Die reis na ware universiteitswese

bcom graad studeer akademia

Argieffoto.

Deur dr. Morné Diedericks

Dit is ʼn voorreg om ʼn universiteit van die begin af te bou. As ons egter praat van ‘n universiteit is baie belangrik dat almal verstaan wat ʼn universiteit is. As ons bietjie dieper delf sien ons dat dit nie so eenvoudig is om ʼn universiteit te definieer nie. Clark Kerr tref in sy boek The uses of the University ʼn duidelike onderskeid tussen universiteite en multiversiteite.

Volgens Kerr is ʼn universiteit ʼn gemeenskapsinstelling wat behoort aan ʼn bepaalde gemeenskap en wat poog om die kultuur, geloof en taal van die gemeenskap op wetenskaplike wyse te ontwikkel. ʼn Universiteit kyk vanuit dié visie van die gemeenskap na die diversiteit van die skepping, met die doel om sy studente te vorm om as volwassenes in die samelewing ʼn bydrae te lewer.

In Suid-Afrika het tradisionele universiteite ná 1994 begin oorskakel na wat Kerr na verwys as multiversiteite. ʼn multiversiteit kan byvoorbeeld nie ‘n gemeenskapsuniversiteit wees nie, omdat ʼn multiversiteit tot diens moet wees van ʼn verskeidenheid gemeenskappe en sodoende poog om alle gemeenskappe, tale, kulture en gelowe te akkommodeer. Om hierdie verskeidenheid binne een instelling te akkommodeer is egter onmoontlik, daarom kan ʼn multiversiteit nie anders as om verskeidenheid van gemeenskappe, kulture, tale en gelowe in die instelling te onderdruk nie.

Met Suid-Afrika se groot hoeveelheid multiversiteite, maar gebrek aan ware universiteite, is dit noodsaaklik dat daar ook oorsee gekyk word na ware universiteitswese. Aros het in 2017 begin met die Aros Internasionaal-projek, wat juis ten doel het om vergelykings tussen ware universiteite wêreldwyd te doen. Die eerste aksie het reeds in April 2017 plaasgevind toe bestuurspersoneel van Aros verskeie universiteite in Noord-Amerika besoek het.

In Maart 2018 skop Aros Internasionaal weer af met ʼn besoek aan top universiteite in Europa wat onder andere ook universiteite in Nederland en Finland insluit. Tydens hierdie besoek sal daar veral op die volgende afdelings gekonsentreer word, en sal bevindinge met die inligting verkry uit die Amerikaanse toer, vergelyk word:

  • akademiese administrasie
  • finansiële bestuur
  • navorsing en institusionele kwaliteit
  • studente ondersteuning
  • personeelontwikkeling
  • biblioteek
  • fasiliteite

Deel van Aros Internasionaal se besoek aan Finland sal ook ʼn ondersoek na die uitnemende Finse onderwysstelsel insluit, met die oog op moontlike aanpassings van Aros se onderwyskurrikulums. Studenteuitruilprogramme tussen Aros en die internasionale instellings sal ook bespreek word. Om meer uit te vind oor hierdie opwindende reis wat voorlê, die interessante plekke wat besoek word, en die bevindinge wat gemaak word, volg gerus die verloop en terugvoer van die besoek op Aros se Facebookblad.

  • Dr. Morne Diedericks is die akademiese hoof van Aros.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JC ·

Wonderlik!
Die ontwikkelings maak mens baie opgewonde. Mooi so, hou so aan!

Helena ·

Kan ons nie met Afrikaanse universiteite oor die internet begin nie, ek is seker dat daar van julle is wat bewus is van die “universiteite” wat op die internet beskikbaar is (kan nou dink aan een vir fotografie (Shaw iets kan nou nie op die naam kom nie) ek het die eerste deel van die kursus gedoen jy kan vrae vra en jy kry ook dadelik ‘n antwoord dit is maar een, dit sal jou geld kos onder andere internet fooie ek kon juis nie aangaan nie want hulle wou betaling in $ he en dit was te veel vir my sak, maar as ons na universteite kan gaan waar Afrikaanssprekendes nie welkom is nie kan van ons professors seker so iets begin. As jy klasgelde by universiteite kan betaal sal ons seker die gelde vir die diens ook bekostig
Se maar net

Disselboom ·

Die artikel bekyk die universiteitsvraagstuk te veel vanuit ‘n blote sosialistiese hoek naamlik dat daar instellings van hoogstaande en gekonsentreerde (saamgetrekte) akademiese ingesteldheid moet wees. Sodra die begrip “universiteit” as gemeenskapsinstelling beskryf word, word dit maar net weer verlaag tot maar iets vir almal, pleks daarvan om dit te verstaan as die noodsaaklike plek van hoogstaande akademie wat juis nie vir almal beskore is nie. Is AROS ‘n universiteit of ‘n instelling vir die massas?

Casper Labuschagne ·

Die konsep van ‘n universiteit kom uit die middeleeue uit. Miskien moet ons die hele konsep bedink en nie eerder mense voorberei vir die beroepe waarna ‘n aanvraag bestaan in die handelswêreld en boonop die hulpmiddele van die hedendaagse tegnologie gebruik. Ek het die week op ‘n ander berig op Maroelamedia oor Gratis Hoër Onderrig meer omvattend oor my idee ‘n kommentaar gelewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.