#JongStemme: Die regte teelaarde vir jeugdige kritiese denkers ontbreek

Mihan van Zyl. Foto: Verskaf.

Deur Mihan van Zyl

Hoekom word daar so baie jeugdige kritiese denkers “opgelei”, maar tog so min geproduseer? Is ons dalk besig om die boompie soveel te buig terwyl dit jonk is, dat ons dit wortelloos, afhanklik en geknak los? Die ruimte vir jeugdige kritiese denkers word toegegroei onder die onkruid van groepsdink, populistiese aktivisme en identiteitspolitiek.

Die gemeenskap en die media is gou om die jeug vir sy eie ondergang te blameer. Dalk moet ons bietjie dieper as die bas krap vir die wortel van die kwaad. Vir geen oomblik ontken ek dat respek vir gesag belangrik is nie. Die probleem ontstaan egter wanneer gesag verdraai word tot totale onderdanigheid aan outoriteit, want geen outoritêre mag sal jou oplei sodat jy hulle kan verslaan nie. Dit is dus onheilspellend as ons die onderdrukking van kritiese denke in skole, op kampusse en in die samelewing sien, waar jongmense daarvan afgeskrik word om te verskil van hul onderwysers, dosente en ander gesagsfigure. Tel ons opinies minder omdat ons nog nie genoeg jaarringe het nie? Meningsverskille word afgeskryf as “terugpraat”, eerbiedloos, rammetjie-uitnek of oningelig wees. Sodoende staar die dood van die vrye meningswisseling ons in die gesig, waaronder ons, die jeug, die ergste gaan ly.

Die geslag van môre word grootgemaak in die era waar aanstoot die maatstaf vir aanvaarbaarheid word. Die media, akademie en politieke korrektheid beheer die denke en menings van die onkritiese massas.

ʼn Oningeligte, vatbare jeug is soos droë gras vir die vlamme van populisme en leë beloftes. Daar is min ruimte vir die jong vrye denker om sy menings in die openbaar te toets. Studente word geïntimideer deur skorsing, doxing[1] op sosiale media, of word gebrandmerk as radikaal of rassisties weens opinies wat buite die hoofstroomnarratief val.

Meeste jongmense beskik nie oor die vermoë om hierdie sensorskap en aanvalle te hanteer nie. Die jeug raak gevolglik moedeloos en vreesbevange en word só die manipuleerbare pionne van aktiviste, deur nie die heersende polities korrekte opinie te bevraagteken nie. Diegene met “verkeerde” opinies word verdryf na klein eggokamers, waar ware radikale en gevaarlike ideologieë kan ontkiem. En kort voor lank word hierdie rokie van denke, wat die hoofstroom probeer smoor, ʼn onblusbare vuur wat die hele bos kan afbrand.

“So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ‘n volk. Dit is die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ‘n wisselwerking ontstaan…” het NP van Wyk Louw eens gesê.

Dit is tyd dat kinders ook gehoor word en nie net gesien word nie. Die jeug moet nie bang word om hul eerlike sê te sê sodat hul stemme gehoor kan word nie. Ons kan so bang word om verkeerd te wees, dat ons uiteindelik nooit reg is nie.

Die bevordering van vrye openbare debat en respek vir ander se opinies, wat gepaardgaan met die bekamping van onnodige identiteitspolitiek en sensorskap, is die enigste manier hoe ons ʼn vrydenkende jeug gaan kweek.

Grootmense is tog hoofsaaklik die produk van hoe hulle as kinders grootgemaak is. Gelukkig het my pa vir my van kleinsaf geleer: As jy nie vir jouself dink nie, sal die wêreld dit vir jou doen.

As hulle ons aanhoudend soos ʼn bonsaiboompie snoei of ons nooit toelaat om met kritiese denke diep wortels te skiet nie, sal ons net, soos daardie dwergboompie, ankerloos en ewig afhanklik die toekoms tegemoet gaan.

Voetnota:

[1] Doxing is die verkry van persoonlike inligting (dikwels deur kuberkrakery) wat dan op sosiale media geplaas word.

  • Mihan van Zyl is tans ‘n matriekleerling aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. In 2019 is hy as naaswenner in die ATKV se Nasionale Debatkompetisie gekroon. In 2020 begin Mihan volgens beplanning met sy studies in Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Barry H ·

Woordeskat, gedagte, en argumentering van ‘n akademikus!

Welgedaan, Mihan.

Stephan de S ·

Dihan mooi ,maar jy sal saamstem dat idees sonder feite en ervaring net opinies is.

Dink vir Jouself ·

Mihan daar is so min kritiese denkers omdat dit so ongemaklik is om een te wees – vir jouself en vir die samelewing. As uitdager van leemtes en gemaksones gaan jy die grootste gedeelte van jou lewe stroomop swem. Dit is meestal maar ‘n eensame harde wêreld. Veral die jeug weet nog nie lekker hoe om kritiek te verwerk nie. Ander sien jou onafhanklike opinies as lou en onbetrokke terwyl jy juis die moeilike harde en eerlike pad kies. Sterk wees en moed hou. Jou beloning is ‘n skoon gewete. Kritiese denke word ‘n lewenswyse met groot opofferings maar groter belonings. Sterkte met die studies.

Jerry ·

Baie goed. Waak egter daarteen om op hoorse ongetoetste aannames te maak oor instellings waar jy nog nie was nie en gesagsfigure wie jy nog nie ontmoet het nie. Jy kan slegs met geloofwaardigheid en gesag praat indien jy “been there and done that”. Soos dit wat jy op skool geleer en ervaar het. Enige iets buite daardie grense is n beskeie opinie wat sal verander oor die verloop van tyd. Onthou altyd dat n saak net soos n muntstuk twee kante het en dat die waarheid nie noodwendig by enige van die twee kante gevind sal word nie. Hoekom is respek vir gesag belangrik? want dit kweek wedersydse respek. Respekteer die tien gebooie en die tien gebooie respekteer jou, dit is so eenvoudig soos dit! Gelowiges met insig sal nie die jeug vir hulle ondergang blameer nie, wel vir hulle ideologiese uitkyk op die lewe en hoe aanpasbaar daardie ideologiee is in n vinnig veranderde samelewing. Sterkte Mihan, hoe weet jy dat jy die regte leier kies met die regte kritiese ideologie? Op jou kniee, dis hoe!

Charles ·

Baie goed, ons het beslis MEER kritiese jong denkers soos die skrywer nodig wat nie bang is om hul mening te lug al as dit dan ook al hoe uit lyn uit met die verraderlike en skynheilige hoofstroomdenke; en wat hul argumente op ‘n logiese en beredeneerde wyse kan uiteensit.

Bravo!!!

Dj ·

Altyd as ek sien ń instansie sê:’We embrace diversity’ wil ek daarby voeg:’but not of opinion’
Dit is deesdae in Suid Afrika ongelukkig dikwels waar.

Jerry ·

n Kritiese denker bevraagteken nie net verraderlike/skynheilige hoofstroomdenke nie, maar ook verraderlike/skynheilige motiewe van alternatiewe stroomdenke, inteendeel bevraagteken n waardige kritiese denker alle mensgemaakte en uitgedinkte ideologiee se ismes. Mense het n geneigdheid om ismes slaafs na te volg, of dit nou reg is of nie en dit is waar die waardige kritiese denker hom of haar van gewone denkers onderskei. n Waardige kritiese denker staan krities teenoor enige ideologiese denkers wie die regte dinge verkeerd doen of wie die regte idees voorhou, maar die teenoorgestelde idees implementeer! Is dit reg om vir geregtigheid te “veg” in die howe? Ja dit is reg, maar wanneer daar ideologiese wraakgierige bymotiewe is, is dit nie meer suiwer vir geregtigheid nie en dan is dit verkeerd! Is dit reg om te “veg” vir die Afrikaner se regte? Ja dit is reg. maar dit is verkeerd wanneer dit net ingeskrewe Afrikaner lede is, omrede dit dan nie suiwer vir die Afrikaner is nie, maar slegs vir ingeskrewe lede se Afrikanerregte. Indien jy begin om die aanname te maak dat jy namens die Afrikaner “veg” en jou ideologiese bymotief is dat die Afrikaner een of ander tyd vir jou gaan moet “veg” om jou sakeryk te beskerm, dan is dit skynheilig en verraderlik en dus verkeerd! Is dit geregverdig om die onreg van die verlede teen swartmense reg te stel deur teen witmense te diskrimineer? Nee, om kwaad met kwaad te vergeld is ook n onreg “the easy way out”. Sterkte Charlie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.