Die saak ten gunste van Kommunitarisme

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

Deur Ernst van Zyl

Dit was Edmund Burke wat gesê het: “You will smile here at the consistency of those democratists who, when they are not on their guard, treat the humbler part of the community with the greatest contempt, whilst, at the same time they pretend to make them the depositories of all power.

Dit lyk of Suid-Afrika andermaal voor die volgende duidelike en moeilike vraag te staan kom: “En nou, wat nou?”

In die milieu wat hierdeur geskep word, het daar vele nuwe idees ontspruit in die gedagtes van diegene wat hulle met hierdie soort vrae besig hou. Dit was aan die einde van die vorige eeu dat die kollektiewe onderbewussyn van Suid-Afrikaners laas ’n soortgelyke vraag gevra het. Vandag, met die groeiende gevoel van ’n naderende keerpunt, is die vrees voelbaar dat dieselfde foute uit die verlede herhaal gaan word. As ek een sleutelwoord moes uitlig wat hierdie ontluikende paradigmaskuif in die huidige tydsgees saamvat, sou dit wees “alternatief”.

Een so ’n alternatiewe denkrigting wat begin het om organies te ontkiem uit die vrugbare grond van noodsaak, is ’n idee wat ouer is as staatsinmenging, naamlik kommunitarisme (Engels: Communitarianism).

Kommunitêre denke bepleit ’n veel groter fokus op onder-na-bo-gemeenskapsoutonomie, met veel minder klem op bo-na-onder, staatsgeleide inmenging en maatskaplike manipulering (Engels: social engineering).

Wendell Berry wys daarop dat ’n gemeenskap opgebou is uit ’n ryke versameling van persoonlike verhoudings wat put uit ’n rykdom van gedeelde kulturele herinnerings, waardes en tradisies. Daar moet op gelet word dat kommunitarisme gebaseer is op die opvatting dat jy nie alleen wil jy hê dat jóú kultuur gerespekteer word nie, maar dat jy ook dieselfde respek vir ander kulture gun. Dit is ’n denkrigting wat gebou is op ’n fondasie van wedersydse erkenning en respek, met ’n anti-imperialistiese DNS.

Kommunitarisme behels ’n strewe na ’n onderlinge ooreenkoms tussen gemeenskappe om hul neus uit mekaar se sake te hou, en elk eerder na hul eie pligte en verantwoordelikhede om te sien. Kommunitarisme is nie ’n ideologie nie, maar eerder ’n pleidooi vir die erkenning van die werklikheid. ’n Pleidooi om die wêreld te sien soos dit is, met gebreke en al, eerder as hoe ons dit so bitter graag sou wou hê.

’n Samelewing van samewerkende gemeenskappe wat hulle self bestuur, lewer ’n vryer en meer stabiele politieke omgewing as ’n samelewing bestaande uit slegs individue wat bestuur word deur een “verligte” sentrale regering wat optree as die babaoppasser, regter, jurie en laksman.

Selfbeskikkende groepe verseker individuele regte effektief in die praktyk by wyse van hul kulturele reëlings wat neerkom op niestaatlike mag, en nie deur die staat nie. Wanneer gemeenskappe meer mag gegee word om hul lot, veiligheid en beheer in eie hande te neem, skep dit ’n organiese onder-na-bo meganisme vir die opheffing van druk in die samelewing – iets wat besonder belangrik is in multikulturele samelewings. Daar is beduidend meer potensiaal vir wrywing en konflik in ’n samelewing waar gemeenskappe gedwing word om te geïntegreer of eenvoudig saamgegooi word onder die beheer van een meerderheidsregering, wat poog om al hul sake te mikrobestuur. In so ’n stelsel word mense meer beskou as ’n blote versameling individue, as in ’n samelewing van grotendeels selfbesturende gemeenskappe.

Onder die eersgenoemde scenario, is partypolitiek die enigste opsie vir gemeenskappe om hul kulturele lot en hul veiligheid te probeer bepaal. Dit het ’n ernstige probleem vir minderheidsgroepe geskep, waarvan die talle voorbeelde in Suid-Afrika getuig. Die afgelope 26 jaar het aangetoon hoe individuele regte onvoldoende is om minderhede te beskerm teen die tirannie van die meerderheid. Die konsep van groepregte vereis ’n grondwet wat erkenning gee aan gemeenskappe, en ’n grondwetlike orde wat só opgestel is dat gemeenskappe meer vryheid het om hul eie instellings soos skole, buurtwagte, kerke en universiteite te vestig en bestuur.

Individualiste redeneer dat in ’n holistiese staat, met instellings soos die howe, die Grondwet, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Openbare Beskermer ensovoorts, sal dien as die groot gelykmakers van individue vanuit verskillende gemeenskappe en kulture.

Die geskiedenis het egter vir ons gewys dat al wat nodig is, is een korrupte of ideologies besete administrasie, om hierdie liberale instellings te buit en dan te gebruik om minderheidsgroepe asook individue te onderdruk. Aangesien gemeenskappe onder so ’n bedeling afhanklik van die staat gemaak is om hul kulturele lot en hul veiligheid te bestuur, is hulle nou magteloos om teen ’n administrasie te baklei wat afgewyk het van die liberale ideale wat dit tot stand gebring het.

Die drakoniese Suid-Afrikaanse inperking is nou ’n uitstekende voorbeeld van gemeenskappe wat gedwing is om primêr op die staat te vertrou om hul veiligheid te verseker, in die vorm van die polisie en die Suid-Afrikaanse Weermag. Die gevolge hiervan is onlangs verwesenlik in die regering se verbod teen aktiewe buurtwagte, en in die verlede toe die Mbeki-administrasie die Kommandostelsel laat ontbind het, wat die plaag van plaasaanvalle en plaasmoorde laat vererger het – dit duur steeds vandag voort.

In die strewe na staatsbestuurde intergroep-harmonie, was die onvermydelike praktiese einddoelwit van die liberale staat, gebaseer op individualistiese ideale, nog altyd ’n toenemend gedetailleerde, outoritêre en eksplisiete staatsburokrasie en wetgewing, gemik daarop om al die verskillende gemeenskappe in die samelewing as ’n versameling van individue onder een holistiese staat te bestuur.

Die hoofstruikelblokke wat in die weg staan van hierdie liberale individualistiese utopie is die lastige, volgehoue, maar baie duidelike skeure en verdelingslyne van kultuur, taal en godsdiens. Die enigste manier – so lyk dit – om dié verdelings te bowe te kom, is om hierdie gemeenskapversperrings bietjie vir bietjie af te breek, en daardeur geleidelik in die rigting van ’n holistiese samelewing van losstaande individue te beweeg, eerder as hegte gemeenskappe.

In hierdie sprokie kom die goedgesinde, tegnokratiese staat tot die redding van die individu soos ’n leviataanse ridder in skitterende harnas. Aan die kern van liberalisme lê die kommer dat die staat die individu kan onderdruk. Ironies genoeg, ten einde die individu te beskerm, moet die liberale staat toenemend op outokratiese wyse ’n toenemend atomistiese leefstyl op gemeenskappe en kulture afdwing.

Die vorige eeu het vir ons die euwels van gedwonge segregasie van gemeenskappe deur staatlike dwang getoon, maar volgens my kan die era ná die val van die Berlynse Muur vir ons die euwels van gedwonge integrasie van gemeenskappe tot ’n geatomiseerde, vormlose geheel, maklik en duidelik aantoon. Waar die klassieke liberalisme van die verligting ’n reaksie was op outoritêre staatsonderdrukking van die individu, sien ek die herlewing van kommunitêre en konserwatiewe denke in ons tyd, as reaksie op ’n oordrewe en toenemend imperialistiese individualistiese paradigma.

Mense wil hê politiek moet gaan oor groter, verhewe dinge, soos moraliteit, plig en burgerlike samelewing. Toe die liberalisme, met sy tegnokratiese en steriele benadering tot politiek, nie daarin geslaag het om hierdie verlangens te bevredig nie, het populiste, wat geredelik instorm waar liberales versigtig sou trap, op opportunistiese wyse daardie leemte gevul. In baie gevalle het hierdie populiste dan, sodra hulle posisies van mag beklee het, begin om liberale instellings bietjie vir bietjie te korrupteer en liberale grondwette te interpreteer soos dit hulle pas. En daarmee ’n era van tirannie van die meerderheid ingelui, deur die einste instrumente en mag te gebruik wat die liberalisme so vryelik voorsien het. Dit het ongelukkig duidelik geword dat dit nie eintlik saak maak hoe mooi of edel jou teorieë en intensies is, as die Hoofregter nie daarin glo nie.

Vir die grootste gedeelte van die mensdom se geskiedenis het kultuur en tradisie alles wat die huidige holistiese liberale staat poog om te beheer, suksesvol bestuur en in stand gehou; die liberale staat bestuur die samelewing soos ’n uniforme geheel, in stede daarvan om erkenning te gee aan die verskeidenheid van die verskillende dele daarvan.

Tradition is a set of solutions for which we have forgotten the problems,” soos Donald Kingsbury gesê het. As jy sou waag om hierdie eeue oue oplossings te verwerp in die naam van ’n splinternuwe “verligte” en individualistiese denkwyse, moenie verbaas wees as sommige van dié probleme weer – soos onkruid – opduik en so magtig as ooit is nie.

  • Ernst van Zyl is ’n strategie-en-veldtogbeampte by AfriForum. Hy is mede-aanbieder op die Podlitiek-podsending, die Afrikaanse “In alle Ernst”-podsending, en het ’n Suid-Afrikaanse kanaal van nuus en politieke kommentaar op YouTube. Ernst is gewoonlik aktief op Twitter en YouTube onder die skuilnaam “Conscious Caracal”.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaun

Ernst, dankie vir ‘n goeie artikel. Twee vrae: 1) Hoe sal die “woke”-brigade hanteer word wat byna onmiddelik op en af sal spring en hul voetjies sal stamp en verklaar dat dit apartheid in wese is? 2) Hoe gemaak as een groep in die gedeelde samelewing te vinde is vir ‘n kommunitaristiese benadering en die ander groepe nie? M.a.w. hoe gemaak as een gemeenskapgroep gemeenskapsoutonomie wil hê, maar die ander gemeenskapsgroepe hom dit nie wil gun nie? Of selfs meer direk gestel: hoe dwing ons groepregte af in ‘n grondwet waarin slegs individuele (en dus uiteindelik die meerheidsgroep) se regte… Lees meer »

BoerSonderRoer

Die staat moet ons net beskerm en paaie bou. Anders as dit moet hulle hul neus uit almal se sake hou.

Marius

Dakie Ernst dat jy hierdie gedagtes van groepsregte vir alle kulture op die tafel sit. Die mens is maar ‘n tropdier en daarvoor moet voorsiening gemaak word op ‘n vrywillige basis. Vir die individualiste of alleenlopers moet daar ook ruimte gegun word om sy/haar regte uit te oefen solank dit nie ten koste van die groep is nie. Om van ons almal onverbonde individualiste te probeer maak is ‘n onbegonne taak veral vir die swakkeres in ons groepe. Gemeenskapsbetrokkenheid en die ondersteuning van ‘n hegte gemeenskap het geen gelyke nie, veral nie in tye van nood soos nou nie.