Kerke het ʼn baie lang geskiedenis, wat na die Middeleeue terugherlei as vrye instellings, los van die wêreldlike politieke gesag. As sodanig is kerke se eerste verantwoordelikheid weliswaar dié van bedienaars van die Goddelike boodskap. Dit is egter nie waar dit ophou nie. Hulle het ook ʼn egte konstitusionele verantwoordelikheid. Dit is dat hulle in belang van die goeie openbare orde en van geregtigheid saam met die ander formasies van die burgerlike samelewing politieke maghebbers in bedwang moet hou.

Hulle moet nie gestaatsdepartementaliseerd raak en in wese die karakter van ʼn staatsdepartement aanneem nie. Hulle moet nie bloot ʼn religieuse geur aan die dominante politieke ideologie verleen en dan kragte saamsnoer om die ideologie te bevorder nie. As hulle dít doen, wat inderdaad soms gebeur, versaak hulle hul konstitusionele plig.

Remme en teenwigte (checks and balances)

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Baie Afrikaners van ʼn ietwat ouer geslag se kele trek toe wanneer hulle van remme en teenwigte hoor. Hulle ervaar dit as skelm kodewoorde wat gedurende die grondwetlike onderhandelings van die 1990’s gebruik is om valse versekerings te gee dat die Grondwet, wat toe op die punt gestaan het om aanvaar te word, magsmisbruik sou voorkom en hul belange genoegsaam sou beskerm. Hierdie Afrikaners se politieke instinkte was reg.

Dit beteken egter nie dat ons skepties teenoor remme en teenwigte as sodanig moet staan nie. Remme en teenwigte is ʼn wesenlike vereiste vir goeie konstitusionele orde. ʼn Konstitusie se primêre funksie is om openbare orde en geregtigheid vir almal – vir alle individue en gemeenskappe – te verseker. Mooi beginsels alleen kan dit egter nie verseker nie.

Nog iets van wesenlike belang is nodig. Dit is dat mag versprei en magsentra in bedwang gehou moet word. Maghebbers – die regering – moet aan bande gelê word. Die regering se mag moet altyd met teenmag gebalanseer word. Soos een van die Amerikaanse founding fathers, John Adams gesê het: “Power must be opposed to power, force to force, strength to strength, interest to interest as well as reason to reason.”

ʼn Regering moet nooit in die posisie wees om te maak wat hy wil nie; nie net omdat hy nie mag nie, maar ook omdat hy nie kan nie. Hy moet altyd onder druk wees om toe te gee en kompromieë aan te gaan. Sodoende kan daar na almal omgesien word en nie slegs na die regering se eie ondersteunerskorps nie.

Anders as wat in die 1990’s en daarna verkondig is, is die howe (soos in die vierde en vyfde artikels verduidelik) juis nie in voldoende mate hierdie rem en teenwig nie. Die sogenaamde onafhanklike en onpartydige instellings kragtens hoofstuk 9 van die Grondwet is dit ook nie.

Outonome instellings van die burgerlike samelewing waarna pas hierbo verwys is, beskik juis oor die vermoë om as noodsaaklike remme en teenwigte te dien. Dieselfde geld vir instellings vir die selfbestuur van kultuurgemeenskappe. Want wanneer gemeenskappe deur hul eie bestuursinstellings hulself bestuur, beskik hulle natuurlik oor buffers teen wie ook al sodanige gemeenskappe se bestaan ontken of hulle wil afknou, soos wat totalitêre staatsideologie soos transformatisme juis doen. Individue sonder instellings, is klaarblyklik te swak om dit op hulle eie te doen.

Dit gaan dus nie daaroor dat daar remme en teenwigte moet wees nie. Daar moet wees. Dan, egter, moet dit daadwerklike remme en teenwigte wees gerugsteun deur vrye instellings en gemeenskappe, wat daadwerklik kragtige remme en teenwigte kan wees; nie skynremme en skynteenwigte wat slegs in naam bestaan, maar nie in die daadwerklike politiek-konstitusionele realiteite bestaan nie.

Die pad na selfbestuur – konstitusie bou in plaas van ’n grondwet skryf

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

Flip Buys se Die pad na selfbestuur het die saak vir selfbestuur gestel. Die werk het veral op Afrikaners betrekking. Dit is egter nie slegs Afrikaners wat selfbestuur behoef en daarna streef nie. Inteendeel, daar is talle gemeenskappe wat selfbestuur nastreef – plaaslik, territoriaal en korporatief.

Talle suksesvolle veiligheidsdorpe en voorstede het byvoorbeeld oor die afgelope twee dekades opgeskiet. Hulle oefen talle plaaslike bestuursfunksies uit, handhaaf hul eie veiligheid en pas streng interne toegangs- (grens)beheer toe en hulle verskaf veilige ruimtes vir die huisvesting en verskaffing van onderwys- mediese-, sport-, ontspannings- en dergelike funksies. Daar is soortgelyke neigings in minder welgestelde gemeenskappe.

In weerwil hiervan word aangevoer dat sodanige hertoedeling van gesag om vir selfbestuur voorsiening te maak, onmoontlik is aangesien die Grondwet dit nie magtig nie. Bowendien verteenwoordig die gemeenskappe wat wel selfbestuur wil hê, ʼn klein persentasie van die nasionale bevolking. Hulle is gevolglik nie in staat om ʼn twee derde-meerderheid in die parlement se instemming te kry vir ʼn grondwetlike wysiging om vir sodanige hertoedeling van mag voorsiening te maak nie.

Volgens die aanvaarde grondwetlike doktrine is hierdie argument geldig. Die punt is egter dat wysiging van die teks van die Grondwet allermins die enigste wyse is waarop ʼn grondwetlike bestel verander. In die tweede artikel is daar juis verduidelik dat konstitusionele ordes ingrypend verander, eenvoudig vanweë die uitwerking van sterk politieke kragte en gepaardgaande nuwe praktyke. In die derde artikel is hierdie verskynsel met verwysing na onlangse Suid-Afrikaanse voorbeelde toegelig. Dit het getoon dat die daadwerklike konstitusionele orde reeds beduidend verander het sonder dat die bepalings van die grondwetlike teks gewysig is. Konstitusionele verandering is dus allermins bloot ʼn kwessie van die wysiging van die skrif (formulerings) van die Grondwet; dit is juis ʼn kwessie van veranderings deur dade – praktyke.

Daar is twee verdere wesenlike sake oor konstitusionele verandering.

Die eerste is dat enige sterk politieke krag die daadwerklike konstitusionele orde kan verander. Dit wil sê, nie slegs kragte van transformatisme wat uit die geledere van die regerende elite kom nie, maar enige kragte, ook kragte wat uit goed georganiseerde, gefokusde minderheidsgroeperings van stapel gestuur is.

Die tweede is dat konstitusionele verandering nie noodwendig landwyd voltrek nie. Inteendeel, dit is juis op geografies beperkte skaal, op die inisiatief van gemeenskappe dat konstitusionele verandering gelokaliseerd en verskillend op talle plekke kan voorkom – in bepaalde dorpe, voorstede en streke.

Op sodanige plekke begin gemeenskappe self vir veiligheid en openbare orde sorg, verskaf self maatskaplike en gesondheidsorg, verskaf alle dienste wat gewoonlik met plaaslike bestuur vereenselwig word, verskaf voedselsekerheid, handhaaf eie regspleging, wek self krag op, vestig selfstandige plaaslike ekonomieë (in interaksie met ander sodanige plaaslike ekonomieë), vestig eie onderwys, ensovoorts. Gewoonlik doen hulle dit op eie stoom, ander kere in samewerking met staatsorgane, maar altyd met ʼn staat wat maar daarmee vir lief moet neem.

Ongeag die manier waarop dit gebeur, is dit telkens konstitusioneel belangwekkend. Telkens verloor die geskrewe en oënskynlike oppermagtige Grondwet veld teen ʼn nuwe daadwerklik vervangende konstitusie wat homself stap vir stap vestig. Telkens is daar ʼn gesagsverlies weg van die tersaaklike “amptelike” staatsorgane en ten gunste van nuwe maghebbers wat groeiende selfbestuur uitoefen.

Dit is ʼn moeisame pad. Dit kos baie geld. Met die oog op sukses moet die oogmerke nooit te ambisieus wees nie. Meer bepaald, moet dit nooit staatlik wees nie, dit wil sê, dit moenie gemik wees op konstitusionele verandering op landwye skaal nie. Nee, die fokus moet plaaslik of regionaal wees, telkens binne die perke van wat realisties haalbaar is. Die vervallende staat, wat klaarblyklik ʼn onkeerbare momentum van sy eie opgebou het, verleen deurlopend stukrag hieraan. Leierskapveranderings in die ANC verander beswaarlik enigiets hieraan. Elke verdere episode in die erbarmlike verhaal van staatsverval, skep nuwe geleenthede vir selfbestuur.

Teen hierdie agtergrond hang die verwerkliking van groeiende selfbestuur van goed georganiseerde en vindingryke gemeenskappe af. Dit kan toenemend gebeur deur kragte te konsolideer en te fokus op die realisering van haalbare doelwitte van selfbestuur op enkele geselekteerde plekke, in plaas van verspil op ʼn nodelose oefening “om die land te red.”

Die talent, vindingrykheid, vermoë en leierskap is in talle gemeenskappe teenwoordig om dit te bereik – onder Afrikaners waarskynlik die meeste van almal.

  • Dié artikel is die laaste in ʼn reeks van ses artikels wat prof. Koos Malan geskryf het na aanleiding van sy nuwe boek There is no Supreme Constitution. Die boek word deur African Sun Media uitgegee en kan aangeskaf word by TakealotGoogle BooksITSI, African Sun se Facebook-winkelAmazon Kindle en EBSCO eBooks aangeskaf word. Dit kan ook by Protea Boekhuis gekoop word. Klik op die skrywer se naam bo-aan die artikel om alle vorige artikels te lees.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrystater ·

Uitstekende kommentaar, baie dankie, Koos.

Ons huidige leierskap kom uit ‘n tradisie van diktatorskappe (konings, hoofmanne).
Kommunisme is maar net nog ‘n diktator regime onder die voorwendsel dat dit deur ‘n legitieme demokratiese stem geskep is.

Demokrasie bestaan slegs waar die opposisie erken en die regerende party voortdurend aan kritiese evaluering blootgestel word. Dit skep die “ware meerderheid,” want álmal se stemme kan en mag voortdurend gehoor word – nie net op stemdag nie.

Maar, daar moet, enersyds, voortdurend gewaak word teen die skepping van ‘n kleindorpse magskliekmentaliteit onder kleiner gemeenskappe, soos wat jy dikwels in Nieu-Seeland kry. Andersyds, teen ‘n sentrale magskliek van onaantasbares, soos in Luthuli-huis, of selfs die Wit-huis, waar Trump die lees van koerante soos The Washington Post gestop het, want hulle is dan te “negatief.”

Kritiek getuig van ondersoekende denke – dit wat beskawing en vooruitgang deur die eeue geskep het en steeds kenmerk.

Josef du Toit ·

Daar word dikwels uit die oog verloor dat Demokrasie streng gedifferensieer moet word van Verteenwoordigende Regering, soos die opstellers van die Amerikaanse grondwet byvoorbeeld goed verstaan het. Ben Franklik het beweer dat Demokrasie niks anders is nie as twee wolwe en ‘n lam wat stem oor wat vir aandete ge-eet moet word, oftewel die tirannie van die 50%+1 oor die 50%-1.
In Verteenwoordigende Regering daarenteen word alleen die allernoodsaaklikste besluite kollektief geneem, en die res na die laagste moontlike vlakke afgewentel. Daarby is besluitneming onder Verteenwoordigende Regering deur maksimum konsensus, met die altyd aanwesige reg tot afskeiding.

Josef du Toit ·

Met verwysing na Vlaandere, Quebec, Skotland en veral Katalonie”, is die we^reldrealiteit sodanig dat selfs waar ‘n kultuurgemeenskap in ‘n erkende deelstaat ‘n oorweldigende meerderheid vorm, en sterk grondwetlike magte besit en uitoefen, en boonop nog met ‘n sterk plaaslike ekonomie as rugsteun, daar steeds weens naywer en haat met alle mag en mening teen kultuurgemeenskappe opgetree word deur ‘n vergrypende oorkoepelende staat – en dít met (ten minste stilswyende) internasionale ondersteuning nog daarby.

Pieter J ·

Ek wens ek kon vir elke Afrikaner in ons land hierdie boek gee om te lees en aan die wat dit nie verstaan nie sommer verduidelik ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.