Die Senekal-storie: Van vrese na vrede

Protes buite die Senekal-landdroshof (16 Oktober 2020) (Foto verskaf)

Binne ’n kwessie van ’n maand het die wiel gedraai. Van moontlike ernstige rassekonflik tot gemeenskapsamewerking. As Suid-Afrikaners is ons almal bly dat die vrese oor die situasie in Senekal nie bewaarheid is nie. Ons kan trots wees daarop dat selfbeheersing geseëvier het toe die situasie op die drempel van geweld gewankel het.

Die sneller was die wreedaardige moord op die jong Brendin Horner wie se lyk aan ’n heiningpaal vasgemaak is. Een van die geestelike leiers, pastoor John Mathuhle, het die voorval op Facebook veroordeel. Dit het gou in ’n sterk besprekingspunt ontaard met beledigings wat oor en weer gevlieg het en geneig het na ’n rassekwessie.

Toe volg die voorval op 6 Oktober. Honderde hoogs ontstelde Suid-Afrikaners het op Senekal saamgetrek om te betoog teen plaasmoorde. Ongelukkig het ’n klompie se emosies die oorhand gekry en het hulle die landdroshof bestorm met die doel om by die twee verdagtes van die moord op Brendin Horner uit te kom. ’n Polisievoertuig is ook aan die brand gesteek. Dit was ’n hoogs ongewone daad. Dit het tot ʼn nóg warmer debat op Facebook gelei. Pastoor John het dié voorval ook veroordeel, maar is, onder meer, beskuldig van vooroordeel teenoor swart mense. Hy het besluit dit kan nie so aangaan nie. Hy het briewe aan verskeie gemeenskapsleiers en sakelui in Senekal en die township Matwabeng gestuur en hulle genooi vir ’n byeenkoms die volgende dag.

Aanvanklik was die atmosfeer maar gespanne. Die voorsitter van die landbougemeenskap se veiligheidsvereniging, Jess de Klerk, het almal ingelig oor die doelwit van die aksie en dat dit niks met ras of politiek te doen het nie, maar spruit uit frustrasie oor die owerhede se gebrek aan dienslewering – soos om misdaad vas te vat. Die plaaslike EFF se beplande optog vir die Vrydag is toe afgelas. Daar is besluit dat alle belanghebbendes weer op 20 Oktober sou vergader.

Intussen het ’n boorling van Senekal, dr. Giel Bekker, ’n dosent in projek- en gehaltebestuur van Tukkies se ingenieursdepartement, die gebeure gevolg. Hy het besluit om betrokke te raak en het die bedryfshoof van die organisasie South Africa Day, Barend la Grange, saamgenooi vir die vergadering op die 20ste.

Maar eers is daar asem opgehou dat beplande betogings op 16 Oktober, onder andere gereël deur die nasionale bestuur van die EFF, maklik kon lei tot rasse-voorvalle en geweld. Wonder bo wonder, ondanks provokasie, het niks ernstigs gebeur nie.

By die vergadering op die 20ste het die leraars van vier gemeentes saam in die moederkerk van die dorp gebid vir sukses. Barend la Grange het toe die eenvoudige resep van South Africa Day verduidelik. Die uitgangspunt is dat elke gemeenskap self verantwoordelikheid vir hul dorp moet neem. Daar kan nie op die regering staat gemaak word om sekere dienste te lewer nie. Mense moet hul dorp glans gee deur self die basiese dinge te doen: maak skoon, maak reg, maak mooi (soos verf) en maak groen (byvoorbeeld, plant bome). As ’n dorp skoon is, mooi lyk, gebreekte vensters van ampsgeboue vervang is en bome geplant word, is dit lekkerder vir mense om daar te bly – dis dit veiliger, beleggers is meer geneig om daar te belê, daar is meer natuurlike interaksie tussen mense van die dorp, hulle leer mekaar ken en verbeter verhoudinge. Die resep is al toegepas op verskeie dorpe soos Coligny, Cradock, Delmas, Brits en selfs voorstede soos Alexandra en Newlands in Johannesburg. Ná meer as drie jaar sedert die gewelddadige betogings in Coligny, was daar nog nie weer een voorval nie.

Die Senekal-gemeenskap het toe besluit om ’n forum te stig om die projek te bestuur met die kundige dr. Giel Bekker se hulp. Daar is geen politiek nie. Lede van alle politieke partye is ingesluit – nie as politici nie, maar as medeburgers. Leraars van vier gemeentes staan saam en neem deel. Sake-eienaars is betrek en beloof betrokkenheid.

Op ’n vergadering op die 28ste is besluit watter aksies aangepak moet word. Die eerste is die sportstadion en veld, Maranatha, wat al jare lank deur die munisipaliteit afgeskeep word. Dan volg ander aksies soos om slaggate in die dorp se paaie reg te maak. Die proses van toepassing begin komende Saterdag 7 November.

Die groot voordeel van die projek is dat dit nie veel kos nie en meeste van die arbeid word deur mense van die gemeenskap self gehanteer. Maar, beklemtoon La Grange, almal moet saamwerk. Mense is so geneig om negatief te wees. Elkeen behoort die vraag aan hom of haar te stel: Wat kan ek doen om Suid-Afrika ’n beter plek te maak? Hierdie soort opknapping van ’n dorp kan tot gelukkiger inwoners lei. Uiteindelik kan dit ’n verskil maak aan die grootste doel: beter verhoudinge. La Grange glo dis iets waaraan elke dag gewerk moet word.

Een van sy persoonlike doelwitte is dat Suid-Afrika tien jaar van nou af ’n soveel beter plek moet wees, dat sy kleinkinders dit as ’n opsie moet kan hê om hier te bly. Die Senekal-situasie gee hoop dat ’n wesenlike verskil gemaak kan word om uit te styg bo die dryfsand van verval en negatiwiteit en daar wel iets prakties, eenvoudig en doeltreffend gedoen kan word in ’n kort tyd.

Dit verg net ’n wil.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

gpsa ·

Minderheids groep word deur die meerderheids groep gemoor vermink en verkrag. As die minderheid net waag om ‘n piep geluid te maak sal die meerderheid wys wie is in beheer deur te sing dat meer van die minderheid vermoor moet word en dat hul eiendom verbrand moet word. Deur die regering se gebrek aan optrede keur hulle dit goed. Dis ongelukkig die realiteit.

Elmarie ·

Alles goed en wel maar gaan dit nou nie net maak dat munisipaliteite nog meer agteroor gaan sit rn niksdoen want nou word dinge mos VIR hulle gedoen? Ek weet sowaar nie wat die oplossings is nie. Aan die een kant steun ek absoluut die tipe ding maar, soos ek gese het, nou sal slegwees net voortgaan aan munisipaliteit se kant

Ratel ·

Elmarie, ek dink nie sommige munisipaliteite kan “nog meer agteroor sit” nie. Ja, ons betaal belasting vir geen of gebrekkige dienslewering. Maar ek glo die oplossing lê by die doeners.

annie ·

SA is nie ‘n Hollywood-movie nie waar elkeen sy rol mooi instudeer en dan voor die kameras uitspeel nie; almal opgedos en opgemaak soos die draaiboek voorskryf. Indien die aksies teen plaasboere nie ‘n teenreaksie getoon het nie was dit duidelik dat Afrikaners maar net altyd bes gee, te nice vir woorde. Die teken is op Senekal gegee dat boere ook ‘n streep in die sand kan/mag trek. En dominees moet die Woord verkondig. Nie een kan as veldmaarskalk dien nie, met verwysing: die wèreldgeskiedenis.

Ferdi ·

Uitstekende inisiatief, veral as die gemeenskap dit self doen. Mens mors baie minder waar jyself skoongemaak het. en dis positief. Die realiteit van Suid Afrika is dat die meerderheid mense maar net ‘n goeie gewone bestaan wil voer. Misdaad raak almal, en die raspolitiek word aangeblaas deur politici, nie die gewone man in die straat nie.

Derek ·

Alles gaan net oor opvoeding en daardie trend kan duidelik gesien word. Die EFF wil alles met geweld regmaak, dit werk ongelukkig nie so. Ek kyk vandag weer Dali Mphofu se neerhalende opmerking teenoor John Steenhuisen, die feit van die saak is, n kwalifikasie het niks te doen met opvoeding. Arrogansie bring jou nerens, dit vertroebel net die skoon water. Die Zondo kommissie het die afgelope tyd dit bewys.

Ratel ·

Ek stem saam Derek. ‘n Papegaai kan ook leer praat. ‘n Kwalifikasie beteken nie veel nie. Dit is nie ‘n bewys dat jy pragmaties en nugter kan dink nie, dat haat nie sal seevier nie, dat jy ‘n noemenswaardige bydrae tot jou gemeenskap en land sal lewer en dat jy mense en jouself sal respekteer nie. Dit beteken slegs dat jy inhoud kan onthou en dit op papier kan weergee. En in die meeste gevalle hoef jy net 50% of minder van die inhoud te kon memoriseer om te slaag.

Vrijburger ·

Mmmmm pragtige gedagte en aksie, maar na 26 jaar is ek ‘n ongelowige Thomas. So ek hou hierdie spasie dop – rapporteer asb oor 1 of so terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.