Die regering en Covid-19: Onbekwaamheid, ongeërgdheid en skynheiligheid

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Covid-19 het bestaande tendense versnel en weer ou bestaande waarhede oor die Suid-Afrikaanse regering en regerende party blootgelê, in plaas daarvan om werklik nuwe tendense te skep.

Eerstens lei die staat se onbekwaamheid en korrupte skemas tot ’n geweldige vertraging in die beskikbaarstelling van entstowwe. Omdat hulle geld vir Covid-19-hulppogings wanaangewend het en nie ag geslaan het op waarskuwings van ’n tweede vlaag nie en oor byna drie dekades nie openbare hospitale op standaard gebring het nie, sal baie meer mense aan hierdie siekte beswyk en sal die ekonomie in ’n selfs nog hagliker toestand beland. Wat is hul enigste manier om die kwaadaardiger stam van die virus hok te slaan? Meer inperkings en rasseplannetjies wat groter koste sal meebring wat lewensbestaan (en lewens) betref? Nog meer inperkings is waarskynlik ons voorland.

Hierdie virus wys duidelik hoe sleg toegerus en swak die openbare gesondheidsektor is. Staatsbeheerde hospitale en klinieke sal op die ou end en noodwendig ’n beduidende deel van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) uitmaak. En tog word buitensporige bedrae bestee aan die salarisse van burokrate in poste waar nie veel werk verrig word nie, eerder as om meer dokters en verpleegkundiges aan te stel en baie meer geld aan masjiene en toerusting vir swak toegeruste hospitale te bestee.

Oor die werking van die NGV kan daar nie veel afgelei word nie omdat die regering self nie veel daaroor bekendmaak nie. Wat wel seker is, is dat dit nie gaan werk nie en nie tot beter sorg sal lei nie. Die jongste Covid-19-vlaag het dit so duidelik gemaak dat ontkenning nutteloos is. Die NGV, presies soos Suid-Afrika se Covid-19-reaksie, gaan ’n algehele mislukking wees en sal lei tot selfs meer sterftes wat voorkom kon word.

Verder bestaan daar ’n aanname dat die regering se bedoelings edel is, maar daar kan met veiligheid gesê word – met byvoorbeeld beleidsake in gedagte – dat hul bedoelings en gepaardgaande optrede allermins eerbaar is. Gehul in deernis, stel hulle beleide en regulasies in werking wat lewens verwoes en terselfdertyd hul eie mislukkings en sinistere motiewe verberg. As mens kyk na die impak van alles, van die minimum loon tot die Covid-19-reaksie, word dit pynlik duidelik: Die netto gevolge is nie altyd opvallend nie, maar dit is sonder uitsondering negatief.

So is dit ook met Covid-19. Die impak van die veelbesproke Solidarity Fund kan nog nêrens gesien word nie en dit blyk dat die fonds nie naastenby in staat is om die pandemie hok te slaan nie. Geld vir persoonlike beskermende toerusting is gesteel, en tot dusver word dit nog net ondersoek en kon ’n paar waarskynlike skuldiges geïdentifiseer word.

Laastens moet die vraag gestel word: Is die regering werklik ernstig oor al die ontbering en sterftes waaronder die land gebuk gaan? My antwoord is uitdruklik en ongelukkig nee. Ek verbly my geensins oor hierdie ongeërgdheid en selfs genoegdoening aan hulle kant nie, maar dit is blykbaar hoe dit is. As mens verby die oënskynlik hartroerende toesprake en trane kyk en die lang rekord van wanbestuur en korrupsie in gedagte hou, is dit ’n logiese afleiding om te maak.

Dit pas hulle dat ‘n groeiende aantal mense van die staat en die regerende party afhanklik word – veral in ‘n verkiesingsjaar. Die verswakking van die middelklas – veral kleinsake-eienaars – is ’n bonus vir ’n regering wat nie daarin slaag om armoede te verminder en werk te skep nie. Dit is grootliks selftoegediende wonde wat nog reggestel kan word mits ’n ideologiese kopskuif gemaak word – moontlik, maar onwaarskynlik. Bowendien is die uiteindelike lakmoestoets om die gevolge eerder as die bedoeling van ’n handeling te meet.

Dan is daar die afstootlike skynheiligheid wat die Covid-19-reëls betref. Collins Khosa het sy lewe verloor hoewel hy nie die Covid-19-protokolle oortree het nie, maar die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, is bloot op spesiale verlof geplaas deur president Cyril Ramaphosa nadat sy die regulasies blatant oortree en toe daaroor gelieg het. Vandeesweek het ’n groot aantal vroulike ANC-ondersteuners (baie van hulle sonder maskers) buite ’n hof gedans ter ondersteuning van ’n raadslid van hul party wat van verkragting aangekla word maar R2 000 borgtog gekry het.

Wees jou eie leier en neem beheer

Omdat Ramaphosa gekortwiek word deur sy talle sosialistiese bondgenote en skandalige kollegas, die stand van die ekonomie, sy eie voorkeure en sy beleërde posisie in die ANC, kan hy met die status quo peuter slegs in soverre ’n swak ingeligte en wanhopige publiek skynoorwinnings as voldoende rede vir hoop sal beskou.

Wanneer jy besef dat Ramaphosa ’n swak en onbevoegde leier is en dat die ANC ten beste onverskillig staan teenoor die lyding van miljoene, kan jy beheer oor jou lewe neem en jou eie leier word. Gwen Ngwenya het ’n goed bewoorde en roerende argument vir die sogenaamde “parallelle staat” (teenoor die amptelike staat) gestel in ’n artikel op Politicsweb. Hierdie term het moontlik ’n negatiewe konnotasie gekry omdat dit met iets duisters geassosieer word, maar dit is bloot ’n versameling nodige dinge wat die privaat sektor en die nieregeringsektor bied omdat die staat versuim om dit te verskaf. Noem dit wat jy wil en beswadder dit soos jy wil, maar dit is hierdie pogings wat mense help om te oorleef en te floreer te midde van ’n tierende pandemie en ’n verkrummelende staat – anders sal dit nie verskaf word en gewild wees nie.

Baie meer dienste word steeds bygevoeg terwyl die opgeblase en ondoeltreffende staat toenemend faal om sy pligte na te kom. AfriForum en sy baie takke bestaande uit gewone gemeenskapslede is al jare lank besig om woonbuurte op te ruim, verbleikte en beskadigde verkeerstekens te vervang, padtekens te verf, vullis te verwyder en strate te patrolleer omdat munisipaliteite versuim om dit te doen. Privaat maatskappye lewer ’n verskeidenheid dienste soos sekuriteit en onderwys, en soos Ngwenya dit kaalvuis stel: “Die opkoms van die privaat parallelle staat is ook verantwoordelik vir ’n groot mate van valse optimisme oor Suid-Afrika”.

Baie mense reken met reg dit is die owerhede se plig om hierdie dienste te lewer omdat hulle reeds betaal word om dit te doen. Dit is sekerlik so, maar dit bied nie ’n oplossing vir die probleem van ’n staat wat nie by magte is om die nodige dienste te lewer nie. Dit berus by ons om die leiding te neem betreffende ons eie veiligheid, sekuriteit, onderwys en toekoms. Ons word nie gelei nie, en ons behoort ook nie gelei te word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.