Die SA ambassadeur wat die VSA wil inval en ander ondiplomatiese diplomate

Joseph Nkosi, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela. Foto: @MinMujer/Twitter.com

Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela is pas deur die departement van internasionale verhoudinge en samewerking gedwing om amptelik verskoning aan te teken nadat sy wilde uitsprake op ’n byeenkoms ter ere van Nelson Mandela op 18 Julie 2018 in dié land rugbaar geword het.  Ambassadeur Joseph Nkosi het naamlik steun teen die ekonomiese blokkade wat deur die VSA en die Europese Unie teen Venezuela opgelê is, uitgespreek. Hy het volgens mediaberigte selfs nog verder gegaan en bygevoeg: “As dit nodig is om ons soldate te bring om teen die Amerikaners te veg, sal ons dit doen, ons kan nie toelaat dat ons deur die Amerikaanse administrasie gedomineer word nie… Die dae van VSA-wêreldoorheersing, is getel.”

Eers op 16 Augustus 2018 het Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, aangekondig dat Nkosi amptelik verskoning vir sy dreigemente aangeteken het en sy aanbod van militêre steun aan Venezuela teruggetrek het. Mabaya het verduidelik dat dié kommentaar nie aanduidend van die Suid-Afrikaanse regeringsbeleid is nie en dat die direkteur-generaal van internasionale betrekkinge en samewerking, Kgabo Mahoai, aan Nkosi geskryf het om aan hom te verduidelik dat sy optrede ongewens was.

’n Mens sou verwag dat ’n ambassadeur wat so ’n totale gebrek aan oordeel toon om die VSA – in die topvyf lande beide wat militêre slaankrag en handelsbande met Suid-Afrika aanbetref – op hierdie wyse te dreig, dadelik herroep sou word, maar ongelukkig is die toegeeflikheid wat deur die departement teenoor Nkosi betoon word, tekenend van die laissez-faire-houding wat in die onlangse verlede dikwels gesien is wanneer Suid-Afrikaanse diplomate buite orde opgetree het.

Die insident, wat aanvanklik komies mag voorkom, vertel die tragiese verhaal van internasionale betrekkinge en samewerking se toenemende anti-Westerse standpuntinname, maar ook van diplomate wat die land se naam deur die modder sleep en selde aanspreeklik gehou word. Daarteenoor is minister Sisulu vinnig om byvoorbeeld AfriForum van leuens te beskuldig wanneer ons feite oor misdaad en die regering se voorgenome planne van onteiening sonder vergoeding onder buitelandse meningvormers se aandag bring.

Diplomatieke skandemakers

Ondiplomatiese diplomatieke optrede soos die uitsprake van Nkosi, haal selde die nuus, maar die lys van meer persoonlike skandes en wetsoortredinge van diplomate is kommerwekkend lank.

Daar is byvoorbeeld seksuele teisteraars soos Jerome Barnes, senior diplomaat in Londen wat lewenslank van alle SAL-vlugte verban is nadat hy vroulike personeel van die redery tydens ’n vlug geteister het. Nog meer berug is Norman Mashabane, eens ambassadeur in Indonesië, oorlede in 2007, wat aan meer as 20 klagtes van teistering skuldig bevind is. Sy weduwee, Maite Nkoana-Mashabane, was later self minister van dié departement en het verleentheid veroorsaak toe sy in ’n bisarre onderhoud onder meer vertel het dat sy ’n gat in haar kop het. Sy is tans die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming.

’n Voormalige Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Singapoer, Hazel Ngubeni, het die aanstelling gekry terwyl sy nagelaat het om te verklaar dat sy ’n kriminele rekord het – sy het naamlik twee veroordelings weens dwelmsmokkelary gehad en het selfs tronkstraf uitgedien.

Insidente van dronkbestuur, strafbare manslag en roekelose bestuur verskyn ook op die lys.  Theodorus Mostert het in 2015 ’n motorongeluk in Fidji veroorsaak wat ’n man se lewe gekos het.  Mostert is in 2016 oorlede voor die saak afgehandel kon word, maar die departement se weiering om hom aan die Fidjiaanse owerhede uit te lewer en sy pogings om agter diplomatieke immuniteit te skuil, het die land se reputasie geen gunste bewys nie.  Terselfdertyd het Booysen Dombo, eerste sekretaris in Noorweë, ook ’n ernstige ongeluk veroorsaak en met diplomatieke immuniteit probeer wegkom. P. Mukeni, S.M. Radebe en B.P. Motloung (voormalige politieke adviseur in Bulgarye) tel ook onder die groep vermeende roekelose bestuurders.

Mthembisi Mjikeliso (oorlede in 2017) is in Botswana aan strafbare manslag skuldig bevind, terwyl Mohau Pheko, die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Japan, valslik verklaar het dat sy oor ’n doktorsgraad beskik.

Suid-Afrikaanse diplomate is ook al in verskeie lande van oortredings van arbeidswetgewing aangekla, byvoorbeeld Thobeka Dlamini (destyds charge d’affaires in Ierland), Priscilla Jana (destyds ambassadeur in Ierland) en Ndumisa Ntshinga (toenmalige waarnemende ambassadeur in die VSA). Laasgenoemde het na bewering selfs ’n personeellid fisiek aangerand.

Volgens ’n lys wat in 2017 deur die DA tydens ’n parlementêre vraesessie ter tafel gelê is, is daar selfs nog meer oortreders, insluitend Stone Sizani, voormalige hoofsweep van die ANC en ambassadeur in Duitsland vir openbare geweldpleging en BTW-oortredings, M.M.N. Ngoma vir intimidasie in Chili, N. Mkoroana-Cita vir oortredings betreffende voertuiglisensiëring en Sisa Ngombane, voormalige ambassadeur in Israel, vir die bywoning van ’n onwettige byeenkoms.

Toegegee, die departement het ’n groot werknemerskorps, maar die senior aard van die genoemdes se poste en die erns van die oortredings laat reusevraagtekens oor aanstellingsprosedures en die aanspreeklikheid van diplomate.

Enige poging om in die gevalle van buitelandse wetsoortreding agter diplomatieke immuniteit te skuil, is tekenend van disrespek jeens die wetgewing van soewereine lande waar Suid-Afrika verteenwoordig word en ’n klad op die land se naam.

Anti-Amerikaanse standpunte

Suid-Afrika se buitelandse beleid het tydens die presidentskap van Jacob Zuma duidelik na China en Rusland gedraai. Of dit hoegenaamd onder president Cyril Ramaphosa gaan verander, moet nog gesien word. As die ANC se besprekingsdokument van 2015 oor buitelandse betrekkinge, getiteld A better Africa in a better and just world, ’n aanduiding is, gaan dinge dieselfde bly. Daarin word die ekonomiese en politieke voorbeeld wat China en die Chinese Kommunistiese Party stel, geloof. Eweneens geld warm verhoudinge tussen Suid-Afrika en nog ’n vennoot van die Brics-lande, Rusland.

Daarteenoor is vreemde samesweringsteorieë al vanuit ANC-geledere jeens die VSA gehoor.  In September 2014 het Kebby Maphatsoe, die adjunkminister van verdediging byvoorbeeld verklaar dat die toenmalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, ’n agent van die CIA is omdat sy die Nkandla-skandaal ondersoek het. Volgens Peter Fabricius van die Instituut vir Sekerheidstudies, het Maphatsoe se uitlatings die internasionale diplomatieke korps in die land ’n guns bewys: “Baie diplomate kom steeds hierheen onder die naïewe indruk dat hulle in die land van Mandela diens gaan doen, onder ’n redelik idilliese reënboognasie wat verlief op homself en op die hele wêreld is. Maphatsoe se kru uitspraak … moet as ’n wekroep dien wat hulle bewus maak van ’n soort ideologiese sentiment wat hier steeds onder die oppervlak bestaan, en soms sigbaar word.”

In Maart 2015 het die Staatsveiligheidsagentskap op sy beurt aangekondig dat dit die moontlikheid ondersoek dat Thuli Madonsela, EFF-leier Julius Malema, die voormalige DA-parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, en vakbondleier Joseph Mathunjwa, Amerikaanse spioene is.

Daarna het die ANC se Gwede Mantashe (deesdae minister van minerale hulpbronne) in Februarie 2016 beweer dat ’n Amerikaanse program Suid-Afrikaanse jeugleiers in die VSA oplei om die saad van anargie en regime-verandering in Suid-Afrika te kom plant.

Die VSA se verteenwoordigers het in die meeste van bogenoemde gevalle verskonings geëis of hul misnoeë daaroor uitgespreek.

Buiten dié vreemde bewerings, is daar ook kommer oor die veiligheid van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika – ’n veiligheidswaarskuwing oor ’n moontlike terreuraanval daarop is in September 2015 uitgereik en in 2016 het die Suid-Afrikaanse Polisiediens vier mans in hegtenis geneem wat na bewering so ’n aanval beplan het.

In April 2018 het die Amerikaanse ambassadeur by die VN, Nikki Haley, die resultate van ’n ondersoek na stempraktyke in die VN bekendgemaak. Daarvolgens is Suid-Afrika een van die lande wat op ’n gereelde basis teen die VSA stem. Haley het te kenne gegee dat die VSA ekonomiese hulp aan lande wat sodanig optree, sal heroorweeg. Dit sluit ook Noord-Korea, Sirië en die einste Venezuela in.

Met dit in gedagte, is die ondeurdagte uitlatings van ambassadeur Nkosi nie bloot ’n grap nie, maar ’n teken dat die Suid-Afrikaanse departement van internasionale verhoudinge en samewerking ’n koers inslaan wat die land internasionaal toenemend kan isoleer.

Waar buitelandse beleggings onder die wolke van korrupsie en dreigende onteiening sonder vergoeding steier, sal die departement van internasionale verhoudinge en samewerking sy huis dringend in orde moet kry en met kragdadige optrede teen ondiplomatiese diplomate aansien by die internasionale gemeenskap probeer herstel. Tans is die aanduidings egter dat dit nie sommer sal gebeur nie.

Onder hierdie omstandighede is buitelandse besoeke en bewusmakingsaksies soos dié van AfriForum oor die onteieningskwessie noodsaaklik. Dit bied aan buitelandse media en meningvormers ’n geleentheid om ook die stem van die burgerlike samelewing te hoor en nie die onoordeelkundige en selfs skandalige optrede van enkelinge as kenmerkend van alle Suid-Afrikaners te sien nie. Hulle kan kennis neem van burgerregte organisasies soos AfriForum se aksies ter bevordering van gemeenskappe, en daardeur van die land as geheel se toekoms.

Ons het ’n groot verantwoordelikheid in dié verband.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

marco polo ·

Dis net die Weste se geld wat nog goed genoeg is. Doen so voort, Afrifrum, vertel die wereld dat nie almal in SA idiote is nie.

Gerhard ·

As jy nou nog glo jy kan die Kaders vertrou moet jy ‘n goeie sielkundige gaan sien. As jy broederliefde soek, gaan praat eerder met jou predikant. Politiek het niks met broederliefde te doen nie.

madels ·

N vriend wat n diplomaat is het vir ons vertel dat daar erg skandale is van hoe diplomate gekies word… dis siek verby

Jerry ·

Die enigste sentiment van die ANC teenoor die weste le by die ontwikkelingshulpfondse. Terwyl die weste hierdie fondse betaal, vir solank sal westerlinge nog n plekkie in die Suid Afrikaanse son mag he. Sou die weste egter die befondsing staak sal dit die ANC vinnig ontbloot as bondgenoot van enige iets, solank dit net nie westers is nie en sal dit die finale spyker in die doodskis van n demokratiese bestel in SA wees en uiteraard van die Afrikaner.

Eish ·

Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.
MATTHÉÜS 15:14 AFR53

Adriaan ·

Dit is n kwaliteit meningstuk. Dis jammer dat die ondiplomatiese optredes selde die nuus haal. Dis tog belangrik dat Suid Afrikaners weet van alle insidente wat die land se beeld skade aandoen.

HPV ·

Grap van die week! Ons lag steeds…Joseph soldate wat jy waar kry? hierdie weermag het nie meer die soldate of werkende wapentuig om ‘n dienslewerings betoging te stop nie. Die VSA kan Suid Afrika van die aardbol afvee deur slegs afstand beheerde oorlogsvoering, as jy weet wat dit beteken.

Cornelia ·

U omvattende artikel is insiggewend en interessant. U hou u vinger op die pols. Baie betreurenswaardige onthullings tegerlykertyd. Die kern van die integriteit van politiek kan nie van God geskei word nie. Verrotting is die simptoom van ‘n geestelike wildernis en verwildering. As die hart krank is, dwing dit die kop, hande en voete in dieselfde koers. Daarvan getuig God se Woord in Waarheid. Dankie vir u volharding in bewusmaking, stryd en ja, die geloof in oorwinning.

Adele ·

Die artikel is baie goed nagevors en wys uit hoe ‘n totaal onkundige regering ons het, en hoe dringend is dit dat ons selfbeskikking moet kry.

Theresa ·

Skoon en eerlik geskryf.
Wat ‘n vreeslike verleentheid is die mense se dwase optrede en uitsprake nie! Sjoe. Kry vrek skaam. Hoop regtig hul staar hul nie vas aan daardie hogeres wat so droogmaak en snert praat nie.

Rupert Ashford ·

Byt vas. Een van Min. Sisulu se manne sal seker binnekort vir ons kom vertel dit is alles Afriforum se skuld.

Henry ·

Uitstekende artikel wat met vers en kapittel geen twyfel laat dat hierdie droewe land se ‘diplomatieke korps’ soos talle ander korrupte en gefaalde Subsahara Afrika s’n, ‘n verleentheid vir hulself, hul staat en vir die inwoners van die land wat hulle kastig ‘verteenwoordig’.

Is daar enige moontlikheid dat die feite wat hierbo uiteengesit word, per persverklaring of hoe ookal, onder die aandag van die res van hierdie land se inwoners verskaf kan word?

Dat die voetlekkende plaaslike media hierdie inligting bekend sal maak, is natuurlik ‘n ander keteltjie vrot vis.
Maar…Wie nie waagie, sallie wennie!

:-)

Ja ne ·

Uhm is dit nou dieselfde soldate wat pakslae gegee is deur lesotho weermag? Of in die congo pak gekry het? Bwahahahaha. Mnr die ambasadeur een van amerika se vliegdekskepe is groter as jou hele weermaggie.

Gerda ·

Sjoe het ek nou lekker gelag vir die grap van die jaar om Amerika te dreig wow sjoh ek lag so dat my maag eintlik pyn Amerika is een vd sterkste lande met baie meer gevorderde wapens as wat SA het.

Andre ·

Die ANC mannetjies moet maar lig loop, hulle verstaan nie met wie hulle nou moeilikheid soek nie. Bly maar eerder stil voordat iemand jou stil maak

koos1 ·

Ek moenie vergeet hoe die einste departement agter imuniteit skuil om Afrika leiers en hulle gades te beskerm. Die howe moes uitsprake maak wat my 8 jarige kind as van selfsprekend sou aanvaar.

ChrisE ·

Skosasane Dlamini-Zuma het as minister ook al genoem dat die hoofrede SA duikbote gekoop het is om onsself teen die VSA te verdedig. Kan jy nou meer. Dit grens aan die absurde. Ongelukkig word ons land se diplomatieke korps nie meer juis van waarde geag nie. Daar was ‘n stadium dat lande nie nuwe regime diplomate wou aanvaar nie. Daar was ook ‘n geval van ‘n dame in Duitsland (Bonn) gesukkel het om huisvesting te bekom. As jy in sekere Europese lande telefonies met eiendoms verhurings agentskappe gesels en hulle hoor net die woord Afrika sê hulle dadelik daar is niks beskikbaar nie. ‘n Kollega van my het na so agentskap toe gestap. Toe hy daar aankom vra sê hulle toe vir hom hoekom het hy nie gesê is nie ‘n anderskleurige nie. Ons sien maar net die ore van die seekoei.

Bossie ·

Uuuhhmm… Was die antwoord op waarom ons duikbote nodig het, nie dat dit gebruik sal word om seker te maak die haainette is in plek nie? Of het ek die kat aan sy ‘(D)urban legend’ beet?

Adele ·

Die artikel is goed nagevors en wys uit hoe ‘n totaal onkundige regering ons het, en hoe dringend is dit dat ons selfbeskikking moet kry.

Marius ·

Selfbeskikking… Is die enigste vir ons.Alle wittes is reeds in n stryd teen anc.. Ja dis so prof!

Buffel ·

Die ANC en regering het ‘n oorloop van die tipe intellektuele reuse. Die mense se wereldbeskouing en woorde beinvloed die daaglikse agenda. Kyk na die stand van sake in SA – is ons verbaas ???

Chris ·

Mevrou Bailey, u vergeet van die Zupta-ambassadeur in Nederland, Bruce Koloane. Dié man het die Gupta’s se vliegtuig destyds toestemming gegee om op Waterkloof LMB te land. Hy is destyds glo vir dié aksie beloon met die ambassadeurspos in Den Haag. Later het hy ook sy pos in Nederland misbruik vir die Gupta’s lobby-aktiwiteite in Nederland.

Kop Skud ·

Ek lag my ‘n papie vir die lot.
Ai ek kan net my kop skud.

SOLDATE ·

Weet hy dat die soldate self hulle weg sal moet vind na Amerika? Hulle kan nie eers hulle eie pad Bloem toe vind nie.

Magaretha van heerden ·

Dis nou n poedel wat moeilikheid soek met die Pitbul terrier. Wat n grap!

Andrea ·

Ek verafsku hondegevegte, maar dís nou één hondebakleiery wat ek vrekgraag sou wou sien!

Alana Bailey ·

Vanoggend sê die minister Suid-Afrika se diplomate moet nou ‘n sjarme aanslag (“charm offensive”) wêreldwyd van stapel stuur om die onteieningsprogram internasionaal te bemark. Of moet ek sê begogelingsprojek? Met hierdie geraamtes in die diplomatieke kas, gaan die sjarmekrane groot oopgedraai moet word. En soos Chris tereg noem bo, ek het nie eens Bruce Koloane ingesluit nie. Om eerlik te wees, ek het totaal van hom vergeet. Toe ek eers begin krap was die soektog se resultate net te oorweldigend.

Die minister sê die buiteland moet die onteieningsprogram net verstaan … die probleem is hulle verstaan dit maar al te goed.

Theresa ·

Net hier waar ‘n regering ‘n onteieningsprogram sal wil bemark (met sjarme of daarsonder). Hoe belaglik maak hul hulself nie.

JoeV ·

Besef die mense nie die kantien personeel van die VSA weermag loop hulle gelyk met die grond nie? As dit was dat hulle die gek geskeur het was dit ander ding, maar hulle glo hulle self…

Sandra ·

Dis soos ‘n klein jakkalsie wat ‘n LEEU terg…. LOL.
Soldate….. LMGA

Afrikaanse Knaap ·

SANDF kan nie eers Lesotho skade aanrig nie, wat nog van die VSA. Hierdie man is ‘n dwaas. Ek verag die regering wat sulke manne betaal om namens my te praat. Wanneer kry ons self beskikking?

Blikke ·

Gaan nou die VSA inval met n microlight en twee valskerm soldate waarvan een n kit bag het……ag nee wat …….weet die agbare ambassador werklik waarmee hy te doen het?
ROFL…..LMGA…….!!!!

Nadia ·

O genade, more oormore hoor ons weer dit is alles Jan van Riebeeck se skuld dat dinge nie loop soos hulle dit wil he nie. Ek skaam my dood. Sies man!

Paul ·

Tekenend van ‘n rasgedrewe ideologiese disfuksionele regering.

gatvol ·

Almal van hulle het blykbaar n gat in die kop, net daar waar die brein gewoonlik sit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.