Die saai van haat geen grap

Grapperhaus-nederland

Ferdinand Grapperhaus is die Nederlandse minister van justisie en sekuriteit. Foto: Government.nl

Met die verloop van die Vicky Momberg-saak hier in Suid-Afrika, is daar meer as ’n tikkie ironie in ’n min of meer parallelle verloop oor die saai van haat in Nederland. Dis geen grap nie, al is die minister van justisie wat daarmee belas is, se van Grapperhaus.

Haatsaaiery is waarskynlik die naaste Nederlandse ekwivalent van haatspraak in Suid-Afrika. Streng, volgens wet, sluit dit veel meer as rassisme in, en word homoseksualiteit, gestremdheid en ’n aantal ander kategorieë hierby ingesluit. ’n Oortreder kan ’n jaar lank tronk toe gestuur word terwyl, ironies genoeg, met die nuwe koalisie die ooreenkoms ingesluit is dat dié tronkstraf ook twee jaar sal kan beloop, soos wat Momberg nou opgelê is.

Grapperhaus is onder druk om die regsraamwerk van die oortreding beter te omlyn, en veral strenger te maak. Dit volg ná ’n intimiderende preek van ’n geloofsleier wat op die burgemeester van Rotterdam, Ahmed Aboutaleb, gemik was.

Volgens Grapperhaus was die preek net-net toelaatbaar volgens die wet.

Hoewel hy nou onder druk die wetgewing gaan hersien, word slegs kosmetiese veranderings verwag. Grapperhaus is bekommerd ’n verdere opskerping van die wet kan Nederlanders se basiese vryhede onder druk plaas.

Hoewel Islam se radikale teenwoordigheid in Nederland ’n groot rol speel om na strenger beperkings te kyk, word die oog nie net in daardie rigting gehou nie. Die leier van die PVV, Geert Wilders, het Nederlanders en ook mense elders, al verskeie kere laat regop sit. Sy ondersteuners, terwyl hulle hoog die josie in is vir provokatiewe radikale Islamitiese uitlatings, voel Wilders se soort uitsprake hou geen bedreiging of gevaar is nie, en behoort nie onder die soeklig te val nie.

Die stryd oor waar die grens tussen spraakvryheid en die reg op die individu of groep se waardigheid lê, is nog lank nie besleg nie. In ’n liberale omgewing neig die swaartepunt te beweeg na spraakvryheid, met die gevolglike lang strome verontregtes op die internet en elders – veral waar die een met die vry sê se reg op privaatheid deur die webmeesters beskerm word.

Grapperhaus is egter geen liberaal nie – in elk geval behoort hy nie te wees nie. Hy is onder die vaandel van die konserwatiewe Christen-Demokratiese Appèl, of CDA, tot die parlement verkies. Die CDA is sterk gereformeerd begrond, met kenmerke wat dit aan die charismatiese ACDP hier herinner. Trouens, susterpartyooreenkomste is minstens twee keer reeds gesluit. Ook die nóg konserwatiewer SGP is skepties oor ’n verskerping.

Maar nog voor Suid-Afrikaners kan begin hare kloof oor waar die grens van rassistiese uitsprake lê of behoort te lê, en hoe dit gestraf moet word, is daar ’n kwessie waaraan daar nou dringend aandag gegee moet word, naamlik dubbelhandigheid. ’n Posisie waar ’n blanke dubbel so swaar gestraf word, terwyl swart mense (selfs ministers), vir presies dieselfde oortreding skaars ’n tik op die vingers kry, kan nie geduld word nie.

Dít laat die onvrede oorkook.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Eish ·

Ek begin nou om met nuwe oge na Siener van Rensburg se voorspellings te loer.
Die spreekwoord sê om jy mes vir iemand in te hê is om kwaad te wees vir n persoon.
Siener praat hoeka van die nag van lang messe. Ek dink dis wat ons tans ervaar. Indien die profesieë geloofwaardig is.
Dis maar bekhou, aanhou en uithou in die helhool.
Vladimir Putin is nou so besig met diplomate uitsit dat hy nog nie kans gekry het om my vlugtelingstatus toe te staan nie.

J v R ·

2de klas burger in ń 3de wêreld land. Ons gaan van ons vryheid gestroop word net soos ons heel wettig van ons eiendom beroof gaan word

Sarel ·

Die problem met hierdie klein groeppie mense hier aan die Suidpunt van die Afrika Kontinent is: 1) Ons kla te veel en het nie meer geloof nie en daarom bid ons te min.

Paul ·

Herman, ek is van mening die “probleem” lê by die definisie van rassisme. Ook per die sosiale norm, kleef daar ‘n baie groter stigma aan ‘n rassis as jy so gebrandmerk word, teenoor die wat van haatspraak aangekla word. Per die definisie van rassisme blyk dit ook dat ‘n swart mens, wat van Crimen Injuria aangekla word baie moeilik, indien enigsins, aan rassisme skuldig bevind sal kan word, daardie persoon sal eerder aan haatspraak skuldig bevind word, in teenstelling met dié van ‘n wit persoon.

Dan is rassisme ‘n kriminele oortreding, terwyl haatspraak ‘n siviele oortreding is. Ek glo die ewehandigheid wat nie toegepas word nie, se antwoord lê in die voormelde opgesluit, dit moet daar gesoek word. Dus soos die wetgewing tans staan, vra ek, is dit enigsins moontlik dat ‘n regter ‘n ewehandige uitspraak kan gee?

Paul ·

Kom ek skryf hierdie effe meer volledig:

Herman, ek is van mening die “probleem” lê by die definisie van rassisme. Ook per die sosiale norm kleef daar ‘n baie groter stigma aan ‘n rassis as dié van een wat haatspraak uiter.

O wee, en as jy as ‘n rassis gebrandmerk word!

Per die definisie van rassisme blyk dit ook dat ‘n swart mens wat van Crimen Injuria aangekla word baie moeilik, indien enigsins, aan rassisme skuldig bevind sal kan word, daardie persoon sal eerder aan haatspraak skuldig bevind word, in teenstelling met dié van ‘n wit persoon.

Dan is rassisme, wat by wyse van ‘n handeling of verbaal kan geskied, ‘n kriminele oortreding, terwyl haatspraak, wat slegs verbaal is, ‘n siviele oortreding is.
En as haatspraak mense aanspoor om tot dade oor te gaan?

Ek glo die ewehandigheid wat nie toegepas word nie, se antwoord lê in die voormelde opgesluit. Dus soos die wetgewing tans staan, vra ek, is dit enigsins moontlik dat ‘n regter ‘n ewehandige uitspraak sal kan gee?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.