Die revolusionêre plofkrag van ongelykheid en grondbesit

Foto: Lukas/Pexels.com

Wanneer ’n mens praat van die onteiening van grond sonder vergoeding, waarvan praat jy dan eintlik? As jy ’n diepgaande gesprek daaroor voer, kom jy onherroeplik uit by dinge soos die moraliteit van besit, regverdigheid en onregverdigheid, die reg van almal om billike toegang tot die gemeenskap se produksiemiddele (waarvan grond een is) te hê.

In die 19de eeu het denkers soos Karl Marx na hul omgewing gekyk en vasgestel dat besit in die algemeen uiters ongelyk verdeel was. Sommige mense was skatryk, ander het amper (of heeltemal) van honger gekrepeer.

Marx het dit toegeskryf aan die ongelyke verdeling van toegang tot die produksiemiddele. Rykes monopoliseer daardie produksiemiddele vir hulself en keer dat armes behoorlike toegang kry. Dus “steel” hulle hul rykdom van die armes.

Gevolglik, het Marx gemeen, lê private besit aan die wortel van die kwaad. Laat die gemeenskap – eintlik, die staat – alle produksiemiddele besit en dit regverdig verdeel.

Neem van elkeen ooreenkomstig sy vermoë en deel uit aan almal ooreenkomstig hul behoefte, was sy bekende leuse.

Dis iets wat in die praktyk byna altyd op totalitêre diktature uitgeloop het.

Ten diepste is dit eintlik ook maar wat Julius Malema (en deesdae selfs die ANC) sê. Die wittes besit byna al die grond in die land, word beweer, iets wat hulle slegs kon regkry deur die grond van die swartes te steel.

’n Geliefkoosde leuse wat ek al meermale in dié verband gehoor het, lui: “Toe Jan van Riebeeck aankom, het die wittes die Bybel gehad en ons die grond. Nou het óns die Bybel en húlle die grond.”

Malema en die ANC se oplossing is om grond van die rykes te onteien en aan die grondlose armes uit te deel. Ewe vroom word gesê dat swart rykes se grond ook gevat sal word, maar lesers sal my vergewe as ek maar sinies daaroor lag.

Ten diepste is die vraag of staatsinmenging in die ekonomie verstandig is, en indien wel, hoe diep daardie inmenging mag gaan. Haas niemand wat iéts van ekonomiese sake weet, meen nog die staat mag glad nie inmeng nie. Selfs die hef van belasting of staatsbesteding aan die bou van infrastruktuur beteken immers al staatsinmenging.

Die eintlike vraag is: hoe diep?

Moraliteit (in die sin van regverdigheid) en verstandigheid is hier twee kante van dieselfde munt. Dit is eenvoudig verstandig om stabiliteit in die breë gemeenskap te bevorder. As ’n klein groepie (byna) alles besit en die grootste groep (feitlik) niks, bring dit onherroeplik ’n groeiende polarisasie mee wat vroeër of later tot uitbarsting gaan kom.

In die loop van die 19de en 20ste eeu het Westerse regerings dié waarheid in voldoende mate ingesien deur beleidsrigtings te volg wat die skrynendste verskille tussen arm en ryk genoeg beperk het om die ergste polarisasie te keer. Werkers het allerlei regte gekry, selfs die onderlaag van die bevolking is deur relatief goeie onderwys bemagtig, en verreweg die meeste mense het van uiters arm gevorder na ’n middelklasbestaan waar hulle in elk geval nie meer onseker was of hulle vanaand ’n bord kos gaan hê nie.

In Europa en Amerika besit verreweg die meeste mense televisiestelle, stofsuiers en yskaste.

Dit was baie ver van Marx se radikale benadering, maar het wel gemaak dat die grootste deel van die Weste kommunistiese diktature kon vryspring. Dit beteken nie dat alle probleme wat met ongelyke toegang tot die produksiemiddele gepaard gaan, opgelos is nie, maar ’n gewelddadige arbeidersrevolusie van die soort wat Marx en Wladimir Lenin voorgestaan het, is tans ondenkbaar.

Maar in Suid-Afrika bestaan daardie potensiaal steeds. In ons land is rykdom besonder ongelyk verdeel.

Nou moet ’n mens dit in behoorlike perspektief sien. Arm en ryk val in afnemende mate saam met swart en wit. In die breë is wittes gemiddeld steeds aansienlik welvarender as swartes, maar die inkomsteverskille onder die swartes self is van die grootste ter wêreld.

Immers, iemand soos pres. Cyril Ramaphosa is een van die rykste mense in die land. Oudpres. Jacob Zuma het – weliswaar deur korrupsie en bedrog – ook skatryk geword, maar dis weer ’n ander verhaal; die punt is dat die yslike verskille tussen ryk en arm ’n polariserende splytswam vorm wat dit moeilik maak om duursame stabiliteit te handhaaf.

Grondbesit is deel hiervan.

Nou moet ook dít met behoorlike perspektief bekyk word. In 2014 het ’n grondoudit aangedui dat die staat sowat 26 miljoen ha (22% van die totaal) besit, en dat 14% dáárvan in ’n baie kort tyd vir grondhervorming aangewend kan word.

Die ekonoom Mike Schüssler het luidens berigte laas week bereken dat ’n volle 56% van die waarde van huise aan swartes behoort en slegs 33% aan wittes. Bowendien besit 22% van die swartes en minder as 10% van die wittes tweede huise.

Bowendien wys hy daarop dat sowat 95% van die swartes wat kon kies of hulle grond of geld wil hê, geld verkies het.

Waarom hamer die EFF en die ANC dan so sterk op grondonteiening sonder vergoeding? Eenvoudig omdat dit simbolies is vir die onreg wat die swartes weens kolonialisme en apartheid voel.

In die woordjie “voel” sit subjektiviteit opgesluit. Die objektiewe situasie, soos Schüssler se syfers aandui, is baie meer genuanseerd.

Tog is die plofkrag van die kwessie taamlik kragtig. Dit kon gesien word toe tientalle plakkers eenvoudig erwe vir hulself op private grond by Midrand afgebaken en pondokkies begin oprig het.

Een plakker het aan ’n koerant gesê: “Ek het ’n vrou en ’n kind. Ek kry ’n klein salaris, hoe moet ek voor kom? Ek wil nie langer wag nie, want as hulle dit nou weer in die parlement gaan bespreek, sal hulle van ons vergeet en sal ons nog 20 jaar wag vir ’n stuk grond.”

Let wel, dit gaan hier nie oor die objektiewe waarheid nie. Dit gaan oor hoe die persoon die situasie erváár – en dít is gevaarlik.

Dus: Slegs ’n stiksienige sal kan volhou dat die grondkwessie sommer ’n klomp onsin is en dat die besetters eenvoudig ’n hardhandige les geleer moet word en basta.

Malema sien dis ’n doeltreffende manier om stemme te trek en sy eie mag te vergroot. Ramaphosa word deur die sterk linkervleuel in die ANC in ’n blik gedruk.

As ’n mens die revolusionêre potensiaal van dié saak wil keer, sal jy ’n regverdiger stelsel van grondbesit moet ontwikkel wat die wind uit die seile van die populiste neem.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
V

Dankie Mnr Scholtz vir die goeie artikel. Kan u asb ook ‘n opvolg artikel skryf oor die gevolge van grond onteiening as dit op die wetboeke geratifiseer word, en die vermoë van die gewapende magte van SA, om die reg van onteiening te implimenteer?

Joh. 3:16

Leopold, goeie berig. Ons het groot geword met goeie begrip van Kommunisme. Uiteindelik lyk dit vir almal binne en buite SA soos ‘n wit-swart konflik. So kies witted vir witted en swartes vir swartes; en elkeen kry sy spring mielies reg vir die finale uitslag. Min besef dat Kommunisme is ‘n ekonomiese kanker waar niemand wen nie, behalwe staatsamptenare. Blank en swart gaan verloor: eiendom, pensioene, gesondheid sorg, onderwys en polisiëring. Ons almal verloor oor ons eie onkunde. En die onkunde word aan geblaas deur ‘n hardnekkige subjektiviteit waar baie glo hulle sal hulle eie regte kan beskerm: Die resultaat… Lees meer »

Jerry

CR het n goeie idee van n regverdige stelsel wat nie die regte van Suid Afrikaners wat grond besit en die wat nie grond besit sal misken nie. Dit blyk so te wees met die uitsprake wat hy tot dusver gemaak het sowel as insette en deelname deur alle Suid Afrikaners aan die komitees wat verskillende opsies moet ondersoek en vind tov hoe grondonteiening sonder vergoeding toegepas moet word sonder om enige individu of groep se regte te misken, voedselsekerheid te verseker, ekonomiese groei en werkskepping te verseker. CR sal beslis nie n onregverdige stelsel wat bogenoemde in gevaar stel… Lees meer »

CG

Leopold, met respek. Jy skryf “… dit gaan nie oor die objektiewe waarheid nie. Dit gaan oor hoe die persoon die situasie ervaar…” (Heeltemal reg!) Tog kom jy tot die gevolgtrekking dat “‘n meer regverdiger stelsel van grondbesit moet ontwikkel wat die wind uit die seile van die populis neem.” Regtig? Te luister aan die blatante leuens en opruiende rassistiese uitsprake oor grond, dink jy werklik “die objektiewe waarheid” sal die “wind uit die seile van die populis neem”? Jy droom! Wat nodig is dat ons nie self begin twyfel oor dit wat ons self bereik het – of dit… Lees meer »

Casper Labuschagne

In die vorige eeu het marxiste van klasseverskille gepraat hoe die een klas die ander uitbuit. Daar bestaan nog nie ‘n goeie term vir ons nuwe klas marxiste wat orals opduik nie, so kom ek gebruik akademiese marxiste want die westerse akademiese wêreld vorm die kern van marxisme na die verval van die Sowjet Unie. Waar voorheen die term klas gebruik is, verskyn nou uitsluitlik die term ongelykheid. Ongelykheid word immer aangebied as iets wat sal veroorsaak dat die wat nie het nie in opstand sal kom teen die wat wel het. Maar hoe om dit reg te stel? Walter… Lees meer »