Die probleem met weermag-polisiëring

Argieffoto. (Foto: Potchefstroom Armed Forces Day, Facebook)

Die ontplooiing van die weermag in streke en gebiede wat deur misdaad geteister word, mag dalk op die oog af aanloklik en doeltreffend lyk en klink. Ons land word op elke sosio-ekonomiese vlak ernstig deur misdaad geraak. Hierdie buitengewone maatreël laat ons egter met groot vrae.

Eerstens moet daar bepaal word of die ontplooiing van die weermag op ʼn praktiese vlak ʼn verskil gaan maak aan die verskeie misdaadprobleme wat ons land se gemeenskappe in die gesig staar. Militêre opleiding en die uitoefening van hul gedelegeerde mag om legitieme geweld teen ʼn staat se burgers uit te oefen is konfronterend van aard. Weermaglede word opgelei om beheer te neem in omgewings en om bedreigings te neutraliseer. Weermaglede is egter nie opgelei om misdaad te ondersoek nie. Op voetsoolvlak behels die weermag se teenwoordigheid slegs dat lede omgewings en gemeenskappe omring en toegang streng beheer. Eenvoudig gestel, is die weermag opgelei om oorlog uit te voer en die polisie om misdaad te verhoed en te ondersoek. Die ontplooiing van die weermag is egter slegs ʼn pleister wat geplak word oor ʼn probleem wat veel groter is.

Tweedens, die teenwoordigheid van ons weermag in gemeenskappe laat vrae ontstaan oor ons demokrasie en staat. Die huidige misdaadprobleem het ontstaan weens ʼn staatsbeheerde diens, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat reeds nie funksioneer soos dit veronderstel is om te funksioneer nie. Om nou egter te glo dat dieselfde staat wat in die eerste plek misluk het, skielik die probleem gaan oplos deur ʼn mag wat onopgelei en onbekwaam vir die taak is, is kortsigtig.

Die misdaadprobleem in Suid-Afrika is meer omvattend as wat ons sosialemedia-behepte minister van polisie ons wil laat glo. Eerder as om te fokus op die velkleur van ons polisiediens behoort ons te fokus op hul doeltreffendheid. Die huidige SAPD-hoofbestuur is die eerste probleem wat aangeraak moet word indien ons ernstig is oor misdaadbekamping.

Verder, op filosofiese vlak is die ontplooiing van die weermag in ons gemeenskappe kommerwekkend. Weermaglede skep ʼn vyandige gevoel van “ons-en-hulle”. Deur die weermag op ons strate en tussen ons burgers se huise te vestig, definieer ons ons eie burgers as vyande. Dit kan egter ʼn tweeledige uitwerking hê: Die slagoffers van bendegeweld, dwelmmisdade en moorde word blootgestel aan troepe wat nie oor die vermoë beskik om met slagoffers te werk nie, iets wat reeds bestaande trauma slegs gaan vererger. Die verdagtes binne ons gemeenskappe word hanteer as vyande wat geneutraliseer moet word. Op geen vlak is dit aanvaarbaar in ʼn veronderstelde funksionerende demokrasie nie.

Die weermag wat beweging in ons gemeenskappe beheer, maak ernstig inbreuk op die lede van daardie gemeenskappe se burgerlike regte. Nie net is hulle en hul gemeenskappe slagoffers van buitensporige misdaad nie, maar word nou ook slagoffers van ʼn staat wat beheer verloor het en dit nou deur magsvertoon probeer terugkry.

Ons kort nie ʼn oorlog teen misdaad en dwelms nie. Ons kort oplossings vir ernstige sosiale probleme. Ons kort ʼn staat wat sy rol vervul voordat hy dit hoegenaamd oorweeg om sy eie mandaat verder uit te brei.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Israel ·

ek dink die weermag moet ontplooi word , nie omdat ek glo hulle gaan n verskil maak nie maar ten minste doen hulle dan iets , al is dit net om op straathoeke te staan en mooi lyk , huidiglik sit hulle net rond in kampe en mors belastingbetalers se geld

Tweedens glo ek nie die skrywer het n benul wat werklik aangaanin sekere dele van ons land nie , ek doen , ek is aktief betrokke by gemeenskaps polisiering projekte en ek gaan in die gevaarlike plekke in , glo my die weermag of sou ek eerder se , n doeltreffende militere mag sal hierdie plekke die wereld se goed doen , dit kan in elk geval nie dit erger maak as wat dit klaar is nie

Veritas ·

Hierdie is slegs die begin van weermagontplooiing. Onder die dekmantel van misdaadbekamping, gaan meer en meer weermagseenhede oral op strategiese plekke, ontplooi word. Zuma wil nie met sy broek op sy knieë gevang word wanneer die ANC besluit om hom uit te skop nie. Hy maak hom gereed vir die dag wanneer hy nie meer aan die stuur van sake staan nie. Die hele weermag sal dan gereed wees on enige opstande te onderdruk onder die dekmantel van ‘n noodtoestand. Jacob Zuma is gladnie van plan om die mag te oorhandig indien een van sy kornuite nie sy opvolger gaan wees nie.

Vrydenker Vlakvark ·

Stem saam met Veritas. Ek vertrou nie die huidige regerende party verder as wat ek hulle kan sien nie. In my regstudies het ek geleer dat daar ‘n groot verskil is tussen ‘n motief en ‘n opset. Niemand kan iemand se motief in laasgenoemde se kop lees nie. Verdoesel daardie motiewe verder met dekmantels, rookskerms, spieëls, slagspreuke, oningeligtheid, ondeursigtigheid en staatskapings en jy het ‘n rommelstatus onderdrukkende staat. Wat gaan die naam wees van die volgende South African Animal Farm?

Eish ·

Die stelling is in die helhool beslis nie n verbeeldingsvlug nie en n moontlikheid. Genadiglik is so min geld op die weermag bestee die laaste paar jaar dat hul in totale disfunksie verval het met misdadigers wat na willekeur bates soos vuurwapens stroop sonder enige weerstand.

Loeis ·

Veritas maak geldige punte. Mense maak graag opmerkings oor Zuma se intelligensie, maar strategies is hy briljant, dit het hy al bewys.

Hy speel graag skaak: ‘n spel waar jy wen deur jou mannetjies strategies te plaas. Is dit nie maar ook wat Zuma met sleutelposte doen nie?

Die weermagmannetjies dra natuurlik gewere, en grootter gewere as wat wetsgewoorsame burgers se privaat gelisensieerde wapens is.

Dit klink nogal of die speeltyd moontlik na ‘n nuwe vlak geneem mag word, ja…

Ockie ·

Veritas dink ek is reg, ek wil byvoeg deur te herhinner aan die water tekorte wat binnekort n groot probleem in die Kaap gaan wees. Ek dink die weermag gaan ook ontplooi word om strategiese voorsienings punte op te pas.

Darius Els ·

Dink bietjie terug na 1985:
1.n Noodtoestand moet in n staatskoerant afgekondig word vir die SANW se indiens stelling.
2.Sulke optrede KAN herinner aan n”burgeroorlog” ,wat juis buiteland in 1985 ,laat onttrek het van die land.
3.Daar is nie eintlik veel meer van n burgermag(kampers) oor om aanvullend te wees ,nie.
4.Hoeveel honderde soldate(as daar nog so iets is),gaan verhoor word vir sneller opgewondenheid?
Onthou in DRK het 15 voltydse lede gesterf ,toe n tweedegraadse rebellegroep hulle aangevat het.
5.Op die lange duur gaan n “gemonitorde” klomp burgers die weermag, begin teenstaan.
Laat die weermag(of te wete kadette mag) tog maar shopping doen,wapens verloor,meubels aflaaivoor PE sd stadsaal,tente opslaan by begrafnisse en wie weet gaan shopping doen vir numba 1 se vliegtuig.

Daan ·

Die feit dat die weermag ontplooi word is n erkenning vand ie minister dat die polisie nie die mas opkom nie en misluk. As die polisie suksevol was sou die weermag nie nodig gewees het nie.

John ·

Waar gaan die glo ou MK’s ontplooi word wat onlangs weer aangestel is? Opleiding gee?

Gys ·

Ontplooi ons weermag op die grense . Gee hulle die reg vir om ons grense te beskerm. Stuur alle buitelanders terug Zim toe. Dan sal daar meer werk en behuising vir ons eie mense wees en crime sal bietjie afkom. Gee ons land burgers die reg sonder vervolging om ons en ons eiendom te beskerm , of bring die dood straf terug

marous ·

Krygswet om die elite teen die massas te beskerm. Die Libs was hieroor gewaarsku maar dit was afgemaak as bangmaak stories en verkrampte negatieweteit.

bgj van der westhuizen ·

sapd is n grap hulle kan nie misdaat beheer nie
weermag ja dit is dalk nie die oplossing nie maar mense skrik vir hulle en lag vir die sapd
ja en ons was klaar gedrieg in die kaap deur die dom onnosel city of cape town dat hulle water sal af sit en net in tanke af laai en die sapd en weermag sal dit beheer en ons is reeds in n oorlog misdaat

Ray ·

My 5c, stem ook saam met heelwat van die kommentaar. Die weermag word opgelei om te skiet en dan vrae te vra. Die Polisie om vrae te vra en dan te skiet. Een van ons grootste problem is ook die korrupsie in die polisie. Die blote feit dat jy met die huidige polisie kan onderhandel oor die wet is ‘n probleem. Dit laat die polisie die mag om te besluit wat hulle wil oor wat of wie reg of verkeerd is, dus kan hulle een person arresteer vir ‘n oortreding en geld vat by die ander en maak of hulle dit nie gesien het nie of dit net oorsien want shame hy het nie geweet nie. Dit instede van om die wet toe te pas. Deur die weermag te ontplooi is ‘n magskuif in my opinie om reg te maak sou die land nie saamstem met besluite nie

Johan ·

Ray, ek weet nie hoe die bevelstruktuur gaan werk nie. Maar toe ek in 1984 in die SAW was (wat gewerk het), het ons in Sebokeng ens ingegaan. Ons is oor en oor en oor gesê dat ons na bevele van die SAP luister en oor en oor gesê om NIE net te skiet nie. Ons het ‘n week “blitskursus” gedoen oor hoe om die situasie te hanteer en dank Vader, was ek nooit in ‘n situasie waar ek ‘n instinktiewe besluit moes neem nie.

So teoreties sou ek dink dat in die geval die soldate moontlik onder SAP se bevele sal werk – ek weet nie. My bekommernis is egter die oneffektiewiteit (my persepsie) van die nuwe SANW. Ek is bang as daar geskiet word, mik hulle na ‘n groep 50 meter van my af, maar skiet my raak. Selfs Lesotho se weermag het ons so hele paar jare gelede pak slae gegee.

Ek is bang dat dit in wese beteken daar is maar net “meer mense met gewere” op straat en hulle is almal ‘n gevaar.

Veritas ·

Johan dit was nie Lesotho se weermag nie. Dit was ‘n handjievol dronk polisiemanne. Botswana se weermag moes al die pad van Gaberone af deurkom om ons te wys hoe dit gedoen moet word.

Ten minste ·

Ten minste kan die weermag die wit waks haal uit misdadigers wat n onskuldige ambulans aanval wat net daar is om te help. Ten minste kan die weermag betogende massas wat voertuig met kinders in omring en met klippe bestook. Kom weermag, kom sit daardie mal misdadigers op hulle plek.

Herman Goosen ·

Ek dink eerlikwaar nie in Suid Afrika se geval dit juis sleg gaan wees om die weermag te ontplooi nie weens die feit dat hierdie land nie ‘n doeltreffende demokratiese land is nie, en ons almal weet dat die Polisie veronderstel is om in misdaadbekamping opgelei te wees, maar dat hulle totaal onbevoegd is. Dit maak dus nie veel saak of die weermag nie daarvoor opgelei is nie. Al waarvoor ‘n misdaad aangemeld word is om ‘n saaknommer vir versekering te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.