Die pothole-toets vir politieke ingesteldheid

Die afgelope vakansie is derduisende reisende Suid-Afrikaners opnuut blootgestel aan een van die algemeenste vorme van staatsverval, naamlik slaggate in die paaie. Of soos die eentalige waarskuwingsborde langs die paaie dit noem: potholes. In Vrystaatse Afrikaans word dit as pô-tô-lês uitgespreek. So wydverspreid en letterlik onmisbaar is die potholes dat hulle as Suid-Afrika se nie-amptelike nasionale simbool kwalifiseer.

Natuurlik is nie alle openbare paaie in Suid-Afrika vrot van die potholes nie; teen ‘n prys kan ‘n mens op uitstekende snelweë ry. Net so moet ons nie die omvang van staatsverval oordryf nie; die Inkomstediens en die Tesourie, byvoorbeeld, lyk taamlik gesond. Die Gautrein bied ‘n uitstekende diens (as die trein nie weens kabeldiefstal staan nie). En die land spog met verskeie ultramoderne sportstadions.

Dis tipies Suid-Afrika: ‘n kombinasie van vooruitgang en verval, elemente van die Globale Noorde en die Globale Suide. Hierdie dualisme is nie ‘n produk van die lewe ná apartheid nie; dis al geslagte met ons. Vantevore, in die era van wit politieke mag en- bevoorregting, het blankes in ‘n soort Eerstewêreldse  kokon geleef, grootliks afgesonder van die Derde Wêreld wat hulle omring. Sedert die verdwyning van die skanse van apartheid, word blankes baie meer direk as vantevore met die Derde Wêreldse werklikheid in ons samelewing gekonfronteer. Van ons grootste stede begin minder na Londen en meer na Lagos lyk.

Hoe reageer die sogenaamd histories-bevoordeeldes en ander Suid-Afrikaners met Westerse ingesteldhede op die pothole-kultuur wat ons daagliks ervaar? Daar is ‘n wye spektrum van reaksies op wat die pothole-toets genoem kan word.

Eerstens is daar die Afrika-avonturiers (tipies met hul 4×4’s), vir wie potholes en ander vorme van verval aan Suid-Afrika ‘n outentieke Afrika-karakter gee. Hul leuse: geniet die potholes gate uit!

Die tweede groep aanvaar potholes gelate as eie aan Afrika; hulle hou nie daarvan nie, maar beskou ‘n sekere mate van verval as onvermydelik. Om te kla en kwaad te word, is vir die fataliste nutteloos. Hul leuse: leef saam met die vervlakste potholes!

In die derde instansie is daar ‘n groeiende groep verarmde blankes, veral Afrikaners, wat in verval leef en vir wie slaggate in die paaie net ‘n verlengstuk van hul haglike lewensomstandighede is.  Hul leuse: die lewe is ‘n gatslag!

‘n Vierde reaksie spreek van politieke korrektheid: die agteruitgang van paaie en dies meer is nie weens onverskilligheid of onbekwaamheid van owerheidskant nie, maar is ‘n nalatenskap van apartheid. In ‘n land wat steeds deur armoede, werkloosheid en sosio-ekonomiese ongelykhede geteister word, is die voorkoming en herstel van potholes verstaanbaar nie ‘n prioriteit vir die ANC-regeerders nie.  Vir die destydse bevoordeeldes van apartheid sal dit voorbarig en immoreel wees om oor verval te kerm en kla. Die PKs se leuse: verbly julle in die ellende van potholes!

Vyfdens kry ons die nuwe paternaliste, wat soos wafferse Westerse hulpverleners van weleer vir die onbeholpe Afrikane wil leer hoe om ‘n land te bestuur. Hierdie humanitêre imperialiste se leuse is: voed die potholers op!

Die sesde reaksie is oorbekend: raas en blaas in die openbaar oor potholes en die talle ander vorme van verval in die hoop dat die regeerders op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak gehoor sal gee en soos verantwoordbare ampsbekleërs hul pligte sal nakom. Die leuse van die rasers en blasers: name, blame en shame die skuldiges!

In die sewende plek is daar die vennootskappers, wat hoop dat die regeerders in samewerking met kundige en welmenende nie-regeringsinstansies iets daadwerkliks aan openbare verval sal doen. Hul leuse: saam kan ons die gate toemaaak!

Die selfdoeners verteenwoordig ‘n agste reaksie. Hulle het geen vertroue in die owerhede se vermoë of gewilligheid om verval se voorkom of om te keer nie, en glo daarom dat individue en instansies in die burgerlike samelewing self moet inspring om waar moontlik herstel- of instandhoudingswerk te doen. Hul leuse: los die slapgatte, ons vul self op!

Die negende reaksie op verval is toenemende privatisering. Ons het reeds private skole, kolleges, hospitale en dorpies (soos Orania) wat in mindere of meerdere mate uit die kloue van die openbare sektor bly. Dié groep se leuse: privatiseer en floreer!

Laastens is daar die drastiese reaksie om uit Suid-Afrika pad te gee weens die skynbaar onstuitbare verval. Die glyers se leuse: Gee pad, Suid-Afrika het sy gat gesien!

Om ‘n aanvaarbare leefwêreld vir Westers-georiënteerdes (wat die grootste gros Afrikaners insluit) in Suid-Afrika te probeer verseker, het ons die gekombineerde energie en vaardighede van vier van die tien groepe nodig: die rasers en blasers, die vennootskappers, die selfdoeners en die privatiseerders. As hulle kan help om staatsverval te voorkom en herstel en tot die vooruitgang van alle Suid-Afrikaners by te dra, sal dit ook die lot van die groep verarmdes verlig én hopelik voornemende glyers tot ander insigte bring. Anders sal slaggate en wat daarmee gepaard gaan ‘n gatslag vir Suid-Afrika wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deon Geldenhuys

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n professor in Politiek aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is betrokke by die stigting van die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Paul ·

Is daar nie ook ‘n elfde groep nie? Diegene wat dink die oplossing is om bomme te plant en nog meer gate in alles te skiet…

Chris O`Reilly ·

Om pothole te raporteer stuur net ‘n SMS

Pothole (spasie) beskrywing waar die pothole is mooi en duidelik. en stuur die SMS na 35960 SMS kos R3.00 Incl. vat

Louis du Plessis ·

WIE SKEP?

1 In hierdie heerlike opstel wys Deon Geldenhuys weer: met humor kan van die mees verborge menslike gedragspatrone en opsies puntsgewys en glashelder onthul word.

2 Hy impliseer ook ‘n oortuiging van die historikus Arnold Toynbee: dat skeppende gedrag meestal spuit uit die dryfvere van ‘n minderheid. In sy werk A Study of History sluit Toynbee sy inleiding tot deel 3 (ek vertaal) “Die groei van beskawings” onder meer af met: “Ek glo die toekomsgang van ‘n beskawing lê in die hande van hierdie minderheid van skeppende persone”.

3 Is dit dalk waartoe Westerlinge in Afrika geroep is: om slaggate (op elke lewensterrein) te teer?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.