Die redes agter die veldtog teen Pukke

Puk8Die Beeld-redakteur se mediaverhoor en skuldigbevinding van die Puk het die afgelope week ’n voorspelbare ketting van gebeure ontketen.

Die koerant het ondersteuning gekry van die departement van hoër onderwys, ANC-politici, die aangewese nuwe vise-kanselier, prof. Dan Kgwadi, Higher Education South Africa, en randeiergroepies soos die sogenaamde Higher Education Transformation Network. Elkeen van hierdie groepe het sy eie redes, wat wissel van bona fide-bekommernisse voortspruitend uit die skeefgetrekte Beeld-berigte tot politieke aktiviste wat die gebeure as ’n verskoning wil misbruik om die Puk as die laaste Afrikaanse kampus te “transformeer”.

Hoewel mense wat nie gereeld aan politieke aktiviste blootgestel is nie, verras mag word deur sommige aspekte van hierdie ontleding, kan die politieke ondertone in hierdie gebeure nie onderspeel word nie. Daarom is hierdie ontleding nie bloot gegrond op die openbare uitsprake van die verskillende rolspelers nie, maar op hul onderliggende politieke beweegredes.

Hierdie uiteenlopende redes kan in sewe hoofpunte saamgevat word sonder om voor te gee dat hierdie rolspelers noodwendig oor al die punte saamstem of met mekaar saamwerk. Hul beoogde eindpunt, of die onbedoelde gevolge van hul veldtog, stem egter breedweg ooreen, naamlik die omskepping van Puk in ’n Engelssprekende kampus waar die dosente- en studentekorps die demografie van die land moet weerspieël, en waar dit ’n “Afrika-” eerder as ’n “Afrikaanse” inslag sal hê. Van Afrikaans, of van ’n studentelewe soos Pukke dit geken het, wil hierdie mense niks weet nie. Dit sal nie ’n nuwe verskynsel wees nie, maar net die herhaling van dieselfde resep wat met die omskepping van die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in die Universiteit van Johannesburg (UJ), ander voormalige Afrikaanse universiteite, al die voormalige tegnikons en tegniese kolleges en ander instellings gevolg is. Natuurlik sal hierdie eindpunt luidkeels deur enkele van hierdie rolspelers ontken word, met redes wat wissel van totale naïwiteit tot die verskuiling van die werklike strategie agter mooi gerusstellings, omdat die rolspelers nie onnodige weerstand wil wek voordat die magsbalans in hul guns geswaai is nie.

1. Politiek

Die blote bestaan van ’n grootliks Afrikaanse kampus is vir sekere groepe nie aanvaarbaar nie, ongeag die grondwetlike ruimte wat daarvoor bestaan. Die ANC wil sy beheer oor alle instellings in die land vestig en sien die Puk as ’n probleem wat “getransformeer” moet word. Vir die ANC beteken dit dat die kampus onder beheer van ’n swart, ANC-gesinde rektor moet wees wat sal verseker dat ANC-beleid daar uitgevoer en ANC-politiek onder studente en in die akademie bevorder word. Verder is die minister gaandeweg besig om die staat se gesag oor universiteite te versterk en is die akademiese en institusionele vryheid van die universiteitswese in die geheel in die gedrang. Die probleem is dat baie min Afrikaanse akademici in ’n gedepolitiseerde Afrikaanse wêreld daarvoor toegerus is om hulself teen politieke aktiviste te verweer.

2. Afrikaans

Hoewel lippediens steeds bewys word aan grondwetlike begrippe soos veeltaligheid, moedertaalonderrig en Afrikaans as “deel van ons erfenis”, is die teenoorgestelde werklikheid ooglopend vir almal wat wil sien. In die praktyk is Afrikaans se toekoms as universiteitstaal oral in gevaar. Al doen die Puk soveel moeite om kursusse vir nie-Afrikaanssprekendes toeganklik te maak deur tolkdienste, bly Afrikaans ’n steen des aanstoots vir politieke aktiviste. Onder die dekmantel dat Afrikaans “toegang belemmer”, word Afrikaans by alle histories Afrikaanse universiteite afgeskaal of uitgefaseer. Die probleem is egter nie “toegang” nie, maar ’n bedekte weersin óf in Afrikaanssprekendes óf in universiteite wat ‘n Afrikaanse karakter in plaas van ‘n sogenaamde Suid-Afrikaanse karakter het. Dat die afskaling van Afrikaans aan die ander kant ’n toegangsprobleem vir Afrikaanssprekendes skep, is vir hulle van ondergeskikte belang. Baie Pukke is eintlik “akademiese en kulturele vlugtelinge”, wat vanuit alle dele van die land na Potchefstroom toe gekom het omdat daar hulle nie meer by die ander voormalige Afrikaanse universiteite wil en kan studeer nie. Daarom is hierdie saak nie net ’n Puk-aangeleentheid nie, maar ’n saak wat alle Afrikaanssprekendes in die land raak.

3. Studentelewe en kultuur

’n Lewendige studentelewe was vir Afrikaanse studente op alle kampusse nog altyd ’n baie belangrike en vanselfsprekende deel van jongmense se universitêre vorming. Die aanname was dat ’n universiteit nie net ’n “akademiese supermark” is waar jy net in ‘n kulturele lugleegte studeer om ’n graad te kry nie, maar waar jy vir die lewe toegerus moet word met ’n wye reeks lewensvaardighede. Daarom is deelname aan die studentelewe gesien as “net soveel werd as ’n ekstra graad”. Die georganiseerde studentelewe – vanaf die akademie, koshuise, sport, kultuur, gemeenskapsdiens en politiek – het ’n belangrike rol hierin gespeel. Politieke aktiviste sien dit egter as die uitlewing van “Afrikaner-kultuur” en van ’n Afrikaanse gemeenskapslewe wat bekamp moet word. Vir hulle is die doel van ’n universiteit beperk tot opleiding en politieke bedrywighede; en koshuise is soos woonstelle. Die aanval op “ontgroening” is, in die breë, ’n rookskerm vir die aanval op die studentelewe in die algemeen. Diegene wat onder die vaandel van ontgroening of oriëntering wanpraktyke pleeg, speel natuurlik in hierdie mense se hand.

4. Verteenwoordigendheid

Die konsep van “verteenwoordigendheid” vorm ’n sentrale deel van die ANC se ideologie en word met nasionale wetgewing en politieke beleid afgedwing. Volgens mnr. F.W. de Klerk, voormalige staatspresident en kanselier van die destydse Universiteit van Potchefstroom, is die konsep van “verteenwoordigendheid” onversoenbaar met die grondwetlike beginsel van kulturele verskeidenheid. Hy sê dat in ons multikulturele gemeenskap “verteenwoordigendheid” daarop sal uitloop dat die meerderheid elke faset van minderhede se lewens sal beheer, of dit nou hul werk, skole, universiteite of hul sport is. Volgens hom is dit ’n werklikheid dat wit mense en ander minderhede toenemend ontmagtig voel en vra hy wat anders dit as oorheersing is as die swart meerderheid die agenda vir die wit, Indiër- en bruin minderhede dikteer en hul kernbelange daardeur negatief geraak word. Helen Zille het ook al gewaarsku dat verteenwoordigendheid “geïnstitusionaliseerde rassisme” is.

Nietemin het “verteenwoordigendheid” die status van ’n amptelike staatsideologie en heilige koei verwerf en word dit deesdae as vanselfsprekend aanvaar, al kom die woord nie eens in die Grondwet voor nie. Dit is nie vir die aanhangers van hierdie ideologie genoeg dat al die universiteite gesamentlik die demografie van die land moet weerspieël nie. Hulle wil dit op elke universiteit, kampus, departement en koshuis afdwing. Die akademiese personeel en studentekorps moet ook volgens nasionale rasseteikens getransformeer word, selfs al verskil die poel van toepaslik gekwalifiseerde dosente en studente waaruit gewerf moet word drasties van die nasionale rassesamestelling.

5. Puk-prestasie skep “ongelykheid”

Die Noordwes-Universiteit in die geheel, en die Potchefstroomkampus in die besonder, het die afgelope jare uitstekend presteer en is nou deel van die top-universiteite in die land. Terwyl ’n mens sou verwag dat uitstaande prestasie verwelkom sou word, word hierdie prestasie, te midde van die onderprestasie van talle ander universiteite, deur invloedryke groepe as ’n groot probleem gesien omdat dit “ongelykhede skep, voortsit en selfs vergroot”. Die feit dat die Potchefstroom-kampus hoofsaaklik Afrikaans is, vryf net sout in hierdie selfverbeelde wonde. Die probleem is dat die kampus se prestasie nie aan die onderliggende prestasiekultuur toegeskryf word nie, maar aan spookbeelde van “bevoorregting, welvaart en die gevolge van bevoorregting onder apartheid”. Dit mag verbasend klink, maar vir politieke ideoloë is swak prestasie nie die knellendste probleem nie, maar wel eilande van uitnemendheid midde-in ’n see van middelmatigheid.

6. Persoonlike beweegredes

Adriaan Basson, Beeld se redakteur

Adriaan Basson, Beeld se redakteur

Persoonlike agendas word dikwels versteek en versuiker onder hoogdrawende begrippe soos “mediavryheid”, “transformasie”, of selfs “menseregte”. Hoewel dit moeiliker is om vas te stel of te bewys, speel persoonlike agendas gereeld ’n rol in die ontvouing van gebeure. Politici wil mediadekking kry en stemme werf met kragdadige optrede; kortsigtige joernaliste wil hul koerante se dalende sirkulasie verhoog met histeriese berigte; voormalige werknemers wil ’n byltjie met die universiteitsbestuur slyp deur die onskuldige slagoffer te speel, of aspirerende bestuurders wil mag bekom en bekwame mededingers wat hulle bedreig laat voel, uitskuif. Swak maar menslike eienskappe soos afguns, venyn of die kans om ’n medemens te boelie kan ook ’n rol speel.

7. Rassisme

Afrikaners word so gereeld in die beskuldigdebank geplaas dat hulle maklik skuldig voel en nie daaraan dink dat hulle aanklaers eerder die rassistiese beweegredes kan hê nie. Dit is egter ’n resep vir ’n ramp as daar een groep is wat graag beskuldig, en daar ’n ander groep is wat maar te maklik die skuld aanvaar. Selfs The Economist het al gewaarsku dat dit al meer aanvaarbaar vir swart politieke leiers in die land word om wit mense as ’n groep te beledig en te verkleineer. Wyle prof. Lawrence Schlemmer het hierdie houding van die ANC treffend soos volg bewoord:

The ANC has perfected a code in responding to the issue of race. It invariably starts off from the position of non-racism, and it then qualifies this with a commitment to closing racial gaps in order to achieve a legitimate basis for non-racialism, and from there it proposes a range of race-based affirmative action and empowerment policies to give effect to this. In the latter aspect it is able to assure its African or black supporters that, although ‘non-racial’, it is ‘on their side’.

Baie ANC-politici meen skynbaar opreg hul rassewette is demokratiese maatreëls om wit rassisme teen te werk. Die Belgies-Amerikaanse politieke wetenskaplike, Pierre Vandenberghe, waarsku teen hierdie soort denke met die volgende uitspraak: “If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy.”

Om al hierdie redes kan onderliggende rassistiese beweegredes nie in die veldtog teen die Puk uitgesluit word nie.

Aksieplan

Die vraag is wat nou gedoen behoort te word. Eerstens kan aanvaar word dat die kampusbestuur alles in sy vermoë sal doen om die Puk deur hierdie politieke stroomversnelling, wat Beeld geskep het, te stuur. Hulle sal sorg dat die feite oor die gebeure by die regte besluitnemers uitkom; dat die studentelewe nie ontsier word deur wanpraktyke van ’n klein minderheid nie; en dat die mediastorm in die koppie tee nie die studente benadeel nie.

Dit is egter van die uiterste belang dat die Afrikaanse gemeenskap op ’n groot skaal en op die regte manier ons stemme moet laat hoor. Dit gaan nie hier oor die Puk as laaste Afrikaanse kampus alleen nie, maar oor toegang tot studiegeleenthede vir alle Afrikaanssprekendes; oor Afrikaans as akademiese taal; oor die institusionele vryheid van alle universiteite; en oor die akademiese insluiting en die grondwetlike regte van Afrikaanse studente. Daar rus veral ’n groot taak op Puk-studente en hul studenteleiers. Hulle sal moet standpunt inneem en nie toelaat dat daar op hul regte getrap word nie. ’n Goed georganiseerde optog om positiewe steun vir Afrikaans te betoon, moet sterk oorweeg word. Afrikaanse studente hou nie van optogte nie, maar daar is sekere dinge wat die moeite werd is om voor te veg, soos die toekoms van ’n goeie Afrikaanse kampus waar studente nog in ’n veilige omgewing hoëgehalte-opleiding en ’n heerlike studentelewe kan kry.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
Daai Een
Daai Een
Werner Coetzee

Ek het self op die PUK studeer, in Afrikaans en werk tans vir ‘n internationale Amerikaanse maatskappy in Dubai, UAE, maar is dankbaar dat ek my graad in my moedertaal kon voltooi en die graad steeds erken word op ‘n internationale vlak. #DankiePuk

Werner Coetzee

Ek het self op die PUK studeer, in Afrikaans en werk tans vir ‘n internationale Amerikaanse maatskappy in Dubai, UAE, maar is dankbaar dat ek my graad in my moedertaal kon voltooi en die graad steeds erken word op ‘n internationale vlak. #DankiePuk

henk

Ek dink Flip, jy moet ‘n behoorlike uiteensetting doen van die Afrikaner en die taal Afrikaans en hoe dit al van die Groot Trek gekom het dat dit die doel van die illuminati, hoofsaaklik onder leiding van Brittanje, geword het om die Afrikaner en Afrikaans uit te roei. Ek dink maar aan enkele boeke wat al oor die onderwerp verskyn het met feite wat daarin weergegee word. Wat skrikwekkend is, is die feit dat dit blyk te wees dat die “broederbond” hier in SA wat oorheersend Afrikaans sprekend groot geword het, nou die leiding in SA self op hulself geneem… Lees meer »