Die post-waarheid wêreld van linkse rassepolitiek

Deur Monica Mynhardt

Monica Mynhardt.

Dit is vandag amper ’n maand ná die dood van George Floyd.

Die gevaarlik gepolariseerde narratief wat reeds bestaan het – veral in Amerika – het ’n gebalanseerde gesprek rondom Floyd se dood uiters moeilik gemaak. Die linkse elite het vir jare reeds die omgewing geskep waar die dualisme van feite en opinies onbestaanbaar is.

Weens hierdie onregverdige polarisering is dit belangrik om, eerstens, ongekwalifiseerd te stel dat Floyd se dood ’n tragedie was en dat enige mens met ’n gewete die video van sy dood as afgryslik ervaar het.

Die onbestaanbaarheid van die dualiteit het dit egter onmoontlik gemaak om enersyds regtens dié opinie te handhaaf en andersyds van mening te wees dat hierdie insident nie tekenend van ’n breër stelsel van sistemiese rassisme en wit bevoorregting in Amerika en die res van die wêreld is nie.

Die polisie en swart Amerika

Eerder as om na die meriete van Floyd se dood self te kyk, het die narratief van die linkse elite die gesprek oordonder. Volgens hierdie narratief hanteer die polisie en die kriminele regstelsel swart Amerika met meer geweld, bloot omdat hulle swart is. Die werklikheid is egter veel meer kompleks.

In 2019 het die polisie in Amerika 1 004 mense geskiet, waarvan die meeste gewapend en gevaarlik was. Ten spyte van die feit dat swart misdadigers sowat 53% van moorde en 60% van rooftogte in Amerika pleeg, was slegs 25% van die 1 004 swart. Dit is omdat die polisie gewoonlik slegs skiet wanneer hulle in fisieke kontak met gewapende en gewelddadige misdadigers kom. Swart mense word dus nié disproporsioneel geskiet tot die hoeveelheid misdade wat swart misdadigers pleeg nie.

Volgens ’n artikel in The Wall Street Journal het die polisie in dieselfde jaar 19 ongewapende wit mense en nege ongewapende swart mense doodgeskiet – dit verteenwoordig sowat 0,00002% van die totale swart Amerikaanse bevolking. Die data bewys dus bloot nie dat die polisie swart mense in Amerika in massas doodskiet nie.

’n Studie deur die departement van geregtigheid het in 2015 bevind dat selfs wanneer swart mense deur die polisie geskiet word, wit polisiebeamptes minder geneig is om hulle te skiet as swart of Spaans-Amerikaanse polisiemanne. Die data ondersteun ook nie die idee dat die polisie se optrede oorwegend gemotiveer word deur ras nie.

Hierdie feite skets duidelik die prentjie dat swart mense nie deur die polisie in massas vermoor word bloot omdat hulle swart is nie. Rassisme is sonder enige twyfel ’n werklikheid – dit vergestalt egter nie in die vorm van ’n sistemiese onderdrukking of bedreiging nie. Hierdie hele beweging beveg dus ’n verskynsel wat glad nie bestaan nie.

Die narratief

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Indien die data nie die Black Lives Matter (BLM)-beweging se stellings ondersteun nie, is die groot vraag dan waarom die narratief volhou dat dit waar is. Dit word verduidelik deur die feit dat die ideologie van diegene aan die stuur van die narratief een is van rasse-Marxisme.

Marxiste verstaan die wêreld as ’n inherent onderdrukkende stelsel waarin daar ’n klas van onderdrukkers en onderdruktes bestaan – die groep waarin jy gebore word, is jou ewige lot. Die stelsel moet daarom volledig in ’n revolusie omvergewerp word ten einde ’n nuwe stelsel van gelykheid te vorm.

Die huidige linkse elite se denke stem grootliks ooreen hiermee, maar lê klem op ras, eerder as klas. Rassisme is sodoende inherent en onaantasbaar deel van die stelsel. Die groep onderdrukkers is hier net wit mense en die onderdruktes swart mense.

Rassisme is hiervolgens nie in die individuele denke of optrede van mense nie, maar is eerder ’n onsigbare hand wat mense se optrede dikteer. Wit mense kan nie help om rassisties te wees nie – bloot omdat hulle wit is. Swart mense kan nie help om slagoffers van onderdrukking te wees nie – bloot omdat hulle swart is.

Dit is presies hierdie veronderstellings wat lei tot die mal denke dat wit mense sonder dat hulle dit weet, rassisties kan wees.

Stigters van die BLM-beweging is selferkende Marxiste wat, volgens hul webtuiste, daarop uit is om die patriargale stelsel van die Weste te verwoes deur te begin by die ontbondeling van die gesin.

Hierdie narratief dwing ’n mens in ’n oorvereenvoudigde bose wit teenoor onskuldige swart wêreld in. Jy is ’n rassis wanneer jy die stelsel waarvan onderdrukking inherent deel is, onderhou. Dit lei noodwendig tot die uiteinde dat jy jouself daaraan moet verbind om die stelsel omver te werp ten einde van die onderdrukking ontslae te raak. Elke wit mens moet vergeld vir die sondes wat nie hulle eie is nie.

Rassisme in Suid-Afrika

BLM-gesprekspunte het natuurlik na ons eie land oorgespoel. Aanvanklik is hierdie debat deur twee groepe aangegryp – ons regering en die linksgesindes.

In ’n absoluut belaglike stap het die regering in reaksie op Floyd se dood ’n antirassisme-veldtog van stapel gestuur. Dit is ekwivalent aan ’n trop leeus wat ’n veldtog ten gunste van vegetarisme begin. Dit is bespotlik dat ’n regering wat blatant teen ’n minderheidsgroep in hul eie land diskrimineer, ’n veldtog begin teen die beweerde onderdrukking van ’n minderheidsgroep in ’n ander land.

Alhoewel sommige mense redeneer dat swart-op-wit-diskriminasie óf nie bestaan nie, óf regverdigbaar is, is hierdie denke intellektueel oneerlik. Indien jy wit-op-swart-diskriminasie teenstaan, moet jy die omgekeerde ook opponeer – dit kom immers op dieselfde beginsel neer.

So goed as wat die bedoelings agter ’n beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) is, so swak werk dit in praktyk. Selfs al kon ’n mens die beleid in teorie regverdig, moet jy regtig dwaas wees om dit steeds te steun wanneer jy die uitwerking daarvan in praktyk sien. Dit is onsinnig om aan te voer dat die toepassing daarvan in praktyk “ ’n ander saak” is in die beoordeling daarvan – ’n mens kan immers dieselfde sê van Marxisme. Die bedoeling van die ideologie is eintlik edel – die meer as 100 miljoen mense wat dit in ellende laat sterf het, is net “ ’n ander saak”.

Wat ondersteuners van SEB moet besef, is dat dit nie net teen wit mense diskrimineer nie, maar ook ongelooflik neerhalend teenoor swart mense is. Hierdie beleid veronderstel dat swart mense nie deur hul eie meriete en wilskrag kan slaag nie – daarom moet ons vir hulle ’n plekkie reserveer. Dit stel ook voor dat enige gegewe wit mens meer voorregte het as enige gegewe swart mens. ’n Werklose wit man van Danville is eintlik meer bevoorreg as president Cyril Ramaphosa – bloot omdat hy wit is. Daarom het die arme uitgelewerde swart mense die goedhartige wit mense nodig om hul wit bevoorregting te vermeld en verloor, die stelsel omver te werp en sodoende swart mense te bevry. Veral die wit linkse elite in ons land ly aan ’n walglike graad van hierdie wit messias-kompleks.

Steve Biko het reeds voor die val van apartheid kritiek teenoor hierdie denkwyse van wit liberales uitgespreek. Volgens Biko het die wit liberales se aanbod om swart mense te help, altyd ’n neerhalende ondertoon gehad – nie omdat hulle die stelsel van onderdrukking wou onderhou nie, maar omdat hulle eintlik geglo het dat swart mense nie die vermoë het om apartheid alleen omver te werp nie. Biko meen dat die wit liberales se strategieë om swart rassisme te beëindig, dikwels hul eie posisie as beskermhere van moraliteit in die samelewing bewaar.

In Biko se eie verdoemende woorde: “I am against the superior-inferior white-black stratification that makes the white a perpetual teacher and the black a perpetual pupil (and a poor one at that).”

  • Monica Mynhardt is ‘n navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Peet ·

Baie goeie stuk! Persoonlik dink ek ons gaan nie ver kom, met diè aan bewind, die linkses wat dink hulle koop vir hulle ‘n plekkie in die son met hul saampraat en dan die crapule wat net wil afbreek nie.

Willem ·

Eerste keer wat ek iets lees wat sin maak…. absoluut goed geskryf. Dis soos vars lug!!

Vrijburger ·

Wel deurdagte skrywe en goed uiteen gesit.
Tydens die inperkings tydperk het ek wyer as gewoonlik gelees en ontdek daar is ‘n groot groep ‘konserwatiewe’ swart en Hispanic groeperings in die VSA waarvan baie min mense kennis neem. Groepe wat nie inkoop op die BLM narratief nie, wat weier om ‘n slagofferskap-mentaliteit te aanvaar.
Swart politieke kommentators soos Ben Carson, Candance Owens, Larry Elder ens.
Ps. Vir ‘n meer humoristiese swart politieke kommentaar kyk gerus na The Amazing Lucas, The Officer Tatum ens.
Groete uit Texas.

4ntj13 ·

Maar, beteken liberale denkwyse noodwendig mens onderskryf BLM? Ek het gedink liberale denke sou juis die eng denke van Floyd se moordenaar kon onderskei van dit wat die gewone, wit Amerikaners dink.

BLM was veronderstel om ʼn anti-eng denkrigting te wees wat deur pappegaaie gekaap is om anti-konserwatief, toe anti-wit, en selfs nou anti-liberaal te raak. Nou onderskryf dit van voor af ʼn eng denkrigting…

Niklaas ·

Komplimente aan die skryfster vir ‘n puik artikel, heel onpartydig en goed bewoord.

Tinus ·

Baie goeie artikel en sy slaan die spyker op die kop.Stem daar iets meer agter.Neem bv. Lewis Hamilton,spreek homself uit dat BLM,maar hang gereeld uit met wit vroue,hoe verklaar hy dit,hoe regverdig hy dit,die hele F1 organisasie nou in rep en roer nadat Bernie E gese het,dat rassisme n twee gang straat is…

Objektief ·

Uitstekende artikel; duidelik wel nagevors en beredenerd.

Gelukkig verstaan die ver-linkse ” denke polisie” nie Afrikaans nie so hulle sal jou nie beledig nie. Hulle gewone strategie is ” assault the messenger if you do not like the message’. Hulle is so verknog aan vryheid van keuse dat hulle tot hulle eie feite kies.

Heinrich ·

Dankie Monica, ‘n stuk so uit my hart! Daar is so baie blindes wat ek wens hierdie stuk kon lees.

katara ·

Kan hierdie artikel asb vertaal word in Engels? Asb Monica. Ek het ‘n swart vriendin wat hierdie werlik interessant sal vind en sy verstaan nie afrikaans nie. Ek kan dit vertaal, maar dis altyd beter as die skrywer self dit doen.

4ntj13 ·

“Waarmee sal Ek vandag se mense vergelyk? Hulle is soos kinders wat op die dorpsplein speel en mekaar verwyt deur te sê: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het vir julle ’n begrafnislied gesing, maar julle het geweier om te huil.’ “Want Johannes het soos ’n askeet gelewe – hy het dikwels gevas en nie wyn gedrink nie. Toe het julle gesê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink wyn – en julle sê: ‘Hy’s ’n vraat en ’n dronklap, ’n vriend van die slegste soort sondaars.’ Ja, die toets vir die wysheid is die resultate wat dit voortbring.”
MATTEUS 11:16‭-‬19 NLV

Is dit wys om witmense steeds te verdeel in konserwatiewes en liberales? In Sappe en Natte? Daar is talle, denkende witmense wat hulleself liberaal ag, en juis daarom nie val vir groepering as goedpraters vir als wat anti-wit is nie. Die wêreld hoef nie ʼn magstryd vol te hou om net sekere mense op ʼn gegewe tyd te bevoordeel nie.

4ntj13 ·

Ek voel dit raak tyd om eerder te praat van denkende vs eng mense. Denkers wat sonde veroordeel en nie mense vooraf as sondaars te wil brandmerk nie. BLM begin dieselfde met witmense doen as wat die moordenaar vooraf van Floyd gedink het. Geweld bevorder haat, nie waardering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.