Die pad na selfbestuur: lesse uit Orania

Deur János Jeney

Aankoms van die twee ondertekenaars, Ágost Benárd en Alfréd Drasche-Lázár, op 4 Junie 1920 in aanloop tot die ondertekening van die Verdrag van Trianon (Foto: Wikipedia)

In Hongarye is dit algemeen bekend dat een derde van die nasie buite sy grense woon. Hierdie mense is nie emigrante uit Hongarye nie, maar inboorlinge wat op hul historiese grond woon.

Die enigste rede waarom hulle buite Hongarye woon, is omdat die grense deur die loop van die geskiedenis verander het. Sedert die Verdrag van Trianon in 1920, toe hierdie gebiede aan die buurstate afgestaan is, was die kwessie van selfbestuur en outonomie baie belangrik vir die Hongare.

Die Verdrag van Trianon het amptelik minderheidsregte gewaarborg, maar is nooit gerespekteer nie. Na 1945 is hierdie regte amptelik in die Vredesverdrag van Parys herroep. Na die einde van die oorlog in 1945 is ʼn Hongaarse outonome provinsie gestig, wat wel gehelp het om die Hongaarse taal te bewaar. In werklikheid was dit ʼn Hongaarssprekende fraksie van die Roemeense Kommunistiese Party wat deur die staat beheer is. Alle Hongaarse instellings is deur die staat oorgeneem.

In 1989, toe kommunisme geëindig het, moes hierdie herbou word sonder hulp van die staat wat hulle in die eerste plek geneem het. Dit was baie moeilik, aangesien geen finansiële bates beskikbaar was nie. Hongarye self was nie in ʼn posisie om enige geld te verskaf nie, aangesien die land verwoes is deur die ekonomiese gevolge van kommunisme.

As ʼn mens na die Trianon-verdrag kyk vanuit die perspektief van die Hongare wat buite Hongarye se grense woon en nie vanuit die perspektief van Hongarye self nie, vind ʼn mens ʼn baie belangrike ooreenkoms. Die Hongare van Transsilvanië het deel van ʼn staat asook ʼn minderheid geword toe die verdrag van Trianon onderteken is. Terwyl Hongare in alle buurlande van Hongarye woon, fokus hierdie artikel op Hongare wat in Transsilvanië en Subkarpaten woon vanweë hul unieke situasie.

Verskillende volke, dieselfde probleem

As ʼn mens na Suid-Afrika kyk was die Afrikaners altyd ʼn minderheid in die land. Die geskiedenis van die Afrikaners verskil baie van dié van die Hongare, maar daar is ʼn paar baie belangrike ooreenkomste.

Die Verdrag van Trianon (Foto: Wikipedia/ © C.Stadler/Bwag)

Toe Suid-Afrika gestig is en die Boererepublieke deel van Suid-Afrika geword het, het die Boere ʼn minderheid in die nuutgestigte Suid-Afrika geword. Dit is nie net ʼn ooreenkoms in die geskiedenis nie, maar ook iets wat vandag steeds ooreenstem tussen die twee volke: beide leef as minderhede in hul eie voorvaderlike lande.

ʼn Mens moet ook beklemtoon dat beide die Afrikaners en die Hongare ʼn demografiese probleem ervaar wat oral in die Westerse wêreld ervaar word: hulle getalle neem af. Dit lei tot ʼn verskynsel waar ʼn mens kan sien dat beide volke ʼn minderheid word in stede waar hulle vroeër ʼn meerderheid was.

Min, minder, minderheid

Terwyl die grootste aantal Afrikaners in Pretoria woon, is hulle ʼn minderheid in die stad. Net so woon die grootste aantal Hongare in Transsilvanië in Marosvásárhely waar hulle in die laaste jare ʼn minderheid geword het. In beide gevalle kan ʼn mens sê dat emigrasie ook ʼn groot faktor in hierdie verskynsel is.

As dit voortgaan, kan beide groepe verdwyn in die plekke waar hulle eens gewoon het. Hierdie plekke het deel geword van die geskiedenis van die mense wat daar woon – dit maak hierdie plekke deel van elke nasie se geskiedenis. As die minderhede ophou om in hierdie plekke te bestaan, sal hulle hul geskiedenis verloor. As hulle almal dié plekke op een slag verlaat, sal hulle ophou bestaan.

ʼn Mens kan ʼn kultuur nie net na ʼn ander land skuif nie. In die geval van Hongarye is dit belangrik, aangesien ʼn mens nie kan sê dat die Hongaarse kultuur oral in die Karpatebekken dieselfde is nie. Die Seklers (in Hongaars székely) is byvoorbeeld ʼn groep Hongaarssprekende mense wat in die oostelike deel van Transsilvanië woon. Terwyl die taal baie soortgelyk is, kan ʼn mens nie eers sê dat dit dieselfde is nie. Dit word verstaan deur Hongare in Hongarye en is ʼn dialek van Hongaars, maar baie van die woorde is anders. Net so is die kultuur soortgelyk, maar is ietwat anders as dié in Hongarye. Terwyl die Seklers in bergagtige streke woon, woon die ander Hongare meestal in platteland en lae heuwels. Dit het ook ʼn impak op kultuur.

Bevolkingsverspreiding van verskillende groepe in Hongare (Foto: Verskaf)

Lesse uit Orania

Hierdie konsep is van toepassing op alle gebiede rondom Hongarye, wat beteken dat die verskuiwing van hierdie mense na Hongarye ʼn verlies aan kultuur sal veroorsaak. Net so sou die verskuiwing van die Afrikaners uit Suid-Afrika ook lei tot ʼn verlies aan kultuur.

Dit beteken dat beide Seklers en Afrikaners selfregerende gemeenskappe moet stig om hul kultuur te bewaar. Terwyl die Seklers onsuksesvol probeer om elke jaar ʼn statuut vir outonomie in die Roemeense parlement deur te voer, het die Afrikaners begin deur selfbestuur in hul eie dorpie Orania te vestig – wat nou tot ʼn dorp gegroei het en uiteindelik tot ʼn stad gaan groei. In baie opsigte is dit onafhanklik van die regering, en is dit ʼn veilige plek binne Suid-Afrika.

Die deel wat my regtig beïndruk het, is dat die mense wat Orania bou die regte wat deur die Suid-Afrikaanse grondwet gewaarborg word letterlik opgeneem het, en ʼn selfregerende entiteit vir Afrikaners binne Suid-Afrika gestig het – sonder om verdere vrae aan die regering te vra. Die dorp word deur sy eie raad bestuur, net soos enige ander dorp in enige demokrasie bestuur word. Die inwoners hou openbare vakansiedae wat vir die Afrikanerkultuur belangrik is.

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Dit sal baie belangrik wees vir Hongare wat buite Hongarye se grense woon. Aan die een kant word die Hongaarse nasionale vakansiedae nie in hierdie gebiede gevier nie, terwyl dié van die buurstate wel gevier word, maar wat niks beteken vir die Hongare wat daar woon nie. Aan die ander kant het hierdie gemeenskappe ook vakansiedae wat nie in Hongarye gehou word nie, aangesien dit ʼn spesiale betekenis vir die plaaslike gemeenskappe het. Dit is veral die geval vir die Seklers in Transsilvanië, waar 10 Maart byvoorbeeld ʼn nasionale vakansiedag is wat nie in Hongarye gehou word nie – die dag van Seklers se vryheid.

Die probleem word perfek in Orania opgelos. Orania voorsien homself ook van elektrisiteit. Dit klink dalk nie nou baie belangrik in Transsilvanië nie, maar ʼn mens moet nie vergeet dat elektrisiteit in die 1980 in Roemenië gerantsoeneer is nie. In Europa is dit nadelig, want wanneer ʼn mens geen verwarming in die winter het nie, kan jy nie oorleef nie. As ʼn mens in enige opsig onafhanklik van die regering kan wees, het jy ʼn veel groter kans om ʼn florerende gemeenskap te skep.

Net soos Orania floreer in sy onafhanklikheid sou die Seklers floreer as Seklerland (die deel van Transsilvanië waar die Seklers woon) ʼn groot mate van outonomie van die Roemenië sou hê. Die werklike les wat by Orania geleer kan word, is dat om by die regering te smeek om outonomie toe te staan, nie tot suksesse lei nie. ʼn Mens moet die nedersettings waar die Hongare woon so onafhanklik moontlik van die regering maak, en later net die regering dit laat aanvaar. As die minderheidsdorpe beter daaraan toe is as die res van die land, kan nie veel daaraan gedoen word nie.

Orania se sonplaas (Foto: Verskaf)

ʼn Baie soortgelyke model is in Subkarpaten, vandag deel van die Oekraïne, probeer. Die plaaslike Hongaarse gemeenskappe het instellings gestig en volgens hul eie kultuur begin leef. Dit het lank gewerk, maar sedert 2015 verminder hierdie regte voortdurend. Die gebied het wel van Orania verskil. Daar was enersyds geen kulturele beperking op wie kan ingaan nie, andersyds was daar ʼn veel mindere mate van ekonomiese onafhanklikheid van die staat.

Dit het ʼn baie gemengde omgewing geskep, en Subkarpaten was die mees verarmde gebied van die Oekraïne in plaas daarvan om die mees florerende gebied te wees. Nou met die oorlog is die kulturele integriteit van die gebied besig om te verdwyn as gevolg van die groot getalle wat uit ander dele van die land intrek.

Terwyl oorlogstoestande alles kan verwoes, kan ʼn mens sê dat een les hieruit geleer is – ʼn mens moet ekonomiese onafhanklikheid skep. Dit is baie belangrik dat die minderhede ekonomies floreer in hul eie gebiede soos in Orania.

  • János Jeney is ‘n Hongaarse kartograaf en navorser in Boedapest. Sy navorsingsgebied is bevolkingskartering van linguatiese minderhede in die Karpatebekken. Hy doen navorsing oor die visualisering van minderhede op kaarte. Hy doen ook navorsing oor die gebruik van minderheidstoponieme, en hoe minderheidplekname in die verskillende lande gebruik word saam met die name in die amptelike taal van die land.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Teen 2035 gaan die meerderheid Afrikaners in die Wes-Kaap woon. Dán gaan die situasie weer verander.

Werner ·

Teen 2035 gaan die meerderheid liberale, libertynse “Suid-Afrikaners” in die Wes-Kaap woon, waar Afrikaners steeds ‘n minderheid sal wees. Dit sal natuurlik ‘n vooruitstrewende streek wees (veral in vergelyking met die verval in die res van die land), maar ‘n Afrikanerland sal dit nie wees nie. Daarom Orania.

annie ·

Die Afrikaners wat werk aan die idee van ‘n eie tuisland begin reeds krake aanmoedig deur ook gekleurdes (reeds ‘n groter bevolkingsgroep) se probleme te probeer oplos wat vir eeue reeds bestaan en kort-kort by die Afrikaners probeer inpas (en dit mettertyd sal beheer met jammer-stories) maar niks self doen vir die eie groepsidentiteit nie. ‘n Afrikanerland is een of dit is nie een nie en maar net nog ‘n reënboogvlag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Werner, alle Afrikaners is libertyne. Party is in die regter vleuel, ander meer links, en die res in die sentrum. Feit is, ons almal streef na vryheid. Ons hou nie van beheervrate nie en kom vinnig in opstand. En Annie, bruinmense hét eie groepsindentiteit en wil nie graag tussen Afrikaners woon nie. Hier is nog steeds bruin buurte en skole waar mense wil woon. Hulle streef ook na eie vooruitstrewende areas. Hulle hou ook nie juis van die reënboogvlag nie. Hulle sê toenemend dat Afrikaners het die plot verloor.

annie ·

Ongelukkig dink vele Afrikaners dat vryheid en wegstorm verband hou. Hoekom? Julle wat nou die Kaap wil betrek, was al daar in heerlike opstalle, maar nee. En nou wil jul terug. Die Kaap is nou meer onbekombaar as ooit. Die Hemelvader moes self verbaas gewees het oordat Hy die mooiste mooi vir die Franse Hugenote uitgesoek het, mooier as van waar hul gekom het met dieselfde soort grond vir wynbou ens, maar die spul wou net… ‘vry’ wees. Was hulle toe? Wat is vryheid? Twak. Dit is om sonder plan en taktiek, geduld en moed te leef… Veral sonder geloof. Die fanatiese Trekkers het gedurig gebid maar nie geglo daar waar hul aanvanklik gegrondves was nie. Hul wou ‘vry’ wees maar die Vader moes hul die hele tyd uit die verknorsing red. Tot vandag toe.

Etienne ·

Todat ‘n beter plan die lig sien, bly Orania die aangewese oplossing vir die lange duur.

Republikein in die Wes Kaap ·

Annie, net ingeval jy nie weet nie. Afrikaners is vandag skaars 4% van die bevolking. Ons moet teen daai agtergrond beplan. Vergeet van die Trekkers se motivering om na die noorde te verkas. Dit is geskiedenis. Ons het ook nie ‘n moederland in Europa waarheen ons kan vlug nie. Indien ons aankarring op die huidige trant en glo die land het ons nodig, is ons legendes in ons eie koppe. Afrikaners in die mees senior bestuursposte in die staatsdiens is uiters seldsaam, ook op die regbank en openbare universiteite. In die private sektor word ons uitgewerk. Die meerderheid het geen simpatie met ons nie. Terloops, luister vanaand (7 Maart 2024 om 20:00) na ‘n dokumentê program op RSG oor een van die Morawiese gemeenskappe in Wes-Kaap. Morawiese bruin mense het al in 1800s hul Oranias daar gebou. Ons moes in die 1930s ons tuislande gebou het. Maar nee, ons wou mos alles gehad het. Nou het ons niks. Terloops, jou siening van vryheid is eng en erg verwring.

Duskolos ·

Republikein in die Wes Kaap, ek was so ‘n paar weke gelede by Seepunt. Ek het baie tale gehoor, maar Afrikaans was nie een van hulle nie. Ek is bevrees die toestroming van Afrikane uit die Oos-Kaap en Afrika noord van ons grense is aansienlik meer as die Afrikaners wat van die ou Transvaal af Kaap toe uitwyk. Die Weskaap se toekoms dink ek is maar donker. Ons enigste oplossing is die demografiese leegte rondom Orania.

Republikein in die Wes Kaap ·

Duskolos, Seepunt is nie die Wes-Kaap nie. Nie eers die res van Kaapstad nie. Die res van die WK lyk beslis anders. Die plan is om 6 tot 8 kantons te hê. Elk met sy eie grondwet, taalbeleid, regsbank, polisiemag, regering, ens. Kaapstad kan in 3 kantons verdeel. Geen dubbele burgerskap word toegelaat nie. Inwoners wat nie burgers wil word nie ontvang verblyfreg.Jy sal sien hoe vinnig weier inwoners burgerskap net om hul SASSA toelaes in die RSA te behou. Sodra NGV ingestel word verwag ons nog meer migrante. Jong mans en vrouens moet een jaar diensplig doen. Baie van hulle sal eerder terug migreer na die RSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.