Die politiek van rassisme, ontkenning en blaam

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Hoekom is my politiek altyd rassisme, en jou rassisme altyd politiek? Die woorde van Langenhoven kan opnuut in 2018 gevra word ná ʼn maand waarin Afrikaans en veral onderrig in Afrikaans weer gehawend daar uitsien, veral ná die ontstellende gebeure by Hoërskool Overvaal. Vir enige ouer wat kinders by die skool aflaai was dit ʼn tyd van absolute onsekerheid want sê nou maar net ons skool is volgende aan die beurt? Ons skole is sagte teikens en dit is duidelik dat opstokers en radikale elemente letterlik geen steen onaangeroer gaan laat in ʼn poging om skole onregeerbaar te maak nie.

Dat die politieke gety ernstig aan die draai is moes ons verlede jaar al sien kom het. Op Donderdag 26 Oktober 2017 is ʼn groep Voortrekkers van Pretoria gevra om die Tshwane-metroraad se maandelikse raadsvergadering te verlaat. Dit nadat die EFF- en ANC-raadslede erg aangegaan het oor die “ongetransformeerde” wit kinders en beswaar aangeteken het oor hulle teenwoordigheid. Die tekens was daar dat ʼn ander agenda aan die broei is.

2018 het skaars begin of die agenda vir die jaar word duidelik bepaal deur die EFF en die ANC wat hulle eie onderskeie veldtogte fokus op die haat teen Afrikaans en dan veral wit en Afrikaans. Dit het die slagspreuke en plakkate by Hoërskool Overvaal duidelik uitgewys. Die aanstokery is begin deur die LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, wat nie ʼn geleentheid laat verbygaan om onderwys in die politieke arena in te sleep en dan meer spesifiek Afrikaanse onderwys en Afrikaanse skole nie. Van onderwys self verstaan hy geen snars nie en is hy ook voor in die koor met pogings om beheerliggame se magte te stroop rondom taal en toelatingsbeleid met huidige onderwyswetsontwerpe.

Dit is asof Langenhoven se woorde net so op Lesufi van toepassing is. Maar Lesufi is nie alleen nie. Hy is ʼn simptoom van die Zuma-bewind waarin onverdraagsaamheid, skeltaal en blatante rassisme kwistig ingespan is om die eie onvermoë, onbevoegdheid en verantwoordelikheid te ontduik. Voeg daarby minister Bathabile Dlamini se ontkenning dat sy ʼn aandeel gehad het in die betaling van maatskaplike toelaes voor oudhoofregter Bernard Ngoepe, en gewese LUR vir gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu, oor haar aandeel in die Life Esidimeni-bemiddelingsverhoor. So ook Eskom-amptenare en bowenal minister Lynn Brown wat haar aandeel in die Eskom-gemors ontken. Die politiek van ontkenning word ook in die Wes-Kaap gereflekteer met die interne stryd in die Demokratiese Alliansie en die hantering van die droogtekrisis.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa sal slegs suksesvol wees as hy self verantwoordelikheid neem wanneer hy president word, en sy ministers verantwoordbaar hou. Die gewilde terugvalposisie van “kollektiewe verantwoordelikheid” waarvoor die ANC so lief geword het, kan nie meer die norm wees nie.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, skryf na aanleiding van die insident by die Tshwane-raadsvergadering waar die Voortrekkers die raadsaal moes verlaat: “Hulle het eerstehands die gevolge van kulturele oneerbiedigheid en rasseonverdraagsaamheid ervaar.”

Net so het die leerlinge van Hoërskool Overvaal dit nou ervaar en word dit daagliks al meer elke op alle lewensterreine ervaar. Verder begin die onverdraagsaamheid tekens van rassehaat demonstreer op sosiale media met slagspreuke en uitbarstings. Dit laat ʼn mens dus met verbasing dat die Mensregtekommissie nie self soos in ander gevalle van wit teen oor swart rassisme, ingryp en die stem dik maak nie. Die dubbele standaarde het egter ook reeds kenmerk geword van sommige grondwetlike instellings en regte word selektief en nie konsekwent toegepas nie. Oor die grondwetlike hof se uitspraak oor die taalsaak by Kovsies is reeds baie geskryf.

Ons moet egter nie ophou om binne die bevordering van diversiteit op te staan vir grondwetlike kultuur en taalregte nie, trouens, ons moet dit juis telkens opeis. Erkenning moet dus aan organisasies soos AfriForum, Fedsas en die SAOU gegee word wat wel bemoeienis gemaak het met die Hoërskool Overvaal se leerlinge en onderwysers se grondwetlike regte.

In die lig van bogenoemde moet Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se positiewe uitlatings oor Afrikaans en die rol van Afrikaanse skole verwelkom word. Haar opmerkings is op feite gegrond en is ʼn belangrike tree in die soeke na oplossings deur rolspelers wat opreg is oor onderwys. Die nasionale gesprekke mag nooit ophou in die bevordering van nasionale sake nie, maar nooit ten koste van taal of kultuur nie. Die laaste woord oor diversiteit is nog nie gespreek nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Veritas ·

Jan dit is darem ‘n lang aanhef tot jou ophemeling van Angie. Onthou net dat sy net so baie lieg as die res van die ANC leierskap

Pierre ·

Aangehaal uit DIE GESKIEDENIS VAN DIE AFRIKAANSE BYBEL VERTALING

Terwyl die stryd vir Afrikaans as kultuurtaal al ver gevorder het in 1915, was die houding van die Kerk teenoor die beweging nog steeds afwysend.
Die Kerk eksperimenteer selde met nuwe dinge, en minder nog, as dit ‘n twisappel geword het.
Toe die Afrikaanse saak sy deugdelikheid eers bewys het, het lit gou wortel geskiet in die Kerk, en daarna het dit so vinnig gegroei dat binne vier jaar Afrikaans in al die Hollandse Kerk van Suid-Afrika as offisiele taal naas
Hollands (Nederlands) erken was. ,,Regtig,” roep Langenhoven uit, die saak was van die Here, en dis wonderlik in ons oe, te wonderlik om ons eie ervaring te glo.”
Die meeste predikante was van die begin af vyande van Afrikaans, of het onverskillig daarteenoor gestaan.

Langenhoven het teen die eerste bybel vertaling ook geskop, dit was ook gehawend vertaal en in ons mense se keel afgedruk!
Hoekom is daar so rassisme? Ek is n kind, maar verstaan vandag.

Eish ·

Ek dink dat u die werklikheid uit die oog verloor en nie leer uit die praktyk nie. Afrikaansprekende Kaukasiërs is gereduseer tot tweedeklas burgers vir wie n ander stel reëls geld dan die res van die bevolking. Kyk na hofuitsprake oor die hele spektrum van aanklagte en vergelyk die uitsprake en stawwe met die norm.
Ek glo eenvoudig nie die uitsprake van politici nie aangesien tyd leer dat dit leë beloftes was.
Kom leef bietjie hier by ons gewone mense meneer, hier waar die tyre die teer slaan!

Gerad ·

  Om te verstaan is om te weet: Waar mens nie feite het nie kan jy gewoonlik goeie intelligente afleidings maak. Veral in so amateuragtige liberale aanslag as wat ons beleef. Ter will van verduideliking verwys ek graag na hulle as die kasies en die hanskakies.
   Die kakies dryf die internasionale pax americana in SA. Voorheen bekend as pax britannica. Hulle het die nuwe oorgang behartig en was verantwoordelik vir die meer as duisend nuwe wette wat SA stelselmatig onregeerbaar gemaak het. Hulle gebruik agente soos die gutas (wat sedert die Mbeki bewind betrokke was), jaag rassisme teen die blankes aan sodat hulle kan beheer deur verdeling. En natuurlik om die swart mense in hulle hande in te jaag. Die Afrikaners is vir hulle ’n yslike kopseer omdat hulle SA maak werk. Nog meer so as boere omdat hulle SA onafhanklik van voedsel maak en dus die verval van SA vertraag. Daarom die plaasmoorde.
   Naas hulle het jy die hanskakies wat die agente om ons en tussen ons is. Vir hulle bydrae word hulle gewoonlik mildelik beloon in terme van hoog besoldigde sleutel poste en besigheids geleenthede. Hulle beset gewoonlik sleutelposte in kerke, akademiese, regs, inligting, bank en belasting instellings. Hulle het gewoonlik hoogwaardige titels soos dominee, doktor, professor ens. Jy ken hulle aan hulle hoogwaardige stemtoon op TV en radio.
   Dan is daar naspers met hulle lamppaal politiek. Soek skoor met die regerende party in Afrikaans dan moet ons wat op voetsoolvlak werk die etiket dra van rassiste en ongewenstes

Jerry ·

Baie goeie ontleding en die kern goed raak gevat Jan. Afrikaans word geteiken om die eintlike teiken, die Afrikaner by te kom en die ergste is dat terwyl ons dit weet hou ons aan om te reageer daarop op maniere wat ons en ons kinders blootstel aan onnodige aanslae van die radikales. Hoekom kon Overvaal die ding met Lesufi nie beter bestuur het nie en die kinders aanvaar het, dan het hierdie gemors nooit plaasgevind nie. Veral gesien met die oog op die
realiteite mbt die aanslag deur radikale denkers soos Lesufi. Jou goeie woorde vir Angie deel ek ook met jou. Sy is n besonderse oopkop en gematigde mens en met haar kan daar n pad met onderwys gestap word. Dit vat n besondere oopkop Afrikaner om onderskeid te kan tref tussen radikale en gematigde ANC lede en met wie n pad gestap kan word en met wie nie. Ek sien Afri-Forum is besig om met Sonop meisieskoshuis en die seunskoshuis by UP die foute van die verlede te herhaal. Nodeloos om te waarsku dat die radikales daardie kinders gaan teiken. Die maniere waarop Afri-Forum sekere inisiatiewe bestuur maak nie lekker sin nie omrede dit konflik uitlok, konflik wat die Afrikaner nie kan bekostig om by betrokke te raak nie. Ek sou voorstel dat net soos wat Angie die radikale Lesufi tot orde geroep het, dat Afri-Forum lede hulle leiers wat radikale denke openbaar en onverantwoordelik met inisiatiewe omgaan waar die jeug by betrokke is, tot orde roep.

Eish ·

Eish!
Jy kan nie n goeie skeepskaptein wees deur nooit jou seilboot se seile te verstel nie en maar die wind toelaat om die bootjie te waai soos hy wil nie. Deur verstellings aan jou seile aan te bring is dit selfs moontlik om teen die wind in te vaar.
Ek weet nie van watter windlose planeet jy kom nie, maar ons verkies om ons rigting self te bepaal en ons hou ook nie van water in ons boot nie.

Willem ·

Dit is hoogs irriterend om voortdurend in die Afrikaanse media te lees en te hoor van oudhoofregter Bernard Ngoepe. Hy was op geen stadium die hoofregter nie, maar wel ‘n regter president.

John ·

Alles gaan oor mag en mag vra beheer oor alles: godsdiens, kultuur, taal, eiendom, verlede en toekoms, selfs wat as waarheid sal dien, die lug wat ons in-/uitasem, toekoms en verlede, voedsel, water en lewe of dood… en… en. Waarom is ons so verstom oor die wapen, rassisme. Rassisme is ‘n gevaarlike vyandige hommeltuig wat toeslaan sodra die regte ‘klimaat’ sy rooi-knoppie aktiveer. Interne oorloe woed orals in alle lande en hoe slinkser die pateet hoe groter is sy kans om kerk en staat se hulp te kry teen eerbares. Afrikaners ly aan totale geestelike uitbranding na eeue van dieselfde sluwe spel om ons uit te werk uit die sisteem. Geestelike vernuwing en versterking is nodig vir vasbyt en soek moet ons dit nie alweer soek by die Britte nie (al gehoor van Engels nou weer orals in ins skole en beslis gou weer in ons kerke) wat telkens nypende sake wat ons op ons kniee dwing te misbruik soos nou en eers die komplekse weervoorspellings bestudeer en dan in Ingels vir Afrikaners wil leer dat hy namens ons sal instaan by ons Vader vir sy (die leke-prediker) se bewerkte wonderwerke. So, moet ons ook nou net dmv hom in Engels in massas gaan bid anders word ons nie verhoor nie? Huh! Dink mense! Wil ons oorleef of uitsterf?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.