Die parlement en die moontlike verliese van kultuurhistoriese skatte

Die Britse parlement met historiese kunswerke, muurpanele en standbeelde.

As deel van ’n groep Suid-Afrikaanse parlementslede besoek ons kort na 1994 die Britse parlement. Die gids wat ons deur die gebou neem, stop by ’n skildery in een van die gange. Hy verduidelik dat die persoon in die skildery ’n paar eeue gelede ’n Britse verraaier was wie se kop as gevolg van sy verraad afgekap is.

“Waarom hang die skildery dan nog hier?” vra ek die gids sodat die ANC-parlementslede die antwoord kan hoor. Die gids is verbaas oor my vraag en antwoord: “Want dit is deel van Britse geskiedenis.”

Voor die Britse parlement is daar ’n groot standbeeld van Oliver Cromwell. Cromwell het op sy dag die Britse Parlement ontbind en die koning, koning Charles I, se kop laat afkap. Tog staan Cromwell se standbeeld steeds daar. Oorkant Cromwell is ’n borsbeeld van Charles I, die koning wie se kop hy laat afkap het. Die gids verduidelik dat die twee beelde vir mekaar kyk. Albei beelde is daar “omdat dit deel van die Britse geskiedenis is.” Vir my sê dit iets van mense wat op ’n volwasse wyse met hulle geskiedenis kan omgaan.

Die Britse parlement is nie net ’n politieke vergaderplek nie. Met 7 000 skilderye en 700 standbeelde gee dit ’n panoramabeeld van die Britse geskiedenis oor die laaste agt eeue. In elke vertrek is daar muurskilderye, standbeelde en skilderye van beroemde parlementêre figure en gebeure. Ek het dieselfde in die Amerikaanse kongres, in die Chinese en alle ander parlemente wat ek besoek het, gevind.

In 1994, nadat die ANC die regering geword het, was daar ’n ernstige debat in die Suid-Afrikaanse parlement oor wat met die skilderye en kunswerke gedoen moes word. Die ANC het besluit dat alles voor 1994 verwyder en in die kelder geplaas moet word.

Goewerneur Charles Darling met sy verehoed. In ’n poging om in 1948 van die ou Britse skilderye ontslae te raak, het ’n NP-lid hierna verwys as die Engelsman met die gesteelde hoender onder sy arm.

In 1948 was daar ’n soortgelyke debat toe die Nasionale Party oorgeneem het. Jan Smuts as vorige eerste minister van die Suid-Afrikaanse Party (SAP) asook die Britse koloniale heersers se skilderye het teen die mure gehang. Die Britte se magsmisbruik was nog vars in die geheue. Een van hierdie skilderye was byvoorbeeld van goewerneur Darling. Die skildery wys hom in Britse uniform, hoed met kleurvolle vere onder sy arm. ’n Nasionale Party-lid het gevra: “Hoe lank moet ons nog in hierdie gang in die gesig van dié ou Engelsman met die gesteelde hoender onder sy arm vaskyk?”

In 1948 is na ernstige debat besluit om die skilderye te behou “omdat dit deel van ons geskiedenis is.” Toe ek voor 1994 in die parlement gekom het, het hierdie ou skilderye steeds gehang; wel op minder prominente plekke. Nuwe skilderye van Afrikaner politieke leiers en Speakers na 1948 is net bygevoeg.

In 1994 was ons benadering dieselfde. Voeg liewer nuwe skilderye en standbeelde by as om alles te verwyder. Jy kan tog nie die Suid-Afrikaanse geskiedenis verander deur die skildery weg te neem nie.

Een voorbeeld: Onder die trappe in die parlementsgebou is daar ’n groot mosaïekmuurpaneel van die Suid-Afrikaanse landswapen. Dit is die ou landswapen wat van 1910 tot 1999 gebruik is. Die paneel is gemaak met 9 000 mosaïekstukkies in tagtig kleure. Omdat die muurpaneel nie verwyder kan word sonder om dit te vernietig nie, het ons voorgestel dat ’n bordjie aangebring word wat aandui dat dit die Suid-Afrikaanse landswapen van 1910 tot 1999 was. Die nuwe landswapen is in elke geval prominent in verskeie dele van die parlementsgebou te sien. Die voorstel is nie aanvaar nie. Die ANC-regering het die ou landswapen met ’n houtpaneel toegemaak. So ook sommige van die skilderye.

Die skilderye van Suid-Afrikaanse politieke leiers en gebeure van voor 1994 is in die kelder geplaas waar dit begin muf het. Met die hulp van Lila Komnick as bekwame parlementsamptenaar kon ons later daarin slaag om hierdie skilderye in ’n lugverkoelde vertrek in die kelder te kry. Van hierdie skilderye is byvoorbeeld Edward Roworth se reuse- ses meter skildery van die Nasionale Konvensie van 1910, Irmin Henkel se skildery van die eerste Republiekkabinet, asook die eerste ministers en presidente vanaf 1910. Hierdie skilderye is onvervangbaar.

Die ironie is dat hierdie skilderye waarskynlik die brand oorleef het omdat hulle so diep in die kelder onder die Nasionale Vergadering gebêre is. Tot op hierdie tydstip weet ons nog nie of hulle oorleef het en of hulle water- of rookskade het nie.

In die parlement en sy gange is daar omtrent 5 000 artefakte met historiese waarde. Dit sluit ’n boek in waarin ’n dame met sierskrif die name van elke gesneuwelde Suid-Afrikaner in die Tweede Wêreldoorlog geskryf het. Daar is ook ’n maanrotsuitstalling wat die VSA-president en NASA aan Suid-Afrika geskenk het. Wat alles verlore is, weet ons nog nie.

Sibusiso Vilane was die eerste swart Suid-Afrikaner om Everest se kruin in 2003 te bereik. Die Suid-Afrikaanse vlag wat hy daar geplant het, is by die Nasionale Vergadering uitgestal. Dit is waarskynlik verwoes.

’n Parlementsgebou is die simbool van ’n land se demokrasie, maar dit vertel ook die stories van groot historiese gebeure en konflik. Dit is ’n ramp om dit te verloor.

In die Nasionale Vergadering waar daar na 1994 vergader is, het heftige debatte oor die oorloopklousule, oor regstellende aksie en oor grondhervorming plaasgevind. Mandela, Fidel Castro, die Britse koningin en selfs iemand soos Yasser Arafat het daar gepraat.

In die Britse Parlement sit die regering en opposisielede oorkant mekaar. Volgens oorlewering is die afstand tussen die twee kante uitgewerk as ’n man se arm, ’n swaard, ’n duim en dan weer ’n man se arm en ’n swaard. Die afstand het verseker dat lede mekaar nie in die ou dae met hulle swaarde kon bereik nie. Dit illustreer die parlement as ’n plek waar mense verskille by wyse van debat uitpraat en nie met geweld uitsorteer nie. Die “parle” kom van die Franse parler, wat beteken om te praat. Nie dat die EFF iets hiervan verstaan nie.

In die Nasionale Vergadering is die reusemat spesiaal vir die raadsaal geweef om die simboliese afstand tussen parlementslede, soos in die Britse parlement, te weerspieël. Die banke is van inheemse geelhout gemaak. Daar word gesê dat hierdie raadsaal tot 98% vernietig is. Is daar geld om hierdie raadsale se inheemse hout en matte te vervang?

Die Volksraad met sy stinkhoutpanele en groen banke waarin baie heftige debatte en geskiedenis afgespeel het. In die tweede bank voor regs van die speaker is HF Verwoerd vermoor. Bo die speakerstoel is die horlosie wat lank berekend 10 minute verkeerd was en waarskynlik verwoes is.

Die Volksraadsaal waar vanaf 1910 vergader is, is met swart stinkhout afgewerk. Dit kan net so moeilik vervang word. Hier het generaal Hertzog na 1910 oor “Suid-Afrika eerste” gepraat terwyl generaal Smuts vir groter betrokkenheid by die Britse Ryk gepleit het. Die krisisdebat van 1939 oor deelname aan die Tweede Wêreldoorlog is hier gehou. Dit het tot die val van die Hertzog-regering gelei. Dr HF Verwoerd het die debatte en wetgewing vir die herstel van ’n republiek in 1961 hier gevoer en gewen. In die tweede bank regs van die Speakerstoel is dr HF Verwoerd vermoor. Toe ek in die parlement gekom het, was daar nog ’n klein matjie langs die bank oor die plek omdat al die bloed nie uit die groot geweefde mat verwyder kon word nie.

Die muurhorlosie in hierdie saal was tot in die negentigerjare tien minute vroeg gestel. In die 1930’s moes lede die trein na afloop van ’n sitting haal. Daar was net-net nie genoeg tyd om die laaste trein te haal nie. Die Speaker het geweier om vroeër te verdaag. Toe maak die lede ’n plan en stel die horlosie skelm tien minute vroeg. Ek twyfel of die horlosie die brand oorleef het.

In die 140 jaar van die Suid-Afrikaanse parlement se bestaan was daar geen brand nie. In die laaste nege maande was daar nou twee brande. Die historiese kultuurskatte in die parlement behoort nie aan die ANC nie, maar aan al die mense van Suid-Afrika. Na die nalatigheid wat tot die brand gelei het, vertrou ek nie die ANC om dit te bewaar nie. Ons destydse voorstelle dat die skilderye wat in die kelder is eerder aan museums, wat waardering daarvoor kan hê, geleen kan word, is afgeskiet. Miskien moet daar weer hierna gekyk word voor die volgende brand.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Ja Nee !!

Groen Ghoen

Wat ‘n tragedie. Ons sien dit orals om ons: Geen instandhouding van openbare bates nie, niemand doen die moeite om te dink aan “wat indien…” nie. Soos Eskom en Transnet wat uitmekaarval en nou met miljarde weer opgehelp moet word. Dit terwyl ‘n klein bietjie instandhouding al die skade kon voorkom het. Nie net ons nie, maar die geslagte hierna gaan nog swaar dra aan die ANC se verwoesting.

Diline

Stem saam dat alles wat in kelder gegooi is moet verwyder word en op ‘n veilige plek bewaar word. Om dit weg te steek gaan nie ons geskiedenis verander nie, ons sal Afrikanders bly. Wys jou net die mentaliteit van die kommuniste. Selfde geld vir al die strate, dorpe en lughawens watse name verander moes word, dit verander NIKS aan ons geskiedenis nie.

Lourens CFG

Wens ek het genoeg geld gehad om ‘n spesiale gebou te laat bou wat brand, teen inbraak, teen anc ens. bestand is, en om al ons historiese skatte daar te bewaar. Maar dit moet deur boere bewaak en instand gehou word (geen sap of bbbbeee lede nie)
Ja ek weet dit is wensdenkery, maar tog.
Sug.

Treurwilger

Baie dankie vir hierdie pragtige, maar verbysterend hartseer, vertelling.
Die verlies hier ter sprake, is onberekenbaar, onherstelbaar en onvergeeflik.
Aardse goedere is soms meer as net dit.