Die politiek van die muur

Deur Alida Kok

Die pienk wipplanke wat op die grens tussen die VSA en Mexiko geïnstalleer is. Foto: (AP Photo/Christian Chavez)

Drie pienk wipplanke op die grens tussen die VSA en Mexiko

Aan die einde van Julie het twee aktivis-argitekte van San Francisco drie pienk wipplanke op die grens tussen die VSA en Mexiko geïnstalleer. ʼn Video van Amerikaners aan die een kant en Mexikane aan die ander kant van die grensheining wat laggend saam-saam op die wipplanke ry het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Die wipplanke op die VSA-Mexiko-grens is intussen verwyder, maar die simboliek van die installasie bly opvallend. Midde in die verdelende immigrasiedebat wat in die VSA en internasionale gemeenskap plaasvind wys die wipplanke dat mense aan albei kante van ʼn staatsgrens wel ook aanmekaar verbind is: Wat aan die een kant gebeur beïnvloed die ander kant.

Grensmure as ʼn morele kwessie, en die politiek van die muur as een van die grootste vraagstukke van ons tyd

Die bou, versterking en onderhoud van grense is in die hedendaagse internasionale gemeenskap en ook binne state een van die verdelendste morele kwessies, meestal as gevolg van die mensdom se ervaring met grense in die 20ste eeu. Die opkoms van nasionalisme en fascisme wat tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het, en Afrikanernasionalisme se voormalige rol in die skep van ʼn verweefde web van maatskaplike grense tussen mense van verskillende velkleure, veroorsaak dat ons nie kan bekostig om deur die gebruik van grense mense op skadelike wyses af te sonder nie.

Talle intellektuele en kommentators in die media voer die argument dat grensmure nie net tot politieke probleme lei nie, maar ook morele probleme veroorsaak of selfs boos is. Volgens hulle is grensmure immoreel want dit veroorsaak xenofobiese identiteite in state (soos byvoorbeeld die identiteit van Zimbabwiërs in Suid-Afrika, of die identiteit van Mexikane in die VSA) en dit ignoreer ook maatskaplike probleme wat oor grense heen opgelos moet word (soos groot verskuiwings van vlugtelinge wat deur ʼn gemeenskap van state geabsorbeer moet word weens konflik of verarming in die gemeenskappe waar hul vandaan kom).

Hierdie morele debat, in kombinasie met die noodsaaklikheid van grense se onderhoud vir politieke, ekonomiese en veiligheidsredes, het tot gevolg dat die “politiek van die muur” sekerlik een van die grootste vraagstukke van ons tyd is.

Hier verwys “muur” nie net na letterlike mure nie, maar ook na die verskeie tasbare en nie-tasbare grense wat veral sedert die begin van die 2015-vlugtelingekrisis in Europa deur state en gemeenskappe in die globale Noorde toenemend opgestel of herbevestig word om hul kultuuridentiteite te beskerm. Hierdie tendens word die duidelikste geïllustreer deur die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president, sy verkiesingsbelofte om ʼn muur tussen die VSA en Mexiko te bou, hedendaagse Amerikaanse nasionalisme, die Brexit-referendum, die uitslag van vanjaar se Europese verkiesings waarin konserwatiewe partye meer steun ontvang het en die politieke middegrond gebloei het, en die verkiesing van Boris Johnson as leier van die Konserwatiewe Party en premier in die Verenigde Koninkryk.

Grense wat deur state en gemeenskappe versterk word onderskei opnuut tussen “ons” en “die ander”, en dis in hierdie onderskeid waarin die morele debat oor die politiek van die muur lê. Hierdie morele debat kan ook nie geïgnoreer word nie, onder meer omdat groot groepe mense reg oor die ontwikkelde en ontwikkelende wêreld se morele smaakkliere aandui dat dit ongewens is om mense wat swaarkry weens konflik en armoede met absolute grense af te sonder. Dit is dus nodig dat ons in ons tyd herbesin oor die betekenis van grense en mure.

alida-kok

Alida Kok. Foto: Jurgens Burger.

Muurpolitiek in Suid-Afrika

Politiek in Suid-Afrika – soos in die geval van die res van die wêreld se politiek – is onlosmaaklik deel van tendense in die ontwikkelde globale Noorde. Só vorm grenspolitiek en die politiek van die muur ook deel van die kern van die meeste politieke kwessies wat daagliks in die land afspeel. Ons politiek is ʼn voortdurende proses van grense trek en hulpbronne bewaar, of om deur magspel te bepaal wie kan besluit waar grense getrek word.

Die mees voor die hand liggende voorbeeld waar grenspolitiek ʼn rol speel is in die Suid-Afrikaanse staat se moeilike verhouding met Afrika-buurstate en die talle mede-Afrikane wat Suid-Afrika binnestroom op soek na beter geleenthede vir oorlewing.

Ander minder opvallende areas in ons politiek waar rolspelers mure of nie-tasbare grense bou of wil afbreek kan gevind word in liberale konstitusionalisme, privatisering van dienste wat oorspronklik deur die staat gelewer is en in die bevordering van kultuuridentiteite en -regte.

Met die reeks uitsprake wat die howe onlangs teen die Openbare Beskermer gemaak het, het ʼn diskoers opnuut op sosiale media en onder akademici ontstaan wat meen dat liberale konstitusionalisme – die oppergesag van die reg en die beskerming van individuele regte – ʼn spreekwoordelike muur is wat wit bevoorregtes tussen hulself en die ongeregtighede van anti-swart rassisme plaas.

Volgens hierdie diskoers moet die muur van liberale konstitusionalisme afgebreek word om transformasie te laat plaasvind. In hierdie perspektief word ondersteuners van liberale konstitusionalisme as fascisties of boos afgemaak. Hier geld dieselfde vir die privatisering van dienste en die bevordering van ʼn kultuuridentiteit soos dié van Afrikaans en die Afrikaner.

Spreekwoordelike mure word opgesit as ʼn mens gebruik maak van dienste in die private sektor, of as ʼn mens ʼn kultuuridentiteit (wat uit die aard daarvan eksklusief is) bevorder en, soos in die geval van die persepsie wat daar oor mure en grense in die internasionale samelewing bestaan, word hierdie spreekwoordelike mure ook hier deur sommige kommentators as immoreel bestempel.

Grense as simbole van politieke debat en as spasies waar mense mekaar op komplekse wyses tegemoetkom

Terselfdertyd is dit nie so eenvoudig om ʼn muur of ʼn grens as net immoreel te bestempel nie. Die internasionale tendens wat wys dat gemeenskappe geleidelik die grense tussen hulself en die res van die wêreld opnuut herbevestig het reeds begin posvat. Die politiek van die muur sal dus weer toenemend van belang wees. Die tydperk vereis eerder van ons om te besef dat fisieke en nie-tasbare grensmure juis spasies is waar politieke debat en onderhandeling en die komplekse vloei van mense plaasvind. Geen grens is absoluut nie. Grensmure het deurgange wat gemeenskappe verbind en – soos in die simboliek van die pienk wipplanke op die VSA-Mexiko grens – ontstaan ʼn sensitiwiteit onder mense aan die een kant van ʼn grens vir “die ander” aan die ander kant daarvan.

  • Alida Kok is ʼn dosent in politiek en internasionale verhoudinge aan Akademia en die koördineerder van Akademia se BSocSci-graad (Politiek, Filosofie en Ekonomie). Sy is ook ʼn rubriekskrywer vir Beeld en Netwerk24.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stan

80 % van ons plaas moorde word deur onwettige immigrante gepleeg. Ek sê, kom ons bou ‘n muur tussen ons en ons buurlande.

Petrus Koejawel

SJW moet ingespan word om ons muur te bou….né Cyril.

Jerry

Trump bou mure om mense te verdeel en die aktiviste bou brue om mense te verenig. In SA kry jy ook jou muur bou brigade wat daarop ingestel is om brue wat gebou word so gou moontlik te verbrand. Die probleem in SA is egter groter as in Amerika, omrede SA se regerende party asook die aktiviste beide besig is om mure te bou om mekaar te verdeel en uit te sluit! Daar is geen sprake meer van brue bou nie! Dit beteken dat in Amerika is daar nog hoop want brue word steeds gebou, maar in SA is ek… Lees meer »

Gert

Dit gaan my verstand te bowe hoe mense ‘n muur as immoreel of verkeerd kan beskryf. Hoe regverdig jy dit dat sekere lande se mense swak leiers kies, dan toelaat dat daardie leiers hulle ekonomie vernietig, dan AANSPRAAK maak op ‘n REG om parasiete te word op ‘n ander land se ekonomie? Dis een ding om mooi te vra of jy eerder daarheen kan kom, en dan deur die wettige proses te gaan, maar dis heeltemal iets anders om net ongevraagd op te daag en eise te begin stel. Verder word daar deesdae deur linkse kommentators negatief verwys na alle… Lees meer »

Marietta

Ag asseblief….ons almal weet wat is die agenda….jy maak n uitstekende nuwe wereld orde pion…
Elke volk of nasie het spasie nodig vir hul kultuur en beskerming…dis hoe God dit bepaal het ….