Die sage van die Aurora-transaksie: In sonde ontvang en gebore

aurora-daggafontein-01

Die Daggafontein-skag by Grootvlei terwyl Aurora dit begin stroop het. Foto: Verskaf.

Die regering het onlangs ’n veldtog geloods om weer lewe in die nasionale teen-korrupsiestrategie te blaas nadat dit in 2014 doodgeloop het. Met die herloodsing van die inisiatief is daar nou nege staatsdepartemente en ’n verdere 15 geregtelike instellings betrokke wat saam met die georganiseerde sakesektor, vakbonde en die burgerlike gemeenskap gaan poog om korrupsie in die land hok te slaan.

Solidariteit se deelname aan die teenkorrupsieforum word onder meer gerugsteun deur die ervaring wat ons met die Aurora-sage opgedoen het. Solidariteit het juis by ’n onlangse teenkorrupsie-werksessie Aurora Empowerment Systems as ’n gevallestudie voorgehou om te toon wat die impak van korrupsie op werknemers is en hoe moeilik dit is om al die betrokke staatsdepartemente en geregtelike instellings te kry om saam te werk in ’n korrupsie-ondersoek wat sulke uiterste afmetings aanneem. So het ons onder meer beklemtoon hoe die Aurora-direkteure, wat Thulani Ngubani, Khulubuse Zuma (pres. Zuma se broerskind), Zondwa Mandela (Nelson Mandela se kleinseun), Fazel en Solly Bhana (huisvriende van Winnie Mandela) en Michael Hulley, (pres. Zuma se prokureur) insluit, die versinnebeelding is van hoe politieke verbintenisse gebruik kan word om regsprosesse te frustreer en te omseil.

Aurora se verwoestingstog

Die bedrogspul het begin toe Aurora in Julie 2009 met die hulp van die omstrede likwidateur Enver Motala ʼn korrupte bod-dokument by die Pamodzi-likwidateurs ingedien het met die doel om die gelikwideerde Pamodzi-myne te bestuur en kwansuis later te koop.

Die bod-dokument het onder meer die volgende leuens bevat:

  • Daar is aangevoer dat Aurora ’n 71% beherende aandeel in die Cenmag Holdings-groep het.
  • Daar is beweer dat Aurora Redwood Timbers, die grootste saagmeule in die Suidelike Halfrond, besit.
  • Volgens die bod-dokument het Aurora R350 miljoen beskikbaar gehad vir kapitaalontwikkelingsprojekte.
  • Beloftes is gemaak dat Aurora studiebeurse aan werknemers se kinders sou toestaan en ’n kliniek by die myn sou oprig.

Ná bestudering van die bod-dokument het Solidariteit versoek dat ʼn verdere ondersoek eers gedoen moet word. Motala het egter agter die skerms sy politieke invloed gebruik om Aurora in September 2009 aangestel te kry. Daar is later bevind dat Aurora, te midde van al die wanvoorstellings in die bod, ten tyde van die aanstelling reeds in ʼn staat van insolvensie was. Dít op sigself was ’n ernstige oortreding van die Maatskappywet.

Dit was uit die staanspoor duidelik dat die Aurora-direkteure politieke pionne was (hoewel nie totaal onskuldig nie) en dat die omstrede Solly en Fazel Bhana (met ʼn lang misdaadgeskiedenis) in beheer van sake sou wees. Volgens Motala sou Aurora die R690 miljoen wat nodig was om die myne te koop, by ʼn misterieuse Maleisiese maatskappy, AM Equity, leen.

Ná Aurora se eerste maand in beheer van die Pamodzi-myne het hulle in gebreke gebly om aan ʼn enkele klousule van die handelsooreenkoms, wat met likwidateurs gesluit is, te voldoen. Van Desember 2009 tot Maart 2010 het Aurora slegs ʼn klein deel van die 5 300 werknemers se salarisse betaal, wat daartoe aanleiding gegee het dat werkers teen die einde van Maart begin staak het.

In dieselfde tyd is bevind dat:

  • Aurora die werknemers se pensioen-, werkloosheidversekering- en werknemerbelastingaftrekkings gesteel het;
  • Aurora by geen statutêre instellings geregistreer was nie;
  • duisende kiloliter se onbehandelde suurmynwater in die Blesbokspruit gestort is; en
  • aan geen mynbouwetgewing of regulasie voldoen is nie.

R122 miljoen wat uit goudverkope verdien is, het ook verdwyn en gedurende ʼn insolvensie-ondervragingsproses, wat later plaasgevind het, het dit aan die lig gekom dat geld onder meer van Aurora se bankrekening na rekeninge van die Bhana-familie en vriende (R35 miljoen) en Motala (R3 miljoen) gevloei het. Die Bhanas het verduidelik dat dit bloot die terugbetaling van lenings was – geen rekord van dié lenings kon egter gevind word nie.

Op 1 April 2010 het Aurora die myne weens werkers se voortgesette staking gesluit en het Fazel Bhana die werkers (wat drie maande laas betaal was) as “gierigaards” beskryf. Aurora se nuwe selfverrykingsplan het toe in werking getree deur myntoerusting (wat nie aan hulle behoort nie) te verkoop en alle ander staalkonstruksies as skrootmetaal te verkoop. Die handelsooreenkoms het sodanige aksies uitdruklik verbied, maar met Motala se toestemming het die Bhanas se plundering voortgegaan.

Intussen het Eskom ’n amptenaar gestuur om die krag na die Aurora-myne af te skakel weens ’n uitstaande rekening van R54 miljoen, maar dieselfde amptenaar moes twee uur later terugkeer om die krag weer te gaan aanskakel nadat die uitvoerende hoof van Eskom ’n oproep van Winnie Mandela ontvang het.

Weens die plundering van mynbates wou die likwidateurs (Motala uitgesluit) Aurora se ooreenkoms summier kanselleer, maar Aurora het aangevoer dat die mynbates feitlik hul eie bates is omdat hulle reeds R20 miljoen van AM Equity as ʼn eerste betaling vir die myne ontvang het. Tydens die insolvensie-ondervraging het Callie Smit, Aurora se prokureur, egter beken dat hy onder Motala en die Bhanas se instruksie ʼn brief, wat die betaling van R20 miljoen sou “bevestig”, vervals het. Só het die Bhanas bloot tyd gewen om die mynbates verder te stroop.

Sedert April 2010 het Aurora slegs 500 werknemers in diens behou en hulle tussen 10% en 20% van hul salarisse betaal, terwyl die werkers in die gevaarlike vlakskagte goud moes myn en goudstof uit die goudaanleg moes herwin. In dié tyd het Solidariteit ʼn arbeidshofbevel bekom en drie geskrewe ooreenkomste met Aurora oor die terugbetaling van werkers se salarisse bereik, maar Aurora het nie een van die ooreenkomste of die hofbevel eerbiedig nie.

Intussen het die departement van waterwese en omgewingsake ’n direktief uitgereik waarvolgens Aurora skuldig bevind is aan waterbesoedeling. ʼn Boete van R5 miljoen is opgelê en Aurora het tronkstraf in die gesig gestaar as hulle nie die suurmynwater onmiddellik met kalk sou behandel nie – Aurora het in die teenwoordigheid van die departement en media gedemonstreer hoe hulle die water behandel. Die oomblik toe die kalk opgeraak het, het die besoedeling egter voortgegaan en die boete is nooit afgedwing nie.

Teen die middel van 2010 was die likwidateurs weer op pad hof toe om die ooreenkoms met Aurora te beëindig toe geen betaling via AM Equity ontvang is nie, maar Aurora en Motala het die Switserse belegger Global Emerging Markets (GEM) toe uit die hoed gepluk. GEM se voorvereiste vir betrokkenheid was dat hulle slegs in ’n genoteerde maatskappy sou belê.

Motala het toe aangekondig dat Aurora ʼn maatskappy, Labat, waarin Motala pas ʼn aandeelhouer geword het, gaan oorneem en op die aandelebeurs gaan noteer. Ahmed Amod, die Bhanas se prokureur, het ʼn vals verklaring aan die JSE voorgelê waarin beweer is dat hy (Amod) die R4,5 miljoen, wat vir die oornametransaksie benodig word, in sy trustrekening het. Labat het in goeder trou die aandele oorgedra. Intussen het Aurora ’n versoek aan GEM gerig om ʼn voorskot van $2 miljoen aan hulle te betaal om die Labat-transaksie te finaliseer. Tydens die insolvensie-ondervraging het dit aan die lig gekom dat die geld wat in ʼn vervalste Aurora-bankrekening inbetaal is, verdwyn het.

GEM en Labat het hulle aan die transaksie onttrek, met gepaardgaande groot verliese aan hul kant. Intussen het Khulubuse Zuma, wat toe pas sy oom, pres. Jacob Zuma na China vergesel het, teruggekeer met die nuus dat die Chinese maatskappy, Shandong Gold, Aurora se jongste belegger gaan wees. Dit was weer eens ’n leuen en dit het Aurora bloot in staat gestel om die myne finaal te stroop.

Teen Mei 2012 was Motala se hande so besmet dat hy uiteindelik as Pamodzi-likwidateur verwyder is en in dieselfde week is Aurora se ooreenkoms gekanselleer – heeltemal te laat, want teen daardie tyd het Aurora R1,7 miljard skade aan die mynbates aangerig. Dit het ook aan die lig gekom dat Motala weens ’n kriminele rekord ná ’n skuldigbevinding op 92 aanklagte van bedrog nie as ’n likwidateur mag gepraktiseer het nie en dat Enver Dawood sy ware identiteit is. Motala/Dawood het egter vinnig danksy Winnie Mandela se ondersteuning suksesvol om presidensiële kwytskelding aansoek gedoen en sy misdaadrekord is uitgewis.

Gevolge en pad vorentoe

ʼn Mate van geregtigheid het wel voorverlede week geskied toe ’n skadevergoedingsooreenkoms van R23 miljoen, ná ’n jare lange hofstryd teen Aurora, met Zuma bereik is en Solly en Fazel Bhana weens die nienakoming van ʼn terugbetalingsooreenkoms gesekwestreer is. Twee ander Bhana-familielede, sowel as Thulani Ngubani en Zondwa Mandela, wat ook voordeel uit die bedrogspul getrek het, sal binnekort gesekwestreer word. Intussen is ʼn rits kriminele klagte teen die Aurora-direkteure (Zuma uitgesluit), die Bhanas, Amod en Motala aanhangig gemaak, maar dié dossiere, wat nog nie “verdwyn” het nie, word heen en weer tussen die Valke, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die SAPD se spesiale ondersoekeenheid, gestuur.

Die hartseer gevolg van die Aurora-korrupsie is die vernietiging van 5 300 direkte werksgeleenthede en 6 000 indirekte poste (dié van kontrakteurs, subkontrakteurs en diensverskaffers). Gebaseer op die Kamer van Mynwese se statistieke waarvolgens bereken word dat daar tien afhanklikes per mynwerker is, het die Aurora-bedrogspul nagenoeg 110 000 mense in armoede gedompel.

Die voormalige Aurora-werknemers sal ongelukkig eers in Februarie 2018 hul eerste salaristerugbetalings kan verwag namate geld verhaal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JC ·

SJOE!!!
Ek is sprakeloos…om die storie uit te vis is erger as vuurpyl fisika!!

Daan ·

Dis misdaad van die ergste graad.Al die betrokkenes,Aurora,Bhana familie en hul begunstigdes en Motala moet voor die hof gedaag word.Al hul bates moet gevries word en siviele eise moet ingestel word namens 110 000 slagoffers.Wat ‘n skande (SHAME!) Deplorable!

Blommie ·

Ek ken mense wat direk geraak is deur dit, self maande gewerk het sonder vergoeding en vandag van aalmoese moet leef. Dis ‘n skreiende skande!!!

Oosie ·

Kan iemand vir ons se wat van die prokureurs geword het wat so oneties opgetree het? Hierdie verhaal is erger as ‘n riller of fiksie!Ek hoop die Staat het ‘n omvattende dokument in Engels gekry sodat hulle darem so bietjie kan verstaan van dit wat gebeur het…

Janneman ·

Nogal interessant dat hierdie feite nie in die hoofstroom media verskyn nie, ek dink dit pas nie in met PC nie.
Dit mense, is n uitstaande voorbeeld van dekolonisasie. Vernietig alles in die naam van die afrika manier. Die resultate is n bysaak. Moet asb vir geen oomblik dink ek is negatief nie. Dink Nkandla, NPA, SABC, ZIM, ………………Eish.

JC ·

Ek haat PC!! Dit is die DIKTATUUR van die liberaliste!! Kom ou Max asb, skryf nou vir ons iets mooi oor die wonderlike manier waarop Aurora kaal uitgetrek is en mense in daglig BEROOF is op die “tried and tested” wonderlike Afrika manier. Vertel vir ons hoe wonderlik dit is en hoe sleg Afrikaners is en dat hul eintlik te blameer is daarvoor!! Urrgh…DIT MAAK MY NAAR…WAAROM SO STIL? Vertel vir ons van die WONDERLIKE bydrae wat ander volkere tot ons pragtige land maak, anders as AFRIKANERS wat altyd die las op ons skouers moer dra vir vooruitgang. Ek het nuus vir jou en vir almal wat wil luister: ONS BOU!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.