Die padkaart na die Withuis vir Donald Trump

Donald Trump (Foto via ABC-video)

Donald Trump (Foto via ABC-video)

Na nóg ʼn reeks oorwinnings vir Donald Trump in noordoostelike state is sy kanse om die Republikeinse Party se presidentskandidaat te word nou die beste tot nog toe. ʼn Verkiesingstryd tussen Donald Trump en Hillary Clinton lyk al waarskynliker.

Die media fokus gereeld op Trump se swakpunte en daar is genoeg redes waarom ʼn mens kan dink dat Trump nie president van die VSA kan word nie. Sy oppervlakkige toesprake, onvermoë om oor wesenlike politieke kwessies te debatteer, sy eie politieke en persoonlike verlede en die talle omstrede uitsprake wat hy oor die afgelope jaar of wat gemaak het, is genoeg redes vir talle kommentators om te dink dat hy eintlik geen kans behoort te staan om ʼn meerderheid van Amerikaanse kiesers te oortuig om vir hom te stem nie.

Het Trump enigsins ’n kans om op 8 November teen Clinton te wen? Wanneer die unieke dinamiek van vanjaar se verkiesing saam met tipiese patrone van ʼn presidentsverkiesing geanaliseer word, is daar genoeg rede om te dink dat daar wel ’n scenario bestaan waarvolgens Trump die verkiesing kan wen. Sy kanse tans is heelwat minder as 50% om hierin te slaag, maar indien hy en die Republikeinse Party ’n paar belangrike stappe doen, kan sy kanse later vanjaar heelwat toeneem.

Trump sal die volgende 15 goed suksesvol moet regkry indien hy ’n kans wil staan om in November te wen:

  1. Wen ’n meerderheid van afgevaardigdes teen 7 Junie

Op 7 Junie sal die laaste vyf state in voorverkiesings stem. Om onbestrede voor die nasionale konvensie as kandidaat aangewys te word moet Trump 1 237 afgevaardigdes oortuig. Hy het tans net meer as 950 afgevaardigdes en daar is ʼn redelike kans dat hy by 1 237 teen 7 Junie kan uitkom. Indien hy nie by 1 237 uitkom nie, sal daar by die nasionale konvensie in Cleveland gedurende Julie gestem word en dit sal die geleentheid vir die anti-Trump-kamp skep om teen hom te verenig.

  1. Verenig die party teen 18 Julie

Van 18 Julie sal die Republikeinse Party vir drie dae lank hul benoemingskonvensie in Cleveland, Ohio, hou. Daar is laas in 1976 by só ’n konvensie beslis wie die party se kandidaat moes wees. In elke verkiesing ná 1976 is die party se kandidaat lank voor die konvensie tydens die voorverkiesings bepaal. Vanjaar is die party geweldig verdeeld. Ná agt jaar van ’n Demokraat in die Withuis is daar egter een saak wat die Republikeine verenig en dit is hul innige behoefte om weer ’n president uit hul eie geledere te sien.

  1. Kies die regte adjunk

Trump het bykans geen politieke ervaring nie en word as ’n vyand van die gevestigde belange in die Republikeinse Party beskou. Verder het hy ook ’n groot uitdaging om meer vroue en kiesers uit minderheidsgroepe te kry om hom te steun. ’n Goeie keuse vir ’n adjunkkandidaat kan dus ’n Republikeinse vrou uit ’n minderheidsgroep met goeie politieke ervaring en steun vanuit die gevestigde belange in die party wees. Susana Martinez, ’n tweedetermyngoewerneur van Nieu-Mexiko kan groot waarde vir Trump toevoeg en voldoen aan al hierdie vereistes.

  1. Bou ’n sterk grondvlakstruktuur

Toe George W Bush in 2004 tot ’n tweede termyn as Amerikaanse president verkies is, het talle kommentators sy sukses aan sy veldtog se sterk grondvlakstrukture toegeskryf. Ek het self in Oktober en November 2004 vir drie weke aan die Bush-veldtog meegewerk en was een van meer as ’n miljoen geregistreerde vrywilligers wat in ’n uitstekend georganiseerde veldtog letterlik elke kieser regoor Amerika geteiken het. In 2008 en 2012 het die Republikeinse kandidate swak grondvlakstrukture gehad en talle berekenings toon dat tussen 2 en 5 miljoen konserwatiewe kiesers gedurende hierdie twee verkiesings nie gaan stem het nie. Grondvlakstrukture in elke dorp en woonbuurt met goed georganiseerde geografiese en datastelsels is in hedendaagse verkiesings ’n vereiste. Trump kan daarvan vergeet dat sy nasionale populisme wat in die voorverkiesings genoeg was om hom te laat wen dieselfde effek in November, wanneer hy ʼn baie groter kieserskorps moet bereik, sal hê.

  1. Stel ’n sterk meerderheidskoalisie saam

Elke kandidaat in Amerikaanse verkiesings skep ’n koalisie van kiesersgroepe wat voldoende is om minstens 50% van die stemme te wen. Gedurende die afgelope paar dekades het Republikeine se koalisie uit Christen-konserwatiewes, vryemarkgesindes, libertariërs en mense wat oor sake soos veiligheid, waardes en ekonomiese vryheid sterk voel, bestaan. Daardie koalisie sal nie vanjaar weer realiseer nie. Trump kry egter heelwat steun uit die werkersklas en kan moontlik ook met ’n meer proteksionistiese boodskap steun uit minderheidsgroepe trek.

  1. Onderdruk entoesiasme onder Demokrate

’n Hele paar miljoen minder kiesers het sover vanjaar in die Demokrate as in die Republikeine se voorverkiesings gestem. Clinton is bekend daarvoor dat sy nie juis ’n opwindende kandidaat is wat soos Obama in 2008 kiesers opgewonde maak nie. Indien hierdie patroon voortduur kan heelwat Demokrate soos in die tussenverkiesings in 2010 en 2014 tuisbly. Trump kan hierdie neiging aanmoedig deur op Clinton se swakpunte te bly hamer en deur ’n wig te bly indryf tussen Clinton en die miljoene Demokrate wat tans vir Bernie Sanders steun en wie se stemme Clinton sal nodig kry in November.

  1. Behou en verhoog entoesiasme onder Republikeine

Vir Trump om te wen sal hy daarin moet slaag om ’n baie hoë stempersentasie onder konserwatiewe, wit kiesers te verwesenlik. Ongelukkigheid met Obama en ’n afkeur in Clinton sal gebruik moet word om die miljoene konserwatiewes wat in 2012 tuisgebly het vanjaar by die stembus te kry.

  1. Bou steun onder minderheidsgroepe

Sedert 1948 kon geen Republikeinse presidentskandidaat daarin slaag om ’n meerderheid van die stemme van ’n minderheidsgroep soos dié van swart Amerikaners op hom te verenig nie. Amerika is besig om vinnig demografies te verander en sou Trump in November wil wen sal hy heelwat beter onder Afro-Amerikaners en ander minderheidsgroepe moet vaar. Mitt Romney het in 2012 ’n hoër persentasie wit stemme op hom verenig as wat Ronald Reagan in sy wegholoorwinning in 1980 behaal het. Tog het Romney redelik ver teen Obama verloor. Die rede is dat wit kiesers gedurende hierdie periode vanaf 88% tot 72% van die kieserskorps gekrimp het. Vanjaar sal wit kiesers op die meeste 70% van die totale kieserskorps uitmaak. Bush het in 2004 daarin geslaag om meer as 10% van die swart stemme en byna 40% van kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms te wen. Trump sal minstens hierdie persentasies moet ewenaar indien hy enigsins ’n kans wil staan om te wen.

  1. Fokus op Clinton se swakpunte

Clinton het ’n lang rekord met talle foute, swakpunte en selfs mislukkings. Indien Trump daarin kan slaag om die verkiesing rondom Clinton se swakste punte te laat draai kan hy mense ontmoedig om vir haar te stem, maar ook veral onafhanklike kiesers wat nie aan een van die twee groot partye verbind is nie oortuig om teen haar en dus vir hom te stem.

  1. Skep sterk beleidsvoorstelle

Trump is waar hy is weens sy populistiese aanslag. Dit is egter belangrik om te besef dat minder as die helfte van mense wat in November gaan stem aan die voorverkiesings deelneem. Daar is miljoene kiesers wat baie skepties oor Trump is en hy sal hulle moet oortuig dat hy ’n goeie president kan wees deur goeie beleidsvoorstelle bekend te maak en deur die vermoë te ontwikkel om daardie voorstelle te verduidelik en te debatteer.

  1. Berei deeglik voor vir televisiedebatte

Daar vind gewoonlik in die maand of wat voor die presidentsverkiesing drie debatte tussen die twee partye se kandidate plaas. Clinton het baie ervaring met debatte en haar goeie vermoë om op haar voete te dink is bekend. Trump daarteenoor het sover ‘’n slegte rekord in televisiedebatte en hy sal besonder baie moeite moet doen om deeglik vir debatte voor te berei omdat hierdie debatte ’n manier het om die laaste 5% van onsekere kiesers kort voor die verkiesing wesenlik te beïnvloed.

  1. Bou ’n goeie netwerk van donateurs

Tot dusver finansier Trump sy eie veldtog. Hy sal egter nie sonder groot donateurs ’n nasionale verkiesing kan aanpak nie. Daarvoor sal hy met die Republikeinse Party moet saamwerk ten einde die party se ou bekende donateurs na die tafel te bring. Minstens een miljard dollar sal nodig wees om ’n doeltreffende veldtog te voer.

  1. Wees toeganklik vir die media

Een van Trump se sterkpunte is dat hy voortdurend toeganklik vir die media is. Terwyl Clinton onderhoude met joernaliste en mediakonferensies vermy, is Trump daagliks op televisie en radio en hou hy voortdurend mediakonferensies. Die media hou hiervan en Trump kan dit in ’n groot voordeel omskep wanneer hy in aanloop tot die verkiesing goeie mediadekking nodig het.

  1. Wees steeds omstrede, maar doen dit meer berekend

Trump is Trump en ’n groot transformasie van die omstrede figuur na ’n soort konvensionele politikus sal net veroorsaak dat Trump uit sy diepte sal lyk en kan selfs veroorsaak dat hy van sy ou steunbasis kan verloor. Trump se omstrede uitsprake en populistiese aanslag het vir hom heelwat steun gewen en hy moet hierdie beeld van iemand wat bereid is om ’n ding te sê soos wat dit is probeer behou, maar hy sal wel sy eie omstredenheid beter moet aanwend en die kwessies waaroor hy omstrede wil wees beter tot sy eie voordeel moet kies.

  1. Bly ’n buitestander

Een van Trump se grootste uitdagings sal wees om met die Republikeinse Party saam te werk en steeds sy beeld as buitestander te behou. Trump is gewild omdat hy van buite die politieke omgewing kom en hard en krities oor die politieke stelsel in Amerika praat. ’n Groot deel van die Amerikaanse kieserskorps wil graag sien dat ’n buitestander, wat nie deel is van die regerende elite in Washington DC nie, as president verkies moet word. Dit is ook waarom Sanders redelik goed vaar in die Demokrate se voorverkiesings. Trump sal sy beeld as ’n kritikus van Washington DC moet behou, terwyl hy wel bande smee met sy party se leierskap en strukture.

Gaan Trump die volgende Amerikaanse president wees? Waarskynlik nie. Het hy enigsins ’n kans om wel president te word? Ja, maar slegs indien hy ’n baie moeilike en ingewikkelde roete kan volg. Sou hy daarin slaag sal 2016 se Amerikaanse presidentsverkiesing vir baie lank onthou word as die vreemdste, maar ook mees revolusionêre verkiesing in baie jare.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henry ·

Duidelik dat Trump en ‘n baie groot getal Amerikaanse kiesers, hulle nie steur aan al die Jan en San Salie’s wat weet te vertelle wat hy moet doen en wat hy alles verkeerd sou doen nie.
Ooglopend dat Amerikaanse kiesers verveeld met en moeg is vir die hoogdrawende bogstories en sogenaamde Washington protokol waarmee die Blink Stefaanse die afgelope dekades smous. Kanse is goed dat talle van die Stefaanse se hoop en vertoon al langs die Potomac rivier mag weg dryf.
Ek sou ook nie veel hoop vestig op die moontlikheid dat Trump hom aan die raad en voorskrifte wat hierbo verskyn, sal steur nie. Dink steeds dat hy ‘n baie goeie kans staan om ‘n Withuis bewoner te word.

ig ·

Ek wens ons kan n Donald Trump kry vir President.Protokol is net iets wat gebruik word deur slapgatte wat te bang is om die regte ding te doen.

Hendrik ·

Net 15 dinge om te doen!? As Trump die republikeine in die presidentskiesing verteenwoordig, gaan die demokrate verseker wen. Trump se natuur is nou maar eenmaal n bombastiese, selfvoldane boelie en gematigde republikeine sal nie vir hom stem nie. Trump se protespolitiek het weining substansie en sy idees om alle Moslems uit die VSA te hou en n muur op die Meksikogrens te bou, sal nooit deur die kongres goedgekeur word nie.

Johan 2 ·

Net so terloops ek dink daar is klaar n reuse muur op die Meksiko grens gebou, en die ding doen niks meer as om trek bokke te stop nie.

Knikkebollen ·

Die ‘Establishment’ wou vir Trump gebruik soos wat hulle Sarah Palin gebruik het teen Obama- skep ‘n opponent wat so verregaande is dat die keuse voor die hand liggend MOET wees: stem vir Obama. In hierdie geval is Clinton die Establishment keuse. Trump het hulle egter onkant gevang en hy daag die Establishment se stel bangmaakstories uit: as die Moslems ons land wil oorneem, verhoed dat hulle hierheen kom, as onwettige Mexikaanse immigrasie ons werksgeleenthede steel, bou n muur. Hoe kras hy ookal syn te wees- hy skep baie eenvoudige ‘oplossings’ vir ‘n hele reeks holrug-stories wat deur die Establishment gebruik word om die Amerikaanse bevolking in ‘n staat van vrees te hou….

Johan PC ·

Vanaand het ek hierdie webblad ontdek weens ‘n verwysing vanaf politicsweb. My besoek hier was om die artikel deur R. Kachalia te lees, en toe kom ek uit op hierdie artikel.

Dit smaak my dat die man van Orania geen benul het omtrent wat die oranje man (Trump) probeer bereik nie, maar raad sal hy gee. My siening is dat die opkomende verkiesing in die VSA baie groter is as wat meeste mense dink, en dat dit uiteindelik ‘n geveg is deur Trump teen die “Globale Agenda” (neoliberalisme en zionisme). Insiggewende nuusartikels kom voor op verskeie “fringe” nuusblaaie soos http://www.theconservativetreehouse.com

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.