Die probleem met korrupsie

Gupta

Pres. Zuma (foto: Flickr/GovernmentZA) en die drie Gupta-broers (foto’s: who’s Who).

Suid-Afrikaners wat omgee vir die toekoms van hul land, het dié naweek kiertsregop gaan sit by die lees van berigte oor geheime e-posse wat wys in welke mate pres. Jacob Zuma en die regering die land aan die familie Gupta uitverkoop het.

Rapport (wat sy inligting van sy susterskoerant, City Press, oorgeneem het), se opsomming maak gewag van “hoe die familie ministers en senior bestuurders van staatsbeheerde korporasies met geskenke oorlaai en tot watter mate hulle die staat in hul sakke het”. The Sunday Times was ewe reguit: “A series of damning e-mails… show that the Guptas run South Africa”.

Daar is selfs sprake dat Zuma in Doebai ’n tweede tuiste wil vestig – dalk om te vlug as die grond hier te warm onder sy voete word?

Dit is nie die enigste getuienis oor die saak nie. Verlede week het ’n groep van nege akademiese navorsers aan vier vooraanstaande Suid-Afrikaanse universiteite ’n vernietigende verslag uitgereik waarin hulle met vers en kapittel aandui in welke verstommende mate die land deur ’n bende misdadigers gekaap is. Dis soos ’n (my eie woorde) spinneweb met die Guptas as die spinnekoppe in die sentrum wat aan alle toutjies trek.

Dis die gevolg van ’n sorgvuldig beplande strategie wat in 2010 begin het. Die finale oorwinning was die afdanking van Pravin Gordhan as minister van finansies en sy vervanging met die Zuma-akoliet Malusi Gigaba.

“Radikale ekonomiese transformasie”, ’n begrip wat glo die herstrukturering van die ekonomie om die swart mense se agterstand uit te wis behels, is aan die hart van die strategie, luidens die verslag. Dis egter bedoel om ’n klein korrupte elite wat rondom Zuma en die Guptas versamel is, te bevoordeel.

Die navorsers skryf reguit: “Essentially government has become a massive tender-generating machine.” Dit kom neer op “entrenching clientelism and patronage networks that become dependent on the favour of those who make the decisions at the top of the pyramid”.

Die planne om ’n reeks peperduur kernkragsentrales deur die Russe te laat bou is ’n gevallestudie op sigself. Rusland speel klaarblyklik ’n belangrike rol in die proses, en luidens die studie is daar aanduidings dat “Russian intelligence has a presence in the Presidency to guide the process”.

Daar word ook beweer dat Rusland die ANC in die laaste munisipale verkiesing gefinansier het. Trouens, word gesê, die Russiese kernkragsentrales kan tegelyk dien as nie-amptelike ambassade en militêre basis, en dit kan lei tot Russiese beheer oor die Suid-Afrikaanse ekonomie.

In ’n meer algemene sin word die dramatiese korrupsie van die ANC-regering bevestig deur ’n verslag van Transparency International, ’n internasionale organisasie wat hom besig hou met korrupsie wêreldwyd. Verlede jaar het die organisasie ’n verslag oor korrupsie in Afrika uitgereik wat Suid-Afrika ook in ’n baie slegte lig stel.

In ons land, sê die verslag, het 79% van die bevolking geen vertroue in die regering se beweerde stryd teen korrupsie nie. Daarmee beweeg ons in dieselfde omgewing as Benin, Liberië, Nigerië, en Zimbabwe – dit in teenstelling met Botswana, Lesotho en Senegal, waar ’n klein meerderheid meen die regering doen genoeg om korrupsie te beveg.

Altesame 46% van alle Suid-Afrikaners meen die president en parlementslede is korrup, terwyl 49% dieselfde van staatsamptenare dink. Die vertroue in regters en landdroste is nog groot; slegs 23% verdink hulle van korrupsie. Daarby dink 64% die korrupsie het in die voorafgaande jaar “sterk” toegeneem.

Korrupsie is veel meer as slegs ’n probleem van oneerlikheid, al is dit uit morele oogpunt al erg genoeg. Dit kom neer op diefstal deur die rykes en magtiges van die armes en magteloses. Dit rem ontwikkeling, want geld wat bedoel is vir die bemagtiging van armes verdwyn in die sakke van die elite.

In ’n verslag verlede jaar het die Wêreldbank geen doekies omgedraai nie: “Corruption is a global phenomenon found in all countries – but evidence shows it harms poor people more than others, stifles economic growth and diverts desperately needed funds from education, health care and other public services.”

’n Bekende Vlaamse joernalis, Mia Doornaert, het dit geëggo: “Studies show too, that there is a strong positive correlation between the voice of the people and accountability on the one hand and indicators such as per capita income, infant mortality rates and adult literacy on the other.”

Die gevolgtrekking hieruit is duidelik. As Suid-Afrika ooit uit sy huidige bose kringloop van armoede en gebrek aan ontwikkeling wil kom, as ons land ooit aan sy onbetwiste groot potensiaal wil voldoen, sal ons die stryd teen korrupsie op alle fronte moet wen.

Maar laat ons onsself nie flous nie: Solank Zuma en die Guptas in die middel van die spinneweb sit en stelselmatig meer aspekte van die staatsmag inkatrol en onder hul beheer kry, gaan dié geveg verloor word. Zuma en die Guptas – en die invloed wat pres. Wladimir Poetin en sy kornuite van die kantlyn probeer uitoefen – móét verwyder word.

Sommige Suid-Afrikaners het om die een of ander rede ʼn groot voorliefde vir Poetin. Onlangs het die Nederlandse televisie ʼn dokumentêr uitgesaai waarin oortuigend aangedui word dat Poetin tot in sy kern korrup is, en dat hy dit al was lank voordat hy Rusland se staatshoof geword het.

Die hele projek om Russiese kernkragsentrales aan Suid-Afrika te verkoop – ʼn projek wat ons land nie kan bekostig nie – speel luidens die akademici se verslag ʼn sentrale rol in die verkoop van die staat aan rampokkers. Moenie dink Poetin is ʼn engeltjie nie.

Sake is egter nie hopeloos nie. Zuma en die Guptas het hulle misreken met die oop aard van die Suid-Afrikaanse samelewing.

Ondanks die haat wat sommige mense teenoor die media toon, was dit elke keer juis die media wat die skrikwekkende omvang van die ANC-korrupsie oopgevlek het. Daarby is die howe ook nog taamlik onafhanklik, soos blyk uit die feit dat die Konstitusionele Hof die kernkragsentrale-projek afgekeur het.

Alles is nie verlore nie. Maar in die laaste instansie is dit die burgerlike samelewing wat – uiteraard binne die wet en sonder geweld – in opstand moet kom en sê: Tot hiertoe en nie verder nie!

Dit sal al help as die oorblywende ordentlike mense in die ANC kragte saamsnoer en Zuma die trekpas gee. Maar óns moet die streep in die sand trek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Leendert ·

Buiten die direkte verbinding na die Guptas en hul invloed, (die groot visse) het die invloed ook, of dit nou weerligafleiers is of nie, na hordes ander instellings deurgesypel, na terwille mense soos op sekere Afrikaanse universiteite. Ook het sekere regters, soos selfs Moegoeng-Moegoeng al, snaakse uitspraake, spesifiek waar die oor ras en taal gaan, gegee. Hy is self nie kleurblind nie en kan daarom by tye geniepsig wees. Baie keer is hulle inkonsikwent. Eintlik is die hele land al gekontamineer, kyk nou maar wat se geluide maak Spur se bedryfshoof. En dis maar net enkele gevalle.

chrisp ·

Korrupsie is ‘n wereld probleem en nie net tot Afrika en Rusland beperk nie.Afrika het dit egter in oortreffende vorm. In die weste of dan eerste wereld word dit as krimineel beskou ,in Afrika is dit ‘n lewenswyse.
Baie westerse lande maak hulle skuldig hieraan indien nie almal nie. So ook mense met politieke mag soos Poetin en die Clinton bende om net twee te noem.Hier poog ek darem nog om ‘n balans te skep om die eensydige gehamer op Rusland of die ooste dan deur “meningsvormers” in die kiem te smoor.
Die verskil is egter die aanvang van die korrupsie wat in Afrika epidemies is en wel om die rede dat dit deel is van die Afrika kultuur en verwysingsraamwerk daarom word dit nie as krimineel deur die hoofstroom Afrikaan beskou nie.

Gaan lees asb Ubuntu en wat dit in wese beteken .Die liggie sal dan aangaan.Ons leef hier in SA in ‘n Afrika bestel met Ubuntu as basis en nie die westerse beskouing nie. Die geteem gaan niks help nie(solank die Afrikaan die beheer het oor die westerling) daarom is die reenboognasie nie haalbaar nie. Wat vir ons (westerling) krimineel is is vir Afrika ‘n lewenswyse.

Hendrik ·

Ek vra altyd die vraag : Hoe kom ons verby dit of hoe kom ons weg van hierdie staatsbestel?

Frans C ·

Enigiemand wat ‘n boek soos ‘Inside Quatro’ – ‘uncovering the exile history of the ANC and Swapo’ sal agterkom dat korrupsie hoogty onder die leierskap van die ANC gevier het.
Terwyl die leierskap in weelde geleef het op skenkingsgeld moes manskappe krepeer van ellende en is afvalliges vinnig vankant gemaak.EN die hoof van sekuriteit -niemand anders as Pres. Zuma.

Wat my die meeste moerig maak is dat die onderhandellaars wat vroeg met hul inverbinding
was,wel deeglik van dit bewus was,maar die inligting gerieflik met behulp van die pers,weerhou het van kiesers.

Leopold Scholtz ·

Beste Frans, die boek waarna jy verwys, is deur Paul Trewhela saamgestel en is werklik uitstekend. Ek kan dit vir enigiemand aanbeveel. Ek kan egter nie saamstem met jou stelling dat die “onderhandelaars” “die inligting gerieflik met behulp van die pers weerhou het van kiesers”. Die eerste inligting oor die wantoestande in Quatro het al in 1991 na buite gekom, en dis groot in die koerante destyds gepubliseer. Gaan kyk maar self, dit was voorbladnuus, en by Naspers het ons die saak gemelk en gery dat dit bars. Ek het self al verskeie akademiese artikels daaroor geskryf en is tans besig met navorsing vir ‘n boek. Groetnis en lekker week vir jou.

Henry ·

Beste Frans C
‘n Beter, omvattende en meer gesaghebbende boek oor die ANC se doene en late sal kwalik die werk van wyle Stephen Ellis oortref, of selfs ewenaar.

“External MISSION. The ANC in Exile”. Uitgewer: Jonathan Ball.

Reeds gedurende die vroeë tagtigers was die inligting wat hy as redakteur van die Britse publikasie -Africa Confidential – verskaf het, van groot nut vir enige belangstellende in die ANC se denke en werksaamhede. Sy toegang tot senior ANC lede laaaank voor 1994, is merkwaardig.

Bert ·

Koerante en hul betaalmeesters is almal akteurs/marionette in ‘n groter spel van kompeterende ideologie, geldsug en korrupsie. Daarom moet ons artikels soos hierdie van Mnr Scholtz ongelukkig ook met die nodige skeptisisme beoordeel. Die e-posse byvoorbeeld moet nog eers behoorlik getoets word in ‘n hof of by ‘n kommissie alvorens te veel waarde daaraan geheg word. [Mnr Scholtz reken sommer dit is ‘getuienis’]

Kyk ‘n bietjie mooi hoeveel gevolgtrekkings en stellings en argumente Mnr Scholtz maak en baseer op gerugte, gekompromiteerde instellings, onwetenskaplike opnames en dies meer.

Op die einde bly die hele Gupta sage losweg gebaseer op gerugte en innuendo. Dit is tyd dat dit alles getoets word in ‘n hof. Maar joernaliste moenie ons probeer breinspoel op Huisgenoot stories intussen nie. Gee vir ons die feite en waar dinge bloot spekulasie is, stel dit so.

Leopold Scholtz ·

Beste Bert, interessant dat jy die ANC en Guptas so verdedig. Ek kan nie oordeel oor die Sunday Times nie, maar ek weet wat agter die storie van Rapport en City Press sit – klipharde feite. En wat dan van die verslag van die akademici? Het jy dit ooit gelees? Of is alles uit hul duim gesuig? Arrie nee, vriend.

Bert ·

Mnr Scholtz- ek is die laaste een wat die ANC of Zuma wil verdedig. Maar kom ons wag maar vir die howe om finaal te spreek.

Frans C ·

Beste Leopold Scholtz,
Ek was jare lank betrokke in die politiek.Die feit dat daar enkele artikels oor dit geskryf is beteken mos nie dat die pers in die algemeen dit voorblad nuus gemaak het nie.Ek kan nie onthou dat ‘n enkele NP-politikus ooit melding van dit gemaak het op ‘n openbare verhoog .

Leopold Scholtz ·

Beste Frans, wel ek is al sedert die vroee jare sewentig in die joernalistiek. As jy my woord nie daarvoor wil aanvaar nie, het ek nie raad vir jou nie. (Ekskuus, ek vergeet – ek is mos ‘n omgekoopte lid van die liegpers!) Vadertjie, niemand is so blind as hy wat nie wil sien nie.

DewaldS ·

Ek het nie eers die stuk gelees nie. My probleem met korrupsie in Suid-Afrika is die ‘paid shills’ soos oom Leopold wat met hulle media-narratiewe mense oortuig het dat ‘n eenheidsstaat met al die kulture ineengegooi sou werk. Wat ‘n blerrie grap! Maar die groter grap is dat die mensdom se beste vrug uit sy politieke brein tot vandag toe die party-politieke sisteem is. Ons verdien die psigopate wat ons oorheers. En wat ons media-narratiewe oorheers. Duidelik is ons intelligensie beperk, maar ons sotlikheid nie.

Leopold Scholtz ·

Beste nefie Dewald Scholtz, as jy nie eens bodder om die artikel te lees nie, hoekom spoel jy jou mond daaroor uit? En het jy ‘n alternatief vir ‘n eenheidstaat? Gaan lees my boek Kruispaaie en sien waarom afsonderlike ontwikkeling misluk het – dit het met die werklikheid gebots. Jammer, maar waar.

Francois ·

Beste Dr. Scholtz
Ek dink U het n baie goeie artikel geskryf. Kan U die verslag van die akademici se naam of webtuiste adres gee sodat ons dit onder oë kan neem. Ek was meer positief rondom Poetin en Oos Europeërs se meer konserwatiewe of beskaafde waardes teenoor die liberalistiese westerse waardes wat neerkom op neo-kommunisme. Daars geen vryheid (liberalisme) nie, dit is skreeu dood en gee al meer magte aan die Staat (staatsgod). Ek sal egter n deuglike objektiewe artikel (kort verslag) oor Mnr. Poetin waardeer. Dit kan dalk die waarheid rondom Mnr. Poetin vir ons Afrikaners toelig. Groete

Leopold Scholtz ·

Beste Francois, wil jy glo, ek het skoon vergeet om die titel van die verslag te gee. Dit is “Betrayal of the Promise: How South Africa is being Stolen”. Google dit gerus.

Gideon ·

Geagte Dr Scholtz, ek stem volkome saam met die stellings wat u maak. Mag, en die voordele daarmee saam, korrupteer al deur die eeue heen die mens. Ek vermoed dat meer gesofistikeerde samelewings die korrupsie prosesse meer verfynd toepas en sodoende die kollig vermy. Ek vermoed ook dat daar ‘n algemene, diepgewortelde, selfverrykende kultuur in die Suid-Afrikaanse samelewing bestaan. Ook dat die stelsel van tradisionele leierskap hierdie kultuur in stand hou en bevorder. Baie leiers sien hulself as konings wat geregtig is op alles wat die koninkryk besit. Ek moet ongelukkig ook saamstem met die stelling deur ‘n skrywer dat in Zuma die land presies kry wat hy verdien. Laastens, ek sal baie graag die finansiele state en lys van bates van die laaste NP regeerders wou sien. Dit gaan met die meeste van hulle, wat nog lewe, blykbaar baie goed, beter as wat ek sou verwag het op die toegekende pensioene.

Daan ·

Hello Mnr Scholtz. Mag ek jou versoek en in nederigheid vra om die volgende te doen as jy wil. Wat is die verhouding tussen FW de Klerk en Sorros . Dit is bekend dat Soros die muslim imigrasie na die weste finansier. Die west se kultuur is besig om ten gronde te gaan met die seen van Soros.Ek verstaan dat Fw en George Soros wel n band het met mekaar en Soros sit agter FW se uit lewer van Sa aan die ANC.

Leopold Scholtz ·

Beste Daan, ek het nie die vaagste benul of daar enige bande tussen George Soros en FW de Klerk is nie. Ek neem aan jy is in staat om geloofwaardige bronne te noem vir jou stelling dat Soros die Moslem-immigrasie na die Weste finansier? Soos sy bankstate?

John ·

Ons geagte prof dr Scholtz sit al klaar ‘veilig’ in Nederland. Hoekom verwys hy na “ons”? Miskien moet hy nou maar aanvaar dat hy reeds weggehol het. Nederlanders was maar altyd nog so slim met hul volsinne vir elke saak, maar die eie kaggel begin kwaai rook… en donker skadu’s skarrel reeds in die nag in die eens so ‘veilige’ hollandse stegies… waar jy wettiglik enigiets onder die maan kan doen en bekom… anders as hier by ons in SA.

Frans C ·

Beste Leopold Scholtz
Die gesprek gaan mos nie daaroor of u en die publikasie waar u werksaam was, enkele melding gemaak het van dit, dit gaan oor die pers in die algemeen.U sê u was werksaam in die politiek in die jare 70.
Wel ek het nuus vir u ek was al reeds betrokke ‘n dekade voor dit en kan met groot vrymoedigheid sê dat die Suid Afrikaanse Blanke kieser oor die algemeen die swakste
ingeligte kieserskorps was, wat aan die neus rond gelei is deur veral die nasional pers.

U moet maar die liegpers skoen aantrek as dit u pas.Dit gaan oor die pers in die algemeen.

Leopold Scholtz ·

Beste Frans, ek het nie beweer dat ek werksaam in die politiek was nie; wel in die joernalistiek. En dit het gegaan oor jou stelling dat die media en NP-politici oor die ANC-menseregtevergrype in die Angolese kampe geswyg het. Wel, ek herhaal: Ek was deel van die media in die vroee 1990s toe die inligting begin uitlek. En ek s^e nou vir jou: Ons het die ding vir die vale gery. Nie net ons nie, al die media. Hoofberigte, voorblad, binne, alles. As jy my tot leuenaar wil verklaar of die aandag van jou eie oorspronklike bewering wil aftrek, s^e dit meer van jou as van my. Ek het nou klaar gepraat oor hierdie saak. Totsiens.

Frans C ·

Beste Leopoldt Scholtz
Ek het mos nooit beweer dat u in die politiek betrokke was nie.Die media waarna u verwys was mos nie verteenwoordigend van die totale media nie,maar ek is seker wel ondersteunend van die Nasionale party en sy leiers.

Vertroulik ·

Ek beskou dit as onprofessioneel van die berigskrywer om met die publiek in gesprek te tree op sy eie nuusplasings.
Indien dit werklik nodig is, is daar ‘n plek daarvoor, en dit is privaat.
Dit is teleurstellend dat dit hier toegelaat word.

Leopold Scholtz ·

Beste Vertroulik, ek voer ‘n dialoog met die lesers. Wat is onprofessioneel daaraan? Ek verstaan nie.

Leopold Scholtz ·

Vir Frans C: Ek knip en plak uit jou bydrae: “U s^e u was werksaam in die politiek in die jare sewentig.” Ek was nie en het dit nooit beweer nie. Ek was wel werksaam in die joernalistiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.