Die regbank – afhanklik en partydig eerder as onafhanklik en onpartydig

Argieffoto: Pixabay.com

Een van die grondslae van ʼn goeie grondwetlike en politieke orde (in die meningstuk word hierna as konstitusionalisme verwys) is dat dit oor doeltreffende meganismes teen magsentralisasie en -misbruik moet beskik.

Sodra ʼn persoon, groep of instelling te veel mag het, is daar die risiko van magsmisbruik tot voordeel van die maghebbers (en hul ondersteuners) en tot nadeel van alle ander. Daarom moet ʼn konstitusie nie net lofwaardige ideale en beginsels hê nie. Dit moet ook oor doeltreffende magskontroles beskik om magsmisbruik teen te werk.

Mag moet derhalwe nie in slegs een instelling nie, maar in verskeidenheid magsentra setel wat wedersydse kontroles oor mekaar uitoefen. Om dit in bekende terme te stel: daar moet ʼn verdeling van mag en wedersydse remme en teenwigte (checks and balances) wees.

Daar word geleer dat die Suid-Afrikaanse Grondwet so na as moontlik as perfek in hierdie opsig is. Daar is ʼn drieledige verdeling van owerheidsgesag tussen die wetgewer, uitvoerende gesag en die howe. Bowendien beskik die howe oor baie wye jurisdiksie om omtrent enige optrede van die twee ander vertakkings van owerheidsgesag te toets en wanneer dit daarop aankom, ongrondwetlik en dus ongeldig te verklaar. Dit sluit selfs parlementêre wetgewing in en maak sodoende van die Suid-Afrikaanse regbank en meer bepaald van die konstitusionele hof een van die magtigste regbanke in die wêreld.

Bowendien is die aanstelling van regters in Suid-Afrika nie (uitsluitlik) in die hande van die uitvoerende gesag (die president en die kabinet) en dus by implikasie van die regerende party nie. Die Regterlike Dienskommissie (RDK), ʼn onafhanklike grondwetlike liggaam, het ʼn leeueaandeel hierin.

Boonop maak die Suid-Afrikaanse Grondwet voorsiening vir ʼn aantal onafhanklike instellings, bekend as liggame ter beskerming van grondwetlike demokrasie. Dit is die liggame ingestel kragtens hoofstuk 9 van die Grondwet. Behalwe etlike ander verantwoordelikhede, oefen hierdie liggame ook kontrole uit oor sekere aspekte van die funksionering van die uitvoerende gesag (en by implikasie van die regerende party, wat in beheer van die uitvoerende gesag is).

Juis vanweë hierdie grondwetlike reëlings – meer bepaald die bepalings oor die onafhanklike, onpartydige en kragtige regbank, is daar algemeen geglo dat die Suid-Afrikaanse Grondwet ʼn hoogs lofwaardige voorbeeld stel. Dit was een van die belangrike redes waarom die grondwetlike heilsleer met oortuiging verkondig kon word.

Maar hoe onafhanklik, onpartydig, doeltreffend en kragtig is die regbank werklik? Veel minder as wat die grondwetlike heilsleer sê dit is.

Kom ons kyk hoe sien sake werklik daaruit.

Aanstellings van regters

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

Die Regterlike Dienskommissie is die sleutelinstelling by die aanstelling van regters. Aspirantregters verskyn voor die RDK, wat kandidate ondervra en uiteindelik aanbevelings aan die president doen oor wie aangestel moet word. Die president volg gewoonlik die RDK se aanbevelings.

Wanneer ons die samestelling en die werking van die RDK nagaan, raak dit spoedig duidelik dat die hele grondwetlike meganisme vir regterlike aanstelling juis daarop bereken is om spesifiek die ideologiese partydigheid ten gunste van transformatisme, eerder as regterlike onpartydigheid te verseker.

Die samestelling van die Regterlike Dienskommissie bring dit reeds aan die lig. Die RDK bestaan uit 23 lede. Dit is gewaarborg dat ten minste twaalf (maar prakties gesproke meer as twaalf) van hulle altyd uit ANC-geledere sal kom. (Die twaalf is die minister van justisie of sy gevolmagtigde (1); drie van die ses lede wat deur die Nasionale Vergadering aangewys is – die ander drie moet uit die opposisiepartye kom (3); vier lede wat deur die Nasionale Raad van Provinsies aangewys word (4); en vier lede wat deur die president aangewys word (4). Dit waarborg ten minste 12 uit die 23 lede vir die regering. Die ander lede sluit in die hoofregter, wat die voorsitter van die RDK is, en ander lede uit die regsberoep en regsakademie. Van hulle, soos trouens die hoofregter self, is natuurlik ook lede van die regerende elite.

Van nog meer belang is die sienswyse van die meerderheid van die Kommissie oor wie vir aanstellings kwalifiseer. Reeds vyftien jaar gelede het Johnnie de Lange – nou nie meer so prominent nie, maar destyds adjunkminister van justisie – dit duidelik gestel dat transformatisme die deurslaggewende maatstaf by regterlike aanstellings is.

Transformasie (transformatisme), het De Lange verduidelik, bestaan uit twee oorwegings. Eerstens moet die regbank ras- en geslagsverteenwoordigend van die land se bevolkingsamestelling wees. Tweedens moet kandidate ook intellektueel transformatief wees. Die slotsom is dat die regbank grootliks swart moes wees en, van nog meer betekenis, dat regters die ideologiese verbintenis tot die ANC-ideologie van transformatisme moes deel.

Juis vanweë hierdie uitgangspunt is aspirant kandidate – selfs sogenaamde liberale kandidate met onberispelike menseregterekords, maar met ʼn onafhanklike judisiële gesindheid – heel dikwels skerp vyandig deur lede van die RDK onder kruisverhoor geneem. Hulle moes rekenskap van hul politieke oortuigings gee terwyl beswaarlik enige aandag aan hul juridiese geskiktheid gegee is.

Heel dikwels het kandidate, ofskoon hulle intellektueel en ervaringsgewys klaarblyklik uiters geskik vir aanstelling was, nie die paal gehaal nie – vir geen ander rede nie as dat die RDK nie tevrede was dat hulle voldoende transformatief-gesind was nie. Veral blanke mans het in die slag gebly. Tog is dit opvallend dat bekwame swart juriste wat eweneens geskik vir aanstelling was, ook oor die hoof gesien is – weer eens vanweë die feit dat die meerderheid van die RDK nie oortuig was van hul transformatiewe lojaliteite nie.

Dit was juis die RDK se demonstrasie van sy afkeur in blanke kandidate wat reeds kort ná die inwerkingtreding van die Grondwet spanning in die RDK uitgelok het. Die spanning het in 2013 op ʼn volskaalse konfrontasie uitgeloop tussen die sterkste voorstanders van transformatisme en ʼn kritiese lid van die Kommissie, adv. Izak Smuts SC.

Smuts was van mening dat die meerderheid van die RDK klaarblyklik ʼn transformatief-gedrewe sienswyse teen die aanstelling van blanke mans gehuldig het. Hy het ʼn skrywe gerig waarin hy die Kommissie gevra het om openlik sy standpunt hieroor te verduidelik.

Smuts het hom die gramskap van die meerderheid van die RDK op die hals gehaal. Veral die toe pas aangestelde hoofregter, Mogoeng Mogoeng het Smuts voor stok gekry. Mogoeng en die meerderheid van die RDK het hul partydigheid vir transformatisme en rasseverteenwoordigendheid onomwonde betuig. Transformatisme en verteenwoordigendheid was trouens so belangrik dat dit die noodsaak om die heel beste kandidate as regters aan te stel, troef. Mogoeng het geen doekies hieroor omgedraai nie. Volgens hom word daar nie vereis dat die bestes onder die bestes aangestel word nie en, het hy bygevoeg, gaan regterlike aanstellings nie net oor meriete nie.

Daar kan beswaarlik ʼn meer onomwonde verbintenis tot partydigheid ten gunste van ʼn bepaalde ideologie wees as dit. Trouens, Mogoeng het hiermee enige moontlike indruk dat die RDK en hyself as hoof van die regsprekende gesag onpartydigheid onderskryf, beslissend die nek ingeslaan. Hiermee is bewys gelewer dat die Suid Afrikaanse regbank in weerwil van die gevleuelde woorde van die Grondwet oor onafhanklikheid en onpartydigheid vas verbind is tot dieselfde ideologie as die ANC.

Smuts het te midde van nydige persoonlike aanvalle op hom, kort hierna sy lidmaatskap van die RDK beëindig. Intussen gaan die RDK klaarblyklik voort op sy ingeslane weg om transformatisme en verteenwoordigendheid bo alles, soos Mogoeng trouens erken het, bo meriete, te bevorder.

Die hoogste hof is ʼn integrale deel van die regerende elite

Tog moet al hierdie dinge ons nie vreemd opval nie. Inteendeel, die werkwyse van die RDK, meer bepaald, die voorkeur ten gunste van transformatisme, behoort ons juis in staat te stel om ʼn werklikheid in te sien wat juis deur die Grondwet se mooi woorde oor die onafhanklike en onpartydige regbank verbloem word.

Dit is dat die howe – meer bepaald die hoogste howe, soos die konstitusionele hof in die geval van Suid-Afrika – in die normale verloop van sake saam met die regerende party in die wetgewer en die uitvoerende gesag ʼn integrale deel uitmaak van een en dieselfde regerende elite. Die wetgewende, uitvoerende en die regsprekende gesag is derhalwe weliswaar in verskillende strukture georganiseer; elkeen vervul sy eie besondere funksies; en elkeen het sy eie personeel.

Dog, hierdie personeel-, struktuur- en funksieskeiding is oplaas oppervlakkig. Daaronder skuil ʼn meer fundamentele feit. Dit is dat die drie vertakkings gewoonlik gemeenskaplike ideologiese uitgangspunte het en verbind is tot die bereiking van een en dieselfde stel ideologiese doelwitte. Die hoogste howe – in die geval van Suid-Afrika, die konstitusionele hof – is die regs- gespesialiseerde vertakking van die elite. Sy belangrikste taak in en vir die regerende elite is om die elite se ideologiese uitgangspunte in regstaal te verpak, en om wanneer enige aspek van die ideologie in die hof uitgedaag word, die ideologie in juridiese terme te regverdig en te verdedig en om ten slotte uitsprake te gee, wat die ideologie beskerm en bevorder.

In die gewone verloop van sake, wanneer ideologie gewoonlik nie prominent is nie – by die beregting van meer alledaagse privaatregtelike, kommersiële en dergelike geskille – blyk die ideologiese partydigheid en voorkeur van die hoogste howe ook nie prominent nie. Sodra dit egter by enige geskil kom, waar elemente van die regerende elite se transformatisme-ideologie ter sake is, kan die hof se uitspraak met ʼn hoë graad van akkuraatheid voorspel word. Dan sal die hof klokslag uitspraak gee ten gunste van die regerende elite, (waarvan dit deel is.)

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

Dit is presies ten einde te verseker dat die howe deel van die regerende elite sal bly, hul rol ter bevordering van transformatisme getrou sal nakom, dat die RDK seker maak dat kandidate vir regterlike aanstellings inderdaad transformasiekandidate. Hierdie verskynsel is natuurlik niks vreemds nie. Inteendeel, in alle state waarin die howe oor die jurisdiksie beskik om belangrike ideologiese aangeleenthede te bereg, sal die regerende elite in die wetgewer en die uitvoerende gesag uit sy pad gaan om te sorg dat die howe ʼn lojale bondgenoot is. In state waar ideologiese verskille nie hewig is nie of waar die regerende elite nie so ideologies gedrewe is nie, sal die verskynsel minder sigbaar wees. Sodra ideologiese verskille egter verdiep en intens raak, sal die stryd vir ʼn lojale regbank sterk op die voorgrond tree.

Hierdie verskynsel voltrek tans in Pole waar die nasionaal-konserwatiewe regering juis aansienlike regterlike hervormings aangebring het ten einde seker te maak dat hy nie deur ʼn liberale regbank vanuit ʼn vorige era ondermyn word nie. In die VSA kom die verskynsel deurlopend voor. Presidente doen altyd alles in hul vermoë om aanstellings op die regbank te maak wat sal verseker dat die regbank in pas met sy party en met die uitvoerende gesag is.

Al hierdie dinge speel deurlopend af te midde van grondwetlike bepalings wat verdeling van staatsgesag en ʼn onafhanklike en onpartydige regbank plegtig bely. Wat gebeur het, is dat die Suid-Afrikaanse publiek met welklinkende formulerings wat in die bewoording van die Grondwet vervat is, verlei is om te glo dat dit wat daar in hierdie grondwetlike bepalings vervat is, daadwerklik waar is. ʼn Realistiese peiling van die ware toedrag van sake, toon egter spoedig dat wanneer dit by ideologiese kwessies kom, presies die teenoorgestelde geld. Dan is die hof nie ʼn rem en teenwig teen die uitvoerende gesag en die regerende party nie. Dan is hy die teenoorgestelde: ʼn versneller en ʼn oorwig ten gunste van die regerende elite waarvan hy in die laaste instansie ʼn integrale deel is.

Al is dit die geval, mag sommige dalk aanvoer, het ons darem ʼn stel van noukeurig gedefinieerde gewaarborgde individuele grondwetlike regte tot ons beskikking en kan ons darem seker op die hof vertrou om daardie regte te beskerm. In die volgende bydrae kyk ons daarom hoe die howe grondwetlike regte vertolk. Dit kom aan die lig dat die howe se optrede (teleurstellend) inderdaad nie uitloop op die gewaarborgde beskerming van regte nie.

  • Dié artikel is die vierde in ʼn reeks van ses artikels wat prof. Koos Malan geskryf het na aanleiding van sy nuwe boek There is no Supreme Constitution. Die boek word deur African Sun Media uitgegee en kan aangeskaf word by TakealotGoogle BooksITSI, African Sun se Facebook-winkelAmazon Kindle en EBSCO eBooks aangeskaf word. Dit kan ook by Protea Boekhuis gekoop word. Klik op die skrywer se naam bo-aan die artikel om alle vorige artikels te lees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans ·

Volgens ‘n bylae van die grondwet :
Ampseed of plegtige verklaring van Regterlike Beamptes6. (1) ElElke regter of waarnemende regter moet voor die Hoofregter of ʼn ander regter deur die Hoofregter aangewys, ʼn eed aflê/plegtig verklaar, soos volg:Ek, A.B., sweer/verklaar plegtig trou, as ʼn Regter van die Konstitusionele Hof/Hoogste Hof van Appèl/Hoë Hof/E.F.-hof, aan die Republiek van Suid-Afrika, en dat ek die Grondwet en die menseregte wat daarin verskans is, sal handhaaf en beskerm; en aan alle persone op gelyke voet reg sal laat geskied sonder vrees, begunstiging of vooroordeel, ooreenkomstig die Grondwet en die reg.(In die geval van ‘n eed: So help my God

Wanneer sulke beamptes se uitspraak duidelik ten gunste van die regerende elite is,is dit nie ‘n vorm van meineed nie en ‘Lady justice’ nie langer blind nie?

Johan Venter ·

Frans, die huis langs my is vanoggend leeggedra, dit nou pas na die huishulp afgedank is, niemand stel belang om die skuldiges op te spoor nie. Ek is siek en sat vir die politiek van die land. Niks is reguit nie, als is krom en skeef, mens se kop woel van snakes & ladders. Ons dink nie wiskunde nie, ons trek strepe in die sand, jy bly die kant van die lyn en ek daaikant.

Nou sal jy my vra wat het dit met prof Koos te doen? Hy verskaf die antwoorde, als het met krom en skeef van die kop te doen, dis nou die ANC-kop, ons het te min skerp pienk tonge in die land. Ja, of mens nou wit of swart is, watter kleur ook al, almal het pienk tonge, maar daar is te min van hulle, die ander jaag met toemond agter politieke ANC korrektheid aan!

En nou veg ons hierdie virus vir volk en vaderland.

Johan Venter ·

Dink ek nou aan Janusz Walus en besef daar is ook iets soos menslikheid. Dit sonder om uit die Bybel aan te haal, maar ons luister mos nie.

werner ·

Lekker lag ek nou die grondwet en konstitusie werk net vir die politieke partye of die “gesiene” die rykes wat n prokureer of advokaat kan bekostig ons alle man word verdedig deur staats prokureers wat meeste van die tyd in die meerderheid oorwerk of glad nie ge-intereseerd is in grondwet of konstitusie nie nie dis eindlik lgwekkend om te sien wat in n hofsaak aangaan in ons plattelandse dorpies se howe eindlik is dit belaglik en lagwekkend om daar te sit en te luister hoe n hofsaak afloop,hoekom daar iets soos n konstitusie is of n politieke party verteenwoordiger wat sy nommer ooral in n dorpie versprei en eindlik kan hulle niks doen nie,of wil niks doen nie is net ge-intereseerd in die hoofkoerante se benoeming van hulle noem of hul verskyning op tv,is ons konstitutiesie betrou baar nee dis lagwekkend is ons politieke leiers daar vir die alle man die arme nee my vriend jy is op jou eie,ons bly in n lagwekkende land bestuur deur nare

Johan Venter ·

Ten minste kan ons vandag op die knieë gaan en sê: “Dankie Jan Van Riebeeck”.

daniel ·

Die probleem is die persentasie meerderheids stem wat nodig is om die Gronwet te verander naamlik n 2derde meerderheid, wat belaglik is omdat politieke partye kan sàamspan om so n meerderheid te verkry, en die Gronwet eindelik reduseer tot n nuttelose stuk papier.

Anoniem ·

Solank as wat die kommuniste regeer, sal ieder en elke instelling se aanstellings kommuniste wees. Die regbank is lankal gekaap en nie meer onafhanklik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.