Die politieke turksvy – onwettige immigrasie

honduras-immigrante-trein-04

Hondurese immigrante wat uit Meksiko gedeporteer word, wag om terug huis toe geneem te word nadat hulle nie suksesvol oor die VSA se grense kon kom nie. Byna al die migrante by die busterminaal het dieselfde gesê: Miskien nie vandag nie, miskien nie môre nie, maar hulle beplan om weer te probeer. Foto: ANA / AP Foto / Moises Castillo

In 2013 het ek by die USCIS (US Citizenship and Immigration Services) aansoek gedoen om na Amerika te emigreer. Twee jaar later, en sonder enige terugvoering sedert my aansoek, stel die USCIS my in kennis dat my verblyf-en-werkpermit, oftewel groenkaart, na my dogter se adres in Kalifornië gepos is.

Ons het dit nooit ontvang nie en dit het ons ook niks gebaat om te kla nie, aangesien die USCIS geen verantwoordelikheid vir verlore pos aanvaar nie. Ek moes hoor dat ek maar weer aansoek moes doen, weer na Johannesburg moes gaan vir biometriese toetse en weer klaringsbewyse van die polisie, my dokter en die bank kry. My afspraak by die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg was om 15:30 op ’n weeksdag wat beteken het dat ek vroegoggend uit Kaapstad moes vertrek om weer om ongeveer 19:00 terug te wees in die Moederstad. ’n Hele dag daarmee heen.

Ná maande se gewag moes ek uitvind dat die departement my groenkaart weer per pos gestuur het. En weer het ek niks ontvang nie, behalwe ’n bestaansekerheidskaart (Social Security Card). Terwyl my aansoekproses aan die gang was, was ek met elke besoek aan die VSA deur doeanebeamptes agtergehou vir soms so lank as ses uur, net om uit te vind my aansoek was reeds in die stelsel en dat ek, volgens hulle, “spoedig” in die VSA sal kan woon.

Nodeloos om te sê dat ek geskok was deur die traak-my-nie-agtige manier waarop my saak gehanteer is. Daarom het ek in 2015 besluit om gedurende my Desembervakansie in die VSA persoonlik na die USCIS te gaan en te eis dat my groenkaart heruitgereik moet word. Ongeveer 12 maande later het ek uiteindelik my nuwe groenkaart ontvang. Ek moes Suid-Afrika byna onmiddellik verlaat. By doeanebeheer het ek alle toepaslike dokumente en klaringsbriewe oorhandig en is as ’n permanente inwoner van Amerika verwelkom.

Nou sit ek en wonder: As aansoeke vir wettige immigrasie werklik so streng en tydrowend is, waarom word onwettige immigrasie deur die suidelike grens met Meksiko dan so roekeloos gehanteer en toegelaat? Wat is die doel van wettige immigrasie as onwettige immigrasie met ’n soort gelate onverskilligheid deur die vingers gesien word?

Inderdaad ’n verkiesingsturksvy. Die vraag is net, waarom word onwettige immigrasie sonder veel omhaal oorboord gegooi sodra die presidentskandidaat agter sy nuwe lessenaar inskuif? En waarom het die kongres (parlement) vir substansiële begrotings vir die bou van ’n grensmuur (onder vorige administrasie) gestem net om aan druk van die opposisie in te gee – afhangend natuurlik van wie die nuwe presidensiële stoel beset.

Toe Donald Trump nog ’n presidentskandidaat was, het hy links en regs stemme vir grensveiligheid gewerf en is oorweldig met steun uit sy verkiesingsbasis. Maar noudat hy die president is, het die opposisieparty dit reggekry om met ’n meerderheid stemme weer téén die finansiering van die grensmuur te stem – alles om Trump se vordering met die bou van die muur te pootjie.

Die dilemma is nou ’n grensmuur versus grensveiligheid; verhuisers sonder dokumente versus onwettige buitelanders; die ICE[1] as wetstoepassing versus grenspolisie; en so kan ons voortgaan. In al hul teenargumente het die Demokrate uitsprake geoordeel volgens wat hulle pas en die mantel van morele superioriteit aangetrek.

Kortom, die woordakrobate en burokratiese rompslomp verberg die toestroming van duisende mense wat die grens week ná week onwettig oorsteek.

Hierdie getal (in 2018) is absoluut verstommend en na alle waarskynlikheid is die stroom mense deur ’n reeks magte[2] binne en buite die VSA georkestreer.

Die U.S. Customs & Border Protection (CBP) het 404 142 inhegtenisnemings vir 2018 aangemeld, ’n 15%-toename sedert 2017. Daar is ’n 47%-toename in gesinne, 59% ongemagtigde gesinne en ’n 42%-toename in inhegtenisneming van gesinne. Daarbenewens het die inhegtenisneming van persone uit Sentraal-Amerika van 58% in 2017 tot 62% in 2018 gestyg. Van die 404 142 inhegtenisnemings landwyd, was 39 6579 daarvan langs die suidwestelike grens, met 152 257 mense uit Meksiko. So veel as 11% was voorheen gearresteer en 4 307 onwettige immigrante is uit lewensgevaarlike situasies gered.

By grensposte het beamptes altesaam 279 009 mense as ongemagtigde persone en 16 900 as vlugrisiko-passasiers geklassifiseer. Die aantal visums wat teruggetrek is, is 9 454 en 132 785 is afgekeur deur die ESTA-stelsel (Electronic System for Travel Authorization).

Hoewel onwettige immigrasie lank reeds ’n geweldige uitdaging aan talle vorige presidente van Amerika gebied het, is die doel van die anti-Trump-haatveldtog om Trump vir die krisis te blameer. Dit is ironies dat die Demokrate wat nou in beheer is, elke koeël in hul opposisie-arsenaal gebruik het om vordering op hierdie gebied te dwarsboom. Terwyl Trump daarvan beskuldig word dat hy onwettige vreemdelinge as boos en krimineel beskou, omhels die Demokrate hulle nou ewe skielik met ’n skyn van moraliteit – iets wat nie juis eie aan die Amerikaanse burgers is nie

Maar hoekom die groot lawaai oor misdaad?

Volgens die CBP is 20 486 misdadige vreemdelinge in 2018 in hegtenis geneem, waarvan 7 752 voorheen reeds deur die polisie gesoek is. Meer as 800 is deel van ’n bende, waarvan 413 die berugste is en by die dodelike MS-13-bende aangesluit het. Dié gevreesde bende se slagspreuk is “Verkrag, Beheer, Vermoor” (Rape, Control, Kill). Die res behoort aan kleiner, maar ook gevaarlike bendes. Tesame hiermee, is die beslaglegging op 1,7 miljoen pond (meer as ’n halfmiljoen kilogram) dwelms – onder meer kokaïen, dagga, metamfetamien, heroïen en fentaniel. Dwelmkartelle is prominent in Meksiko, het gevestigde belange in die omkoop van politici, groot besighede en om Amerika te infiltreer.

Daar bestaan geen twyfel dat onwettige immigrasie buite beheer is nie, hoewel politici van die opposisie en ook die media – wat duidelik nie die verskil ken tussen asielsoekers, vlugtelinge en gewone onwettige immigrante nie – dit hewig ontken. Dié wat wel om asiel vra, maak die kleinste persentasie uit van alle mense wat die grens onwettig oorsteek.

Wat tragikomies is, is dat wettige immigrasie absoluut geen sin maak terwyl duisende mense die grens daagliks onwettig oorsteek nie. Die omstandighede vir die grensposbeamptes het onhoudbaar geword – die Demokrate stuur die een ná die ander veldtog van stapel net om behoorlike wetstoepassing af te kraak. Daarbenewens eis hulle massiewe bedrae geld van twyfelagtige bronne en kanaliseer dit via groot donateurs aan nieregeringsorganisasies. Dit vererger net die probleem en kan Trump se ondergang beteken.

Hulle eis dat kinders nie van hul ouers geskei mag word nie, terwyl daar wel baie minderjariges is wat nie deur hul ouers vergesel word of deur onverwante volwassenes begelei word nie – mense wat kinders gebruik om maklik toegang tot die land te verkry.

In die tussentyd belowe presidensiële kandidate gratis gesondheidsorg aan onwettige burgers, gratis kollege-onderrig, veilige toevlugsoorde en skuilings aan vreemdelinge wat na alle waarskynlikheid misdadigers is. Engel-moeders (ouers wie se kinders wreed deur onwettige vreemdelinge vermoor is) het in TV-onderhoude en by verskeie geleenthede in die Withuis gepraat oor die brutale moorde op onskuldige burgers van die VSA met die doel om bewustheid van dié krisis te skep. Politici en gesaghebbendes het egter met dom argumente na vore gekom en beweer dat misdaad wat deur vreemdelinge gepleeg word, nie juis erger is as misdade deur burgers van die land nie.

Die feit bly staan: As misdaad reeds ʼn uitdaging in Amerika is, waarom word daar toegelaat dat die instroming van onwettige vreemdelinge die probleem vererger?

Ja, Trump se dreigemente om die grens te sluit, tesame met sy opbloeiende ekonomie en eksponensiële arbeidsgroei het sonder twyfel ʼn trekpleister geword vir duisende arm en werklose Latyns-Amerikaners om Amerika hul tuisland te maak. Maar Trump is sover ook die enigste president wat sy stem dikgemaak het teenoor hierdie regerings om self die verantwoordelikheid van hul armes te dra en het gedreig om alle hulp op te skort indien die karavaan vlugtelinge wat die land onwettig binnestroom, nie gestop word nie.

Sy versoek vir $4,5 miljard (sowat R64,7 miljard) om die omstandighede van die ICE-beamptes te verlig met meer bronne, fasiliteite soos skuilings vir minderjariges wat alleen oorgekom het, beddens in die aanhoudingsplekke, ensovoorts, is met mag en mening deur die Demokrate teengestaan. Dit is na regte nie so baie nie, gesien teenoor wat voorheen aan ander presidente beloof is, maar wat nooit geïmplementeer is nie.

Dit is eintlik skandelik dat die president se opregte pogings om die grenskrisis te probeer oplos, immigrasie met meriete as vereiste te implementeer, burgerskap aan dromers te verleen (kinders wat in Amerika gebore is, maar wie se ouers onwettig in die land is) en ʼn muur met die nodige elektroniese sekuriteit te bou, so in die wiele gery word. Die regering het egter besluit om nie hiermee voort te gaan nie – noodfinansiering kon darem die $4,5 miljard verseker, maar dit is ʼn druppel in die emmer teenoor wat dit regtig sal kos om die grens behoorlik te beveilig.

Die Demokrate se ontkenning dat daar geen grenskrisis is nie, het die wind van voor gekry met ʼn ABC-peiling in April wat aandui dat daar 80% Amerikaners is wat glo die toestroming is wel ʼn krisis, of ten minste ʼn ernstige probleem. Dog, 50% van Amerikaners reken dat Trump nie die krisis van onwettige immigrante na behore gehanteer het nie. Ontleders glo dat die Republikeine om hierdie rede setels gedurende die tussenverkiesings verloor het. Die verpolitisering van enige ernstige probleem wys maar net weer hoe politici kiesers kan swaai om teen hul eie belange te stem.

Terloops, dit is teenstrydig dat 63% Amerikaners in 1994 immigrante as ʼn las beskou het, maar dat 62% Amerikaners immigrante in 2018 as ʼn bate beskou.

Om die turksvy ʼn paar ekstra dorings te gee: Onwettige immigrasie het nie slegs ʼn humanitêre krisis op die grens veroorsaak nie – gepaardgaande met seks-, dwelm- en mensehandel vererger dit ook gesondheidsrisiko’s, misdaad, haweloosheid en die las op staatshulpbronne indien dit nie beheer word nie.

ʼn Behoorlike opknapping van die VSA se immigrasiestelsel het ʼn noodsaaklikheid geword wat nie langer geïgnoreer kan word nie. Die presidensiële kandidaat Joe Biden het vroeër die siniese opmerking gemaak dat onbeheerde immigrasie verwelkom moet word, aangesien dit mettertyd die nasionale demografie van ʼn wit meerderheidsgroep na ʼn wit minderheidsgroep sal verander.

Hierdie behoort as ʼn wekroep vir die Demokrate, wat hul stemme wil verseker, te dien, aangesien hulle nie meer op die Amerikaners kan steun om namens hulle in die toekoms te stem nie.

Voetnotas:

[1] Immigration and Customs Enforcement (ICE). Beamptes wat Amerika teen oorgrensmisdaad en onwettige immigrasie beskerm.

[2] Nieregeringsorganisasies (NRO’s), groot donateurs, stemwerwers, korporatiewe instansies en politici van beide kante wat voordeel trek uit goedkoop arbeid, dwelmkartelle en bendes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stephan de S ·

Dis n vraag wat ek ook nie verstaan nie: waarom is daar sulke streng vereistes vir wettige aansoekers om visums en/of immigrasie as dit nie ook geld vir onwettige immigrante nie.

Dewan ·

Want wettige immigrasie maak dit moeilik tot onmoontlik vir witmense om in te kom. Ons moet die amerikaners en europeers waarsku hoe dit gaan wees wanneer hulle ook minderheid word en in hulle eie lad vervreem en uitgetrap gaan word. Ons moet met hulle begin saamwerk.

Therese van Schalkwyk ·

Die situasie wat beskryf word, is eenvoudig verstommend.
G’n mens by sy volle verstand kan Biden en die Demokrate in hierdie kwessie ondersteun nie.
Onwettige immigrasie is niks anders as ‘n misdaad nie, maar sal voortduur vir so lank as die tandelose, onbeholpe VN en ander menseregte-organisasies die oortreders sterk in hulle saak.
I.p.v. om die korrupte regerings van die hoollande waarvandaan gevlug word voor stok te kry, word die ‘gasheerlande’ die leviete voorgelees as die rooi tapyt nie uitgerol word nie.
Sonder soewereine landsgrense gaan die uiteinde ‘n armoedige, misdaadgeteisterde wêreld wees waar almal ewe swaar kry en niemand gehelp kan word nie.

Geniet intussen al die goeie dinge in die VSA en raam die gesogte groenkaart!

Dries du Toit ·

Mooi gestel Therese. Dit is ook so dat Geen mens by sy volle verstand of liewer enige verstand behoort vir n regering te stem wat vir die hongersnood van sy volk en die vernietiging van sy land se ekonomie verantwoordelik is nie. Maar dit gebeur in alle Afrika lande en nou ook hier in SA

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.