Die rol van universiteite vanuit ʼn gemeenskapsperspektief

Marthinus-Visser-akademia-Medium.jpg

Marthinus Visser, die besturende direkteur van Akademia. Foto: Verskaf.

Deur Marthinus Visser

Die rol van universiteite moet inderdaad herbesoek word in ons denke – veral in ʼn tyd waar die sosiale kontrak tussen die universiteit en die Afrikaanse gemeenskap begin verkrummel.

Die heel belangrikste kwessie as ons oor die rol van die universiteit dink, lê in die vooronderstellings waarmee gewerk of waaruit vertrek word. Daar is natuurlik verskeie sulke vertrekpunte – bewustelik en onbewustelik – wat die rigting van ons denke wesenlik beïnvloed.

Die een wat ek wil uitlig, is die vertrekpunt oor eienaarskap. Eienaarskap in hierdie konteks gaan oor aan wie die universiteit uiteindelik “behoort” en dus wie die uiteindelike doelwitte van die universiteit bepaal. Wanneer ons veronderstel dat die universiteit ʼn instelling van die staat is, sal alle denke wat daarna volg op die een of ander wyse met terme ingekleur wees wat op die ou end redelik met die doelwitte van die staat ooreenstem. Dan sal mens woorde hoor soos diversiteit, groter toegang, kurrikulumvernuwing en transformasie. Die universiteit word op ʼn manier ʼn verlengstuk van die staat om laasgenoemde se probleme te help oplos en sy doelwitte te bevorder. Waar die lyne tussen staat en party baie dof raak, is die uiteinde dat die universiteit die party indirek dien.

Maar is daar ʼn ander vertrekpunt met betrekking tot eienaarskap?

Dis die moeite werd om antwoorde in die ontstaan van die universiteitswese te gaan haal. Verrassend genoeg ontdek jy dat plekke van hoër onderrig gedurende die Middeleeue in die kerk ontstaan het. Die kerkgemeenskap het die behoefte gehad om daardie dinge wat oor tyd heen deur die kerkgemeenskap ontdek en ontwikkel is, te koester en te bewaar deur dit in die intellek en psige van die gemeenskap vas te lê. ʼn Vereenvoudigde formule sou dus wees – dit wat ons tot hier gebring het, is die moeite werd om te bewaar, te ontwikkel en oor te dra om sodoende ons toekoms te verseker. Vir honderde jare was hoër onderrig in christelike kloosterskole onderneem. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie “universiteite” daar was om die vertrekpunte en kennis van ʼn bepaalde gemeenskap (eienaar) te bevorder en oor te dra.

Wanneer ons vanuit die vooronderstelling werk dat ʼn universiteit aan ʼn gemeenskap behoort, behoort alle gedagtes oor die rol van so ʼn universiteit met die idees, vertrekpunte en behoeftes van daardie gemeenskap ingekleur te wees.

Hier aan die suidpunt van Afrika woon verskeie kultuurgemeenskappe met hul eie vertrekpunte, idees en goedere wat hulle hoog ag en koester. Een so ʼn gemeenskap sou ons breedweg as christelik-Westers kon beskryf en het baie spesifieke kultuurgoedere wat hy glo hom tot hier gebring het en belangrik is vir sy voortbestaan. ʼn Proffie-vriend beskryf hierdie gemeenskap so: “Dit onderskei hom van ander beskawings en geskiedenisse. Dit het ’n eiesoortige sin vir die transendente. As besondere beskawing lê dit onderskeidings aan: tussen waardevol en waardeloos; waarheid en valsheid; goed en kwaad; mooi en lelik; sinvol en sinneloos; sin en onsin; geldig en ongeldig; verheffend en platvloers; groei en agteruitgang; prestasie en mislukking; beskaafd, verskillend beskaafd en onbeskaafd, en dergelike ander.”

Vir hierdie gemeenskap sou die rol van sy universiteit nie net daaroor gaan om sy gemeenskap met wêreldformaatkennis, kwalifikasies en vaardighede toe te rus nie, maar veral ook om sy vertrekpunte, idees en waardes te koester, te ontwikkel en oor te dra. Sy studente behoort nie net ʼn beter begrip vir die onderskeie dele van die geheel te ontwikkel nie, maar ook hoe die samehang tussen die dele werk. Sy studente behoort ʼn gesonde begrip vir hul herkoms, hul huidige konteks en hul gewenste toekoms te ontwikkel – dit wil sê ʼn gesonde identiteit.

Vanuit hierdie grondslag behoort sy studente vaardig met en binne die komplekse samelewingskonstrukte van ons land te kan werk om sodoende opbouend mee te doen aan ʼn beter toekoms vir almal.

Hierdie universiteit is ʼn antwoord op die hedendaagse “besigheidsuniversiteit”, sowel as die heimwee van die links-liberale revolusionêre universiteit. Eersgenoemde, wat bloot as ʼn besigheid beskou word en studente bloot met die oog op ʼn beroepslewe oplei, en laasgenoemde, wat nog ʼn proffie-vriend so beskryf: “Universiteite waar die revolusionêre ideale nie met die werklikheid verband hou nie, maar eerder ʼn gestileerde en ʼn modebewuste oefening in die fiktiewe verteenwoordig.”

Hierdie gemeenskapsuniversiteit is ook ʼn plek wat oop is – waar opregte dialoog aangemoedig word, waar verskillende vertrekpunte verdra en gerespekteer word en veral waar ʼn egte dialoog tussen die Westerse en Afrika-intellektuele tradisies gevoer word.

  • Marthinus Visser is die besturende direkteur van Akademia

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Hendrik ·

Hierdie is n briljante artikel! Baie dankie vir ‘n vars perspektief in ‘n deurmekaar wêreld!

Eish ·

Goeie artikel dankie.
My hare begin egter rys met die volgende woorde: “so wel as die heimwee van die links liberale universiteit ” ” gestileerde en n modebewuste oefening in die fiktiewe” dan ook: ” waar n egte dialoog tussen Westerse en Afrika-intellektuele tradisies gevoer word.” Wat is n Afrika-intellektuele tradisie? Iets soos Ubuntu?
Hier verstaan ek net kol-kol en dit is bokkerol. Hier verloor julle my. Verduidelik asb wat hier gesê word.
Ons moet mos vooraf besluit of ons wil wals of prostesdanse doen. Of sê jul dat ons kan studeer en kwalifiseer as byvoorbeeld n mediese dokter, maar ons moet kennis neem van tradisionele medisyne en dit voorskryf waar wrewel of vooroordeel bestaan teen Westerse behandeling? Belig asb die vae filosofiese stellings in Afrikaans.

Breytie ·

Eish, jy moet objektief daarna kyk. Jy sal tog nie Afrika kan beoordeel as jy niks weet van Afrika-denke nie.

My bydrae is dat die gemeenskapsuniversiteit vir Afrikaners nie moet skroom om ‘n diepgaande studie te maak van die Ariese ras nie. Hulle geskiedenis kan ons baie van onsself leer en vir ons die buitelyne gee van ons bestemming. Daar is ‘n onvoltooide verloop wat nog voltrek moet word deur die jongklomp wat nog op pad is. Voorgeskrewe inhoude moet ‘n verpligte komponent hê waar eie identiteit (herkoms en toekoms) deel gemaak moet word van die vorming van studente.

Eish ·

Ek probeer my bes, maar helaas, begrip vir die aangehaalde gedeeltes ontvlug my vermoë. Ek ken die Afrika gebruike redelik. Begrippe soos ” lobola, ubuntu” ensovoorts. Jy kan woorde gebruik om n dinge te sê wat kontroversieël is, sonder om aanstoot te gee, maar jy gaan helfte van jou gehoor verloor in die proses vanweë foutiewe assimilasie. Ek sal dus maar soos die Engelse ou sê toe die doktor in geleerdheid n toespraak afsteek: ” I am so intoxicated by the exuberance of your verbosity that I am not able to utter a single word!”
Ek dink ek het my etc. bereik. ” End of thinking capacity.”

Fanie ·

Baie insiggewend! Sluit aan by die Keniaanse intellektueel- Ali Mazrui se denke en waarskuwings oor die fatale verstaatliking van Afrika universiteite na onafhanklikheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.