Die Sentraal-Amerikaanse migrantetrek

honduras-immigrante-trein-04

Hondurese immigrante wat uit Mexiko gedeporteer word, wag om terug huis toe geneem te word nadat hulle nie suksesvol oor die VSA se grense kon kom nie. Byna al die migrante by die busterminaal het dieselfde gesê: Miskien nie vandag nie, miskien nie môre nie, maar hulle beplan om weer te probeer. Foto: ANA/AP Foto/Moises Castillo.

Tans beweeg ʼn trek van duisende mense uit veral Honduras, ʼn arm en onstabiele Sentraal-Amerikaanse staat, deur Mexiko op pad na die VSA. Volgens simpatieke beriggewing is dit mense, veral gesinne, wat net nie meer kans sien vir die onhoudbare toestand in Honduras nie, met skrikwekkende misdaad, armoede, werkloosheid en korrupsie, en wat ʼn beter lewe in die VSA soek en daar wil werk. Hulle het reeds die grense van Guatemala en Mexiko oorgesteek sonder dat hulle gekeer is.

As ʼn mens dit egter van naderby bekyk en kan onderskei tussen propaganda vir die mense wat op trek is, aan die een kant, en fopnuus aan die ander kant, dan val op dat die trek nie sommer net spontaan gebeur het nie, maar aangewakker is.

Dit is ook nie moontlik om duisende kilometers in duisendtalle te trek sonder die nodige logistieke ondersteuning nie. Dis te betwyfel dat arm Mexikane hul huise en besittings met die migrante deel, ten spyte van die romantiese idee van die solidariteit van die armes. Dit kan vermoed word dat ʼn goed befondsde en Westers bestuurde organisasie daaragter sit. Die naam George Soros word genoem, maar dit is nie bewys nie. Een organisasie wat beslis daarby betrokke is, is Pueblos Sin Fronteras (Volke sonder grense) wat, ten spyte van sy Spaanse naam, ʼn Amerikaanse organisasie is, meer spesifiek uit Kalifornië, met hoofsaaklik wit Engelssprekende links-radikale aktiviste wat die uitgesproke doel het om grense omver te gooi. Hulle versorg die migrante met kos, verblyf en vervoer. (Hulle is geensins heeltyd te voet op pad nie, ten spyte van foto’s wat dit so laat lyk.)

Die migrante is waarskynlik, net soos destyds in Europa 2015, met ’n vals belofte opgesweep en word op skandalige wyse misbruik as kanonvoer vir enkele radikale Westerlinge se skewe ideale. Dat die trek se bedoelings nie is om vreedsaam as werksoekers aan te meld en om die VSA as hul beloofde land te sien nie, word ook onderskraag deur hul aggressiewe optrede, hul anti-VSA- en anti-Trump-slagspreuke en die feit dat hulle vlae van hul land van herkoms swaai. Dit laat hulle eerder soos ʼn ongewapende aanvalsmag as ʼn groep vlugtelinge lyk.

Die tydsberekening van die trek laat ʼn mens ook wonder. Sentraal-Amerika is nog altyd arm en die VSA nog altyd ʼn plek van versugting. Hoekom vind die massatrek juis nou plaas, kort voor die Amerikaanse middeltermynverkiesing en met sterk fokus op president Trump? Hoekom het so iets nie gebeur tydens die bewind van president Obama (wat baie meer simpatiek teenoor immigrante was) nie?

President Trump het reeds aangekondig dat hy die trek nie oor die grens sal laat kom nie. Dit is egter ʼn lang grens en die beloofde muur is nog net gedeeltelik gebou. Die organiseerders weet dit en wil waarskynlik ʼn konfrontasie hê wat die gehate Amerikaanse regering in ʼn slegte lig sal stel, wat hulle ook al doen. Word die migrante hardhandig terug gedwing en sterf daar vroue en kinders, sal dit kosbare anti-Trump-propagandamateriaal oplewer. Breek hulle deur, word Trump as magtelose grootprater aan die kaak gestel.

Die ironie van die saak is dat die kamstige solidariteit wat tussen volkere bewerkstellig moet word deur die ryk lande met armes te laat oorstroom, en arm en ryk gedwonge te vermeng, juis die teendeel tot gevolg het, naamlik aandrang op beter grense en voorkeur vir die eie. Onwettige immigrasie is ook een van die hooftemas van die middeltermynverkiesing in die VSA, baie meer as in die verlede.

Die gebeure herinner aan 2015, toe eweneens duisende, selfs honderde duisende mense uit die Midde-Ooste via die Balkan na veral Duitsland gestroom het. Anders as Trump en waarskynlik die meerderheid Amerikaners, het kansellier Merkel en haar landgenote die mense met ope arms verwelkom en effektiewelik hul grens tot niet gemaak.

Hierdie gebeure vind plaas teen die agtergrond van die Verenigde Nasies se beoogde ooreenkoms oor wêreldwye migrasie waarin state hulle verplig tot allerhande maatreëls om migrasie te vergemaklik. Die VSA was die eerste staat wat aangekondig het dat hulle nie die ooreenkoms gaan teken nie. Dit het ander state, by name in Sentraal-Oos-Europa soos Oostenryk, Hongarye, Pole en Kroasië, en moontlik nog ander, aangemoedig om ook van die verdrag te onttrek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Hendrik ·

Ek kan nogal dit verstaan hoekom Amerika die VN se migrasie ooreenkomste wil teenstaan. Hoeveel lande se burgers moet swaarkry omdat migrantelande se leiers net nie hul lande ordentlik bestuur nie.

Daan Erasmus ·

Dit hang af of jy Fox News kyk of CNN wat jy gaan glo. Trump en Fox vertel vir die wêreld dit is duisende gevaarlike terroriste of ten minste gevaarlike misdadigers wat die USA gaan binne val en destabiliseer. Kyk na die beeld materiaal. Dit is honger mense met kinders wat desperaat is.

Judge Dredd ·

Daan – Wat het die VN gedoen om die situasie in hulle eie land te verbeter.
Wat het die honger mense en die VN gedoen om die leiers van daardie lande aanspreeklik te hou?
Het hulle betoog teen hul eie regering vir ‘n beter lewe? – hoekom dan nou moeilikheid maak vir ‘n ander land?

ZAR ·

Daan, Mexiko is een van die lande wat vir Trump kritiseer dat hy nie hierdie arme honger mense wil invat nie, maar Mexiko wil hulle nie hê nie, maar hulle word nie aangeval daaroor nie. En as jy CNN kyk sal jy sien dat die Mexikane hul arms oop gemaak het en vir die mense kos en komberse gee, maar tog die mense wil nie daar bly nie, o nee, hulle wil Amerika toe. Alles ruik na ‘n politieke agenda. En ons in Suid-Afrika het self gesien hoe ‘open borders’ ‘n land knak. Vandag is dit duisende arm mense wat net hulp nodig het, môre is dit honderde duisende. Die agteruitgang van Swede, Duitsland en Frankryk, in terme van werkloosheid syfers, verswakte ekonomie en misdaad, is juis agv ‘n oormate immigrante. Die grootste probleem wat voorlê vir hierdie lande is dat die burgers die minderheid gaan word in hul eie land.

Jan ·

Nee hulle is nie honger noe hul land is baie vrugbaar met goeie reenval.ek was al daar. Hulle is nie vlugtelinge nie hulle is invalers…

Anton ·

Daan, met desperate uitdrukkings op honger kinders gesigte is hulle besig om die totale weste te vernietitig. Sit daarmee saam ons geloof van “naasteliefde” en ouens soos jy maak ‘n einde aan my kinders se toekoms . . .

Jerry ·

Trump is reeds n magtelose grootprater, vanaf die oomblik toe die demokrate beheer geneem het van die HVV. Of die immigrante gaan deurbreek op die grens van Mexico en Amerika of nie, enige opdragte vir optrede van Trump sal teen Trump gebruik word. Die immigrasie karavaan wat uitlokking en provokasie ten doel het om Trump tot optrede te dwing, watter kant toe ookal, is strategies uitstekend beplan. Hier kom groot sports, want daar wag n verloor, verloor situasie wat Trump kan ontbloot vir iets wat net voordelig gaan wees vir die demokrate, dis Virseker! Viva democracy, viva!

Sarie ·

Dat die Demokrate so ver moet gaan om hul sin te kry sê baie van hulle integriteit. Hulle gee nie om vir Mexico nie wat nou die spit moet afbyt nie.

Ek dog ek sê maar net... ·

Jy lees te veel nuus. As jy die media glo moes Trump nooit president geword het nie. Maar hy het. Iemand moet seker die vark in die verhaal wees. Die Amerikaners sal hom later bedank. Nou lyk alles wat hy sê sleg…totdat die imigrante oorneem. Oor 10 jaar sing hulle ñ ander deuntjie.

Erwee ·

Daar is n sinister mag agter dit soos in die bybel voorspel ..ons veg nie teen vlees en bloed maar teen n bose mag ..dis geestelike oorlogvoering

Ronnie ·

Ons land gaan ten gronde net soos Honduras, Venezuela, Guatemala ens. Na ‘n kwart eeu van ANC regering kan ek met oortuiging se ek het geen skuld daaraan nie. Ek gehoorsaam die wet en ek betaal belasting. Niemand kan my met reg daarvan beskuldig dat ek deel het aan die geweld en wetteloosheid nie.
Ons kinders is grootgemaak om almal te respekteer ongeag kleur, ras, kultuur en tradisies, geloof of seksuele orientasie. Hulle verdien nie die antagonisme wat hulle hier ervaar nie.
Jongmense wat kan immigreer doen dit nou met waardigheid. Die wat nie nou kan of nog nie wil nie, mag dalk eendag dankbaar wees vir ‘n “wit Engelssprekende links-radikale aktiviste” organisasie wat hulle oor ons ontferm. Al noem hulle hulself Mense sonder Grense. En as ek mediese hulp nodig het, sal ek dankbaar wees as ek dit kry al is dit van Dokters sonder Grense. Beide hierdie organisasies bied humanitere hulp aan sonder enige sinistere motiewe. Die teendeel is nie waar nie. George Soros is ‘n filantroop en Joods. Dit is sy sonde.
Ek sien uit na enige artikel wat enige van die meningsvormers dalk mag plaas oor Trump se verhouding met Putin, die Helsinki raaisel en die groot liefde van sy lewe, Kim Jong Un. Miskien iets oor die Proud Boys, Alex Jones, Russ Lindburg en White Nationalists.
Vir goeie inligting oor die karavanne, kyk op Now This se FB blad 23 Okt “Shep versus Fox”. Ook Justin King op sy FB blad “Caravans explained”. Of Twitter.

Judge Dredd ·

Die links radikales/liberales voel niks vir die Afrikaner – inteendeel dis hulle wat verwag dat die Boere hulself moet verloen.

Judge Dredd ·

Jy is bly daar is radikaal linkse aktiviste in ander lande sodat jy moontlik soontoe kan vlug van die radikaal linkse partye in jou eie land.
Jislaaik, dit klink soos ‘n bakgat idee.

ZAR ·

Jammer Ronnie maar as jy wit is is jy die verkeerde ras vir mense sonder grense of linkse aktiviste, al kry jy hoe swaar in ‘n land wat verval, volgens hul retoriek is jou ras die probleem, as jy ‘n man is, trek jy die kruisie op altwee bokse van die ongewenste-mense lys.

Merkur ·

Ronnie, dit is gevaarlik naïef om die toekoms van jou kinders in die goedgesindheid van links-radikale aktiviste in Noord-Amerika en Europa te plaas of te investeer.
Hulle het ´n heeltemal ander agenda as om enige! mense in nood te help. Die „hulp“ wat hulle bied dien slegs die eie agenda. Om wit mense of Christene te help, deurkruis absoluut hierdie agenda. Ek het gereeld met links-radikales te doen.
Selfs die sogenaamde links-moderates wat miskien werklik wil help is nie in staat om wit Suid-Afrikaners en veral Afrikaners as onderdruk of hulpbehoewend te sien nie. Hierdie links-moderate „Gutmenschen“ (huigelaars) beskou hulle self as verantwoordelik vir die situasie van die immigrante wêreldwyd en onteien die immigrante van enige vermoë om vir hulleself verantwoordelikheid te neem of te aanvaar.
Maar Ronnie as jou kinders ook links-radikaal is word hulle miskien met ope arms ontvang.

Hendrik ·

Sjoe, hier word darem wilde bewerings gemaak – fake news op sy beste. Daar bestaan geen bewyse dat die demokrate verantwoordelik is vir die karavaan mense oppad na die VSA nie. Trouens, die republikeine beskuldig die demokrate vals daarvan dat hulle onbeheersde immigrasie wil toelaat. Wat die demokrate egter sê is dat alle mense volgend die Amerikaanse grondwet ‘n reg het om om asiel aansoek te doen. Daar daag elek week meer as 5000 asielsoekers in die VSA op, dus is hierdie een groep moeë mans, vroue en kinders ‘n druppel in die emmer.

jean ·

En toe sit Merkel met al die probleme wat uit hierdie proses voortgevloei het……

waarheid ·

Merkel was alleen verantwoordelik vi rhaar eie val – sy het die immigrante verwelkom en nou?
Verkragtings , moord en roof in Duitsland deur hierdie immigrante. Trump probeer so-iets keer maar die lefties – Demokrate – probeer hom verhoed- so hulle sal hom later bedank as hulle oe eendag oopgaan.

Jan ·

Jys verkeerd merkel was van die begin af aan die linkses se kant syt sit net goed weggesteek.syt almal al die jare gebluf sy het haar eie mense verraai van die begin af.

Ek dog ek sê maar net... ·

Kan iemand my dalk beter inlig. Mense wat nou na Australië emigreer het vertel dat mense wat wil oorgaan dit vinnig moet reël, want die grense gaan gesluit word oor ñ paar jaar. Ekself kan nie dink dat dit waar is nie?

John ·

Wie is assielsoekers en wie vat vet kanse om met slim stories in ‘n lekker lewe in te stap. Hoekom verlaat mense hul vaderland as hulle nie fisies bedreig word nie? Waarom veg hulle nie die saak by die stembus nie of raak ontslae van skelm leiers nie? Wat verwag hierdie duisende uit S-Amerika van die VSA? Hulle wil gebaba word: met goeie blyplek, welsyn en medies, gratis skoling en werk… o ja en stemreg… om hul geliefde opruiende kandidaat bo te stel om nog regte te eis en meer geld… Die aanvalle word dan gerig teen diegene wat werksgeleenthede gebied het en die belastingkas vol gehou het soos Jerry se ‘grootprater Trump’ met sy ekonomiese suksesse. ‘n Permanente gevoel van onvergenoegdheid heers regoor die wereld. As jou huis en erf te vuil is, jou meubels oud is, jou geld op is, jou kinders balhorig is en die regering net so leef, dan pak jy op na beter weivelde en bars deur die nate.

Jan ·

Nee hulle is nie honger noe hul land is baie vrugbaar met goeie reenval.ek was al daar. Hulle is nie vlugtelinge nie hulle is invalers…

Jan ·

Jys verkeerd merkel was van die begin af aan die linkses se kant syt sit net goed weggesteek.syt almal al die jare gebluf sy het haar eie mense verraai van die begin af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.