Die positiewe wat Zuma vermag het

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Deur Andries Cornelissen

Daar ís iets positiefs ook aan dít wat pres. Jacob Zuma en sy trawante aan Suid-Afrika gedoen het. Jy mag my stelling dalk vreemd vind, maar gee my kans om te verduidelik.

In 1994 het die ANC met ʼn oorweldigende meerderheid aan bewind gekom. Nelson Mandela het wyer steun geniet as net binne die ANC en daar was ʼn morele hoëgrond vanwaar Mandela en sy ANC regeer het. Dit was die wittebrood van die sogenaamde reënboognasie.

In 1995 het ons die Wêreldbekerrugbytoernooi gewen en daar was geen keer aan die optimisme van die meerderheid Suid-Afrikaners nie. Die Mandela-euforie het plek gemaak vir die Realpolitik van Thabo Mbeki met ʼn ANC wat steeds baie stewig in die saal was. Hy het Shakespeare in toesprake aangehaal as bewys daarvan dat hy Westerse opvoeding gehad het, maar terselfdertyd ʼn sterk Afrika-boodskap verkondig in sy Afrika-Renaissance-gedagte. Sy lawwe idees oor MIV/vigs en wegbeweeg van die gewone mense in die ANC het van hom ʼn maklike teiken gemaak vir die Zuma-groep. Baie van diegene wat Zuma in Polokwane aan bewind gebring het, baklei nou net so hard om van hom ontslae te raak. Dit sluit Julius Malema in wie se party hom nie eens as president van die land bestempel nie.

Wie nou eintlik die vark in die verhaal is, is nie van belang vir my argument nie – al weet ons wie is vol modder. Wat wel vir my van belang is, is wat met die ANC gebeur het in net 23 jaar aan bewind. Die eens magtige ANC van 1994 is nou bloot ʼn skaduwee van die bevrydingsbeweging wat dit eens was. En daarmee saam het die wyse waarop die openbare diskoers in die land plaasvind dienooreenkomstig verander. Veral die ANC van Mbeki het die openbare diskoers oorheers en versmoor – daar was bittermin opponerende stemme in eie geledere – selfs oor sy wanopvattings oor MIV/vigs. Daar was ʼn politieke korrektheid waarin min sogenaamde analiste en kommentators en selfs joernaliste se opponerende stemme gehoor is.

Die ANC het dit bloot nie geduld nie en die “mag” van die ANC het daardie stemme op hulle plek gehou. Soos in die ou Suid-Afrika is daar min vasbyters en die meeste opponerende stemme is maar net in hulle eie veilige binnekringe gehoor.

Toe breek die Zuma-era aan en die vuilspel waarmee dit begin het moes ʼn voorbode gewees het van wat ons vandag sien en hoor. Dit raak net al vuiler, maar daarmee saam het ʼn soort van bevryding van stemme gekom. Dit het as’t ware mode geword om die ANC aan te val en te kritiseer.

Mense het die ANC nie meer so nodig soos voorheen om doelwitte te bereik nie – of dis minstens ʼn wyer persepsie wat posgevat het. Voor die ANC se Zuma-val het die party die pas aangegee op alle terreine en die party het byna elke aspek van die openbare diskoers beheer. Nou lyk sake heel anders. Daardie ruimte is weer oopgeskop deur senior ANC-mense wat openlik die party begin kritiseer het – dit is dié soort mense wat reeds ʼn goeie pensioen gereed het. Dit was seker te wagte as jy kyk hoe die Zuma-brigade van die Mbeki-aanhangers ontslae geraak het.

Die positiewe wat ek dus uit die Zuma-era wil haal, is dat Suid-Afrika weer ʼn oper samelewing geword het – een waarin mense met verskillende idees en standpunte gemaklik voel om deel te wees van die openbare diskoers. Die morele hoëgrond bestaan nie meer vir die ANC nie. Selfs binne die party is daar openlike verset teen die Zuma-bende. Cosatu en die SAKP – getroue struggle-bondgenote wil nie eers Zuma se gesig sien by geleenthede van die alliansievennote nie. Dit mag dalk sleg vir die ANC wees, maar dis nie sleg vir Suid-Afrika nie. As ons werklik ʼn reënboognasie wil wees, dan moet daar plek wees vir elke Suid-Afrikaner – soos wat die ANC se eie Vryheidsmanifes sê. Die openbare diskoers het net ruimte gehad vir ANC-eendersdenkendes. Die party het al verder van sy ideale wegbeweeg wat hy met groot sukses aan miljoene Suid-Afrikaners verkoop het. Ongelukkig glo al minder mense dat die ANC daardie ideale nastreef.

Die goeie nuus is dat burgers nie net daardie mislukking goedsmoeds aanvaar nie – hulle wil baklei vir daardie ideale van ʼn beter tuiste vir hulle nageslag. En ʼn goeie begin is om van die Zuma-gewas ontslae te raak en te kyk of die ANC homself betyds kan red – dis nou as die party verdien om gered te word.

Nou moet ons keer dat ʼn nuwe vlaag van politieke korrektheid nie die openbare diskoers oorneem nie. Daar is ʼn gesiglose beweging in sosiale media wat keer dat ʼn gesonde openbare diskoers ook daar kan plaasvind. Dis ʼn beweging wat mense maak of breek in hoe hulle reageer op Twitter en Facebook – weer word opponerende stemme daar stilgemaak en hulle gaan maar net verdwyn. So hoor ons net een koor en leer niks uit die geskiedenis nie. Laat ons asseblief nie een bende vervang met ʼn spul ander skurke nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Verwonderd ·

“Laat ons asb nie een bende vervang met ‘n spul ander skurke nie” Is slegs moontlik as almal saam WERK na ‘n toekoms en weier om ander mense se goed te begeer en te steel. ‘n Saak van moraliteit en etiek kan ge-opper word. Ek vermoed egter die sameleweing is vasgevang in ‘n kultuur van “almal skuld my alles” en “dis almal se skuld dat met my soo gaan”. Vir ‘n werklike toekoms behoort elke burger van SA hand in eie boesem te steek, nie net een groepie wat uitgebyt en uitgemergel word to daar nie eers meer vleis aan die bene oor is nie. Is daar nog so ‘n toekoms wesenlik werkbaar?

Leendert ·

Eerstens, die ANC sou altyd op ‘n glybaan afwaarts beweeg het soos ‘n grafiek, dit was ‘n gegewe. In Mandela se tyd was hordes ander rolspelers, kundiges, en wit mense betrokke om die land op koers te hou almal het blymoedig die land in reënboog kleure geverf. Dit was laaste sien, want so ook soos die tyd aangestap het, is SA al meer geAfrikaniseer, op die glybaan waarheen ons onafwendbaar op pad was.

Tweedens is jy heeltemal korrek betreffende Zuma. In kort, die mense het sommer vinnig besef, eintlik uit die staanspoor, dat daar meer in die land is om voor te lewe, en hoe ‘n uiters swak selfgesentreerde president lyk met voete van klei, die kaders die land gaandeweg kaap, op die mense parisiteer, korrup, tot daar waar nou vandag net been oor is.

Maar ek sal dit verseker nie as ‘n positiewe beskou nie, eerder ‘n tragedie. En dat nie ANC dit nie kon en wou stop nie, het hulle aan die begin van hul einde help skryf. As dit, bedoelende hul einde, die positiewe is, kan ek daarmee saamleef.

Jakobus ·

Ons weet na jy verwys as jy in jou laaste sin sê, “die een bende skurke”, maar wie bedoel jy, veral as mens die laaste dae se gebeure in ag neem, ” met ‘n spul ander skurke nie”, die EFF, ANC jeugliga en ook die DA, wat so gil?

Veritas ·

Jakobus jy raak ‘n baie belangrike punt aan. Tussen die huidige aktiewe politieke partye, is daar nie veel om van te kies nie. Die DA lyk op die oog af na ‘n goeie opsie maar dit bly maar die ou Prog Party met ‘n ‘Clever Black’ as leier. My vermoede is dat die DA maar net op dieselfde wysie sal aankarring as wat hulle tans doen in die stadsrade wat hulle verlede jaar oorgeneem het. Hulle sal vir die volgende twintig jaar hamer op die gemors wat hulle ná die ANC bewind, moet regmaak. Opposisie-politiek en regeringspolitiek is twee heel verskillende dinge en ek dink nie dié spannetjie gaan die pyp rook nie.

Leendert ·

Ek sien James Myburgh, redakteur van Politicsweb sê ons het grotendeels ‘n ras gesentreerde land met ‘n bende psigose geraak.

Will i am ·

Die groot positiewe van Zuma is hy hou ons meer op ons kniee. Ons moet net aanhou bid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.