Die rewolusie duur voort, maar die winde waai wes

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Die rewolusionêre optrede op kampusse van histories Westerse universiteite vorm deel van ’n breër patroon van Afrikanisering wat hom tans in Suid-Afrika voltrek. Hierdie verskynsel van “verinheemsing”, of Afrikanisering, is jare gelede al deur ’n Harvard-professor voorspel.

In sy boek, The Clash of Civilizations, het die bekroonde prof. Samuel Huntington al in 1996 voorsien dat ’n nuwe geslag swart studente aan die spits van ’n rewolusionêre “Afrikaniseringsbeweging” kan wees wat na die hele samelewing kan uitbrei.

Huntington het hierdie Afrikaniseringsproses gesien as deel van ’n wêreldwye verwerping van verwestering namate Westerse mag kwyn, gekoppel aan die gelyktydige opkoms van nie-Westerse moondhede. Sy voorspelling dat dit tot kulturele herlewings in nie-Westerse lande sou lei, is reeds bewaarheid in die meeste lande en plekke wat vroeër deur die Weste oorheers is soos China, Indië, Singapoer, vorige Afrika-kolonies en in die Moslemstate.

Die kwyning van Westerse waardes saam met Westerse mag is ’n spieëlbeeld van wat met kommunistiese waardes ná die val van kommunistiese mag geword het. Die meeste rewolusionêre bewegings het hulself feitlik oornag polities omskep in nasionale bevrydingsbewegings, wat politieke verlossing eerder as ’n kommunistiese werkersparadys nagestreef het. Waardes volg mag, en die val van ’n magsblok verminder die aantrekkingskrag van die waardes waarop dit gebou was.

Die opkoms van nie-Westerse state ná dekolonisering en ná die val van kommunisme het daartoe gelei dat hierdie state hulself al meer polities, kultureel, ekonomies en selfs militêr wou laat geld. Daarom het hulle gaandeweg Westerse waardes met hul inheemse kulture, tradisies en instellings vervang.

Kulturele selfvertroue

Volgens Huntington was nie-Westerse gemeenskappe eeue lank jaloers bewus van die ekonomiese welvaart, tegnologiese gevorderdheid, militêre mag en politieke eenheid van die Weste. Hulle het eers lank onsuksesvol probeer om self te verwesters met die doel om hul eie ontwikkeling te versnel. Maar die suksesvolle modernisering van Oos-Asiatiese lande deur op hul eie kulturele kapitaal te steun, het hierdie bewondering vir en nabootsing van die Weste beëindig. Vir hierdie gemeenskappe was dit die bewys dat hulle kon moderniseer sonder om te verwesters. Daarom het hierdie gemeenskappe se sukses tot soveel kulturele selfvertroue gelei dat hulle verwestering begin verwerp het.

Huntington voer aan dat terwyl hierdie nie-Westerse gemeenskappe ondergeskik aan hul Westerse heersers was, hulle Westerse waardes gebruik het om hul teenstand teen Westerse oorheersing te regverdig. Daarom het hulle aangedring op Westerse waardes soos politieke bevryding, demokrasie, menseregte en die verwerping van diskriminasie. Nadat hulle egter onafhanklikheid en politieke mag verkry het, het hulle nie gehuiwer om daardie selfde Westerse waardes, wat hulle gebruik het om mag te bekom, te verwerp nie.

Westerse wapens

Die rewolusie teen die Weste was eers geregverdig deur die gebruik van Westerse waardes as politieke “wapens” om bevryding te bewerkstellig. Nou word hul opstand teen die Weste geregverdig deur die aandrang om Westerse stelsels met hul eie inheemse waardes te vervang. Hierdie inheemse kulturele selfgelding spruit uit die nuwe kulturele selfvertroue wat vryheid hulle gegee het, en die oortuiging van die meerderwaardigheid van hul eie waardes. Hierdie proses het hom oor die wêreld heen in bykans alle nie-Westerse lande afgespeel.

Die “verinheemsing” verteenwoordig ’n “demokratiese paradoks”. Derdewêreldgroepe gebruik Westerse demokrasie om politieke mag te kry, en gebruik dan hul politieke mag om Westerse demokratiese waardes te verwerp en in opstand teen die Weste te kom.

Suid-Afrika

Die ANC was feitlik ’n modelvoorbeeld van Huntington se veronderstellings. Hy het sy strewe om die NP-bewind omver te werp met ’n gevurkte tong verwoord. Toe die kommunisme sterk was, het die ANC hom destyds met die USSR belyn en homself in kommunistiese terme uitgedruk. Ná die val van die kommunisme het die ANC se grootste bondgenoot oornag weggeval, en onder die behendige politieke leiding van Thabo Mbeki het die ANC feitlik oornag sy idioom verander en in onberispelike liberale terme begin verwoord. Die Weste het immers die Koue Oorlog gewen.

Nou het die ANC se slagspreuke, soos die “klassestryd teen Westerse Imperialisme”, oornag plek gemaak vir die “stryd vir menseregte en demokrasie”. Dieselfde Mbeki wat nog in 1989 die voorsitter van die SAKP se kongres in Havana, Kuba, was, het ’n jaar later soos ’n ou liberale menseregtestryder geklink. Tydens die Kodesa-onderhandelinge het die ANC versigtig kommunistiese terme vermy, maar sosialisme versigtig eerder onder die dekmantel van “sosiaal-ekonomiese menseregte” in die Grondwet laat insluip. Westerse steun is verseker deur hul doelwitte in Westerse demokratiese terme te verwoord. Daarna het al wat koerant en politieke kommentator was opgewonde geskryf dat ’n Westerse wonderwerkskikking bereik is. Die nuwe era is wêreldwyd verwelkom.

Grondverskuiwing

Maar ná sowat twee dekades was die ANC se mag nou stewig gevestig, en het sy ware kleure na vore gekom. Dit het duidelik geword dat die uitgeslape onderhandelaars van die ANC net toegewings gemaak het om die mag te kry, en die mag nou gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwesenlik. Hoewel pres. Zuma se leierskap deur kritici uitgesonder word as die rede vir die skerp swaai na links, lê hierdie rigtingverandering van die ANC baie dieper as dit. Die stelselmatige ondermyning van die Grondwet se oorspronklike Westerse waardes soos die oppergesag van die reg, die skeiding van magte, die vryheid van die media, die markekonomie en eiendomsreg, gelyke geleenthede en kulturele vryheid, is die gevolg van ’n diepliggende ideologiese en kulturele grondverskuiwing in die ANC. Die “totalitêre” transformasiebeleid, die terugbring van ras as die grondslag van regeringsbeleid, en die groeiende misbruik van staatsmag om politieke doelwitte te bevorder, is alles tekens dat die ANC nou Westerse liberalisme wil laat linkslê.

Die verskuiwing in die ANC se buitelandse beleid is tekenend van die verskuiwing in sy binnelandse beleid. Waar die party ná 1994 die land na die Weste gedraai het, het die totstandkoming van Brics ’n nuwe era ingelui, waar die ANC veral na China en selfs Kuba vir ekonomiese leiding begin kyk het. Die Westerse krisis van 2008 af, gepaardgaande met die skynbaar onstuitbare ekonomiese opmars van die ANC se nuwe vriende soos China, Brasilië, Rusland en Indië, was waarskynlik die dryfkrag agter die nuwe beleid. Maar die ekonomiese insinking wat sedertdien in China, Rusland en Brasilië ontstaan het, saam met die kragtige herstel in die Amerikaanse ekonomie, het die ANC-regering onverhoeds betrap.

Westerse druk

Die eerste teken dat die Weste nie die ANC se linksomkeer goedsmoeds gaan aanvaar en verduur nie, kon die afgelope week in die parlement gesien word. Die Amerikaanse en Europese Kamers van Koophandel het die regering trompop geloop oor sy anti-Westerse houding en die verandering in ekonomiese beleid. Hierdie Westerse druk kom op ’n slegte tyd vir die regering omdat die wêreldekonomie onseker lyk en die Suid-Afrikaanse ekonomie tans deur diep waters gaan. Die land se voortgesette afhanklikheid van die kragtige Amerikaanse ekonomie is waarskynlik ’n groot verleentheid vir die regering se linkse beleidmakers. Die invloedryke Britse Economist het die afgelope twee uitgawes kaalvuis onder die ANC ingeklim, en reguit gesê dat die regering se ekonomiese beleid onder leiding van Kommuniste soos Rob Davies en Ebrahim Patel op die Chinese patroon gegrond is.

Hoewel die politieke “huwelik” tussen die Weste en die ANC nog nie finaal op die rotse is nie, is die wittebrood beslis verby. Die ANC sit met die ongemaklike probleem dat hulle die rewolusie wil voortsit, maar dat die winde van verandering nou weer stormsterk weswaarts begin waai. Hulle is nie die eerste bevrydingsbeweging wat op die harde manier leer dat dit makliker is om te “struggle” as om te regeer nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Emile ·

Andermaal uitstekend verwoord Flip. Baie dankie.

Wens net hierdie stukkie rasionaal kon ook in die Engelse media verskyn.

Hein ·

Ek dink juis die rasionaal moet in afrikaans by al die Afrikaners uitkom. Onthou die Engelse wil nie van hierdie dinge weet nie en sal ook niks daaraan doen nie. Hulle is op die oomblik net bly dat orals Engels as voertaal gebruik word en dat hullle voordeel daaruit trek. Ons moet juis die feite onder die Afrikaners tuis bring en dan met Burgeregtegroepe soos Afriforum, VVK,, ens die druk toepas.

Wie het die meeste reggekry die laaste 5 jaar? Burgeregtegroepe soos, Afriforum, Right to Know, OUTA, Section 23 (Die ouens wat die skoolboeke monitor na skole),ens. In ‘n regsstaat vat jy die ouens hof toe, nie parlement toe nie. Jy is daar in die minderheid enkry niks reg nie. Opposisiepartye kry niks reg nie en sal in die nabye toekoms nie veel meer reg kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.