Die probleem met gelykheid

ernst-roets-afriforum-deur-reint-dykema

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van Afriforum. Foto: Reint Dykema.

Min mense sal in beginsel beswaar maak teen die drie waardes waarop die Suid-Afrikaanse Grondwet gebaseer is. Artikel 1 van dié dokument bepaal dat die Grondwet op die beginsels van menswaardigheid, gelykheid en vryheid gebaseer is. Jy moet klaarblyklik ’n spesiale soort tiran wees om ’n probleem met enige van hierdie drie waardes te hê.

Dit is presies waar die probleem begin. Die rede waarom byna almal met hierdie waardes saamstem, is dat almal hul eie definisies vir menswaardigheid, gelykheid en vryheid het. Op sigself beteken die woorde nie veel nie, aangesien die betekenis afhang van wat jy daarvan maak. Daardie drie woorde is, om die waarheid te sê, nie veel meer as gonswoorde nie.

En die grootste gonswoord van die drie is gelykheid. Gelykheid is basies die teenoorgestelde van rassisme. Die meeste mense stem saam dat rassisme boos is, maar weet nie mooi wat dit nou eintlik beteken nie. Die meeste mense stem saam dat gelykheid goed is, maar weet ook nie mooi wat dit nou eintlik beteken nie.

’n Libertyn of ’n klassieke liberaal (nie te verwar met die moderne Amerikaanse liberalisme nie) sal waarskynlik sê dat hy gelykheid ondersteun omdat almal gelykheid van keuse moet hê. Ander sal weer sê dit beteken gelyke geleenthede. ’n Kommunis sal sê dat hy gelykheid ondersteun omdat almal moet werk volgens hul vermoë en moet verdien volgens hul behoefte. Hulle sal aanvoer dat ryk mense by arm mense gesteel het en dat daardie goed teruggevat moet word om onder die armes uit te deel soos wat in Kuba, Zimbabwe, Venezuela en Noord-Korea gebeur het.

Hierdie lande is, om die waarheid te sê, baie gelyk, want almal het omtrent ewe min. Die afwesigheid van welvaart is die vinnigste manier om gelykheid te skep.

(En as jy reeds opgemerk het dat ek hierbo van “hy” gepraat het in plaas van “hy of sy” sê dit ook iets van jou siening oor gelykheid.)

Die verskil gaan dus in groot mate daaroor of almal gelyk moet wegspring en of almal gelyk by die wenpaal moet aankom. En selfs al voer jy aan dat “gelyk by die wegspringplek” die beter maatstaf is, soos wat ek al telkemale gedoen het, sal iemand jou daarop wys dat dit nie so eenvoudig is nie. Want “gelyk by die wegspringplek” kan impliseer dat ’n vorm van diskriminasie (’n vorm van vat-en-gee) toegepas moet word om seker te maak dat dié een wat nog nie by die wegspringplek opgedaag het nie tot daar gebring word.

Die vraag oor gelykheid is ook nie so eenvoudig soos om bloot te vra wat jou definisie daarvan is nie, aangesien jou definisie van gelykheid bepaal wat jou definisie van vryheid sal wees (of andersom). Die twee terme vryheid en gelykheid is albei deel van die drie kernwaardes van die Grondwet. Dit is egter twee terme wat in baie opsigte lynreg in stryd is met mekaar.

Dit is egter nie ek of jy wat die definisie van gelykheid of vryheid bepaal nie. Die hof bepaal dit – en meer spesifiek die konstitusionele hof. Dit is die perfekte teelaarde vir ’n ideologies gedrewe regering om die Grondwet te vertolk op die manier wat sy eie agenda pas. Die ANC heg aansienlik meer waarde aan gelykheid as aan vryheid en vertolk die Grondwet dus op so ’n wyse dat ons almal se vryheid ingeperk word om groter gelykheid te skep. Dit word natuurlik gedoen deur seker te maak dat regters wat aangestel word sover moontlik die breë ideologiese vertrekpunte van die ANC onderskryf.

Sedert die Franse Rewolusie het die mensdom toenemend begin om gelykheid en vryheid as universele waardes te ag ten spyte daarvan dat dié twee waardes teenstrydig is.

Hoe vryer mense is om te doen wat hulle wil, hoe meer ongelyk word hulle. Hoe meer die staat gebruik word om gelykheid te bevorder, hoe meer word mense se vryheid ingeperk (dink swart bemagtiging). Dit is waarom die historikus Yuval Harari met verwysing na vryheid en gelykheid opmerk dat “the entire political history of the world since 1789 can be seen as a series of attempts to reconcile this contradiction”.

Neem die Amerikaanse politiek as voorbeeld. Die Amerikaners is in twee groot partye verdeel: die Republikeine, wat groter waarde aan vryheid heg, en die Demokrate, wat groter waarde aan gelykheid heg. Hierdie klemverskilletjie onderlê bykans elke groot politieke geveg in Amerika vir solank as wat ons kan onthou.

ʼn Mens sou kon argumenteer dat die politieke wanbalans in Suid-Afrika grootliks te wyte is aan die feit dat byna al die groot politieke instellings meer waarde aan gelykheid as aan vryheid heg. Ook die sogenaamde vernuwing in die DA is eintlik maar net ’n klemverandering: die DA van Tony Leon was vryheidsgesind; die DA van Musi Maimane is gelykheidsgesind.

Beteken dit dat die Demokrate antivryheid is en dat die Republikeine antigelykheid is? Nee. Beteken dit dat Tony Leon antigelykheid is of dat Maimane antivryheid is? Ook nee. Dit is ’n klein klemverskil wat bepaal hoe jy jou lewe inrig.

Die vraag is nie of ons pro- of antigelykheid moet wees nie. Die vraag is eerder watter vorm van gelykheid ons moet ondersteun.

Ons sal die diskoers oor gelykheid moet verander. Gelyke welvaart is basies kommunisme en is net soos kommunisme ’n droombeeld. Gelyke geleenthede is meer realisties.

As iemand dus vir jou vra of jy gelykheid ondersteun, besef dat dit ’n strikvraag is. Die antwoord op die vraag hang eerstens af van wat jou definisie van gelykheid is.

Miskien moet ons begin praat van gelyke vryheid vir almal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kom Ons Boks ·

Ek hou van ‘n oog wat ‘n bars in die muur kan raak kyk.

Leon ·

Baie goed gestel. Ook om te dien as verdere voorbeeld. As jy in ‘n private skool was en ek was in ‘n model C skool. Het ons gelyke geleenthede – beslis nie. Jy kon roei as sport kies en ek nie. Daarom kan ek ten hemele skree as jy die SA span vir roei behaal want ek het nooit ‘n kans gehad om roei te kies as sport op skool nie. So kan ‘n mens aangaan…
Daarom is vryheid beter maar dit het ook grense. Ek wil graag die vryheid he om as mediese dokter opgelei te word. Maar my verstandelike vermoens beperk my om die vryheid uit te oefen. So niks is werklik gelyk of werklik vry nie. In sy wese is dit ‘n gepraat in die wind want sodra jy die saak beredeneer kom jy op ‘n nul som uit.

Adam ·

Korrek, Leon. Gelykheid en veral absolute gelykheid bestaan nie. Mense behoort eerder te leer om mekaar met respek te hanteer, sodat ons nie ons tyd met soos jy dit stel, “‘n gepraat in die wind” hoef te mors nie. Klink lekker in die teorie, maar beteken niks in die praktyk.

coolbean ·

Gelyke Vryheid vir almal!!!!
Maar ons weet mos in S.A is jy meer Gelyk en meer vry as jy meer donker is ;}

Kobus Hattingh ·

Baie goed gesê. Ek dink die probleem met artikel 1 is dat mens baie maklik tessun die lyne kan lees. Alhoewel die 3 woorde af gelei kan word na enige iets om enige iemand te kan pas, dink ek, dat dit net een konsep is. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie.

Pietsepan ·

Ernst jou artikel is waardevol. My libertynse uitgangspunt is dat die persoon sy eiendom en industrie ten alle tye beskerm moet word. Die sentrale regering moet ingeperk word tot slegs ‘n geleentheid skepper. Instede van private industrie te dwing om swart mense in diens te neem moet daar liewer aansporings uitgedink word om swart mense in diens te neem en op te lei. Aansporing werk baie beter as dwang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.