Die pad vorentoe vir grondbeleid

Argieffoto

Met die uitgebreide openbare verhore rakende moontlike onteiening sonder vergoeding afgeloop, raak dit tyd om te kyk in watter beleidsrigting die debat ontwikkel, en wat mens uit die verhore kan wys word.

Eerstens moet mens toegee dat die oorgrote aantal deelnemers aan die openbare verhore ten gunste daarvan was om die Grondwet te verander en onteiening sonder vergoeding te vergemaklik.

Dit was altyd te verwagte. Weens die aard van (dikwels gewelddadige) onteiening van grond op grond van ras tussen 1652 en 1994, besit die meerderheid mense in die land nie grond nie, so onteiening sonder vergoeding is nie vir hulle ʼn persoonlike bedreiging nie. Jy kan nie verloor wat jy nie het nie.

Boonop is daar duidelik ʼn vaag omskrewe, waarskynlik ongegronde maar nietemin bestaande hoop by hierdie meerderheid eiendomloses dat hulle dalk in die toekoms geldelik of deur middel van die verkryging van grond persoonlik kan baat danksy onteiening sonder vergoeding.

Dit beteken nie hulle is reg nie – as eiendom waardeloos word, verloor almal – niemand kry iets nie. Almal word ewe arm en so ʼn beleid het, met die moontlike uitsondering van die onteiening van kerkgrond tydens die Franse Rewolusie, oral klaaglik misluk en lande geruïneer. Maar enigiemand wat nie die eiendomloses se versugting en standpunt begryp en daarmee meelewing het nie, verstaan nie die vernietigende invloed van die geskiedenis van grondverlies op die meerderheid mense, hul gesinsbande, lewenstyl en gevoel van eiewaarde nie.

Selfs erger – diegene wat nie hierdie grondonreg van die verlede wil erken en verbeter nie, is duidelik siende blind en horende doof vir die nooddruf van mensonterende en sielsvernietigende armoede wat oral om ons is, by die meerderheid van ons mense – as jy net jouself wil oopstel en ʼn bietjie omgee met wat die Christelike geloof as deernis en barmhartigheid ken.

Dit is dus sekerlik net die mees stompsinnige mense wat nie die morele omvang en aard van die grondkwessie sal begryp en respekteer nie.

Maar dit is ook ʼn praktiese, politieke kwessie, en ʼn grondwetlike een. Die aard van grondwetlike voorskrifte is dat die wil en voorkeur van die meerderheid nie bepalend is nie, hoewel dit uiteraard in ag geneem moet word. So byvoorbeeld is verreweg die meerderheid Suid-Afrikaners ten gunste van die doodstraf, maar dit verander geen snars aan die ongrondwetlikheid daarvan nie. Verreweg die meerderheid Suid-Afrikaners was ook teen die wettiging van gay-huwelike, maar grondwetlike bepalings word nie deur die wil van die meerderheid vasgelê nie.

Hoewel die morele en grondwetlike debat belangrik, interessant en invloedryk op die huidige fase van die grondkwessie inwerk, het ons tans eintlik met ʼn stuk praktiese politiek te doen. Hierdie proses word nou verder gevoer in die parlement, waar verskillende partye verskillende standpunte het. Wat is die huidige aanduidings van hoe goeters gaan afloop, en watter partye hul sin gaan kry?

In hierdie stadium lyk dit of die party wie se beleid die kleinste kans op uitvoering het, die EFF is. Die EFF wil hê alle grond moet aan die staat behoort, wat dan vir landsburgers permitte kan gee om vir 25 jaar (hernieubaar as die staat meen jy boer suksesvol) te boer met gewasse of diere soos deur die staat voorgeskryf.

Dit is onomstootlik dat byna niemand – behalwe nou diegene wat deur die EFF aangetrek en aangery is – dink dis ʼn slim idee om al die grond vir die staat te gee nie. Daar is min vertroue in die staat se vermoë om enigiets behoorlik te bestuur, soos haas elke denkbare huidige voorbeeld onomstootlik bewys.

Maar belangriker, diegene wat onteiening sonder vergoeding voorstaan, staan dit nie vir hulself voor nie. Hulle wil self grond besit. Dit kan nie gebeur as die staat al die grond besit nie. Die korrektheid van oudpres. Nelson Mandela se gerusstellings aan die destyds so Rooi Gevaar-beritteltitte NP-onderhandelaars tydens gesprekke in die aanloop tot demokrasie in 1994, bly geldig: Suid-Afrika is ʼn land van aspirerende armoede, nie sosialisme nie.

So die EFF, wat hierdie parlementêre proses aan die gang gesit het, gaan sy beleid nie aanvaar kry nie.

Ironies genoeg is die grondkwessie tans ʼn wenkwessie vir die DA, wie se beleid is om kommunale besit (en huur vanaf die stadsraad in townships) om te sit in individuele eiendomsbesit. Dit is sekerlik die helderste beleidspunt in jare uit die DA, en daar is min kritiek op van die gemiddelde Suid-Afrikaner se kant, hoewel die ingesette invloed van tradisionele stamleiers in die ANC, EFF en IVP sekerlik sal beteken die DA se beleid sal nie heelhuids aanvaar word nie.

Daar is egter ʼn beter kans dat ʼn groter deel van die DA-beleid as die EFF se voorstelle in die uiteindelike afloop van die kwessie beslag sal kry.

ʼn Stewige wenk vir die DA uit hierdie gebeure: ʼn Beginselvaste, duidelike beleid gegrond in liberale beginsel is vir baie kiesers veel aantrekliker as ʼn reaksionêre verwatering van ANC-voorstelle.

Gewoonlik sou dit maklik wees om te voorspel watter party se beleidsvoorkeur uiteindelik aanvaar sou word – die ANC s’n, want hy het ʼn volstrekte meerderheid in die parlement. Dit veronderstel egter dat die ANC ʼn beleidsvoorkeur het, en in hierdie stadium is dit gewoon onwaar.

Die ANC dobber koersloos en teenstrydig rond oor die kwessie – en nogmaals, soos te veel onder pres. Cyril Ramaphosa gebeur – leierloos. Al waarmee Ramaphosa oor hierdie kwessie uitblink, is ʼn gevoelvolle waardering van die verlede. Oor die toekoms pik hy verward.

Wat hy wel verlede week in nog ʼn oorhaastige laatnag-aankondiging op televisie (dit raak ʼn tendens) gedoen het, was om aan die land te vertel dat die ANC die Grondwet wil verander.

Maar hy sê nie hoe nie! Hy bepleit ʼn verandering aan die Grondwet, die kernwaardes van ons politieke bestel, sonder om te sê (en mens wil regtig op beskikbare getuienis ernstig beweer sonder om te weet) wat sy plan is. Hoekom op aarde sal jy dan nie jou plan bekend maak as jy een het nie?

Sulke onverantwoordelikheid en intellektuele luiheid is sekerlik die laagtepunt vir sinvolle en doeltreffende regering. Dit sal nogal regtig spesiaal, polities volwasse en positief wees vir die land as die ANC kan besluit wat hy wil hê, en so vriendelik sal wees om dit te deel met die mense wie se lewe daardeur geraak gaan word.

Prakties gesproke is die volgende stappe in die proses nou dat die tersaaklike parlementêre ad hoc-komitee deur die meer as ʼn halfmiljoen skriftelike voorleggings wat die parlement van landgenote ontvang het, moet lees. Dis nogal ʼn taak.

Daarna sal parlementêre verhore vir rolspelers plaasvind, waarna die komitee sy beslissing sal verwoord en dit aan die parlement sal voorlê vir goedkeuring.

Indien besluit sou word dat die Grondwet gewysig moet word, sal dit nie dadelik gebeur nie. Dis ʼn afsonderlike en omvattende proses.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Jan-Jan, soos gewoonlik oordeel jy met realisme en wysheid. Vir 90% van die mense in die land egter is dit soos jy dit in paragraaf 5 gestel het. Vir, by verre, meeste in die land, veral die aktiviste soos die EFF, gaan dit om ander mense hul pyn te laat voel, want hulle word self nie van die pyn verlig nie, meestal verlig hulle hulself nie van die pyn nie, dus glo hulle dat ander sal hulle hoor eers as hulle jou tot onder daardie pyndrempel geneem het, dan eers voel hulle bevry. Hulle is nooit van die waarheid ingelig… Lees meer »

Pietman

Waarskynlik meer van ‘n geskarrel in Lithuli Huis oor die kwessie as waarvan ons bewus is. Elke enkele besluit word nou gemeet in terme van stemme (wins/verlies).

Goeie artike om relevante kwessies in perspektief te plaas.

Ella

Mnr Ramaphosa gaan kuier te veel oorsee en in Afrikalande dit terwyl ons eie land nie weet waarheen, hy blykbaar ook nie…
Nou kuier hy weer by Joseph Kabila.
Is hy werklik ernstig om ons land te laat slaag of was dit net n uitdaging om president te word en nou tas hy verward rond weens gebrek aan standpunte, druk van die radikale partye en teenkanting en ondermyning van faksies.
Ek hoop hy kry sy morele kompas terug gouer as later…

julius

Hier stem ek saam, die anc gaan dit wet verander nog voor die proses afgehandel is anders verloor hulle stemme. Na die verkiessing sit hulle met die meerderheid en kan doen net wat hulle wil.

Gerhard

Ongelukkig moet die ANC met die EFF saamwerk om grondonteiening sonder vegoeding wettig te maak, daarom sal dit juis EFF beleid wees wat ‘n goeie kans staan om aanvaar te word.