Die prys van stilte kan vryheid wees

Deur Ronald Bain 

Foto: Pixabay

Die samelewing se hantering van die pandemie gaan ernstige gevolge hê vir die toekoms. Baie begin al te praat van die nuwe normaal. Heelwat regerings plaas byvoorbeeld die reg op lewe bo die reg op vryheid en probeer die opposisie sodoende die swye op te lê. Hulle stel dit wat nie noodwendig teenoor mekaar staan nie, teenoor mekaar op. Hulle skep ʼn valse goed en kwaad waartussen jy moet kies. Debat moet, volgens hulle, liefs vermy word, want die krisis is groot.

Dit is belangrik dat ons moet praat. Wanneer diegene in magsposisies aan jou vryhede begin torring, is dit gevaarlik, maar dis veel gevaarliker wanneer hulle mense oortuig dat dit vir hulle beter is om hul vryheid prys te gee. Dit word regtig gevaarlik wanneer mense begin dink dat dit ’n eerbare ding is om jou vryheid prys te gee en boonop diegene stilmaak wat protesteer.

Die prys van stilte kan vryheid wees.

Debat is egter die suurstof van die gemeenskap. Enige iemand met ’n republikeinse gesindheid behoort dit van harte te verwelkom, selfs al is jy deel van die regering.

Mense is met reg baie bekommerd dat hulle nie kan werk of na geliefdes kan beweeg nie of dat hulle net ’n rukkie in die oggende kan oefen en net sekere klere kan koop. Ons is baie besorg oor die regering wat selfs ’n ideologiese wurggreep uitoefen op die hulp aan klein besighede en alle maatskaplike hulp wil sentraliseer. Ons is bekommerd oor arbitrêre wetgewing en ’n drakoniese toepassing van wette. Dit raak gevaarlik as jy ewe dankbaar is vir klein stukkies vryheid. Dit is noodsaaklik dat ons oor al hierdie dinge debatteer.

Maar ’n mens hoor min gesprek oor die gevaarlikste vergryp van baie regerings wêreldwyd. Die onnadenkende vervreemding van die vryheid om te aanbid. Sterker gesê: die verbanning van eredienste.

Vir ’n Christen is vryheid veel meer as ’n reg wat ’n grondwet waarborg en ’n regering vir jou moet realiseer. Dit as sodanig kan ’n vorm van slawerny word. Vir ’n Christen is vryheid ’n gawe wat van God kom. Dis genade. Ons vryheid is teen ’n onberekenbare prys bekom met ’n ononderhandelbare bedoeling.  Die ganse skepping se waarde kan nie opweeg teen die prys wat betaal is vir ons vryheid nie. Daardie prys was die lewe van God se eie Seun.

Wat is die ononderhandelbare bedoeling van hierdie duur vryheid? Om Hom te aanbid wat ons vry gemaak het van die sonde en die magte van die doderyk. Daardie vryheid tot aanbidding moet natuurlik op elke vierkante sentimeter van hierdie klipharde werklikheid neerslag vind.

Die vryheid in Christus hervorm nie net mense se lewens nie, dit hervorm gemeenskappe en samelewings. Dit skep ’n nuwe werklikheid. Ons vryheid in Christus maak die hele lewe ’n erediens.

Tog moet ons vandag praat oor die belangrikste sigbare openbaring van Christene se vryheid op hierdie planeet. Daar waar God se kinders uit die hemel vergader word om Hom op ’n stukkie aarde te aanbid as ’n gemeente.

Hierdie vryheid om in die erediens te aanbid, is so kosbaar dat gelowiges deur die eeue daarvoor gestry en selfs gesterf het. Dis nie net die vryheid van ’n individu nie, maar van ’n hele gemeenskap, deur die eeue. Wanneer jy hierdie vryheid in Christus begin afgee, begin jy dit ook afgee om die Allerhoogste te aanbid. Hierdie vergadering uit die hemel kan en mag met geen ander byeenkoms in hierdie hele wye wêreld gelyk gestel word nie. Christus het sy lewe daarvoor gegee.

Dis nie ons erediens nie. Dis syne. Sy erediens mag nie deur die regering gelyk gestel word aan kultuur en sosiale byeenkomste nie. Die regering mag nie die kerk se vryheid om saam te kom en te aanbid net ontneem nie. Die kerk mag egter ook nie midde hierdie krisis, sy verantwoordelikheid versaak om op  ʼn veilige en gesonde manier te aanbid nie.

Nog minder mag die Here se kerk daaroor stilbly. Ons vryheid gaan nie eerstens oor my regte nie, maar oor die plig wat ons en die regering teenoor die Een het van wie alle regerings hul mag ontvang. Vrees God en eer die keiser – in daardie volgorde. Ons sal goed doen as ons dit nie net sê nie, maar dit ook beoefen.

Hier word nie rewolusie of opstand bepleit nie, maar dat ons ten minste sal praat. Dat ons die moed aan die dag sal lê om met die regering te verskil. Om nie ja en amen op alles te sê nie. Onderwerping aan die regering beteken nie kritiekloosheid nie. Ons het nie meer met ’n pous of ’n koning te make nie. Hierdie is veronderstel om ’n republiek te wees. Om met die regering te verskil is vir sommiges gelyk aan opstand teen God. Ander glo dat ons hierdie beproewing net geduldig moet aanvaar.

Ja, ons moet beproewings geduldig dra, maar dit neem niks van ons roeping weg om die waarheid te praat nie. Die kerk kan naderhand so versigtig wees om aanstoot te gee en so hard probeer om polities korrek te wees, dat die sout laf geword het. Of nog erger: dat die Here bedroef word dat ons so min van sy vryheid dink wat Hy vir ons gekoop het. Die belangrike vraag is dus nie net wat die regering van ons vryheid dink nie, dit sien ons goed genoeg. Die vraag is veral wat ons as geloofsgemeenskap van ons vryheid dink.

Die feit dat ons so dankbaar-opgewonde is oor hoe innoverend ons geraak het om oor die internet te aanbid en te bedien, vermy in ’n sekere sin wat werklik besig is om te gebeur. Vir die grootste gedeelte van gemeentes in hierdie land is daar nie bekostigbare internettoegang nie. Hulle het geen alternatiewe nie. Hulle kan dalk nog vir maande op geen alternatiewe wyse saam aanbid nie. In praktyk is duisende gemeentes net bloot toegemaak – soos ’n sportbyeenkoms afgelas. As ons nie besef dat dit ’n vorm van geloofsvervolging is nie, het dit donker geraak.

Ek hoor iemand sê: moet tog nie so stof opskop nie. Dis net tydelik. Ons beweeg darem na vlak 3 toe. ’n Versiende leier van ons het onlangs gesê: “Min besluite word so permanent soos ’n tydelike maatreël wat ’n regering in ’n krisistyd afkondig.” Een van die Amerikaanse grondleggers, Benjamin Franklin, het iewers gesê: “Mense wat hul wesenlike vryhede kan afgee om tydelike veiligheid te bekom, verdien beide nie vryheid of veiligheid nie.” Ek het ernstige kritiek op Franklin se verbintenisse aan ’n spesifieke organisasie, maar hierdie uitspraak laat ’n mens dink.

As individue en gemeenskappe hul vryheid tydelik kan afgee om persoonlik veilig te wees, wat sal dit kos om dit ook permanent te doen? Die bedreiging moet net groot genoeg wees. Vra die kommuniste wat sekuriteit bo vryheid gekies het. Wat gaan ons dalk oortuig om ons vryhede meer permanent in te perk ter wille van persoonlike veiligheid? Dit mag dalk minder verg as wat ons nou dink. Dan is dit so tragies wanneer gelowiges wat verskil van hierdie wetgewing, uitgekryt word as domkoppe of hardekoppe of rebelle of fundamentaliste.

’n Mens kon die aanvanklike strengheid nog verstaan het. Maak geen fout dat hierdie virus ontsaglik aansteeklik is nie. Daar is baie mense wat dit ontken of roekeloos met hierdie pandemie omgaan, en die samesweringsteorieë groei welig. Ons moet met verantwoordelikheid en wysheid en versigtigheid optree. Maar dit beteken nie dat gelowiges soos passasiers kan saamry in ’n gevaarlike rigting nie.

Die sogenaamde nuwe normaal lê agter ’n vreemde horison. Waarteen ons moet stry, is ʼn nuwe abnormaal.

Mag die Christene in hierdie land goed sien en mag hulle ver begin sien. Om God op elke lewensterrein te aanbid en veral in die erediens, is nie ’n vryheid wat bedoel is om sommer so in stilte prysgegee te word nie. As ons langer hieroor gaan stilbly, sal dit ons duur te staan kom. Ons sal vandag nog hieroor moet begin praat.

Laat gelowiges met mekaar begin praat. Laat die kerke met mekaar hieroor praat en laat ons veral hieroor bid. Ons sal leiding ontvang. Maar stilbly mag ons nie.

  • Ronald Bain is ‘n predikant by die Gereformeerde Kerk Oranjerivier in Orania. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

Skitterende stuk vol waarhede!
Die mensdom het in 2020, presies soos daardie osse in die gedig, geduldig, gedienstig en gedweë van hul vryheid van keuse afstand gedoen.
Ek het nooit gedink sulke ‘en masse’ verlies van gesonde verstand is moontlik nie.
Swede die uitsondering, natuurlik.

OW

Goeie skrywe ds Bain.Net in die laaste paragraaf kan verskeie vrae gevra word.Praat die kerklike denominasies nog met mekaar?Wanneer laas het hulle met mekaar gepraat?Hoe lank is daar al ‘n stilte in die kerklike leierskap?Bestaan daar nog iets soos kerklike leierskap?Wanneer laas was daar ‘n kerklike afvaardiging wat met die regering beraadslaag het?Ek glo dat daar wel gebid word oor verkeie kwessies. Rom 13:1 sê duidelik dat ons die regering moet gehoorsaam want God het dit daar geplaas.Geen regering staan buite God se toedoen nie.Indien ons vryheid permanent in gedrang kom mag en moet ons ongehoorsaam wees.Wanneer sondes goedgepraat word… Lees meer »