Die resep vir leierskap en hoe vaar president Cyril Ramaphosa?

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Ná ses maande van inperkwroeging, lê daar waarskynlik ’n nóg groter uitdaging voor om die stotterende ekonomie in ’n hoër rat te kry. Daarvoor sal leierskap, soos nog nooit vantevore nie, nodig wees.

President Cyril Ramaphosa het met sy onlangse aankondiging dat die inperkingsvlak van twee na een verlaag word, ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om die moue op te rol en te help herbou aan die ekonomie. Dis ironies dat hy in die meer as twee jaar van sy presidentskap werklik probeer het om deur, byvoorbeeld, werk- en beleggingsberade, die ekonomie te laat spoed optel. Maar sedert Maart was dit juis hý wat al daardie moeisame werk onklaar gemaak het met buitensporige en langdurende strawwe inperkings.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die ekonomie ’n rekordinsinking beleef van 16% van die eerste na die tweede kwartaal van die jaar. Dit blyk dat die regering die gevaar van die koronavirus totaal oorskat het. ’n Dodetal van tot 350 000 is beraam. Dis nou rondom 16 000. Die streng inperkings het al daartoe gelei dat minstens drie miljoen mense hul werk verloor het. Die kollektiewe skade aan die ekonomie is buite verhouding groot. President Ramaphosa het ons die gemors ingelei en hy sal ons daaruit moet lei.

Het hy die leierskapeienskappe om dit te doen?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Daar was ’n tyd toe ek gedink het Ramaphosa is seker een van die staatshoofde wat die beste toegerus is vir die pos. Hy het oor ’n wye front blootstelling gehad wat hom begrip gegee het vir die tersaaklike sektore. Ramaphosa was betrokke by studentepolitiek, hy was in die tronk vir politieke aktivisme, die stigter en leier van die nasionale unie van mynwerkers (Num), hy het massiewe stakings gereël, leier geword van Cosatu, lid van die UDF – wat beskou is as die “binnelandse vleuel” van die ANC – daarna sekretaris-generaal van die ANC, hoofonderhandelaar van die ANC by Kodesa en voorsitter van die grondwetskrywende vergadering. Hy het toe die politiek verlaat en ’n suksesvolle sakeman geword.

In 2012 keer hy terug na die politiek as adjunkpresident van die ANC en twee jaar later as adjunkpresident van die land. In 2017 word hy verkies tot president van die ANC en in 2018 tot president ná die bedanking van Jacob Zuma. Geen ander persoon in die Suid-Afrikaanse politiek kan spog met so ’n wye CV nie. Verder het ek ’n soort persoonlike band met hom omdat ons op dieselfde dag, maand en jaar gebore is onder die sterk sterretekens van die skerpioen en die Chinese draak.

Onlangs kyk ek na ’n webinaar van dr. Brand Pretorius oor leierskap. Hy was in ’n stadium die hoof van Toyota in Suid-Afrika en later die bestuurshoof van die sukkelende McCarthy-motorgroep wat hy van ondergang en die verlies van duisende poste gered het. Hy is ook op ’n keer in ’n stemming aangewys as die beste baas in Suid-Afrika. Terwyl ek so na hom geluister het, het dit my getref dat ’n mens sy bondige uiteensetting van leierskap kan gebruik as ’n templet om te bepaal of iemand ’n doeltreffende leier is.

Hier is sy tien punte van wat nodig is vir so ’n leier:

  1. Leier oor jouself

As jy nie beheer het oor jouself nie, sal jy dit nie met ander kan doen nie. Jy moet ’n duidelike doel hê met jou lewe en volle vertroue in jouself om dit te bereik. Jy moet emosionele en morele intelligensie hê. Pas selfdissipline toe. Doen wat jy moet, al hou jy nie daarvan nie.

  1. Leierskap vs. Bestuur

Tref die regte balans tussen leierskap en bestuur.

Leierskap gaan oor doel en sin. Die moed om uitdagings aan te pak, mense te motiveer en te inspireer. Bestuur gaan oor goeie beplanning, organisering en doeltreffende uitvoering. Meeste mense word oorbestuur en ondergelei. Dis leierskap wat wonderresultate lewer.

  1. Positiewe, duidelike visie

Weet met sekerheid waarheen jy en jou instelling op pad is. ’n Doeltreffende leier laat hom nie afskrik deur die toekoms nie. Ontwikkel ’n strategie om die visie te verwesenlik. Almal moet daarin deel.

  1. Die dienende leier

Om te lei is om te dien. Outokratiese optrede is die verterende vyand van energie en motivering. Dit behaal hoogstens trae voldoening. Met dienende leierskap kom jy veel verder. Jy kan kragtig wees sonder om ’n boelie te wees. Jy kan ferm wees en tog regverdig, jy kan sagkens te werk gaan en tog vreesloos wees, jy kan resultate eis sonder om genadeloos te wees, welwillend wees sonder om swak voor te kom.  Leiers moet lei en nie mislei nie. Onderdruk die ego, maar bou karakter. Stel die waarheid, respek en diens bo mag, eiebelang, posisie en selfverryking. As jy omgee vir mense en bereid is om hulle te dien, neem jy jou werksverhouding na ’n hoër vlak. Dan sal jy vind dat mense vrywillig en met oorgawe hul energie, intelligensie, bydrae en entoesiasme sal aanbied.

  1. Etiese leierskap

Waardes moet jou hele wese rig. ’n Doeltreffende leier moet ’n eie gedragskode hê. Jy moet ’n onberispelike voorbeeld stel van integriteit. Waardes soos konsekwentheid, deernis, regverdigheid, openheid, deursigtigheid en respek vir alle mense moet deel wees van jou DNS. Leierskap gaan nie oor charisma nie, maar karakter; nie oor persoonlikheid nie, maar beginsels; dis nie hoe jy optree nie, maar hoe jy in wese is. ’n Leier wen die vertroue van sy mense. Sonder vertroue is daar nie geloofwaardigheid nie, en dáársonder geen invloed nie en dáársonder geen leierskap nie.

  1. Lei met passie, energie en entoesiasme.

Die energie moet uit jou straal. Dit moet soos elektrisiteit deur jou onderneming gelei. Jy moet die vonk gee vir elke dag. Personeel moet bemagtig voel. Betrokke. Skep ’n atmosfeer waar elk se menswees gedy. Waar elk sy potensiaal kan bereik. Motiveer mense. Inspireer hulle. Vertrou hulle. Produktiwiteit en resultate sal volg.

  1. Omhels verandering en transformasie

Die Covid-19-pandemie het die vierde nywerheidsrewolusie (4NR) skielik momentum gegee. Dit op sigself vereis reeds transformasie oor ’n wye front en nuwe denke oor prestasie. Die werkplek en ons werkswyse vereis ingrypende verandering en aanpassing.

  1. Vestig ’n kultuur van hoë werkverrigting

Leierskap word op die ou end nie bepaal deur bloot die eienskappe van die leier nie, maar deur sy/haar vermoë om werkers se vrywillige samewerking te kry om die werk gedoen te kry. Al die toegewyde moeite moet lei tot resultate.

  1. Wees sigbaar en toeganklik

Niks is so demotiverend as ’n afwesige, ontoeganklike leier nie. Daar is geen alternatief vir die mag van teenwoordigheid nie. Jou kantoor is daar waar jou voete jou neem by die werkplek. Bemeester die kuns van kommunikasie. Moenie bloot net inligting oordra nie – maak die interaksie betekenisvol. Moedig mense aan.

  1. Kweek hoop

Hoop is deesdae ’n skaars ding in Suid-Afrika. Jy kan net hoop gee as jyself hoop het. Neem die inisiatief, maak planne, kla minder, raak meer betrokke. Inspireer mense om meer te droom, meer te leer en meer te word.

Ek het met die instemming van dr. Brand Pretorius ’n profielvorm saamgestel wat gebruik kan word om leierskap te “meet”. Hier is my taksering van president Cyril Ramaphosa (waaraan dr. Pretorius geen aandeel het nie).

Die leierskap profielvorm

Persoon: President Cyril Ramaphosa

LeierskapeienskapPuntetoekenning
1.      Leierskap oor self

 

7
2.      Leierskap vs. Bestuur

 

4
3.      Positiewe, duidelike visie

 

6
4.      Dienende leier

 

6
5.      Etiese leier

 

5
6.      Lei met passie, energie en entoesiasme

 

6
7.      Omhels verandering en transformasie

 

5
8.      Vestig n kultuur van hoë werkverrigting

 

5
9.      Wees sigbaar en toeganklik

 

6
10.   Kweek hoop

 

6

Totaal: 56

Motivering:

  1. Leierskap oor self (7)

Dis waarskynlik president Ramaphosa se beste eienskap. Hy het getoon dat hy onder erge provokasie sy “cool” kan hou. Die EFF het al vele kere sy geduld tot die uiterste in die parlement beproef deur hom te verhinder om te praat. Tog het hy beheer oor homself behou, rustig gewag en dan sy toespraak gehou. Hy het dus ’n goeie dosis emosionele intelligensie, maar minder morele intelligensie. ’n Netwerk van patronaatskap en korrupsie is gevestig in die tyd toe hy visepresident was. Hy moes minstens ten dele daarvan geweet het. Ook in sy termyn as president kon hy al strenger polities opgetree het teenoor kollegas wat onteenseglik by wandade betrokke was. Sy beginsels kom net na vore as dit polities veilig is om dit te doen.

  1. Leierskap vs bestuur (4)

Hier vaar hy swakkerig hoofsaaklik weens sy gebrek aan leierskap en bestuur tydens die afgelope ses maande se inperkings weens die Covid-19-pandemie. Sy eerste toespraak aan die einde van Maart was goed, maar daarna het hy nie weer die verbeelding aangegryp nie. Die regering het die bedreiging van die virus oorspeel en in die proses die ekonomie bykans verwoes – met baie ernstige gevolge vir miljoene werkloses en toekomstige stabiliteit. Daarby was daar duidelik nie behoorlike bestuur van die reddingspakkette nie en het massiewe korrupsie onder sy toesig plaasgevind met die toekenning van kontrakte. Van die inperkingsreëls was eenvoudig net belaglik terwyl optrede deur die veiligheidsmagte kragdadig en onsekwent was. Intussen het die land stilgestaan en het die regering met geen plan na vore gekom om die ekonomie te red nie.

  1. Positiewe duidelike visie (6)

Die ironie is dat president Ramaphosa ’n duidelike visie het, maar dit is ná 9 jaar nog nie toegepas nie. Ramaphosa was die hoofargitek van die Nasionale Beplanningskommissie se omvattende verslag wat in 1911 gelewer is. Daarin word in detail uiteengesit wat gedoen moet word om die land vooruitstrewend te maak. Dit lê en stof vergaar omdat die ANC se vennote, Cosatu en die Kommuniste Party meen dis te kapitalisties.

  1. Die dienende leier (6)

Ramaphosa is nie ’n outokraat nie. Die vinger word juis na hom gewys dat hy nie kragdadig genoeg optree teen korrupsie nie.

  1. ’n Etiese leier (5)

Dit wil voorkom of Ramaphosa ’n interne gedragskode het, maar weer eens word hy gepootjie weens sy gebrek aan optrede in sy party en in die regering om korrupsie en ander wandade uit te wys en te veroordeel.

  1. Leier met passie, energie en entoesiasme (6)

Hy kan heelwat meer passie en energie vertoon. Om toesprake voor te lees in ’n droë, eentonige stem, gaan niemand entoesiasties maak nie. Hy kan miskien die ou Ramaphosa afstof wat in die sewentigerjare met drif groot mynboustakings gereël het. Hy kan nou daardie energie kanaliseer om nasiebou en ontwikkeling te bevorder.

  1. Omhels verandering en transformasie (5)

Verandering en transformasie sal heeltemal iets anders beteken as dit uit ’n linker- of regterhoek gesien word. Links behels die grootskaalse en strenger toepassing van swart bemagtiging en die oordra van grond na swart mense. Van regs af, sal geredeneer word swart bemagtiging is rassisties en moet afgeskaf word. Ramaphosa sal waarskynlik nie een van die kampe tevrede stel nie, hoewel hy al gepraat het van transformasie wat nou met erns gepak gaan word.

  1. Hoë werkverrigting (5)

Dis waarskynlik een van die grootste probleme waarmee die land in die volgende klompie jare gaan worstel. Vakbonde bly hoër lone eis terwyl die land dit glad nie kan bekostig nie. Daar is net een manier om uit die skuldgat te kom, en dit is om meer te produseer as om te verbruik. En dit behels harde werk. President Ramaphosa sal die een of ander tyd sy rug moet styfmaak en moeilike, maar noodsaaklike stappe doen. Soos om ’n maatskaplike verdrag aan te kondig waarin alle sektore bereid is om opofferings te maak oor die volgende drie tot vier jaar.

  1. Sigbaar en toeganklik (6)

Van wat ’n mens verneem, is die president baie bedrywig agter die skerms en dáár is hy toeganklik vir baie sektore, maar hy is beslis nie so sigbaar nie. Hy sal die projek om die ekonomie weer aan die gang te kry, moet dryf in die openbaar. Dit sal energie en lang ure behels, maar kom ons erken maar: wie anders is daar wat dit sal kan doen?

  1. Leier van hoop (6)

Ramaphosa behoort meer realisties hoop te skep en aktief leiding te gee om die elemente van hoop uit te spel.

President Ramaphosa het in sy toespraak oor die afskaling van inperkings van vlak twee na een melding gemaak van vordering by Nedlac om ’n maatskaplike kompak vir ekonomiese herstel op te stel. Volgens hom sal die kabinet binne weke ’n ekonomiese rekonstruksie en herstelplan finaliseer. Dit bied aan hom die geleentheid om sterker leiding en bestuur toe te pas en eties te regeer.

  • Lesers kan gerus hul eie taksering van president Ramaphosa gee. Of jy kan jou baas by die werkplek (privaat en ongesiens) toets aan die tien punte. Of, as jy self ’n leier is, kan jy toets hoe jý vaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Persheks Adri ·

Hy’s nie in staat om ons uit die gemors te kry nie. Hy word voor gesê wat om te doen, bou beslis nie nasie met ons nie, want ons pas nêrens in nie! Dit gaan als oor magsmisbruik en motiveer ons beslis nie. Dubbele standaarde en reëls vir elke ras. Eish Cyril you and your people huh?

#Tsek ANC tsek!

Human ·

Freek doen ‘n leierskap profiel van die huidige Amerikaanse President,dan kan ons sien hoe hy vaar gemeet aan die tien punte.

Human ·

Bly ek kon jou dag maak pasop net dat jy nie deur val nie. Loop met gestrekte arms dit sal help.

Manie ·

Ek dink totaal oor sy werklike waarde. Nader na 3 en 4 waardes wat hom om en by ‘n 40% kan gee. Wat het hy nog in die afgelope jare gedoen wat inpak gemaak het op watter vlak. My insiens regtig niks as leier op al die vlakke waar hy ‘n rol gespeel het? Ons moet oppas dat ons te sag raak met woordjies? Wees liewers reguit en vat die bul by die horings.

JohanR ·

Hoekom is die punte soe hoog? Al die punte is iewers hier in die middel….’n hoe van 7 en laag van 4. You are just to generous Freek! Gaan liewer straat toe met ‘n mic en vra Suid Afrikaners wat hulle gedagtes is oor die ou. As jy by my kom met die mic gaan daar ‘n paar sterk woorde val .

Vrijburger ·

Die eenvoudigste maatstaf vir die meet van leierskap is om na die uitkoms of resultaat wat die leierskap te weeg bring te kyk. Jammer Ramaphosa kry ‘n druip punt.

Heinrich ·

Punte toegeken is heeltemal te hoog. Ek herken hom as die president van die ANC, nie as my president nie, sy party en sy anti-blanke sentiment is bewys hiervan. Hy regeer vir die die ANC, nie vir alle mense van die land nie.
Ek weier om te glo hy het geen mag of sê gehad tydens die Zuma bestelingstyd nie, hy het gekies om niks daaraan te doen nie vir politieke ambisie.
As leier van die ANC met hulle voltydse ge-struggle en revolusie is daar geen toekomsvisie nie want die verouderde kommunistiese stelsel wat nêrens in die wêreld kon slaag nie word nog steeds kortsigtig aangehang. Hulle weiering om te erken dat Zimbabwe ‘n totale mislukte staat is en steeds dieselfde beleidsrigting oor grond wat gevolg word score nul op intelligensie.
As leier van hoop kry hy ook nul, want sy party het alles hier in die grond in bestuur, net ‘n Wonderwerk sal ons hier uit kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.