Die reg van ʼn gemeenskap om self te besluit

suid-tirool1

Suid-Tirool. Foto: Argief.

In die Noorde van Italië, reg in die middel van die Alpe, is die provinsie Suid-Tirool. Die inwoners bly in stede en groter dorpe in die valleie, in klein dorpies hoog in die Alpe en op klein intensief bewerkte plasies. ʼn Groepie Afrikaners van verskeie organisasies het die voorreg gehad om hierdie unieke model van selfstandigheid te gaan ondersoek. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was deel van die groep en hulle ervarings.

Suid-Tirool is ʼn selfstandige provinsie in die noorde van Italië. Dit is ʼn klein provinsie met sowat 550 000 mense en die meerderheid is Duitssprekend. Hulle is ʼn relatief klein Duitse gemeenskap in ʼn groot Italiaanse staat.

Die Suid-Tirolers het ʼn besondere band met die Afrikaner, of soos hulle ons noem Buren. In die Napoleontiese tyd het die kleinboere van Suid-Tirool hulleself met plaaswerktuie verdedig. “Los ons, ons wil onsself wees” – dit was hulle boodskap. Met harke, grassnyers en vurke het hulle die politiek van self verdedig.

Met hulle eie geskiedenis in gedagte, het hulle ʼn bewondering vir die Buren van die ZAR gehad wat die magtige Britse ryk aangepak het. Dermate dat talle van hulle aan Boerekant kom veg het. ʼn Interessante draai in die geskiedenis was toe Jan Smuts ná die Tweede Wêreldoorlog vir die Suid-Tirolers by die Verenigde Nasies ingetree het, deels uit erkenning en waardering vir hulle rol in die Anglo-Boereoorlog en deels weens sy bewondering vir hulle held Andreas Hover.

Die amptelike naam van Suid-Tirool is Autonome Provinz Bozen, vernoem na die hoofstad Bozen. Outonoom, of selfstandig (beter Afrikaans), is dus in hulle naam. Dit sê dus wie hulle is – selfstandig met die klem op die self.

Suid-Tirool was voor die Eerste Wêreldoorlog ʼn provinsie van Oostenryk en is daarna by Italië ingelyf. Onder die fascistiese regering van Mussolini is aggressiewe metodes gebruik om hulle in die Italiaanse meerderheid op te neem. Massaverskuiwings het plaasgevind en druk is geplaas dat die Italiaanse demografie ook in die klein Duitse provinsie weerspieël moet word. Dorpsname is verander en mense moes selfs hulle vanne van Duits na Italiaans verander. Suid-Tirool het hulle teen meerderheidsinlywing verweer met die politiek van self. Vandag het Suid-Tirool tot groot mate sy selfstandigheid terug en met die uitsondering van nasionale fiskale beleid, verdediging en buitelandse sake is die provinsie selfstandig.

Sowat twee uur se reis van Bozen is die dorpie Prad met ongeveer 3 000 inwoners. In Prad het ons die volgende vlak van die politiek van self beleef. Die klein gemeenskap was nie tevrede met selfstandigheid van Italië nie. Hulle wou selfstandigheid ʼn vlak verder voer en as gemeenskappie selfstandig wees van die selfstandige provinsie van Bozen. Hulle stel nie belang in provinsiale selfstandigheid nie, maar wel in gemeenskapselfstandigheid.

Die gemeenskap het die Prad Energiekoöperasie gestig met die doel om selfstandig krag op te wek. Hidro-elektrisiteit en bio-gas wat uit appels, beesmis en sonkrag opgewek word, is hulle elektrisiteitsbronne. Die gemeenskap is 100% onafhanklik van die nasionale netwerk en verkoop 50% van hulle elektrisiteit terug aan die nasionale netwerk. Hulle lewer aan die plaaslike gemeenskap krag wat 30% goedkoper as die nasionale netwerk is. Die inwoners van Prad se krag is die goedkoopste in die hele Italië. Die dorpsraad is lid van die koöperasie en koop krag by die gemeenskap. Die koöperasie voorsien ook hitte aan die gemeenskap deur ʼn pypnetwerk van 28 kilometer. Met die opgradering van die pypnetwerk is optieseveselkabels in die ou pype gelê en die koöperasie verskaf sodoende vinnige internetdiens aan die gemeenskap. Die selfstandigheid word selfs verder gevoer met selfstandigheid van die huise. Op elke dak is sonkragpanele en elke huis wek ʼn persentasie eie krag op. Indien daar surplus krag is, word dit aan die gemeenskap se koöperasie terugverkoop.

Ons gids, een van die werknemers van die koöperasie, som die politiek van self van Prad mooi op toe hy ons toer afsluit met die woorde: “Vir ons gaan dit nie bloot oor die opwek van elektrisiteit nie, maar die reg van ʼn gemeenskap om self te besluit.”

Die Solidariteit Kragdag is agter die rug en was ʼn reusesukses. Die onderliggende idee van Solidariteit Kragdag is ook die politiek van self. Dit was nie bloot ʼn kragekspo nie, maar ʼn kragstasie is gebou. Elke persoon wat ʼn alternatief vir energie gevind het, het ʼn klein stukkie van die gemeenskapkragstasie in sy huis gebou. Nie afhanklik van ʼn nasionale kragvoorsiener nie, maar selfstandigheid. Deel van Eskom se kapasiteitsoplossing lê in private en gemeenskapsverskaffers.

Die politiek van self is oor die algemeen bevrydend. Jy aanvaar verantwoordelikheid vir jou toekoms. Self medies, self veiligheid, self universiteit, self tegniese kollege, self finansiering vir studies, self dienste in gemeenskappe. In die Solidariteit Beweging gee ons in praktyk gestalte aan hierdie soort politiek.

Ons moet aanvaar die staat gaan verswak en ons antwoord daarop moet die politiek van self wees. Soos wat die staat verswak, sal die private en burgerlike wêreld versterk en waarvoor ons moet veg, is vir die reg om te kan self.

Selfs al gebeur die onwaarskynlike en die staat word sterker, of daar is ʼn regeringsverandering en ons kry ʼn beter regering, is selfstandigheid steeds die beter antwoord. Prad is nie tevrede met die selfstandige, uiters doeltreffende provinsie van Bozen nie. Hulle wek hulle eie krag op en verskaf self hitte en hoëspoedinternet omdat die gemeenskap self moet besluit.

Ons mag en moet dit ook doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tina ·

Dankie vir hierdie insiggewende artikel. Wys net, waar daar ‘n wil is;is daar ‘n weg. Dit kan gedoen word. Met die nodige leiding,wysheid,kennis en insig van leierskap wat kan lei en met die hulp van die Here, kan dit ook vir ons en ons kinders werk.
Ek glo met my hele hart dat daar genoeg van die boer se patriotisme oor is, om skouer aan die wiel te sit en dat ons weer trots afrikaans kan wees ( en met permisie gese,waarvoor die meerderheids-regering myns insiens, bang voor is ).
Kom my volkie, die sreukwoord is nie verniet: ‘n Boer maak ‘n plan.
Dit is soos ‘n resep – al die bestanddele is daar…dit moet nou net bymekaar gevoeg word..

gino ·

Dit is belangrik om onafhanklik van die staat te wees, as jy nie die staat beheer nie.

Marie Vermaak ·

Dis Alles waar in wens DAT Steve nou begin sodat ons Boerevolk kan saam trek en begin terugveg!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.