Die raaisel van Biden se oorwinning

Deur Rhoda Kadalie

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Die hoofartikel in The Wall Street Journal (WSJ) van 14 Desember berig dis neusie verby vir pres. Donald Trump en dat dit nou tyd is om die presidensiële verhoog met waardigheid te verlaat.

“President Trump se regsgedinge het hul verloop gehad, en hy en die res van die Republikeinse Party kan alleenlik die land en hulself help deur die uitslag te erken en aan te beweeg.” En verder: “Mnr. Trump se laaste hofgeding het Vrydagaand sy doodsnikke gegee toe die hooggeregshof nie die regsgeding in Texas wou aanhoor om die verkiesingsuitslae in Georgia, Wisconsin, Michigan en Pennsilvanië te herroep nie. Soos voorspel, het die hof Texas se gebrek aan regsbevoegdheid om te voor te skryf hoe ‘n ander staat sy verkiesings bestuur, uitgewys.”

Op dieselfde dag het die kieskollege Joe Biden as verkose president bevestig met 306:232-stemme.

’n Paar dae vroeër het Andrew McCarthy, bekende grondwetkenner, in die nuustydskrif National Review van 9 Desember verskeie redes waarom die regsgeding in Texas sou misluk, voorspel:

  1. Ken Paxton, advokaat-generaal (AG) van Texas, het sonder die nodige ondertekening van die prokureur-generaal (’n sine qua non), ‘n saak teen Pennsilvanië, Georgia, Michigan en Wisconsin vir staatsverteenwoordiging by die hooggeregshof, aanhangig gemaak;
  2. Die regsgeding is ‘n politieke dokument en nie ‘n stel regseise nie;
  3. Ondanks wydverspreide wettige bewerings van kiesersbedrog, besit die staat Texas geen bevoegdheid “om ander state te dagvaar oor die wyse waarop daardie state hul wette afdwing (of hulle daarvan weerhou) nie”; sulke klagtes moet aan die kongres en staat se wetgewende liggaam geopper word;
  4. Dat “elke eis in Texas se klag reeds deur ander howe van die hand gewys is”;
  5. Dat die president nie deur ‘n nasionale verkiesing verkies word nie, maar deur verkiesings in die verskillende state. “Burgers van Texas het die reg om te stem; dit word nie deur die Grondwet bepaal nie, maar deur hul staat se wetgewende liggaam; en dit is ’n reg om te stem vir ‘n kandidaat sodat sodanige kandidaat Texas se verkiesingstemme sal kry en nie dié van ander state nie.”;
  6. Texas het gedagvaar deur gebruik te maak van bewyse van stelselmatige bedrog met behulp van Dominion-rekenaarsagteware; en
  7. Laastens, die verkiesingshulp wat Texas gesoek het, was eenvoudig grondwetlik onmoontlik, soos “die ongedaanmaking van die verkiesingsuitslae van ander state en die ontneming van burgerregte; die beroep op die beweerde ‘remediërende owerheid’ van die hof om ‘n nuwe ‘spesiale’ verkiesing in daardie state af te dwing; die wegdoen van die sertifisering van kiesers deur daardie state; en die verhindering van daardie state om in die kieskollege te stem – dit, sonder om enige saak aan te voer waarin die howe sodanige oorweldigende beslissing kon vind, wat nog te sê die uitvoering daarvan.”

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Evan Vucci)

Soos McCarthy voorspel het, het die hooggeregshof die aansoek afgewys op grond daarvan dat Texas geen regsbevoegdheid het om met sulke eise voort te gaan nie.

Die kern van die saak: Amerika is nie ‘n demokrasie nie, maar ‘n republiek. Sy sterk punt – maar ook sy swak punt – is desentralisering. Sy state is outonoom en elke staat moet sy eie kieswette nakom en sake na sy eie wetgewers en hooggeregshowe neem waar dit beslis moet word alvorens dit na die land se hooggeregshof verwys word.

Om McCarthy weer aan te haal: “… Selfs die burgers van ‘n staat waar daar beweerde skendings van die verkiesingswet plaasgevind het, het nie ‘n algemene, geregtelik afdwingbare reg om verkiesingsbeamptes te dwing om aan die staatswetgewing te voldoen nie. Hulle moet ‘n konkrete, spesifieke en niespekulatiewe skending kan uitwys. Nóg minder het state die reg om ander state te dwing om aan laasgenoemde se eie wette te voldoen.”

Nieteenstaande hierdie argumente teen die regsgeding in Texas, het McCarthy erken dat litigante ‘n politieke saak gehad het teen die verkiesingsbedrog, gegewe die breë spektrum onreëlmatige aktiwiteite wat deur Trump se regspan blootgelê is.

Ondanks al die regsgedinge wat die president se regspan verloor het, kan dit nie ontken word dat Amerika se onvermoë om bedrogvrye verkiesings te hou, ’n fatale fout is nie. Dit blyk dat daar geen politieke wil bestaan ​​om sy kiesstelsel te hervorm nie. Waar kiesersidentifikasie ‘n voorvereiste is vir byna alle demokratiese lande wêreldwyd, faal die Weste se supermoondheid herhaaldelik daarin om die vereiste van een​ persoon, een stem op een dag, ’n prioriteit te maak.

Die Demokrate het Covid-19 gebruik om die grootste verkiesingsrooftog in die geskiedenis uit te voer. Gegewe die mislukking van al hul aanklagte teen Trump in die verlede, sou legio posstemme – wat wydverspreide bedrog moontlik maak – die doodskoot wees om Trump uit die Withuis te kry. Dit sou vroeë stemmery en verlengde sperdatums insluit, in plaas daarvan dat elke burger op een dag persoonlik sy stembrief in een van die verskeie geallokeerde stembusse ingooi.

Demokrate het uit hul pad gegaan om stembriewe in te samel, ten spyte van Project Veritas se onthulling van wydverspreide verkiesingsbedrog in Minnesota in ‘n vorige verkiesing. Mense wat volgens die wet nie gekwalifiseer het om te stem nie, sou stem; afgestorwenes sou stem; sistemiese rekenaarverkiesingsbedrog sou geïmplementeer word; die verslapping van kiesersidentifikasie, handtekeningverifikasie en getuienisvereistes sou aanvaar word; en laastens, Demokratiese wetgewers sou reëls verander terwyl die stemmery aan die gang was – wat afwykings van die voorgeskrewe verkiesingswette moontlik sou maak.

Die groot bron van frustrasie vir Trump se regspanne was nie dat hulle gefaal het om bewyse van bedrog te lewer nie, hulle het net nie voldoende bewyse gehad om hul eise te verifieer nie. Terwyl Trump se prokureurs, Rudy Giuliani en Jenna Ellis, massas beëdigde verklarings van getuienis gelewer het (afgelê onder die strafmaatreël van meineed), was dit moeilik om bewyse te rugsteun nadat bewyse uitgewis, versnipper, weggesteek, vernietig of, nog erger, stembeamptes van telstasies verwyder is. Baie wat onder eed getuig het, het doodsdreigemente gekry en word steeds gedreig om “gekanselleer (uitgewis)” te word.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Chris Carlson)

Wanneer 50% van die publiek en meer as 90% van die Republikeine glo die verkiesing was nie vry of regverdig nie of gesteel, is gerugte te wagte dat die presidentskap onwetlik bekom is.

Die marge wat Biden en Trump van mekaar skei in die swaaistate Georgia, Wisconsin en Arizona, is min en die getal stemme te naby aan mekaar om gerusstellend te wees. En toe Trump 11 miljoen meer stemme verower het as enige ander voormalige president (74 miljoen in totaal), is dit te verstane dat Trump-ondersteuners wil kook van woede, aangesien 95% van die Republikeine – wat ‘n aansienlike toename in minderheidstemme insluit – reken die verkiesingsuitslae bly raaiselagtig.

Dit is welbekend dat Biden die slegste verkiesingsveldtog in die geskiedenis gevoer het, maar tog het hy 80 miljoen stemme verower; teenintuïtief het hy slegs 524 distrikte (counties) verower teenoor Trump se 2 547 distrikte en Obama se 873 in 2008. Trump het Florida, Ohio en Iowa met ’n groot meerderheid gewen, ondanks meningspeilers se voorspellings van groot verliese.

In ‘n artikel in The Spectator van 27 November, verklaar Patrick Basham dat hul eweknieë in die swaaistate normaalweg waarskynlik dieselfde ten gunste van Trump sou doen – vreemd dat dit toe nie gebeur het nie. Voeg daarby Biden se mislukking om onwaarskynlike stemme te wen, is ‘n openbare ondersoek na sy verkiesing meer as geregverdig. In die lig van die Republikeine se oorwinning in die senaat met 27 setels in die huis van verteenwoordigers, is Biden se oorwinning nog meer onverklaarbaar. Met ander woorde, die Republikeine het nie ‘n enkele staatswetgewer verloor nie en op staatsvlak vermeerder.

Wat het Biden se oorwinning dan moontlik gemaak?

Joe Biden (Photo by JIM WATSON / AFP)

Blykbaar word Biden se oorwinning grootliks toegeskryf aan die swart stemme in Detroit, Philadelphia en Milwaukee en, volgens Basham, “op presies die plekke wat nodig was om die oorwinning te verseker. Hy het nie vergelykbare vlakke van steun vanuit vergelykbare demografiese groepe in vergelykbare state gekry nie, wat baie ongewoon is vir die presidensiële oorwinnaar.”

Basham beklemtoon ‘n aantal ongerymdhede wat ons behoort te bekommer, maar wat selde deur mediakundiges bespreek word en as belangrike omstandigheidsbewyse geïgnoreer word. Dit verwys na statistieke wat nie noodwendig verkiesingsgerig is nie en wat, volgens hom, normaalweg 100% korrek is. Dit word bereken volgens die kandidate se prestasie en entoesiasme tydens die voorverkiesings; sosialemediavolgelinge en -teenwoordigheid; uitsendings en digitale graderings; aanlynsoektogte; skenkers op voetsoolvlak; en sleutelspelers wat op kandidate wed.

Elk van bogenoemde verdien ‘n rubriek, maar dit is duidelik dat Trump volgens hierdie statistieke alleen, beter gevaar het as Biden, ondanks ‘n onderbreking van sy veldtog toe hy gehospitaliseer was weens Covid-19. Biden se flou veldtog was slegs ’n parodie op die konserwatiewe hoofstroom en sosiale media, terwyl dit terselfdertyd ’n verleentheid vir sy linkse jabroers was. Trouens, minder as honderd mense het sy veldtog in Georgia (so onlangs as 16 Desember) bygewoon terwyl duisende mense by Trump se veldtog reeds die vorige aand al in yskoue weer tougestaan ​​het.

Hillary Clinton het ook nie in groot swaaistate veldtogte gevoer nie, daarom die vraag: Kan dit wees dat die Demokrate so vol vertroue is dat hulle die kuns bemeester het om verkiesings te wen sonder om daarvoor te werk? Biden se oorwinning, volgens alle berekeninge, bly ‘n raaisel… Hy klop die stemme van sowel Obama as Clinton. Eersgenoemde het in sy herverkiesing in 2012 met 3,5 miljoen minder stemme gewen as in 2008.

Meer as 156 miljoen het in die verkiesing gestem. Die finale stemtelling kan 158 miljoen beloop – 20 miljoen meer stemme as in 2016. Die Demokrate verklaar die geesdrif van die kiesers omdat dit ‘n referendum oor Trump is. Dit is as truuk gebruik om te fokus op Trump se uitsetting uit die Withuis, want anti-Trump-stemme blyk die minste van hul bekommernisse te gewees het.

“Moet nooit ‘n ‘goeie’ krisis verkwis nie, gebruik dit,” het Rahm Emanuel, voormalige burgemeester van Chicago, gesê. Covid-19 het op die regte tyd die VSA getref en die Demokrate het met perfekte tydsberekening hul agenda vir posstemme deurgedryf en hul stemreëls daarvolgens aangepas. Dit verklaar waarom Barack en Michelle Obama, hul regterhand, Erick Holder, hul skoothonde in die hoofstroommedia en senior demokratiese leiers, vuur en vlam was vir hierdie manier van stem. Hoekom nie? Hulle het ‘n aanklag en ander fopnuus teen president Trump gemanipuleer om hom uit sy amp te lig. Waarom nie ‘n ander skelmstreek uithaal nie? Met die sekerheid van hulp van Big Tech, Big Media, Big Billionaires, die Deep State en die partydige burokrasie, kon hulle dit deurvoer.

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Geen wonder dat, toe Biden “wen”, Kamala Harris uitgeroep het: “Ons het dit gedoen!” So ook het die vrou van Rupert Murdoch (eienaar van Fox News), Kathryn Murdoch uitgeroep: “Ons het dit gedoen!” Let wel, nie “ons kiesers” het dit gedoen nie, maar “ons”. Dit bevestig min of meer Biden se Freudiaanse glips wat tydens sy veldtog op video vasgevang is: “Ek dink ons het die mees ekstensiewe en inklusiewe kiesersbedrogorganisasie in die geskiedenis van die Amerikaanse politiek saamgestel.”

Betogers sal vergewe word as hulle dink dat hulle van ‘n verkiesing beroof is. Die bedrog was helder en duidelik, die bereiking daarvan egter duister. Belangrike verkiesingstatistieke bevestig die siening van ‘n BBC-joernalis wat in September 2016 ‘n artikel geskryf het, “Vote Rigging: How To Spot The Tell Tale Signs”, nadat hy stembedrog in Afrika-lande opgemerk het. Ironies genoeg het dieselfde verkliktekens sterk na vore gekom in die VSA 2020-verkiesing: te veel kiesers; ’n groot opkoms in spesifieke gebiede; groot getalle ongeldige stemme; meer stemme as stembriewe wat uitgereik is; resultate wat nie ooreenstem nie; en vertraging in die bekendmaking van uitslae.

Basham se artikel in The Spectator bevat ’n lys van duidelike tekens van stembedrog in die Amerikaanse 2020-verkiesing – baie daarvan wat Trump net so briesend gemaak het soos die miljoene Amerikaners wat op 12 Desember in Washington DC by die Stop the Steal-optog aangesluit het.

Hulle het verduidelikings geëis oor: die skielike styging in die stemme vir Biden in die middel van die nag nadat die stemtoesighouers verwyder is; oor statisties abnormale stemgetalle in Biden se guns; oor die stembriewe wat laat gearriveer het; oor die versuim om handtekeninge op posstembriewe te verifieer; oor histories lae afwesigheid van stembriewe wat uitgegooi is ten spyte van die massiewe uitbreiding van posstemming; oor ontbrekende stemme wat op 47 USB-kaarte gestoor is; oor die stemme van nie-inwonende en afgestorwe kiesers; oor die regsprosesse wat nie korrek gevolg is nie; en oor skreiende statistiese afwykings.

Vir vier jaar het senior demokratiese leiers Trump ‘n onwettige president genoem. Hulle verwag nou van Trump-ondersteuners om die uitslag van ’n gesteelde verkiesing te aanvaar, die strydbyl te begrawe en vorentoe te beweeg, terwyl Biden die eintlike onwettige president is.

Dit gaan nie gebeur nie. Wie wind saai, sal storm maai…

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.