Die pen se skerpkant

skryfblok_vuurvreters_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Deur dr. Christo Pretorius

Die Joods gebore politieke filosoof en denker, Hannah Arendt, het met haar besoek aan die post-Wêreldoorlog-Duitsland opnuut haar waardering vir die Duitse taal uitgespreek.

Om weer haar moedertaal te hoor en te praat was vir haar iets besonders.

Taal, volgens Arendt, bevat mag en krag.

Dit is ʼn instrument, ʼn stuk gereedskap waarmee die mens nie net die werklikheid bevraagteken nie, maar ook die werklikheid vorm.

Taal is uniek aan die mens en volgens sosioloë is dit dié vermoë wat tot die mens se sukses bydra, omdat dit samewerking op terreine soos die wetenskap en ekonomie fasiliteer. Dit is die middel waardeur waardes en ideale geskep en oorgedra word van die kateder tot die kansel.

Maar dit kan ook in die mens se hand ʼn middel wees waarmee beswadder, vernietig en die werklikheid verdraai word – en dan vind mens dat die pen ook ʼn skerpkant het.

Hiervan getuig die daaglikse politieke retoriek en aantygings wat deur Afro-sosialiste teen Afrikaners van stapel gestuur word.

Begrippe soos kolonialiste, imperialiste en rassiste word Afrikaners in dieselfde asem toegesnou. Die geskiedenis van Afrikaners word onmiddellik met bondelbegrippe, soos “apartheidsverlede” en “kolonialisme” omsingel en veroordeel.

Hierdie bedenklike strategie is nie nuut nie. Die oorsprong daarvan strek terug na die betrokkenheid van die Sowjetunie by Afro-sosialiste en die bydrae van hierdie magte tot die taalregister van die Suid-Afrikaanse politiek.

Die skrywers, Irina Filatova en Apollon Davidson, het in hulle publikasie The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era, nie net die bande tussen die SAKP, ANC en Sowjetunie beskryf nie, maar ook gewys op die onmisbare ondersteuning wat die SAKP/ANC geniet het.

Die geweldige ondersteuning sluit in die formulering en benutting van taal, van propagandastrukture, van begrippe soos imperialisme, nasionaal-demokratiese rewolusie en ʼn spesiale soort kolonie waar die koloniale magte werkers deur die grond en ekonomie uitbuit.

Onberekenbare ure is volgens die navorsing afgestaan om begrippe te formuleer wat die massas tot rewolusionêre aksie sou oprui, die Afrikaner sou isoleer en ʼn “swart onafhanklike staat” tot gevolg sou hê.

Die skep van ʼn “swart onafhanklike staat” was nie die finale doel nie, maar slegs ʼn fase na die volgende doel – “’n sosialisties ingerigte staat van en vir die werkersklas”.

Die aanvanklike inisieerders van die strategie het intussen beleef dat sosialisme rampspoedige gevolge het en hulle hiervan gedistansieer.

Afro-sosialistiese bewegings soos die ANC en EFF het egter nie. Hierdie begrippe en die gevolglike strategiese raamwerke is huidjie en muidjie deel van die groeperinge se daaglikse taal en gang.

Trouens, in 1969 het ʼn ANC-beraad te Morogoro, Tanzanië, die dokument “Strategy and Tactics of the ANC” gebaar. Hierdie dokument is deurlopend aangepas en is tot op hede die grondslag vir Afro-sosialistiese taal en strategie.

Kritiek teen die dokument, teen die grondslae hiervan of die implikasies sal dadelik en hewig vertolk word as “rassisme” en ʼn “imperialistiese aanslag” deur “grondhonger wittes, kapitaliste of ideologiste van apartheid”.

Of Suid-Afrika hierdie soort taal nog kan bekostig, is te betwyfel.

Indien taal bydra tot die werklikheid of selfs vorm daaraan gee, dan is ʼn ruimer woordeskat nodig as die ANC en EFF se nou verouderde begrippe, strategie en taktiek.

En internasionaal word ʼn ruimer taal gepraat: minderheidsregte, selfbeskikking, multi-kulturele ruimtes, ekonomiese werklikhede en afwentelende demokrasie.

Sonder ʼn verruiming van die Suid-Afrikaanse taalregister met hierdie begrippe bly die werklikheid skraal.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Internasionaal ruimer? Op watter planeet? Wat gebeur met Trump en Rusland? Wie is Soros? Kyk hoe gaan dit in die Midde-Ooste. Wat gebeur in Spanje? En met boetie-baba in N-Korea en sy buurland Sjina; hoe demokraties gaan dit daar. Suid-Amerika swymel onder die gewig van sy doofmiddelmark en ‘n glo Joodse filosoof oor die Duitsers se taal. Probeer sy die Nobelprys vir dwaashede wen of het sy eers ‘n kappie gaan maak in een van die biersale naby ‘n Nazi-gas(te)huis vir haar mede Jode.

rassie ·

Dr Pretorius,

U is heeltemaal korrek wanneer u ten opsigte van die skerp kant van die pen en taalgebruik opmerk dat “Dit is ʼn instrument, ʼn stuk gereedskap waarmee die mens nie net die werklikheid bevraagteken nie, maar ook die werklikheid vorm”.

U is ook reg wanneer u opmerk dat “Maar dit kan ook in die mens se hand ʼn middel wees waarmee beswadder, vernietig en die werklikheid verdraai word – en dan vind mens dat die pen ook ʼn skerpkant het”.

Was dit nie maar ook die geval toe Afrikaner nasionalisme taal en die skerp punt van die pen aangewend het om vorm te gee aan rasse- en kulturele meerderwaardigheid en om die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis te verdraai tot Afrikaner geskiedenis nie?

Moontlik moet ons onsself afvrae of die destyds indoktrinasie en wetgewing ons nie weerhou het om ooit die ander kant van die saak te sien nie en ons dus tans sukkel om te begryp waarom die reaksie teen die uitsluiting van die meerderheid daartoe gelei het dat hulle hulp in die buiteland en by andersdenkendes wat hul probleem, vir watter rede ookal, verstaan het, gaan soek het nie.

Moontlik het juis die skerp kant van die pen met taalgebruik soos “beskaafd” versus “onbeskaafd” en “Christen” versus “heiden” en “meerderwaardig” teenoor “ minderwaardig”, “verbondsvolk”, “roeping in Afrika” ens ons gebring tot waar ons vandag as “minderheidsgroep” is.

Moontlik kan taalgebruik soos “indringende gesprek”, “wedersydse begrip” en ‘n “soeke na ‘n gemeenskaplike toekoms” help. Verwyte gaan nie help nie.

Eish ·

Net gisteraand in n onderhoud met Hannalie Retief maak Dave Pepler tydens die onderhoud n opmerking met presies dieselfde strekking as hierdie skrywe. Hy sê dat ons mekaar nie verstaan nie aangesien ons woordeskat nie dieselfde is nie. Wyse woorde van die natuurkundige. As dit nie die ou Sowjet Unie is wat vir die Afro Sosialiste begrippe en woorde uit dink nie, dan is dit die Weste (Bell Pottinger) Ons praat nie dieselfde woorde nie daarom verstaan ons mekaar nie.

Gerhardus Petrus Padda ·

1. Alle propoganda gaan oor mag, geld en beheer.

2. Alle propoganda bevat n element van waarheid, wat korrup voorgestel word.

Elke mens moet hierdie as beginpunt gebruik wanneer hy na ENIGE politikus luister, want elke politikus gebruik propoganda.

Die beste voorbeeld hiervan is dat die Waarheid van Jesus so gekorrupteer was deur die Katolieke Kerk dat hulle die Woord gebruik het om mag, geld en beheer oor mense te kry.

Jesus het gekom om ons vry te maak. Wanneer ENIGE mens die Woord gebruik om jou n slaaf van n ander mens te maak, is jy op die verkeerde pad.

m.d.r ·

Ek wil hier ‘n gesegde wat uit my matriek jaar kom, aanhaal–
ek ek dink dit was my geskiedenis onnie se woorde:

“die pen is wel magtiger as die swaard, maar hy wat die mag van die pen misbruik, sal uiteindelik in die mag van die swaard vaskyk”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.