Die politieke klimaat in Duitsland

Annegret Kramp-Karrenbauer (links), nuut verkose leier van die CDU en Duitse kanselier Angela Merkel (Foto: AP Photo/Michael Sohn)

Die son begin sak oor die era van kanselier Angela Merkel. Sy het uitdruklik gesê dat sy ná vier termyne nie nog ’n keer as kanselier sal staan nie. Meeste mense is seker verlig daaroor, maar daar is niemand om by haar oor te neem nie. In haar lang en vervelige jare as kanselier van Duitsland en leier van die grootste party, die Christen-Demokratiese Unie (CDU), het sy almal wat oor politieke talent en idees beskik het, uitgewerk en haar al hoe meer met middelmatige en absoluut getroue volgelinge omring. Dis hoekom daar tans niemand in die CDU is wat die mense inspireer nie. Merkel se handperd en kroonprinses, Annegret Kramp-Karrenbauer, wat weens die tongbrekernaam tot die akroniem AKK verkort word, het verlede jaar onoortuigend en met veel aanvuurwerk deur die binnekring die leierskapstryd tot leier van die CDU teen twee manlike teenstanders gewen. Die volgende nasionale verkiesing is wel nog ’n paar jaar weg, maar reeds nou is min mense, selfs in die CDU, opgewonde oor die vooruitsig van ’n kanselier Kramp-Karrenbauer. Sy het min charisma, geen nuwe idees nie, geen politieke ondervinding op nasionale vlak nie en is te naby aan Merkel. Meningspeilings sien die CDU tans by slegs sowat 26%.

Die Sosiaal-Demokratiese Party (SDP), wat saam met die CDU in ’n koalisie is, is besig met derm uitryg nadat hulle van verkiesing ná verkiesing swakker vaar en in meningspeilings elke week tot nuwe laagtepunte daal (tans 11%). Hulle is ook tans leierloos nadat die partyleier Andrea Nahles ná die swak vertoning in die Europese verkiesing verlede maand die handdoek ingegooi het. Die SDP kan wel besluit om die ongewilde koalisie te beëindig en dalk in die opposisie te herstel, maar dit sou ’n vervroegde verkiesing beteken en ’n nog swakker uitkoms as met die vorige een, en boonop die verlies van mag van ’n hele paar SDP-ministers beteken.

Tans is die Groenparty, ook danksy ’n massiewe mediaveldtog, die gunsteling in die meningspeilings (gelykop met die CDU of selfs effens voor) en vat veral ontnugterde SDP-aanhangers, maar ook ’n hele paar CDU-kiesers af. In tye waar politiek veral deur mediale strooivure aandag trek, is tans die klimaatdebat (ander praat van klimaathisterie) en die betogende Fridays for Future-skoliere op almal se lippe, wat die Groenes natuurlik die agenda laat bepaal.

Merkel, ondersteun deur Kramp-Karrenbauer, probeer op haar bekende opportunistiese manier haar party net nog verder links te skuif om by die Groenes se sukses aan te haak. Of dit werk, is te betwyfel.

Dan is daar nog twee kleiner partye, die liberale Vrye Demokratiese Party (FDP) en die sosialistiese Linksparty, wat albei sukkel om aandag te trek en wie se steun redelik konstant by om en by 8% elk is.

Alle partye is deur een ding verbind: hul afkeur, selfs haat vir die regse Alternatief vir Duitsland (AfD). Naas die klimaatema is die “Regse Gevaar” die hoofonderwerp in bykans elke kommentaar en elke televisiedebat. Aangesien die AfD se ondersteuners hulle nie veel steur aan die hoofstroommedia nie, bly die party se steun konstant (om en by 13%) en is veral in Oos-Duitsland sterk.

Die probleem vir die AfD is egter dat geen party met hulle wil saamwerk nie, nie eens op munisipale vlak nie, en dat hulle ’n protesparty sonder direkte invloed bly. Dit is letterlik almal teen die AfD. Onlangs by ’n burgemeestersverkiesing in die Oos-Duitse stad Görlitz, het alle partye, tot die verlinkses, agter die kandidaat van die CDU saamgestaan en kon die AfD se kandidaat net-net verslaan. Die rol van martelaar maak die AfD egter sterker en bevestig juis hul selfbemarking as enigste alternatief tot die res.

Nou weet ’n mens ook dat beloftes in die politiek nie veel tel nie, en dat daar nie ’n woord soos “nooit” is nie. Ook die Groenes is in die 1980’s deur alle partye as mal radikales verwerp, maar toe daar nie meer ander keuses was nie, het eers die SDP en later selfs die CDU koalisies met hulle gevorm. Ook die Linksparty, wat ná die val van die muur uit die voormalige Oos-Duitse staatsparty SED (Sozialistische Einheitspartei Deutschlands) ontstaan het, was lank ’n muishond. Op provinsiale vlak in Oos-Duitsland was die SDP egter gedwing om hulle eers deur die Linksparty as minderheidsregering te laat duld, en later om koalisies te vorm. Intussen is linkse koalisies uit SDP, Groenes en Linksparty niks ongewoon meer nie.

Dit sal nog ’n ruk neem voor die politieke klimaat verander en koalisies met die AfD denkbaar is. Tans word almal binne die CDU wat dit durf waag om so ’n moontlikheid uit te spreek, aangeraai om anders te dink, maar die gety sal draai.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

…. die Duitsers sal weer ‘n vrou kies want so word die wèreld geflous om te glo die Nazi-bloed is uitgewoed… En hoe leliker… hoe gewilder…

Wakker ·

Jy het ‘n paar punte hier raak gevat John… Merkel het eiehandig Europa so te sê nou “vernietig” en beheer ook vir Macron van Frankryk, vuur Kanada se Trudeau aan … en die lys gaan aan. Voorwaar ‘n lelike besigheid! ;-)

Jan ·

So jy se al die volke het die reg tot nasionalisme behalwe die blanke volke…

George in Bloem. ·

Erens onder al hierdie dinge le en sluimer die ou Duitse militarisme wat die geskiedenis ons van vertel,oor en oor en so seker as wat die son opkom in die ooste,sal dit weer opvlam. Dis maar net ‘n kwessie van tyd………..

Gert ·

Die media wêreldwyd is baie links, en is heeltyd besig om die bevolking te indoktrineer teen konserwatiewe partye, of soos hulle dit noem, alt-regs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.