Is jy ’n rusbank-boelie?

rusbank-boelie

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Juliana Coetzer

As psigoterapeut werk ek ten minste vier dae per week met mense wat ernstig getraumatiseer is deur een of ander insident . My kliënte wissel van persone wat verlies ervaar deur ʼn egskeiding, ʼn geliefde aan die dood moes afstaan, met die effek van ʼn ernstige siekte gekonfronteer word – tot ʼn meisie wie se hond voor haar oë doodgery is en ʼn bejaarde vrou wie se man op ʼn plaas vermoor is.

Mense kom spreek my oor afbrekende verhoudings, buite-egtelike verhoudings en uitgediende verhoudings.

Slagoffers van kapings, gewapende rooftogte en aanrandings sit daagliks in die stoel oorkant my.
Met mense wat hul huise en die inhoud in brande verloor, is ek bekend. Die verlies van besittings wat jou veilig laat voel en jou sekuriteit was, vat maande, selfs jare, om te oorkom. Met dié mense loop ek ʼn lang pad.

Buitendien, trauma agtervolg trauma en nuwe trauma maak ou trauma oop. Dikwels meld die kliënt as slagoffer van ʼn gewapende roof aan wat ná twee sessies verander in die slagoffer van seksuele molestering as kind. Weereens ʼn baie lang proses tot herstel.

Mishandeling: verbaal, emosioneel, seksueel, fisiek en finansieel, toets my geduld tot die uiterste. Dit is die tye wat ek op my hande moet sit, stadig in en uit asem en elke woord sorgvuldig oorweeg wat uit my mond kom. Ek wil slagoffers uit huise verwyder, ek wil voorskryf en oortreders afskryf en slegsê.

“Wat doen dit aan jou?” vra mense my gereeld. “Hoe raak jy nie betrokke by die ‘gevalle’ nie? Hoe hou jy jou emosies onder beheer?”

Ek weet self nie altyd nie. Miskien jare se ervaring, of dalk omdat die fokus so sterk is op luister en ook tussen die lyne luister, dat daar nie altyd aandag aan “voel” gegee kan word nie. En ʼn mens kom op ʼn punt waar jy glo jy het al alles gehoor. Jou toleransie teen skok bou met die jare so sterk op dat jy meer en meer kan hanteer en verteer. Maar ons weet almal dit is nie volhoubaar nie.

Op ʼn dag kan jy nie na één storie meer luister nie. Van fokus is daar geen sprake nie. Jou brein is ʼn lugleegte. Die toleransie het afgebreek. Dit gebeur met almal en is nie uniek aan dié beroep nie.

Dit gebeur óf wanneer die tenk propvol water is en nie een druppel meer ingeneem kan word nie, óf wanneer jy met iets gekonfronteer word wat soos ʼn vuishou die wind uit jou maag slaan. Jou laat dubbelvou. Iets wat vir jou nuut, donker en gevaarlik is.

Dit het met my gebeur. Iemand het my oor die afgrond gedwing:

Die rusbank-boelie.

Ek het hulle leer ken as die gesigloses in die samelewing wat vanuit die veiligheid van hul rusbank in die huis, ander kritiseer en veroordeel volgens reëls wat hulle self opgestel het of aan vashaak om hulle veilig te hou. Die reëls wat vir hulle dink. Namens hulle dink. Wat besluit hoe mense moet wees. Die mens wat die woede of veragting wat hy vir ʼn sekere groep mense het, op sosiale media verbaliseer deur te impliseer dat hulle verdien wat hulle toekom. En dan agter die woorde “so sê die Here” skuil en verse aanhaal, asof dit die regmerk is wat siek idees toelaatbaar maak.

Mense met gebrek aan empatie, meelewing en deernis. Dalk is “gebrek” nie die regte woord nie – ʼn algehele afwesigheid daarvan is eerder waar. “Bly weg van mense wat nie empatie het nie,” sê ons in hierdie beroep. Hulle is gevaarlik. Reëls is daar baie, maar hulle kan nie voel wat hulle aan ander doen nie.

Elke mens het ʼn storie te vertel. Aan elke storie is daar emosies gekoppel. Emosies help ons om ons in iemand anders se situasie in te dink. Te voel wat hy beleef. Dit is hoe deernis of “compassion” ontwikkel. Wat dit vra, is dat ons oor iemand anders se omstandighede nadink en ons in hulle posisie indink, en nie omdat ons lui is die maklike reëlboek nadertrek waaraan mense gemeet word of hulle skuldig of onskuldig is nie. En in die kategorie van “goed of sleg” geplaas word nie. Dit vra ʼn lewe waarin ons op ons eie ervarings fokus en verantwoordelikheid neem vir die mens wie ons is.

Iemand wat ontwikkel en ʼn aanwins vir die samelewing is. Sy weersin in mense raaksien en dit hanteer. Dit nie ten toon stel deur sy pen in gif te doop en die media te gebruik om sy stem te wees nie.

Hoe die arme joernaliste dit verduur wat elke dag die haatspraak moet lees, gaan my verstand te bowe.

Tydens ʼn inbelprogram by ʼn radiostasie, ná die vloede in Johannesburg, sê ʼn vrou sy weet nie hoekom almal so ontsteld is oor mense wat stroom-af gesleur is en nie opgespoor kan word nie, daar is dan gebid vir reën.

ʼn Vrou word deur haar skoonseun vermoor en ʼn leser van die koerant se reaksie is: “Sy het seker ingemeng in hul huwelik.”

ʼn Dorp brand af. Iemand skryf: “ʼn Paar jaar gelede was daar in die dorp ʼn gay saamtrek en gay troues is voltrek. So straf God ʼn dorp waar sonde gepleeg is.”

ʼn Pragtige student, in die fleur van haar lewe, word vermoor. Haar pa se pyn is so oorweldigend dat hy nie kan praat nie. (Trauma in die ergste graad. Die stomheid ʼn simptoom van die intensiteit.)

ʼn Verwoede storm tref sosiale media. ʼn Bruin vriend, wat ernstig aangerand is, was saam met haar in die motor. “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou,” is gesê. “Dit is die gevolg van ouers wat Afrikaanse kinders na Engelse skole stuur.” En: “Hoekom het die ouers die verhouding toegelaat?” Natuurlik moet die Bybel ook nadergetrek word: “Vermenging is sonde teen die Heilige Gees.”

Iemand wat net so ontsteld is soos ek oor die openbare gesprekvoering, vra: “Weet mense nie hell is not about the heat of the fire but the absence of love?”

Jare gelede ontmoet ek in my privaat hoedanigheid ʼn man wat nie sy ware kleure van opperste rassisme kan wegsteek nie. Dit is al waaroor hy praat. Sondae sit hy voor in die kerk.

Ek ontmoet sy vrou ʼn paar jaar daarna. Sy is besig om van hom te skei, vertel sy. Sy kon nooit verstaan dat die huishulpe net ʼn tydjie daar werk nie. Tot iemand eendag die moed het om vir haar te sê hy dwing hulle om hom seksueel te bevredig. Dit noem Freud “reaksie-formasie”. Die beeld wat ʼn fanatikus voorhou, is meestal die masker waaragter hy sy eie skaamte wegsteek.

The bigger the front, the bigger the back. Laat ’n mens dink, nè?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dawie

Juliana, jy slaan die spyker so op die kop. Insiggewende artikel. Ongelukkig sal die van wie gepraat word in jou meningstuk hulself nie herken nie en jou afmaak as onkundig. Die berig wat gister geplaas is oor die arme vrou wat in haar huis aangeval is, is ‘n sprekende voorbeeld.

E.K.

Baie baie mooi gestel. VERAL die laaste sin van eerste paragraaf onder Die rusbank boelie gedeelte.

Heleen

Hierdie artikel sê presies hoe ek voel. Daar is soveel mense wat dit geniet om negatiewe kommentaar te lewer. Hulle mis gewoonlik die punt heeltemal in hulle vrome, skeinheilige beterweterigheid. Hulle het geen begrip of empatie met die wat van hulle verskil nie.

John

Die Bybel praat van ‘n toename van liefhebbers van die eie ek in die eindtyd. Saggeaarde mense ly onder diesulkes en soek fout by hulself, maar is veral ook uitgelewer en kan as gevolg van verskillende omstandighede nie bloot net vlug nie. Die dood is ‘n vreemde konsep vir die moderne mens en oorloe ‘n onbekende. Die ergste van sulke gebeure soos in terreur is nou ons voorland en skokkend verby. (Pille vir angs is dikwels baie verslawend en kan nie ‘n lewenskruk word nie.) Die eie ek word deur wrede mense beskerm deurdat ‘geheueverlies’ intree met ‘n ongelooflike leuenspel… Lees meer »

Frans

Juliana jy slaan die spyker op die kop. Die goue draad wat deur die Bybel loop is liefde. Sonder liefde is die mensdom maar wreed. Jesus het ons kom wys wat ware opregte liefde beteken. Ons moet soos ń neut klou aan Jesus deur gebed om ń ware en opregte verhouding met Hom te hê, sodat ons gered kan word. Sy tweede koms is naby, dan gaan hierdie siek wêreld tot ń einde kom. Sterkte met jou werk.