Die SANW na drie dekades

In April 2024 sal die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sy 30ste bestaansjaar vier. Die onlangse afsterwe van twee SANW-lede weens ʼn mortierbom in die ooste van die DRK het egter opnuut die kollig geplaas op die stand van die SANW en die wyse waarop hul funksionering die afgelope 30 jaar verander het. – Red. 

Deur prof. Theo Neethling

Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) vroulike soldate van vyf seinregimente, salueer tydens die eerste parade wat gehou is sedert die integrasie van soldate van die voormalige ANC en die Suid-Afrikaanse Weermag, in Wonderboom, noord van Pretoria, 17 Maart 1995. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

In April 2024 sal die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sy 30ste bestaansjaar vier. Die vraag is: waar bevind die SANW hom ná drie dekades onder ANC-bestuur en wat is die groot kwessies in die funksionering van Suid-Afrika se weermag as ʼn beleidsinstrument van die regering van die dag? In hierdie verband wil ek veral vyf sake belig.

  1. Buitelandse beleidsinstrument

Suid-Afrika se post-1994-beleid jeens Afrika het nuwe geleenthede gebring vir die aanwending van die weermag as ʼn buitelandse beleidsinstrument. Met die aanvang van die Mbeki-era het die SANW se betrokkenheid by vredesoperasies in die streek trouens ʼn uitstaande kenmerk van Suid-Afrika se buitelandse beleid op die Afrika-vasteland geword. Daar is etlike voorbeelde wat veral uitstaan, waaronder die SANW se betrokkenheid by die konflikte in Lesotho (1998), die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) (1999), Burundi (2003), en later in Soedan (2008) en meer onlangs Mosambiek (2021), asook verskeie vorige kleiner buitelandse ontplooiings.

Suid-Afrika het op 15 Februarie 2024 gesê dat twee van sy soldate deur mortiervuur in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo gedood is, die eerste sterftes sedert hy troepe daar in Desember ontplooi het. (Foto: Aubin Mukoni / AFP)

  1. Verdedigingsoorsig

Ofskoon die Suid-Afrikaanse regering ná 1994 sy buitelandse beleid in Afrika sterk gekoppel het aan die bevordering van vrede en ontwikkeling in Afrikastate, het sy amptelike verdedigingsbeleid voortgegaan om die SANW hoofsaaklik te verbind aan die beveiliging en verdediging van die land se soewereiniteit en territoriale integriteit. Dit alles is uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Verdedigingsoorsig van 1998 en verklaar ook waarom die aankoop van nuwe Gripen-vegvliegtuie, duikbote en fregatte in die laat-1990’s op die SANW se inkopielys was.

Generaal Siphiwe Nyanda, die nuut aangestelde hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) neem sy eerste saluut in Pretoria op 29 Mei 1988 as hoof van verdediging nadat sy voorganger Generaal Georg Meiring op 6 April sy bedanking oorhandig het. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Die Verdedigingsoorsig van 1998 was die produk van ʼn proses van beleidsontwikkeling in die departement van verdediging waar daar uiteindelik tot die slotsom gekom is dat die SANW se magsontwerp op sy “primêre doel” gerig moes wees, naamlik verdediging, en dat ander of sogenaamde sekondêre funksies – insluitend operasies op die gebied van vrede en veiligheid – deur sy sogenaamde kollaterale nut (“collateral utility”) uitgevoer moes word. Hierdie uitgangspunt het egter mettertyd uiters problematies geraak soos tyd aangestap het en politieke besluite oor die aanwending van die SANW geneem is. Sedert 1998 het die SANW immers toenemend ʼn prominente rol gespeel as ʼn instrument in Suid-Afrika se buitelandse beleid en uiteindelik het dit al duideliker geword dat die sekondêre funksie van vredesoperasies in konflikgeteisterde Afrikastate inderwaarheid die SANW se primêre funksie of hooffokus geword het.

  1. Begrotingsbeperkings

Begrotingsbeperkings het toenemend groter uitdagings aan die SANW gestel, veral sedert 2000. Dit was baie duidelik uit die (tweede) Suid-Afrikaanse Verdedigingsoorsig van 2015 wat dit duidelik gemaak het dat Suid-Afrika in daardie stadium minder as 1,2% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) aan verdediging bestee het. Trouens, tussen 1995 en die 1998 het die verdedigingsbegroting afgeneem en is dit met 11,1% besnoei.

‘n Oryx-helikopter van die SANW (Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag) vlieg op 20 Maart 2019 tydens ‘n lugverligtingsmissie oor die oorstroomde gebied rondom Beira, sentraal-Mosambiek. Internasionale hulpagentskappe het op 20 Maart gejaag om oorlewendes te red en humanitêre hulp te ontmoet. behoeftes in drie verarmde lande wat geteister is deur een van die ergste storms wat Suider-Afrika in dekades getref het. Vyf dae nadat die tropiese sikloon Idai ‘n stuk deur Mosambiek, Zimbabwe en Malawi gesny het, het die bevestigde dodetal op meer as 300 gestaan en honderdduisende lewens is in gevaar, het amptenare gesê. (Foto deur MARYKE VERMAAK / AFP)

Volgens die Verdedigingsoorsig van 2015 was die SANW effektief 24% onderbefonds in terme van sy grootte en verantwoordelikhede. Die tendens van laer militêre besteding het sedertdien voortgeduur aangesien onlangse statistiek toon dat besteding in 2022/ 23 8,4% laer was as in 2021 en 21% laer as in 2013. Uiteraard hou dit verband met die land se sukkelende ekonomie en lae groei wat erge druk plaas op staatsfinansies en laer staatsbesteding noodsaak.

  1. Hoëtegnologie-toerusting

Vierdens, en gekoppel aan die vorige punte, het die hoëtegnologie-toerusting wat sedert die einde van die 1990’s grootliks vir die sogenaamde primêre funksie aangekoop is, uiteindelik problematies geraak sover dit diensbaarheid en funksionaliteit betref.

In ʼn skokkende onthulling teen die einde van 2023 het die minister van verdediging, Thandi Modise, ʼn haglike toedrag van sake binne die Suid-Afrikaanse Lugmag erken. Sy het gemeld dat ʼn verbysterende 85% van die lugmag se vliegtuie buite aksie was. Van die hoëtegnologie-toerusting wat sedert die einde van die 1990’s aangekoop is, was twee van die 26 Gripen-vegvliegtuie en drie van die 24 Hawk-vliegtuie beskikbaar vir diens. Trouens, in die geheel was meer as die helfte van die lugmag se vliegtuie – ʼn verbysterende 53% – nie diensbaar nie. Die finansieringskrisis is tans so erg dat sommige militêre ontleders die ondenkbare voorstel, naamlik om die eens trotse lugmag tot ʼn blote lugvleuel af te skaal.

Lede van die Suid-Afrikaanse Vloot tydens verlede jaar se vieringe van Gewapende Magte-dag (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Vloot is nie in ʼn beter posisie as die lugmag nie. Reeds in 2013 was drie van die vloot se fregatte, wat saam met die duikbote deel was van die wapenaankope van die 1990’s, op die een of ander manier buite werking of disfunksioneel, terwyl ʼn vierde vir onderdele gestroop is. Al die fregatte benodig dringend herstelwerk en hul wapenstelsels moet vervang of herstel word. Die drie duikbote het boonop met ʼn beperkte aantal onderdele gekom, asook die fregatte. Geskeduleerde en gereelde instandhouding aan veral die duikbote is van kritiese belang. Een van die duikbote is reeds vir onderdele gestroop en soms is nie ʼn enkele duikboot diensbaar nie.

Soos reeds genoem, het die fokus van die SANW ná 1994 – veral dié van die SA Leër – toenemend verskuif na operasies op die gebied van vrede en veiligheid in Afrika. In November 2023 was Suid-Afrika die vyfde grootste troepbydraende nasie in die Verenigde Nasies se vredesoperasie in die oostelike DRK en tans speel die SANW ʼn sleutelrol in die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap se operasie teen bloeddorstige Islamitiese militante in die noorde van Mosambiek. Hierdie is belangrike operasies, maar militêre kenners voer gereeld aan dat ons soldate in die veld dikwels nie goeie logistieke ondersteuning ontvang nie.

  1. Interne fokus

Beskerming van ons lang grenslyne en ondersteuning vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in interne operasies het van toenemende belang geword in die SANW se take en verantwoordelikhede en kan nou selfs as een van sy primêre funksies beskou word. Wat egter duidelik is, is dat die SANW veels te dikwels gebruik word as ʼn instrument om Suid-Afrika se binnelandse veiligheidsprobleme die hoof te bied.

Die SANW is in Manenberg ontplooi (Foto: Henk Kruger/Cape Argus via African News Agency/ANA)

Twee kwessies het toenemend ʼn impak op die groeiende voetspoor van die SANW in Suid-Afrika se binnelandse veiligheidslandskap: eerstens ʼn afnemende vermoë van die SAPD om die land se binnelands behoorlik te polisieer en tweedens, ʼn ingesteldheid in regeringskringe wat die SANW se fokus al meer op binnelandse politieke uitdagings rig. Die SANW word inderwaarheid as ʼn handige instrument beskou om die SAPD by te staan in polisiëringsrolle en -funksies, wanneer nodig, soos op die Kaapse Vlakte. Die SANW se nie-militêre take is wydlopend en wissel van optrede teen zama-zamas tot die beveiliging van Eskom-kragstasies en het selfs al die skoonmaak van die Vaalrivier behels.

  1. Ten slotte

In die afgelope drie dekades het daar ʼn duidelike wanverhouding ontstaan tussen dit wat jare reeds op politieke vlak van die SANW verwag word aan die een kant, en sy begroting en vermoëns aan die ander kant. Die oorhoofse uitdaging vir die SANW is om nie te vergeet dat konvensionele verdediging steeds sentraal staan tot die grondslag vir sy bestaan nie, maar om ook gereed te bly vir politieke oproepe om by te staan met vredesoperasies in die streek of die vasteland as geheel.

Daarbenewens moet die SANW dikwels die SAPD ondersteun in die lewering van veiligheidsdienste in ʼn misdaadgeteisterde en brose Suid-Afrikaanse samelewing en landsgrense beveilig. Dit is veeleisend en alles moet uitgevoer word met min of meer 1% van die land se BBP.

Daarom verbaas dit nie dat die SANW dikwels beskryf word as onderbefonds en institusioneel oorspanne, en in werklikheid vir ʼn geruime tyd in ʼn kritieke toestand van voortdurende agteruitgang verkeer nie.

  • Theo Neethling is verbonde aan die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

skurweberg ·

Na die lees van die artikel is daar net een gevolgtrekking, Suid Africa het ‘n land van pampoene geword. Ons gaan vorentoe duur betaal daarvoor kom asb tot julle sinne. Almal gaan in die toekoms met hulle lewe boet

After reading the article there is only one conclusion, South Africa has become a country of pumpkins. Everyone is going to pay dearly for that in the future. Please come to your senses.

Prikkie ·

Vandag se weermag is nie die selfde as die een wat ek in 1983 verlaat het nie. Tragies.

Maar is dit die soldate se skuld of die begroting wat tot op die been gesny is en die mense in poste wat jy nie weet hoe hulle daar gekom het nie.

Phillip ·

Ons het lankal nie meer n SAW nie. Meeste troepe en selfs leierskap is oorgewig en onfiks. Kan nie n gevegs wapen hanteer nie .hulle is verby incompetent. Lief die woord. Daar is helfte meer kantoor funksienpersoneel as gevegs personnel. Ons basise val uit mekaar en geen orde of dissipline nie. Dis n skande. .

Hennie ·

SANW = SANDF

Ek sien sommige mense raak steeds deurmekaar en verwar die woord weermag met army. Die Leer is die army.

Vrijburger ·

En Lesufi is besig om sy eie ‘weermag’ op te lei vir Gauteng. (Wat my bekommer, is dat niemand hieroor bekommerd is nie?)

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Duur en nuwe fregat en duikboot wat gestroop word. Wat ‘n grap.

OW ·

Die SANW is net ‘n weerspieëling wat huidig op die breë politieke front plaasvind.Wat kan ‘n mens in elkgeval verwag van ‘n wanfunksionele regering,wat alle bestuursbeginsels afgeskaf het.

minnie muis ·

sp paar jaar moet ek iets vir my sister doen in dbn by mediese plek in army kamp ,, ek gaan toe deur onbemande hek by durban army kamp wat die hawe moet beskerm,, met my kar , niemand het my eers gestop nie .. weereens bewys sekere mense kan nie land regeer nie, net nie op dieselfde vlak inestel nie ……..

Republikein in die Wes Kaap ·

Vrijburger, sodra die Wes-Kaap afstig sal die res van die land vinnig opgeraap word. Lesufi bou solank sy eie weermag op vir Gauteng oorname. Die man weet wat ons nie weet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.