Die realiteit van die 2016 matriekuitslae

matriekuitslae koerant

Argieffoto.

Die matriekuitslae vir 2016 is Donderdagoggend amptelik bekendgemaak en die amptelike slaagsyfer van 72,5% word wyd gedebatteer. Dr. Jaco Deacon, adjunk-uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gee sy mening oor die jaar se uitslae.

Wat is jou algemene gevoel oor die matriekuitslae van 2016?

Ons is bly dat die stelsel ten minste in ’n opwaartse kurwe beweeg en baie trots op die pragtige prestasies van talle leerders uit Fedsas se skole. Hartlik geluk aan elke leerder wat so puik presteer het – ons weet dit kom met harde werk oor ’n hele skoolloopbaan en onderwysers wat vanaf kleuterskool in hulle lewens belê het. Ek is bevrees dat ons met al die herrie oor die skolestelsel nalaat om erkenning te gee waar dit toekom.

Ons is ook bly dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, klem op ’n sterk grondslagfase geplaas het en nie net die finale eksamen as die meetinstrument beskou nie.

Die eksamenstelsel en proses het goed verloop met net ʼn enkele insident en dit is goed hanteer. Dit is dalk een van die grootste aanduidings dat ons stelsel na volwassenheid beweeg en die eksamenafdeling moet geloof word vir die werk.

Die realiteit is egter dat die slaagsyfer nie 72,5% is nie – in 2005 het 1 207 996 graad 1-kindertjies ingeskryf en net het 36,6% van hulle het ná 12 jaar met ’n kwalifikasie uitgestap. Hieroor moet ons wakker lê!

Wat is jou mening oor sogenaamde “bevorderde” leerders en hul invloed op die matriekuitslae?

Dit was half belaglik dat die minister die persentasie gegee het sonder die syfers van die leerders. Dit is kinders in die stelsel wat eksamen geskryf het en die weglaat van hulle getalle is soos om vir jouself ’n leuen te vertel. Die leerders se data is deel van die eksamen en daarom is die slaagsyfer nie 76% nie.

Die kort en die lank is dat van die leerders nou vir die eerste keer ’n eksamen moet deurkom om ’n graad te slaag en dat ouderdom en “reeds-gedruip in ’n fase” nie meer gebruik kan word nie. Dit was vir my nogal ironies dat van hierdie leerders onderskeidings en self universiteitvrystelling gekry het – dit beteken dat hulle nooit in die kategorie moes wees nie en dat daar eenvoudig nie genoeg druk op hulle geplaas was om in die verlede te presteer nie.

Wat dink jy van die opwaartse aanpassing van soveel vakke?

Ek was nie vanjaar by die tegniese uiteensetting van Umalusi betrokke nie, maar die aanpassings is gewoonlik gestandaardiseer en is iets wat nog altyd met die matriekeksamen gebeur het (ongeag wie aan bewind is). Daar kan ook afwaarts aangepas word

Wat is jou mening oor die Vrystaat wat vanjaar die hoogste slaagsyfer behaal het?

Die Curriebeker staan ook hier – hoe dan nou anders? Jammer ek moes dit net noem!

Op ʼn ernstiger noot, Fedsas se nasionale kantoor is in die Vrystaat en ek het self in die Vrystaat skoolgegaan. Ons is dus besonder trots op die “landelike en arm” provinsie wat die ander stof in die oë kon skop. Die top-onderwysdistrikte is die meerderheid ook in landelike gebiede wat daarop dui dat daar goeie onderrig in die platteland is en dat geld en blink ligte nie noodwendig beter gehalte beteken nie.

Die kwaliteit van die opvoeder in die klaskamer, 12 jaar se harde werk van die leerder en ’n wil om te slaag tel baie meer. Die Vrystaat doen dus iets reg in die klaskamer, maar dieselfde kan nie gesê word van die wyse waarop die provinsie bestuur word nie. Ironies genoeg is die Vrystaat baie swak met hulle bestuur en kan hulle gerus by skole gaan kers opsteek oor sukses.

Watter raad wil jy graag aan die matrikulante van 2017 gee?

Werk kliphard van die eerste dag af. Stel vandag al jou doelwitte vir die eindeksamen en werk saam met jou opvoeders om jou skoolloopbaan op ’n hoogtepunt af te sluit.

Onthou dit is jy wat die matriekeksamen moet slaag – jou opvoeder is klaar daar deur!

As jy raad aan die departement van basiese onderwys kon gee, wat sou jy vir hulle sê?

Ek deel die minister se sentiment oor beleggings in die grondslagfase.

Kry die top-matriekkandidate om onderwysers te word – gee vir hulle die beste en grootste beurse!

Hou politiek uit onderwys, gee uitvoering aan die bepalings in die Skolewet en moenie toelaat dat vakbonde skole bestuur nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

John ·

Politiek het beslis ‘n vinger in die ‘pie’ gehad. Die regte kandidate op die regte plekke het goeie punte vir politieke gewin. Die verrassing op baie gesigte in die pers/op tv dui daarop dat baie nie kon glo wat wat met hul punte gebeur het nie. Kersvader het nou ‘n nuwe missie bygekry. Volpunte in wiskunde en wetenskap is ‘n wonderwerk voorwaar en ‘n 15-jarige wat matriek met groot sukses voltooi het, sonder om jare te spring, voorwaar ongelooflik; op 3-jarige ouderdom in graad 1 dus. Is dit nie teen die wet nie? Sadisme? Diegene wat gedruip het, is van die min leerders wat kan glo daar is nie te veel met hul punte getorring nie.

Leonard van der Dussen ·

Noodsaak vir sterk onderwys in “grondslagfase” word op meer plekke nou genoem, en sommiges gaan tot in die kleuterfase met die argument. Wat in ‘n vermeende christelike samelewing ‘n eienaardige stilswye is, is dat die noodsaak vir sterker huislike opvoeding, dus gesin en dat meer ma’s wat tuis moet wees, nie genoem word nie. Hierdie gebrek in die argument is ongelukkig net weer ‘n aanwyser hoe ook die Afrikaanse gemeenskap die humanistiese en sosialistiese siening van onderwys as groepsaktiwiteit en staatsverantwoordelikheid al aangeneem het.

Estelle Horn ·

Al die jare is die matrikulante se name gepubliseer. Waarom word net hul eksamennommers nou aangedui en nie hul name. Het dit ook met politiek en ras te doen?

Disselboom ·

Die rede daarvoor is die gevoelens van die “leerders”, sodat ander mense nie maklik hulle uitslae kan opspoor nie. Deel van ‘n oorgevoelige, polities-korrekte, menseregtegerigte samelewing waar elkeen tog asseblief net getroetel wil word. Hulle leer dit in Lewensoriëntering (en baie kry onderskeiding hierin): MY regte, MY gevoelens is al wat tel.

Wimpie Nel ·

Is die probleem nie dat swart en bruin kinders van graad een af moet engels skoolgaan wat nie hulle huistaal is nie. Daarom hert hulle altyd n agterstand Indien universiteite net engels gebruik as onderrigtaal en die werksgemeenskap engels gebruik is dit nie wys dat alle mense in die land van graad een af engels skoolgaan nie. In KZN word die vraag opelik gevra oor hoekom afrikaanse kinders mag skoolgaan in hulle huistaal maar die res van die land moet engels gebruik. Ek verstaan dit nie. Die swart ouers kan meestal glad nie engels praat nie so wie help kinders met huiswerk?

Ernie van Wyk ·

Ek is van die opinie dat ons matriek eksamnes GLADNIE op standard is nie – dalk is maatstaf om ons eksamen vraestelle te “benchmark” met ander lande, bv VK, Swede, VS ens. Wonder hoeveel sal ons matrieks bv vir wiskunde kry as hulle een van bg vraestelle skryf en andersom? Wonder maar net!

John ·

Leonard ek stem. Kinders wat by naskoolsentrums na skool moet rondhang en eers na 5 hul uitgeputte ouers sien, raak vroeg in hul lewe al depressief. Huiswerk-doen teen sononder word ‘n tranerige afjaagstorie. Ouers wil Sondae rus en Sondagskool bly agterwee. Ons tv-programme is degraderend en verwilderend vir kinders met zero-opvoedingswaarde. Nou wonder ons oor die matrikulante.

Henry ·

Terwyl die skrywer van hierdie artikel enkele brokkies raad aan die minister wil gee, kan hy miskien ook die minister daarop wys dat daar talle siele in hierdie droewe land is wat laaaaankal nie meer die duimsuig syfers wat sy en haar regime iedere jaar vrystel, vir soetkoek verorber nie.
Vra haar om liewer stil te bly, indien sy nie die werklikhede van ons treurige skoolstelsel kan of wil bekend maak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.