Die pad van die moderne Voortrekker

Verwerkte toespraak van Hoofleier Danie Langner by die Vrystaatse en Transvaalse opening van die Presidentsverkennerkampe.

dr-danie-langner-fak

Dr. Danie Langner van die FAK. Foto: Fak.org.za

Vanjaar, 70 jaar gelede, op 16 Desember 1949 is die Voortrekkermonument in Pretoria amptelik ingewy. Aan die sy van die eerste minister, dr. DF Malan, het ’n Voortrekkerseun gestaan. By die kiaathoutdeure het Voortrekkerseuns en -meisies met uitgestrekte hande gereed gestaan om die deure die eerste keer oop te stoot. Presies om twaalfuur sou die sonnestraal vir die eerste keer op die Voortrekker-sarkofaag met die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” val.

In die amfiteater het dr. Malan aan ’n kwartmiljoen Afrikaners die verhaal vertel van die apostel Petrus wat voor keiser Nero se vervolging van die kerk en ’n dreigende marteldood vlug. Volgens oorlewering het hy langs die Appiese weg, by die ingang van Rome, Jesus in ’n gesig ontmoet. “Quo vadis?” (waar gaan jy heen?), vra Jesus aan Petrus. “Ek vlug vir my lewe”, antwoord Petrus, maar “Quo vadis?” (Waar gaan u heen?), vra hy vir Jesus. “Terwyl jy My vir die tweede maal verloën, gaan ek na Rome om vir die tweede maal gekruisig te word.” Onmiddellik het Petrus omgedraai om sy bediening in Rome te voltooi en as martelaar ’n kruisdood te sterf.

Quo vadis? is ’n vraag in die Latynse Bybel wat “Waar gaan u heen?” of “Waarheen is u op pad?” beteken. Die quo vadis-vraag kom ook in Genesis 16:8, Genesis 32:17, Johannes 13:36 en Johannes 14:5 voor.

Op 16 Desember 1949 het dr. Malan met hamerslae-trefwoorde die vraag aan Afrikaners gevra: “Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen?”

As Solidariteit-navorsing bevind dat 67% van Afrikaners onder die ouderdom van 40, bykans twee derdes, dit oorweeg om die land te verlaat, eggo die quo vadis-vraag tot in die hede dag.

Laat ons eerlik wees, daar is matrikulante wat beplan om die quo vadis-vraag met Amerika, Australië of Kanada te beantwoord. Daar is goeie redes wat swaar weeg. Rassetransformasie, staatsverval, korrupsie, swak ekonomie, misdaad, plaasmoorde. Sommige matrikulante het rassekwotas reeds aan hul eie lyf gevoel met die keuring vir ’n studierigting of sportspan, waar meriete en harde werk minder as die kleur van jou vel tel.

Bitter min van die uitdagings wat Afrikaners tans beleef, is honderd persent nuut. Gaan vra jou oupa en ouma. Hulle sal jou vertel van oorlog, swaarkry, armoede, napraters, meelopers, dwarstrekkers, agtertrekkers, hanskakies, hensoppers en die naïewes se volstruispolitiek.

Jou oupa en ouma sal jou ook vertel van Afrikaners wat die moeilikste omstandighede oorwin het met visioenêre denke en dade. Dit is hulle bouwerk wat vandag steeds inspireer. Ons geskiedenis is ’n skatkis vol voorbeelde.

  • Adam Tas, ’n klein wynboer van Stellenbosch, het anderkant die monopolie van ’n internasionale handelsmaatskappy die moontlikheid van vrye handel gesien. Hy het opgestaan teen die korrupsie van die VOC en ekonomiese vryheid verwerklik.
  • Terwyl ek die toespraak skryf, kyk ek uit op die grootsheid van die majestueuse amfiteater. Dit is dieselfde natuurskoon as wat die Voortrekkers die eerste keer in November 1837 gesien het, toe hulle op die rand van die berg anderkant die ystergreep van Britse kolonialisme vryheid gesien en onafhanklike republieke verwerklik het.
  • Te midde van die genadelose verengelsing ná die Anglo-Boereoorlog het Afrikaners ’n Afrikaanse toekoms gesien. Met harde werk, deursettingsvermoë en diensbaarheid is Afrikaanse maatskappye en besighede, Afrikaanse skole en universiteite, Afrikaanse televisiekanale, Afrikaanse radiostasies, Afrikaanse kultuurorganisasies, derduisende Afrikaanse boeke, Afrikaanse tydskrifte en koerante, en ’n Afrikaanse Bybel tot heil van miljoene verwerklik.

Die Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Op 30 Junie 1941, op Die Voortrekkers se kongres in Skukuza, het dr. CF Visser gesê: “Voortrekkers moet optree as leiers wat die onsienlike sien.” Die Voortrekkers, wat die kulturele naamdraers van die oorspronklike pioniers is, is by uitstek ’n organisasie wat met ’n positiewe toekomsvisie leef.

Om met ’n positiewe toekomsvisie te leef, beteken nie lugkastele, fantasie, wensdenkery, dagdrome of om siende blind te wees vir die realiteite om ons nie. Vir ons Voortrekkers beteken toekomsvisie die vermoë om anderkant die enorme politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat ons daagliks in die gesig staar, nuwe toekomsmoontlikhede te sien en dit met verbeelding, skeppende dade en waagmoed te verwerklik.

Ons het vandag ’n nuwe geslag jong Afrikanerleiers nodig wat sulke visioenêre toekomsbouers is.

  1. Jong leiers wat die Here op Sy Woord neem dat Hy voorspoed en nie teëspoed vir ons beplan nie. Die belangrikste vraag vir ’n toekomsbouer is nie wie ek met my swakpunte, sterkpunte, persoonlikheidstipe is nie. Die belangrikste vraag is aan wie behoort ek? Die Een aan wie ek behoort, roep my om deel van Sy bouplan te word. In Christus ontdek ek as jong leier wie ek is en wat Sy doel vir my doel in die land is. Ons is nie vrywilligers nie, maar geroepenes. Waar ek as geroepene verantwoordelikheid aanvaar om as diensbare leier te begin bou, kom die koninkryk. Waar die koninkryk kom, is daar hoop.
  2. Die haat, venyn, kulturele onverdraagsaamheid, etikettering, veralgemenings en meerderwaardigheid wat aan die wortels van rassisme lê, breek, polariseer en vervreem mense. Toekomsbouers het geen geduld hiermee nie. Die dinamiese uniekheid van verskillende kulture, identiteite en gemeenskappe is nie ’n las wat aan die dwang van eenvormigheid onderwerp moet word nie. Jou unieke menswees, ook jou unieke kulturele identiteit, is ’n geskenk van die Here. Ons moet uniekheid omhels, waardeer en respekteer. So bou ons aan ’n medemenslike en ruimteskeppende Suid-Afrika.
  3. Om aan Christus te behoort, maak my nie minder Afrikaner nie. Jy mag Afrikaner wees. Jy mag trots Afrikaner wees. Jy mag jou kulturele identiteit koester. Jy mag lief wees vir jou taal en kultuur. Jy mag ons helde en prestasies bevestig. Toekomsbouers kyk ons foute en mislukkings eerlik in die oë en erken dit grootmoedig. Niemand is volmaak nie. Jesus staan op die skerpkant van elke kultuur en identiteit en hervorm dit tot sy beeld. Omdat Jesus ook vir Afrikaners lief is, beitel hy met liefde, deernis en genade die skerp en onooglike hoeke en kante van ons kulturele identiteit geleidelik af, totdat ons ook as Afrikaners beter, doelgerigte, diensbare instrumente in Sy hande is.
  4. Daar sal ’n spreekkoor van bullebakke en skoorsoekers wees wat Afrikaners in die openbaar wil afransel, verdag maak en verneder. Dit was so in die verlede en sal ook in die toekoms so wees. Om aan Christus te behoort, beteken nie dat Afrikaners polities korrek of ruggraatlose slaansakke van boelies en rissiepitte hoef te wees nie. Ons het jong leiers met insig en goeie onderskeidingsvermoë nodig wat dwarsdeur fopnuus, kriminalisering van ons verlede en verdraaide waarhede sien. Ken die feite van jou geskiedenis. Staan op met kulturele selfvertroue. Staan jou man met waarheid en waardigheid. Geskiedenis is vir toekomsbouers ’n leerskool en ’n kompas, nie ’n slaanstok en ’n wapen nie.
  5. Armoede is die wolf wat aan Suid-Afrika se deur krap en ons samelewing kan verskeur. ’n Warm kombers en ’n beker sop op ’n koue wintersaand is ’n tydelike daad van omgee, maar blywende langtermynoplossings word slegs bereik deur vaardigheidsontwikkeling en werkskepping. Nie jou kar, huis, bankbalans of toppos het ewigheidswaarde nie. Die enigste rykdom met ewigheidswaarde is ’n hart van goud. Wanneer jy eendag ’n suksesvolle entrepreneur is, die lint van jou tweede en derde winkel knip, jou fabriek bou, jou ontdekking patenteer, ’n slag op die aandelebeurs slaan, moenie selfsugtig leef nie. Ons het jong leiers met harte van goud en helpende hande broodnodig. Belê in die ontwikkeling van mense en onthou van die arm wit, bruin en swart kinders van hierdie land. Die skep van geleenthede vir kinders is die belangrikste belegging in die toekoms van ons land.
  6. Geskiedenis leer dat organisasies met rigiede denke en strukture geleidelik stagneer en uiteindelik sterf. Moenie vasval in die gemak van uitgediende strukture, ou woorde en middelmatige oplossings vir nuwe uitdagings nie. Ons het toekomsbouers met soepel denke nodig wat globaal dink en lokaal doen. Ek was bevoorreg om in België, Nederland, Duitsland, Italië en Oostenryk te sien dat gemeenskappe die nuwe energie- en netwerkpunte vir die toekoms is. Dinkfiks, aanpasbare en vlugvoetige organisasies wat hulself aan die hand van gemeenskappe posisioneer, oorleef nie net nie, maar floreer.
  7. Modernisering in ’n digitale eeu is nie ’n bedreiging vir kultuurorganisasies nie, maar ’n bevestiging van die dinamika en voortgaande ontwikkeling van ons skeppende kultuur. Ons het innoverende kulturele entrepreneurs nodig wat die nuwe wêreld van kommunikasie, oop sisteme en horisontale koördinering verstaan en ontgin. Digitaal is die taal van die toekoms. Ons moet dit ook in Afrikaans met selfvertroue kan praat.

Mense sê dikwels Afrikaners het nie meer leiers nie. Dit is doodgewoon onwaar. Ek sien in die Voortrekkerbeweging jong Afrikanerleiers met vars denke, energie, vindingryke planne, ondernemerskap en onselfsugtige diensbaarheid. In Die Voortrekkers is ons jeuglede die beste antwoord wat ons op die quo vadis-vraag het. Die Presidentsverkennertoekenning is ’n bevestiging en getuigskrif hiervan.

Daar is egter een ding wat ons nie kan doen nie. Ons kan nie jongmense se quo vadis-vraag beantwoord nie. Dit is jou keuse of jy die uitdaging en verantwoordelikheid wil aanvaar om ’n jong Afrikanerleier vir jou land en jou mense te wees, of nie.

Op die rand van die Drakensberg waar die wawiele van toekomsbouers Natal die eerste keer binnegerol het; op die plek waar die Voortrekkerwaspore vir ewig in die kontoere van die Drakensberg ingekerf is; aan die voet van die Voortrekkerkindbeeld by die Amfiteater van die Voortrekkermonument waar dr. Malan sy quo vadis-vraag gevra het sal jy ’N MODERNE VOORTREKKER SE MANIFES VIR DIE TRAP VAN NUWE SPORE vind. Daar staan:

Ek trap nuwe spore met
visie,
wilskrag,
verbeelding.

Deur onderskeidende denke,
moed
en diensbaarheid
hou ek koers deur
uitdagings te aanvaar
en nuwe geleenthede
te skep
om my geloof in Jesus,
Sy Woord,
my taal
en kultuur
met trots
te bevestig,
uit te leef
en te laat groei.

Ek eer my voorgangers se spore vir
wat hulle bereik het
en vir die betekenis wat hulle gevestig het.

Op my pad sal ek
ontdek,
ontgin,
bou
en handhaaf
tot voorspoed van
my gemeenskap,
my land,
my medelandgenote
en my kontinent.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frm ·

Dankie Danie dit is die eerste artilel in n lang tyd wat God se alamag erken en benadruk dat die afrikaner se toekoms slegs kan verbeter as ons wegkyk van ons self en op Hom staat maak om ons dmv Sy aangesteldes te lei. Mag hierdie leiers waarvan jy praat vir altyd hul oe op God gerig hou en dan die mense om hulle dien. Hou koers.

jaco ·

het ek reg gelees: daar was n kwartmiljoen mense in die amfiteater by die monument se inwyding in 1949. n kwartmiljoen is tog 250 000
deesdae met geloftedagvierings, daag skaars 300 mense by die monument op. ander volksfeeste word ook maar swak bygewoon
maar O ons almal wat so gebrek aan belangstelling het (ons stem nie eens meer nie), is VINNIG om te kla oor alles wat so skeef loop in SA

Jerry ·

Danie dit is wys en dit is waar, maar die aanduidings is dat dit nie oor die medium en langtermyn lewensvatbaar in SA kan wees nie. Dinge is besig om lelik skeef te loop vir die Afrikaner. Dit is onnodig om die jeug ook te wil blootstel aan dinge wat onskuldige mense in ander Afrika lande moes verduur en wat hulle uiteindelik geknak het! Die wereld is nou die jeug se oester, dit is nie meer SA nie en hoe gouer ouers en onderwysers dit besef, hoe beter!

Human ·

Oupa en Ouma het nie nodig gehad om 50 miljoen plus Afrikane saam te sleep nie en indien iemand dink dit gaan in die hede en toekoms werk is daar `n groot verrasing wat op hom of haar wag. Daar is `n lied van Oupa en Ouma wat, indien dit toegepas word, sal werk en dit is Vat jou goed en trek Ferreira.

Kallie ·

Daai 50 miljoen is die realiteit waarmee oupa en ouma se nageslag moet deel. Dan is daar nog onwettige immigrante.

Expat ·

Ek was jare gelede ‘n Voortrekker, ek is so bly om van die Afrikaner indoktrinasie ontslae te wees. Danie jy moenie jong mense se toekoms bevonk met jou quasi patriotiese nonsens nie. Laat hulle liewer in vrede emigreer, dis die beste vir hulle toekoms. Hou koers uit SA!

Petrus ·

Genade Ryno, waarom so haatdraend? Ons is so min. Afrikaners in die buiteland kan nog tot ons redding kom.

Jerry ·

Ryno die gevoel is wedersydig, hoekom dink jy emigreer die Afrikaner, mense soos expat? Dit is beslis nie net oor die ANC nie, maar ook oor jou tipe wat nie jou plek in die klug van n demokrasie ken nie en jou mede jeugdige Afrikaners almal so onnodiglik in groter gevaar stel as wat dit sonder jou tipe die geval sou wees!

rassie ·

My vraag aan die skrywer spruit uit die volgende:

Hy merk op dat “Daar ‘n spreekkoor van bullebakke en skoorsoekers sal wees wat Afrikaners in die openbaar wil afransel en verdag maak en verneder.”

Hy sê verder : “Ken die feite van jou geskiedenis”.

Dan sê hy my oupa en ouma moes my vertel het van Afrikaners wat die moeilikste omstandighede oorwin het ens.

Dan gebruik hy as voorbeeld van ‘n Afrikaner die persoon Adam Tas. Adam Tas is in 1722 oorlede.

Indien Adam Tas wel ‘n Afrikaner was, is die aanname korrek.

Indien nie, is dit geskiedkundig verkeerd.

My spesifieke vrae is dus die volgende:

Was daar in 1722 al iets soos ‘n Afrikaner? Behalwe nou die die verklaring van die omstrede Biebow dat hy een was. Was Adam Tas nie bloot ‘n Hollandse kolonis met eie egoistiese geldbelang in ‘n Hollandse kolonie nie? Net soos sy groot vyand , die korrupte Nederlandse administrateur, Adriaan Van der Stel nie?

Sal opheldering deur die skrywer waardeer.

Pieter Botha ·

Weaving Spiders Come Not Here.
Are you on the Square?
Direct me.

klug ·

Interessant dat min van ons jeug hier kommentaar lewer. Ons was op dieselfde wyse indoktrineer na 1994. Baie van ons het die uitdaging aanvaar en geglo en ons vingers deur gewerk vir die reenboog nasie. Jy mis egter n belangrike aspek dr. Die jeug van vandag het n verwysings raamwerk terwyl ons net n belofte voorgehou is. Hulle kan self sien wat is oor van die land wat hul oumas en oupas gebou het en oorhandig is om vernietig te word. Natuurlik sal meeste nie bly om verder mishandel en onterf te word nie. Sou hulle wel, sal hul oumas en oupas hul hopelik onterf. Ons het ons verantwoordelikheid teenoor Suid Afrika nagekom en dit was vergeefs. Meeste van ons sal nie toelaat dat n volgende generasie deur hierdie land misbruik word nie. Ek is daarom oortuig dat jou syfer van 67% konserwatief is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.