Die pad vorentoe: ʼn keuse tussen maak en breek

mercy-kannemeyer-2019-01

Mercy Kannemeyer. Foto: Verskaf.

Deur Mercy Kannemeyer

Dit is 2019. Die verkiesing is om die draai, politici is aan die werk en menigte landsburger sit hul hoop op ’n beter Suid-Afrika. Diegene wat nie hul hoop op ’n beter Suid-Afrika plaas nie, beraam moontlike emigrasieplanne. Hoe dit ook al sy, 2019 is ’n fundamentele jaar om die gemoed van ons land te meet.

As student neem ek gereeld deel aan gesprekke oor die stand van die land en die impak van ons hede, sowel as verlede. ’n Aspek wat gereeld opduik, is of ons gereed is om die verlede ten volle agter ons te sit en saam ’n beter Suid-Afrika te bou. Dis immers 25 jaar ná die afskaffing van apartheid (ek hoop nie jy rol jou oë nie, liewe leser, maar dit is steeds nodig om hieroor te praat) en ons almal is veronderstel om nou gelyk behandel te word. Dit is ongelukkig nog nie die geval nie. Die werkloosheidsyfer is hoog en talle mense het nog nie behoorlike behuising nie. Korrupsie is bo aan die agenda en ons raak al hoe minder verdraagsaam.

Dit is 2019 en ek het vrae:

  1. Hoe beweeg ons vorentoe as ’n ongelyke bedeling van mag en klas ons nog in die gesig staar? Ek wil graag glo dat ons politici werklik elke burger se belange op die hart dra, maar ek besef ook dié idee is vir talle te naïef. Tereg – in ag genome die mense wat nog steeds op die buitewyke van die samelewing moet oorleef. Die land sal myns insiens beter daaraan toe wees as politici dié mense op die buitewyke (die armes en dié mense wat nie gehoor word nie) nie slegs tydens verkiesingstyd aandag gee nie.
  2. Hoe gaan ons ons verskille omarm sodat ons meer van mekaar kan leer? Ons landswapen praat van eenheid in verskeidenheid. Dit is verblydend om gevalle te sien waar diversiteit verwelkom word – dis mos hoe dit hoort. Net so is dit futiel om te sien dat iets soos ’n soen tussen verskillende rasse op 7de Laan nog steeds sommige mense ongemaklik maak. Dit baat ons min om dit wat ons anders maak, te verstoot. Ons moet juis die begeerte hê om saam te praat, saam te doen. En alles is natuurlik ook nie net negatief nie, maar as iets soos ’n soen tussen mense van verskillende rasse jou nog ontstel, is Suid-Afrika miskien nie die plek vir jou nie.
  3. En, laastens, wonder ek of ons mekaar genoeg ruimte gee om foute te maak. Dit raak al hoe meer gewild om reaksionêr te wees, maar wat bring dit ons in die sak? Reaksionêre gedrag is onlangs getoon deur die rassevoorval by Schweizer-Reneke. ’n Groot les hieruit is dat ons land nog geweldig verdeeld is. Die onderwyseres, Elana Barkhuizen, se naam was op almal se lippe en ongeag wie jy oor die voorval vra, blyk dit duidelik dat rassekwessies nog diep sny.

Ons is nog net 25 jaar ’n demokrasie. Ek word vanjaar 25 en het werklik nog nie die lewe ten volle uitge-figure nie. Indien jy op 25 al alles agtermekaar het, laat weet tog wat ons kan doen om die land te verbeter. Ek verwelkom oop gesprekke en denke.

  • Mercy Kannemeyer voltooi tans haar meestersgraad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis maklik. Gaan kyk na Afrika…en doen dit anders. Ek was al in meeste lande in Afrika. Die top 5% van die populasie is skatryk. Hulle is die politici, hulle familie en vriende, en die krimineel wat so magtig is dat hulle bokant die wet is. En die res van die populasie? Squatterkamp. Almal bly kerm oor “gelyk wees”……..maar in Afrika is almal eers gelyk as almal eweveel NIKS het nie….gaan kyk maar. En dis hoekom baie mense die land verlaat….voor ons almal “gelyk” is!! Ek wil ook graag eerder bou as afbreek…….maar as alles wat ek bou voortdurend afgebreek word, dan gaan bou ek op ‘n ander plek.

Melanie ·

Cyril het verlede maand belowe dat al die miljoene werkloses binnekort werk sal kry. Kom ons kyk waar kruip daardie miljoene posiesies weg. My geleerde blanke seun sit al vyf jaar sonder werk. Daar is baie blankes wat sonder werk sit.

Stephan de S ·

Mercy ek het vir jou nuus : jy gaan nooit die lewe uit-figure nie. Trouens jou verwagting dat jy en andere dit kan uitfigure is, bloot jeugdige voorvarendheid selfs arrogansie. Iemand het geskrywe : ….the criminal regimes were made not by criminals but by enthusiasts convinced they had discovered the only road to paradise. Pasop om in dieselfde kategorie te beland. Los jou idealistiese resepte ,aanvaar die lewe en mense om jou en doen wat jou hand vind om te doen. Klein-klein bereik ons baie meer.

Gert ·

Die term Gelykheid word in Suid-Afrika dikwels gebruik sonder om te kwalifiseer watter tipe gelykheid daar van gepraat word. So is daar Gelykheid voor God, daar is Gelykheid van geleenthede, en daar is Gelykheid van uitkoms, maw gelyke inkomste, gelyke lewenstandaard ens. Ek vermoed meestal word laasgenoemde bedoel, en dis natuurlik die siening van kommuniste. As daar gelykheid van geleenthede is, sal daar NOOIT gelyke uitkomste wees nie, en om gelyke uitkomste te verseker, moet geleenthede ongelyk forseer word, bv deur AA en BEE, word sekere groepe teruggehou sodat ander se uitkomstes beter kan wees.
Die nadeel van ongelyke geleenthede ter wille van gelyke uitkomste is dat die wat teruggehou word dikwels dan emigreer, en hulle talente gaan verlore vir die land.

Vaalseun ·

Lekker om te lees hoe jy waarneem en dink, Mercy. Dit sal jou dalk verbaas om te hoor dat wat jy nou waarneem en oor dink en wonder alreeds op Stellenbosch 50 jaar gelede heftig gedebatteer is. Vra maar vir Max du Preez.
Wanneer daar heftige debat en meningsverskille is, kan jy veiliger voel as wanneer daar op een maat gedreunsing word. Die kenmerk van beskawing is kritiek, en van demokrasie, opposisie. Sonder opposisie is daar nie ‘n demokrasie nie, maar ‘n totalitêre regime en diktatorskap. Korrupsie en magsmisbruik vervang dan wet en orde, en die gewone burger word maar net ‘n nie-amptelike slaaf van die heersers.
Histories is die kenmerk van ‘n vry man dat hy ‘n wapen mag dra om homself en sy mense te verdedig en te beskerm. Wees dankbaar wanneer daar meningsverskil is, want dit beteken jy is vry – jy mag jouself verdedig deur jou stem te laat hoor.

Farmer Brown ·

Baie dankie vir jou skrywe Mercy, ek geniet dit om te hoor van die jeug , hoe julle die lewe ervaar.
My seun is nog op skool en ek lees gereeld die propaganda wat hulle in Lewens Orienteering vir julle leer.
Die waarheid is egter nie so eenvoudig nie , almal is nie gelyk nie , en jy het die reg op jou eie opinie.
Dit is belangrik om jou geskiedenis te ken om te weet waar ons vandaan kom en nie ons foute te herhaal nie , maar ongelukig word julle ge-breinspoel om ‘n sekere manier te dink.
Die ou mense is ook nie altyd reg nie , want wat vir hulle gegeld het , is nie meer van toepassing vandag nie .
So julle is ongelukig op julle eie , geen handleiding vir julle toekoms nie , jammer , ons probeer ook self dit uit -figure.

John ·

My skrywes word telkens gekelder, maar my antwoord bly nee… die Peter Principle moet die VF maar op sy eis hanteer en die bitter pil sluk.. Nee! Vir Oom Selfie om op die map te klim moet hy en sy baie #meme’s maar die onnoseles bearbei… selfs hulle sal later die hasepad kies. Fire die vlieg in die salf… of is hy nou die kersie op die koek?

Dries du Toit ·

Ai Mercy . Om mense te verander om opgewonde te raak oor n soen tussen verskillende rasse is n onbegonne taak. Maar julle is gebreinspoel om dit nie net te aanvaar nie maar te propageer. Die mense wat dit nie doen nie word uitgekryt as verfoeilike rassiste. Al kry hierdie mense dit reg om dit te aanvaar verseker ek jou dat die seerste seer in sekere mense se harte ontplof as hulle sulke dinge sien en ervaar. Maar daarvoor het jy en baie van jou maats geen maar geen simpatie nie. Hierdie gevoel is onwillikeurig binne ons en al beveg jy dit hoe ookal dit sal nooit verander nie. Al wat julle reg kry is om ons te ettiketeer as slegte mense

Jerry ·

Mercy, die vraag is wie saai verdeeldheid en onverdraagsaamheid, met wat en hoekom. Verdeeldheid en onverdraagsaamheid word gesaai deur misleiding, hoe vlak van misdaad en versuim van wetstoepassers om op te tree, wetgewing wat wetsgehoorsame burgers vervolg wanneer hulle hulself verdedig teen betreders en rowers, waterbesoedeling, lugbesoedeling, swak dienslewering, haatuitsprake en opsweping, intimidasie, valse aantygings, afhanklikheid van sekere howe en die MRK van staatsgedrewe NDR idees en programme, dubbele standaarde en uitsluiting/diskriminasie van sekere rasgroepe tot die ekonomie, staatskaping, kommissies sonder vervolging van die groot politieke rolspelers, VBS skandaal, grondhervorming skandaal ens. Hierdie dinge gebeur agv n ideologie en n strategie van diegene wat die politieke mag het en graag ook die ekonomiese mag wil he en wie by name, die ANC heet. Hoekom doen die ANC dit aan Suid Afrikaners? Oor ideologiese politieke magshebsug en geldmaghebsug vir die elite, gelykmaking en armoede van die res en wat n voorvereiste is vir die bereiking van die ideaal van nasionalisering en n sosialistiese staat. Dit raak n stryd tussen revolusioneres en teen revolusioneres agv die bogenoemde en nog baie meer en spruit uit verraad van die revolusioneres. Daar is dus hoop vir die revolusioneres, die res gaan moet saamstaan en baklei vir n plekkie in die son!

Jerry ·

Vervolg. Jy kan dus die land verbeter net deur eerlike en opregte politieke intensies wat daarop gemik is om alle hulpbronne goed te bestuur en te bewaar tot voordeel van alle groepe en die se nageslagte. So skep jy vertroue, beleggings, investering, werk en raak die ekonomiese koek groter. Misleiding, korrupsie, selfverryking en plundering maak die ekonomiese koek nie net kleiner nie, dit kan die koek heeltemal laat verval tot dit verdwyn. Die ANC het die rand (ekonomie) laat val met staatskaping om die klimaat te skep vir verandering soos bv OSV. Dit is dieselfde ANC, maar net met n ander mombakkies aan wat die rand weer wil optel en verandering implementeer, omrede die proses vorentoe homself weer sal herhaal om die klimaat te skep vir verdere verandering, nader aan nasionalisering. Dit maak dus nie saak wat ons doen om die land te verbeter en wat ons bewaar nie, die ANC het dit ten doel om dit een of ander tyd te plunder om weer n klimaat te skep vir verdere verandering wat net ten goede is van die ANC elite en revolusionere strukture. Verandering wat goed is vir die elite en revolusionere strukture, is nie goed vir die teen revolusioneres of die miljoene werkloses nie. Die ANC se verandering skep groter armoede en ellende vir die massas en plaas enorme druk op n belastingbetalerspoel wat daagliks verklein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.