Die probleem met militêre staatsgrepe

Soldate en militêre voertuie naby pres. Robert Mugabe se kantoor in Harare, Zimbabwe (15 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Dinsdag en Woensdag was daar volop video’s en foto’s op sosiale media van militêre voertuie wat in ons buurland Zimbabwe aan die ander kant van die Limpoporivier aan die beweeg is. Die storie het vanaf hierdie sosiale media plasings begin vlamvat. Dit is egter steeds onduidelik oor die presiese aard van hierdie militêre bewegings en hoe dit verband hou met pres. Robert Mugabe se besluit verlede week om adjunkpresident Emmerson Mnangagwa af te dank. Die hoof van die land se weermag, Constantino Chiwenga, het aangevoer dat die weermag nie sal huiwer om “sake van die rewolusie te beskerm nie”.

Dit moet egter in ag geneem word dat daar gereelde beweging van militêre voertuie in Zimbabwe en veral in die hoofstad, Harare, is. Tans is die identiteit van die troepe, hul missie en opdragte onseker en onduidelik en moet daar gewaak word teen ongegronde gevolgtrekkings. Ongeag hoe akkurraat hierdie bewerings is, lyk dit asof die geleentheid ryp is vir ʼn militêre staatsgreep in ʼn land wat al vir dekades ekonomies swaarkry. Verder lyk dit dat, vir alle praktiese doeleindes, daar tans ʼn staatsgreep in Zimbabwe plaasvind, al word dit nie direk een genoem nie.

Sommige kommentators en gebruikers op sosiale media verwelkom egter hierdie verwikkelinge (en die dreigende staatsgreep). Vir hierdie groep mense is dit eenvoudig ʼn geval van ʼn diktator wat omvergewerp behoort te word. Mugabe moet, volgens hulle, val.

Onder sulke omstandighede moet daar gekyk word na die voordele en nadele van militêre staatsgrepe oor die algemeen, en spesifiek met verwysing na ons buurland. Eerstens is die grootste probleem met ʼn coup d’état dat daar binne hierdie bewegings geen aanspreeklikheid is nie. Die weermag is nie noodwendig die stem van ʼn volk nie. Bloot omdat ʼn weermag ʼn bose regering wil omverwerp, maak dit nie hul aksies regverdig en reg nie. Staatsgrepe deur die weermag het nie die vermoë om in die langtermyn die wense van die volk na te kom nie. Die tweede ooglopende probleem met staatsgrepe deur die weermag is die beklaenswaardige effek wat dit het op ekonomiese aktiwiteit. Weermagte neem nie besluite ten bate van die ekonomie nie. Zimbabwe is reeds in ʼn ekonomiese krisis en vir militêre personeel is die oorweging van ekonomiese beleid nie eerste op hul agenda nie

Hiermee saam moet dit wel genoem word dat die huidige bestel in Zimbabwe ook nie die stem van die volk dra nie. Zimbabwe is op geen vlak ʼn funksionerende demokrasie nie. Die land is nie eers ʼn funksionerende staat nie. Vir alle ekonomiese en praktiese doeleindes het die Zimbabwiese staat misluk.

ʼn Moontlike militêre staatsgreep in Zimbabwe gaan nie oor legitieme mag nie. Die land is lankal verby die punt waar dit bespreek moet word. Dit is duidelik dat verandering in Zimbabwe nie van die Zanu-PF gaan kom nie. Dit is ook duidelik dat realisties gesproke verandering nie gebring gaan word deur ʼn militêre staatsgreep nie. Ons buurland sit in ʼn onmoontlike situasie.

Die skuld vir die situasie in Zimbabwe moet aan iemand se voete gelê word. Aanvanklik was die duidelike skuldiges Mugabe en sy Zanu-PF regering. Nou, 30 jaar later, lê die skuld by buurlande en die internasionale gemeenskap. Suid-Afrika het ʼn direkte belang dat ons buurlande stabiel en vooruitstrewend moet wees. Ons sou baat vind by ʼn Zimbabwe wat ekonomiese groei toon. Dit sou lei tot minder onwettige immigrante wat die mistroostige omstandighede daar probeer ontkom. Dit sou lei tot beter handelsgeleenthede. Dit sou lei tot die vooruitgang van die suidelike Afrika streek.

Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika met gewere aan Zimbabwe se deur moet gaan klop en met demokrasie moet dreig nie. Daar moet bloot erkenning gegee word aan die ANC se mislukte buitelandse beleid met betrekking tot Zimbabwe. Vir jare ignoreer die Suid-Afrikaanse regering die agteruitgang in die land. Ons regering gaan soms selfs so ver om die Zimbabwiese ekonomiese model as voorbeeld aan te haal.

Ons eie land is nie sonder sy foute nie. Ons ekonomie sukkel self en ons demokrasie word selfs soms bevraagteken. Die minste wat ons egter kon (en kan) doen is om eerlik te wees oor situasies. Nie net oor ons eie mislukkings nie, maar oor dié van ons bure.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Veritas ·

Die Zimbabwe weermag hanteer hierdie situasie meesterlik. Hulle is deeglik daarvan bewus dat ‘n heksejag op Mugabe en sy trawante, in chaos kan uitloop. Die meeste van hulle is ook Zanu PF ondersteuners en dit wil voorkom asof hulle die geleentheid gaan gebruik om van die vrot appels ontslae te raak. Hierdie optrede kom egter sowat 20 jaar te laat. Dit gaan nie maklik wees om die landsekonomie weer op die been te bring nie. Die vraag is net watter groot moondheid bereid gaan wees om die dobbelspel te waag. Vir my wil dit voorkom of slegs China hierdie geleentheid sal aangryp. Ons moet nie verbaas wees as ons binnekort ‘n Chinese kolonie as buurland het nie. Die Chinese sal egter nie in ‘n riskante ekonomie belê as hulle nie seker is dat hul belegging vrugte sal afwerp nie. Hierdie sogenaamde staatsgreep is lankal beplan en diegene van die weermag wat dit lei, doen dit nie alleen nie. Daarvoor is die risiko te groot. Hulle weet iets wat ons net oor kan raai.

common-tator ·

“Ons regering gaan soms selfs so ver om die Zimbabwiese ekonomiese model as voorbeeld aan te haal.” As dit maar net die regering was. Daar is voorbeelde van joernaliste van oorsee wat artikels skryf oor hoe goed die grondhervorming daar vorder en die landbou gedy.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.