Die redbaarheid van Afrikaans

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

ʼn Groot debat woed oor die kwessie of Afrikaans bedreig word. Aan die een kant word bedreigings – ook uit eie geledere – uitgewys, en aan die ander kant op tekens dat die taal kerngesond is en voortdurend nuwe literatuur voortbring.

Volgens Unesco word meer as 1 000 tale ernstig, of selfs kritiek bedreig. Soveel as die helfte van die wêreld se 6 000 tale kan binne die volgende 50 jaar verdwyn.

Slegs die grootste doemprofeet sal Afrikaans tel onder hierdie tale wat binnekort kan verdwyn. Van die Khoisan-tale lyk werklik onredbaar.

Tog is al die elemente wat ander tale reeds tot randjie van uitwissing gedryf het, in Suid-Afrika aanwesig. Die Ierse taal het teen die einde van die 19de eeu feitlik verdwyn, omdat Engels as amps- en gebruikstaal afgedwing was. Nou word dit deur byna 2 miljoen mense gepraat.

Die Hawaise taal was op die randjie van uitwissing omdat die persepsie posgevat het dat ʼn mens alleen in Engels ekonomiese vooruitgang kan beleef. En klink dit nie bekend nie? Hoeveel Afrikaanssprekende werksoekers beskik hoegenaamd nog oor ʼn Afrikaanse CV, omdat personeelagentskappe gewoon op Engelse CV’s aandring? Selfs vir poste by Afrikaanse firmas, soos Afrikaanse koerante, dring die agentskappe dikwels op Engelse CV’s aan.

Teen 1980 het ʼn beweging ontstaan om die Hawaise taal te red, en teen 1979 was daar reeds 2 000 mense wat die taal gepraat het. Tien jaar later het dit tot 24 000 vermeerder. Dit word weer op skoolvlak aangebied. Daar word wel daarop gewys dat die Hawaise taal wat nou veld wen, nie meer idiomaties die oorspronklike taal is nie, maar eerder ʼn vertaalde Engels.

Ook in die VSA blyk dit dat immigrante-gesinne nie meer noodwendig so gou as moontlik verengels nie, en nou die behoud van hul oorspronklike taal, as tweede taal, as ʼn bate in die werksomgewing beskou.

Een van die faktore wat genoem word as moontlike stimulus om kleiner tale te laat oorleef, is die opkoms van sosiale media. Hier word land en sand gekuier, en struikelblokke soos afstand tussen sprekers van dieselfde taal gemaklik oorkom. Wat Afrikaans betref, is daar natuurlik kommer oor die taalgebruik en spelling van baie van die mense wat aan hierdie gesprekke deelneem.

Taalkenners wys daarop dat Afrikaans altyd in die teenwoordigheid van die wêreldtaal Engels, veranderingsdruk sal ervaar. Ons sien dit daagliks, soos selfs groot Afrikaanse koerante wat gereeld na afdelings of seksies van wette verwys, in plaas van artikels. Onder die invloed van Engels word bykans enigeen en enigiets verban, in plaas van verbied of geskors. Die Afrikaanse woord gesin maak plek vir familie, waar eintlik gesin bedoel word. Die lys is lank.

Maar ʼn taal is ook dinamies en word deur dialekte verryk.

Dit alles bied Afrikaans, en Afrikaans kan ten spyte van teenslae tog gedy.

Ons moet net die wil hê om Afrikaans as die skoonste taal, ons moedertaal, te laat blom, en die rug vir eietydse Milneriste styf te maak.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Die groot verskil tussen Afrikaans as verdrukte taal en ander bogenoemde voorbeelde, is moontlik die feit dat die taalsprekers se verblyf en aanwesigheid in hul vaderland nie onder beleg is/was nie… net hul moedertaal. So ‘n probleem kan nog oor tyd herstel word, maar indien die Afrikaners in diaspora-styl uitgewaaier word, gaan dit moeilik wees om weer die drade op te tel. Die Jode was gelukkig om na eeue der eeue weer hul vaderland te kon betrek, en het wel in die tussentyd wanneer en waar hulle kon hul taal lewendig gehou. Hebreeus beleef nou ‘n bloeitydperk. Geil grond is dus ook nodig vir ‘n taal plus voeding en bevogtiging deur entoesiastiese verbouers en verbruikers van die’ lewensnoodsaaklike produk…

bgj van der westhuizen ·

wel ons moet net nie meer in engels net aan vaar nie as jy n die hof kom laat hulle n tolk kry as jy eits koop en hulle praat engels se net verstaan nie as eimans aan jou eits wil verkoop se doen net besighied in Afrikaans ons laat te veel toe ons wat Afrikaans is moet net begin om besighied te doen by besighied wat ons help in Afrikaans dit beteken van kos koop tot andedr besig hied

Reinhardt ·

Ekt presies dit gedoen. Ek is tans besig om te soek vir ‘n huis en ek dring net eenvoudig aan op Afrikaans. As die agent nie Afrikaans magtig is nie dan is ek maar jammer om van sy probleem te hoor, ek sal dan my besigheid elders neem.

rassie ·

Herman,

Ek waardeer jou klemplasing op die dinamiese ontwikkeling van ‘n taal en die rol van dialekte daarin.

Jy bekommer jou moontlik te veel oor die spelling en taalgebruik op sosiale media wat van huidige standaard Afrikaans afwyk. Dit is soos ‘n taal ontwikkel. Dit is dinamika. Die huidige standaard Afrikaans is bloot die huidige. As dit in steen gegiet gaan word, word dit later ‘n monument soos Latyn.

Persoonlik laaik ek it baie as die taal dinamies ontwikkel. Ons taalstryders van destyds het mos gese ons moet hom skryf soos ons hom praat.

Ons praat deesdae baie op sosiale media en dis moontlik die HAT en WAT van die volgende geslag. Moontlik bietjie anders as nou, maar steeds uit die hart.

Albaster ·

Ek sal nie mense aanstel wat net een taal kan praat nie. Engels is beslis nie die alfa en omega nie en sal minder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.