Die probleem met versoening

Argieffoto.

Deur Peet Bothma

Op die vooraand van Versoeningsdag het die Instituut vir Geregtigheid en Versoening of IJR weer sy jaarlikse versoeningsbarometer bekend gemaak. Hy doen dit reeds sedert 2003.

Dit is een van talle projekte wat daagliks wêreldwyd probeer om die samelewingspsige te peil. Daar is vir feitlik elke aspek van ons samelewing een of ander oorsig of peiling.

Dit hang dus van die verbruiker af of die uitslag van ʼn oorsig rigtinggewend is of bloot net interessante leesstof bied. Die IJR het egter oor die jare getoon dat sy barometers dikwels in die kol is.

Die Instituut sê die barometer dui daarop dat nieteenstaande reuseverskille in lewenstandaarde en rykdomvlakke in die land, die meerderheid Suid-Afrikaners steeds voel dat daar eenheid in die land is.

Altesaam 75,3% is van mening dat ʼn verenigde Suid-Afrika die ideaal is. ʼn Verdere 68% is voorts van mening dat dit haalbaar is.

Die keersy van die munt is egter dat dieselfde groep van mening is dat minder as die helfte van hul onmiddellike familie- en vriendskapsgroep versoening sedert die einde van apartheid beleef het. Soveel as 68% is van mening dat versoening nie moontlik is solank as wat die meerderheid van die land se mense in armoede lewe nie.

Meer as ses uit tien Suid-Afrikaners glo, luidens die barometer, dat versoening nie bereik sal kan word indien daar nie betrokkenheid deur die sakegemeenskap, kerke en in vriendekringe en gesinsverband is nie.

En dan is daar die rol wat die regering en politieke partye in die versoeningsproses behoort te speel. En dis volgens die instituut hiér waar die grootste leemte bestaan.

Slegs sowat 33% het enige vertroue in die ANC-regering. Voorts voel 25,6% persent van Suid-Afrikaners oor die algemeen dat hulle nie ʼn heenkome in enige politieke party gebied word nie. Dit sluit onder meer die DA, EFF en Vryheidsfrot Plus in.

Daar is talle Afrikaners wat die konsep van ʼn Versoeningsdag verwerp, juis omdat dié dag se werklike betekenis vir baie eerder die herdenking van die eerbiediging van die Gelofte is. Om dus te aanvaar dat versoening Saterdag die oogmerk van ʼn groot deel van die Afrikanergemeenskap gaan wees, is futiel.

Versoening word in elk geval nie in een dag bereik nie. Dit is ook nie ʼn eenrigtingstraat nie en talle Suid-Afrikaners maak hulself skuldig aan dié wanopvatting. Dit blyk duidelik uit die barometer dat versoening ook nie bereik gaan word deur politici op podiums nie.

Versoening lê in die daaglikse interaksie van mense. Dit moet bereik word deur die begrip van mense vir mekaar en deur daadwerklike betrokkenheid van die sakegemeenskap, kerke en binne gesinsverband en vriendekringe.

En dís die selfondersoek wat elke Suid-Afrikaner moet uitvoer voordat ʼn verenigde Suid-Afrika moontlik is. As ʼn mens nie die wil het om te versoen nie is dit bloot ʼn dagdroom.

Die hoop is opgesluit in die bykans 70% van landsburgers wat steeds glo dat dit moontlik is en dus die wil het om versoening te bewerkstellig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

John ·

Wat presies word bedoel met versoening en wat is/was die redes vir die tweespalt wat dan nou versoening vereis? Wanneer van net een party in ‘n debakel verwag word om ‘n hartsverandering te ondergaan, is daar probleme en ‘n magspel aanwesig. Indien versoening eintlik iets anders impliseer, naamlik nie blote samewerking en ontwikkeling nie, maar totale onderwerping, oorgawe en selfvernietiging is dit eerder ‘n sluwe set. Eerlikheid, opregtheid en respek vir beide partye se regte en waardes is nodig. Is dit op deeske aarde ooit haalbaar? Nee!

Andreas Meyer ·

Let op Raphael Lemkin se definisie van Volksmoord:”Generally speaking, genocide does not necessarily mean the immediate destruction of a nation, except when accomplished by mass killings of all members of a nation. It is intended rather to signify a coordinated plan of different actions aiming at the destruction of essential foundations of the life of national groups, with the aim of annihilating the groups themselves. The objectives of such a plan would be disintegration of the political and social institutions, of culture, language, national feelings, religion, and the economic existence of national groups, and the destruction of the personal security, liberty, health, dignity, and even the lives of the individuals belonging to such groups….”

Is dit nie presies wat al vir dekades teen Afrikaners voorberei en gepleeg word?

Hendrik ·

Wel ons vier Gelofte dag soos daar deur ons voorvaders ‘n gelofte gedoen is en is dus deel van ons kulturele erfenis. Gelofte dag is na versoeningsdag verander deur die regeerders en dit is regtig hulle saak.

Nico K ·

Ek glo die 70% wat tevrede is met versoening ooreenstem met ons bevolkingsamestelling. Die meerderheid blankes in hierdie land is beslis terleurgesteld met versoening. Ons weet dat die meeste blankes in 1992 baie optimisties was oor versoening. En dat die meerderheid van die blankes wat sover gegaan het om die ANC te steun vandag van die grootste onnugterdes is. Wat het geword van Marthinus van Scalkwyk, Roelf Meyer, ens?

KAMU ·

Definieer ‘versoening’ en die werkwoord ‘versoen’ eers dat ons op dieselfde bladsy kan kom,
want daar is bes moontlik verskillende interpretasie en verwagtinge van die begrip.

Pieter van Niekerk ·

Daar bestaan vir ons SA ers ‘n groot geleentheid om aan die wêreld te toon hoe uiteenlopende kulture hulle met mekaar kan versoen. Vergeet van die tipiese belhamels. Daar is genoeg welwillendheid onder ‘n groot deel van ons totale bevolking. SA het voorwaar ‘n rooskleurige toekoms.

Vermeende ·

Ag nee, hierdie peiling is net so fals soos veroeningsdag.
Ek het n keuse, ek kan more na een van die stadiums gaan (waar my ras se teenwoordigheid onwelkom is) om te versoen, of ek kan more my gelofte gaan betaal voor God waar ek altyd welkom is.

Praat van n no brainer en raai waar ek more gaan wees?

V ·

Dreigemente van dood en progresiewe wette om mense tot slawe te reduseer, bring nie versoening nie. Soos gemeld: versoening is nie ‘n eenrigting straat nie. Waar begin ‘n mens versoen as die wil daar is, maar die regerende elite propogeer die vernietiging van ‘n minderheid?

Flip Buys ·

Die uitdaging met versoening is treffend verwoord deur die klassieke Franse denker, Alexis de Torqueville: ‘meerderhede aanvaar net minderhede as hulle alles afstaan wat vir hulle belangrik is.” Dit kom daarop neer dat versoening verskraal word tot inlywing by die meerderheid. Daarom lê die oplossing eerder in wedersydse erkenning en respek.

Rupert Ashford ·

Dankie Flip. Nou kan die res van ons maar ophou praat…:-) Jy het dit so raakgevat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.