Die revolusionêre plofkrag van ongelykheid en grondbesit

Foto: Lukas/Pexels.com

Wanneer ’n mens praat van die onteiening van grond sonder vergoeding, waarvan praat jy dan eintlik? As jy ’n diepgaande gesprek daaroor voer, kom jy onherroeplik uit by dinge soos die moraliteit van besit, regverdigheid en onregverdigheid, die reg van almal om billike toegang tot die gemeenskap se produksiemiddele (waarvan grond een is) te hê.

In die 19de eeu het denkers soos Karl Marx na hul omgewing gekyk en vasgestel dat besit in die algemeen uiters ongelyk verdeel was. Sommige mense was skatryk, ander het amper (of heeltemal) van honger gekrepeer.

Marx het dit toegeskryf aan die ongelyke verdeling van toegang tot die produksiemiddele. Rykes monopoliseer daardie produksiemiddele vir hulself en keer dat armes behoorlike toegang kry. Dus “steel” hulle hul rykdom van die armes.

Gevolglik, het Marx gemeen, lê private besit aan die wortel van die kwaad. Laat die gemeenskap – eintlik, die staat – alle produksiemiddele besit en dit regverdig verdeel.

Neem van elkeen ooreenkomstig sy vermoë en deel uit aan almal ooreenkomstig hul behoefte, was sy bekende leuse.

Dis iets wat in die praktyk byna altyd op totalitêre diktature uitgeloop het.

Ten diepste is dit eintlik ook maar wat Julius Malema (en deesdae selfs die ANC) sê. Die wittes besit byna al die grond in die land, word beweer, iets wat hulle slegs kon regkry deur die grond van die swartes te steel.

’n Geliefkoosde leuse wat ek al meermale in dié verband gehoor het, lui: “Toe Jan van Riebeeck aankom, het die wittes die Bybel gehad en ons die grond. Nou het óns die Bybel en húlle die grond.”

Malema en die ANC se oplossing is om grond van die rykes te onteien en aan die grondlose armes uit te deel. Ewe vroom word gesê dat swart rykes se grond ook gevat sal word, maar lesers sal my vergewe as ek maar sinies daaroor lag.

Ten diepste is die vraag of staatsinmenging in die ekonomie verstandig is, en indien wel, hoe diep daardie inmenging mag gaan. Haas niemand wat iéts van ekonomiese sake weet, meen nog die staat mag glad nie inmeng nie. Selfs die hef van belasting of staatsbesteding aan die bou van infrastruktuur beteken immers al staatsinmenging.

Die eintlike vraag is: hoe diep?

Moraliteit (in die sin van regverdigheid) en verstandigheid is hier twee kante van dieselfde munt. Dit is eenvoudig verstandig om stabiliteit in die breë gemeenskap te bevorder. As ’n klein groepie (byna) alles besit en die grootste groep (feitlik) niks, bring dit onherroeplik ’n groeiende polarisasie mee wat vroeër of later tot uitbarsting gaan kom.

In die loop van die 19de en 20ste eeu het Westerse regerings dié waarheid in voldoende mate ingesien deur beleidsrigtings te volg wat die skrynendste verskille tussen arm en ryk genoeg beperk het om die ergste polarisasie te keer. Werkers het allerlei regte gekry, selfs die onderlaag van die bevolking is deur relatief goeie onderwys bemagtig, en verreweg die meeste mense het van uiters arm gevorder na ’n middelklasbestaan waar hulle in elk geval nie meer onseker was of hulle vanaand ’n bord kos gaan hê nie.

In Europa en Amerika besit verreweg die meeste mense televisiestelle, stofsuiers en yskaste.

Dit was baie ver van Marx se radikale benadering, maar het wel gemaak dat die grootste deel van die Weste kommunistiese diktature kon vryspring. Dit beteken nie dat alle probleme wat met ongelyke toegang tot die produksiemiddele gepaard gaan, opgelos is nie, maar ’n gewelddadige arbeidersrevolusie van die soort wat Marx en Wladimir Lenin voorgestaan het, is tans ondenkbaar.

Maar in Suid-Afrika bestaan daardie potensiaal steeds. In ons land is rykdom besonder ongelyk verdeel.

Nou moet ’n mens dit in behoorlike perspektief sien. Arm en ryk val in afnemende mate saam met swart en wit. In die breë is wittes gemiddeld steeds aansienlik welvarender as swartes, maar die inkomsteverskille onder die swartes self is van die grootste ter wêreld.

Immers, iemand soos pres. Cyril Ramaphosa is een van die rykste mense in die land. Oudpres. Jacob Zuma het – weliswaar deur korrupsie en bedrog – ook skatryk geword, maar dis weer ’n ander verhaal; die punt is dat die yslike verskille tussen ryk en arm ’n polariserende splytswam vorm wat dit moeilik maak om duursame stabiliteit te handhaaf.

Grondbesit is deel hiervan.

Nou moet ook dít met behoorlike perspektief bekyk word. In 2014 het ’n grondoudit aangedui dat die staat sowat 26 miljoen ha (22% van die totaal) besit, en dat 14% dáárvan in ’n baie kort tyd vir grondhervorming aangewend kan word.

Die ekonoom Mike Schüssler het luidens berigte laas week bereken dat ’n volle 56% van die waarde van huise aan swartes behoort en slegs 33% aan wittes. Bowendien besit 22% van die swartes en minder as 10% van die wittes tweede huise.

Bowendien wys hy daarop dat sowat 95% van die swartes wat kon kies of hulle grond of geld wil hê, geld verkies het.

Waarom hamer die EFF en die ANC dan so sterk op grondonteiening sonder vergoeding? Eenvoudig omdat dit simbolies is vir die onreg wat die swartes weens kolonialisme en apartheid voel.

In die woordjie “voel” sit subjektiviteit opgesluit. Die objektiewe situasie, soos Schüssler se syfers aandui, is baie meer genuanseerd.

Tog is die plofkrag van die kwessie taamlik kragtig. Dit kon gesien word toe tientalle plakkers eenvoudig erwe vir hulself op private grond by Midrand afgebaken en pondokkies begin oprig het.

Een plakker het aan ’n koerant gesê: “Ek het ’n vrou en ’n kind. Ek kry ’n klein salaris, hoe moet ek voor kom? Ek wil nie langer wag nie, want as hulle dit nou weer in die parlement gaan bespreek, sal hulle van ons vergeet en sal ons nog 20 jaar wag vir ’n stuk grond.”

Let wel, dit gaan hier nie oor die objektiewe waarheid nie. Dit gaan oor hoe die persoon die situasie erváár – en dít is gevaarlik.

Dus: Slegs ’n stiksienige sal kan volhou dat die grondkwessie sommer ’n klomp onsin is en dat die besetters eenvoudig ’n hardhandige les geleer moet word en basta.

Malema sien dis ’n doeltreffende manier om stemme te trek en sy eie mag te vergroot. Ramaphosa word deur die sterk linkervleuel in die ANC in ’n blik gedruk.

As ’n mens die revolusionêre potensiaal van dié saak wil keer, sal jy ’n regverdiger stelsel van grondbesit moet ontwikkel wat die wind uit die seile van die populiste neem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

V ·

Dankie Mnr Scholtz vir die goeie artikel. Kan u asb ook ‘n opvolg artikel skryf oor die gevolge van grond onteiening as dit op die wetboeke geratifiseer word, en die vermoë van die gewapende magte van SA, om die reg van onteiening te implimenteer?

Joh. 3:16 ·

Leopold, goeie berig. Ons het groot geword met goeie begrip van Kommunisme. Uiteindelik lyk dit vir almal binne en buite SA soos ‘n wit-swart konflik. So kies witted vir witted en swartes vir swartes; en elkeen kry sy spring mielies reg vir die finale uitslag. Min besef dat Kommunisme is ‘n ekonomiese kanker waar niemand wen nie, behalwe staatsamptenare. Blank en swart gaan verloor: eiendom, pensioene, gesondheid sorg, onderwys en polisiëring. Ons almal verloor oor ons eie onkunde. En die onkunde word aan geblaas deur ‘n hardnekkige subjektiviteit waar baie glo hulle sal hulle eie regte kan beskerm: Die resultaat van mense wat ryk geword het en glo hulle is onaantasbaar en in beheer. Maar die objektiewe waarheid is besig om ons subjektiewe denke daagliks te konfronteer. Ongelukkig lei dit nou eerder na pessimisme en moedeloosheid, eerder as dat mense Kommunisme begin bestudeer en hulle geestelik voor te berei op generasies se swaarkry wat volg. Ons vat te lank om uit ons eie wysheid te ontwaak. Daar is reeds twee generasies se kinders opgevoed deur die Kommunistiese denke in ons skole.

Jerry ·

CR het n goeie idee van n regverdige stelsel wat nie die regte van Suid Afrikaners wat grond besit en die wat nie grond besit sal misken nie. Dit blyk so te wees met die uitsprake wat hy tot dusver gemaak het sowel as insette en deelname deur alle Suid Afrikaners aan die komitees wat verskillende opsies moet ondersoek en vind tov hoe grondonteiening sonder vergoeding toegepas moet word sonder om enige individu of groep se regte te misken, voedselsekerheid te verseker, ekonomiese groei en werkskepping te verseker. CR sal beslis nie n onregverdige stelsel wat bogenoemde in gevaar stel aanvaar nie. Met CR aan die stuur kan grondeienaars rustig slaap, so terloops, Roelf Meyer huldig dieselfde opinie oor CR en grondonteiening as ek!

Andrea ·

Wel, Jerry, kom ons hoop jys reg. Ek steur my nie juis aan wat Roelf Meyer dink nie, maar ek hoop julle is beide reg.

Casper Labuschagne ·

@Jerry, in breë terme kan ek jou argument insien. Maar jy mis ‘n kritieke punt en dit is dat die dors om vergelding van die populiste moet op die een of ander manier versadig word. Hoe om dit te doen? Die logiese antwoord is dat sou die geldmag ‘n gepaste bloedoffer maak, dan lê ‘n dekade se bestendigheid voor om sake te doen in SA. En die gepaste bloedoffer is voor die hand liggend: Afrikaans, minderheidsregte vir Afrikaners asook die eiendom in die hande van hoofsaaklik Afrikaner boere.

Heel onregverdiglik dra die Afrikaner reeds uitsluitlik die skuld vir Apartheid asook kolonialisme, maar dit sal ‘n gepaste bloedoffer ter wille van bestendigheid wees om juis “daardie wind uit die seile van die populiste (te) neem,” soos Leopold Scholtz dit hierbo beskryf. En sou jy nie met my saamstem nie, kan jy aan ‘n meer gepaste bloedoffer of effektiewe plan of ander strategie dink wat Ramaphosa kan gebruik?

Eish ·

Onwrikbare vertroue is Cyril né.
Ek kan ongelukkig nie die optimisme deel terwyl n nuwe staatskaping blyk gevorm te word nie.
Shandukaka investment belê miljoene in hernubare energie.
Patrice Motsepe se African Rainbow energy and power gaan R300m rand belê in hernubare energie.
Minster van energie sou 27 hernubare energie projekte afteken en is skielik deur n interdik gestop. Deur Numsa aan gevra.
CR skiet die kernkragprojek af en keur hernubare energie projekte goed ter waarde van R56biljoen.
Wat is die gemene deler?
Shanduka investments word bestuur deur CR se broer, Douglas, behoort hoofsaaklik aan die Ramaphosas.
CR is getroud met n suster van Patrice Motsepe van African Rainbow.
Jeff Radebe is ook getroud met n suster van Patrice Motsepe.
Eish! Familie besigheid?
Ek stel my vertroue verseker nie in CR nie, sorry.

Pietman ·

Jerry . Moenie dink daar is ‘n veilige opsie vir onteiening nie. Die groot probleem is amrmoede en ons almal weet dit gaan nie opgelos word deur selfs slegs nuttelose grond te onteien nie. Na onteiening gaan die mense nog armer wees en ander vinnige oplossings eis. Casper jou “bloedoffer” argument sal nie werk nie. Kon slegs werk indien dit armmoede permanent uitwis. Kyk maar na die laaste bloedoffers. tweetalige universiteite word altyd verengels. Swart Ekonomiese Bemagtiging word slegs verskerp ( Mynhandves as voorbeeld). Dit werk soos ‘n palrat ( ratchet).

CG ·

Leopold, met respek. Jy skryf “… dit gaan nie oor die objektiewe waarheid nie. Dit gaan oor hoe die persoon die situasie ervaar…” (Heeltemal reg!) Tog kom jy tot die gevolgtrekking dat “‘n meer regverdiger stelsel van grondbesit moet ontwikkel wat die wind uit die seile van die populis neem.” Regtig? Te luister aan die blatante leuens en opruiende rassistiese uitsprake oor grond, dink jy werklik “die objektiewe waarheid” sal die “wind uit die seile van die populis neem”? Jy droom! Wat nodig is dat ons nie self begin twyfel oor dit wat ons self bereik het – of dit regverdig is nie. Ons moet die fokus plaas op die “onregverdigheid” deur die staat, wat privaat grondeienaarskap vir Swart mense ontsê.

Casper Labuschagne ·

In die vorige eeu het marxiste van klasseverskille gepraat hoe die een klas die ander uitbuit. Daar bestaan nog nie ‘n goeie term vir ons nuwe klas marxiste wat orals opduik nie, so kom ek gebruik akademiese marxiste want die westerse akademiese wêreld vorm die kern van marxisme na die verval van die Sowjet Unie. Waar voorheen die term klas gebruik is, verskyn nou uitsluitlik die term ongelykheid.

Ongelykheid word immer aangebied as iets wat sal veroorsaak dat die wat nie het nie in opstand sal kom teen die wat wel het. Maar hoe om dit reg te stel? Walter Scheidel skryf in “The Great Leveller” dat daar in die geskiedenis net vier maniere is om ongelykheid meer eweredig te maak: Oorlog, hongersnood, siekte (soos builepes in die Middeleeue) en die algemene verval van die staat na ‘n staat van anargie.

Zimbabwe het ongelykheid “wonderlik” reggestel deur onteiening en (die elite uitegsonder) is almal skitterend gelyk en ewe arm. Sjina het honderde miljoene uit absolute armoede tot ‘n middelklas opgehef, maar die gevolg daarvan is dat Sjina se ongelykheid oneindig vererger het. Die eintlike vraag wat gevra moet word is in watter samelewing van die twee keuses wil ons woon?

Leopold Scholtz ·

Volgens die HA T is dit die “oorsaak van … verdeeldheid”. Dankie vir die vraag.

Jerry ·

Casper jy slaan die spyker op die kop! Met n gepaste bloedoffer kan CR en Suid Afrikaners anargie uit die situasie uithaal en sodoende die anargiste steun laat verloor, in elk geval vir die termyn wat CR gaan dien, want sou n anargis die volgende president word sal die skrif finaal aan die muur wees vir die Afrikaner en witmense in die geheel. Dit is daarom belangrik om sekere opofferings te maak en tyd te wen ten einde te probeer om die Afrikaner beter te posisioneer vir wanneer die popo die fan strike! Tans is die Afrikaner uitgesluit, onwelkom, n hindernis, verdeeld, halstarrig, kwaad en domastrant, blind van woede en op moedverloor se vlakte. Klink dit vir jou soos n groep wat reg is om op te tree vir n slegte gebeurlikheid. Dit is dus verstandig om n hand van vriendskap uit te reik na die keiser en iets te he as niks nie! Jy vat die keiser net aan wanneer jy jouself in n onaanvegbare situasie bevind, veral tov die beskerming van jou belange. Indien nie, moet jy opoffer en die tyd is nou, dit het ons ingehaal. Om soos die forum vir belange te baklei wat aanvegbaar is deur die magshebbers maak die Afrikaner en sy onaanvegbare belange ook n teiken en rig groot skade aan, nie net aan die psige van die Afrikaner, maar ook die Afrikaner se regte wat vertrap word elke keer wat die forum verloor!

Boerboel ·

Ramaphosa is nie n eerbare man nie. Hy het nie sy fortuin vanself verdien nie. Hy het onlangs vir Malema terug in die ANC genooi. Roelf Myer het vir die ANC alles wat hulle wou he op n skinkbord gegee. As die regering eiendom kan vat sonder vergoeding is private eiendomsreg afgeskaf. Dit is wat die kommuniste wil he. As jy byvoorbeeld jou plaas verloor en dit moet huur by die regering is dit amper net so goed hulle het jou heeltemal afgejaag. Jy kan nie dit verkoop nie, jou kinders kan dit nie erf nie en jy kan dit nie gebruik as kolateraal om geld te leen nie. Wie sal ooit verberings aanbring op n plaas om produktiwiteit te verhoog as jy dit nie besit nie. N moderne ekonomie kan nie met n huurpag stelsel werk nie. As Ramaphosa eiendomsreg afskaf sal die ekonomie in duie stort.

Leon ·

As jy ‘n kar wil he dan koop jy hom indien jy die geld het. As jy kos wil he dan koop jy dit indien jy die geld het. Indien jy nie die geld het nie dan koop jy nie ‘n kar of kos nie.
So wat is ‘n meer regverdige stelsel? As jy nie die vermoe het om grond te koop nie moet dit gegee word deur die regering? Is dit hoe jy dalk dink ek my huis in die hande gekry het, of hoe jy dink my oupa dalk sy huis gekry het? My kind huur ‘n huis. Sou dit regverdig wees as een vir haar gegee word? Of sal dit onregverdig wees net omdat sy blank is?
Regverdige stelsel is dat meer werk geskep word en jy dan regverdig vir dit betaal.

Frans C ·

Die vraag is aan wie het die grond werklik behoort en hoever moet daar in die geskiedenis teruggegaan word om ‘ongeretighede’ gelyk te stel. Maak ‘n onbeteuelde bevolkings-ontploffing jou geregtig op meer grond en moet diegene met kleiner gesinne,terwille van beter lewenswyse, daarom minder besit?

Gaan ‘n mens terug tot 1911 se sensus? Tot die koms van Jan van Riebeeck,of dalk 2000
jaar terug toe swart stamme Suid Afrika begin binnestroom het en die oorspronklike
inheemse bevolking se grond sonder vergoeding en deur ‘n proses van verdryfing ontneem het?

Die San en Khoi was lank vir enige swarte en wit groep woonagtig in Suid Afrika,maar
is deur uitwissing deur natuur en mens gereduseer tot ‘n onbeduidende bevolkingsgroep wat te vergeefs hul opwagting by die Uniegebou gemaak het,om ‘n afspraak te maak met die leier van die ‘swart veroweraars’ die President van Suid Afrika.

Hierdie mense se geskiedenis gaan volgens sommige kenners tot 80 000 jaar terug en as dit waar is is beide wittes en swartes ,maar redelik laatkommers.Solank daar geen erkenning vanaf Swart mense oor die geskiedenis kom nie,bly die spreekwoord van ,’die pot verwyt die ketel dat hy swart is’ waar.
Die President,die ANC fouteer dus om wit mense van ‘gronddiefstal’ te beskuldig,hulle is net so skuldig as daar skuld uit te deel is.

Casper Labuschagne ·

Nie net is dit ‘n geval van aan wie die grond eens behoort het nie, maar wie presies moet nou daardie grond kry? Want een stam van elf lede wat in 1711 in ‘n vrugbare vallei van die Overberg trekboere was, het vandag dalk een duisend eenhonderd en elf afstammelinge. Is elkeen dus geregtig op hul eie stukkie mikro grond?

Jerry ·

Eiendomsreg sal nie gedurende CR se termyn afgestel word nie, miskien wel daarna. Alles sal afhang van wie by CR gaan oorvat, n gematigde of n radikale! Witmense moet net sorg dat hulle reg sal wees vir beide scenarios. Daar is 3 opsies, het ge-emigreer, besig om te emigreer en gaan emigreer.

Gerhard ·

Wat baie mense nie verstaan omtrent politiek nie, is dat die waarheid totaal relatief is. My waarheid is die een wat my pas en my in die stoel hou en dit is ook die enigste waarheid wat saakmaak, al is dit absolute snert.

Penellope Jones ·

Maar is grondbesit iets wat net in Suid-Afrika voorkom?
Sover ek weet is daar hope mense wat plase besit in Amerika, Brittanje ens.
Hoe maak hulle?
In Suid-Afrika word dit polities aangevuur, bespreek, af geforseer op mense.
Dis waar die groot probleme voorkom, die geforseerde verpolitisering van alles in SA.
Hoe maak mens as jou voorouers ‘n plaas met moeite en verdriet gekoop en afbetaal het en dit “afge-erf” is tot by jou?
Moet mens dan ter goedertrou agteroor sit en dit oorgee omdat politiek ALLES in SA vernietig?

Penellope Jones ·

Die nuwe regime vanaf 1994 het mense geleer om polities te “demand” sonder om enige poging aan te wend om op eie vermoens ‘n toekoms te bou.
Dit is so maklik om stemme te wen deur mense onder ‘n vals indruk te bring deur harde werk te vervang met politieke uitsprake en politieke aanhitsing.

Gerhard ·

Jy kan Suid-Afrika nie met die VSA vergelyk nie, dit is ‘n Afrika-land. Vergelyk dit met die res van Afrika en dan sal jy ‘n beter idee kry van wat besig is om te gebeur en waar dit gaan eindig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.