Die sewende taak

visvang-boot

Foto: Orythys/Pixabay.com

Dr. Anton Rupert het vir die FAK se tydskrif Handhaaf van Desember 1969 ’n artikel geskryf: “Sewe take vorentoe”. Die artikel is effens aangepas, hoofsaaklik om met eietydse taalgebruik die artikel makliker leesbaar te maak vir die 2017-leser. “Altoos” is byvoorbeeld vervang met “altyd”. 

Die eerste ses take wat dr. Rupert geïdentifiseer het, is:

  • die daarstelling van tasbare kulturele simbole;
  • die behoud van dit wat goed is uit die verlede;
  • belangstelling in nasionale gedenkwaardighede;
  • bevordering van Afrikaans;
  • ondersteuning van ons kunste;
  • natuurbewaring.

Dan is daar dié sewende taak – die toekomstaak – dié van selfbehoud.

Die leser moet  in gedagte hou dat 1969 die jaar was waarin die Nasionale Party geskeur het oor eerste minister BJ Vorster se meer toeganklike sportbeleid. Die HNP, onder leiding van mnr. Jaap Marais , is gestig as ʼn regse alternatief.

 Die onderliggende bestaansvraag was of apartheid ʼn beginsel of metode is vir die Afrikaner se selfbehoud.  Die HNP het apartheid tot beginsel verhef en daarmee saam ook isolasie as voorwaarde vir selfbehoud voorgestaan. Hierteenoor het  Rupert standpunt ingeneem. Vir hom lê Afrikaners se selfbehoud nie in isolasie (laer trek) nie, maar in uitreik en brugbou. Rupert pleit vir selfbehoud sonder meerderwaardigheid. Selfbehoud wat respek teenoor almal betoon en geregtigheid teenoor almal voorstaan. Die voorwaarde vir selfbehoud is Afrikaners se aanpasbaarheid by nuwe omstandighede, dinamiese beweeglikheid en deur die uitleef van hulle roeping met ʼn gesindheid van diensbaarheid. So is Afrikaners “katalisators” vir ʼn beter toekoms vir almal.

Sedert 1961 is ons land ’n vrye en selfstandige republiek, en al sy burgers is trou aan die Republiek verskuldig.

Jy moet hierdie trou uitbou en nie vernietig nie. Jy moet altyd onthou “dat wat jy aan ander doen, aan jou gedoen sal word” – soos genl. Hertzog dit op sy oudag aan my gestel het.

Lord Charles Somerset was in ’n sin ’n vader van die Afrikaanse gedagte, omdat hy die taal van slegs ’n geringe 10 000-tal aan die Kaap uit die kerk, die howe en die skool verbied het. Sy daad van ongeregtigheid het aanleiding gegee tot die ontstaan van die Afrikaanse beweging.

Pas dus op dat jy nie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Ons stryd was om “gelykberegtiging”, nie om oorheersing nie.

Daar is enkeles vir wie die stryd so “soet” was dat die oorwinning “bitter” voel. Hulle is ten ene male nie bereid om te “kolf” nie, omdat “boulwerk” so heerlik was! Dit is tyd dat hulle ophou opslagballe boul teen hulle eie kaptein – en dan nog met die hulp van ’n vreemde paaltjiewagter en sulke glibberige glippe!

Ons moet uit die verlede neem dit wat goed is om ons voortbestaan te verseker. Aanpassing van die metode is nie verraad teenoor die verlede nie. “Hier kom ek om liewer as om my laer op te gee en om die vrouens en kinders te verlaat,” was die dappere woorde van die onverskrokke genl. Cronjé. Maar genl. De Wet, wat ’n nuwe dinamiese, beweeglike oorlogsvoering tot agter die vyand se linies voorgestaan het, was nie daarom ’n verraaier nie. Genl. Cronjé het geglo aan die beproefde taktiek van Bloedrivier – genl. De Wet van aanpassing by die wapens van 1900.

Hierdie geskiedenis van aanpassing in oorlogvoering het homself herhaal. Ná die oorlog van 1919 het genl. De Gaulle tenk-oorlogvoering vir beweeglikheid bepleit, maar sy owerhede het die Maginotlinie verkies. Die groot veldmaarskalk Petain, die konserwatiewe held uit die Eerste Wêreldoorlog, het aan Hitler oorgegee; die bepleiter van die moderne beweeglikheid, De Gaulle, het tot die bitter einde geveg en Frankryk bevry.

Pas op dat jy nie diegene wat om voortbestaansontwil “beweeglikheid” en die noodsaaklike aanpassing bepleit, so ligtelik verdoem nie. Jy word dalk ’n dapper Cronjé wat weier om die pad wat De Wet oopskiet, te gebruik.

Ons moet as volk ’n siening hê en weet waarom ons hier aan die Suidpunt van Afrika geplaas is met sulke geweldige verantwoordelikheid. ’n Volk wat begin terugtrek in homself soos vandag met die Verenigde Koninkryk die geval is, begin probleme binne homself optel. ’n Volk wat begin terugtrek in homself omdat hy nie meer ’n siening van sy toekoms het nie, kry weer opsplitsing in Walliesers, in Skotte, in Noord-Iere – ja, selfs Katolieke en Protestantse Iere – en in Engelse!

Ek wil voorspel dat, as ons ons toekomstaak sien as ’n klein laer, ons provinsialisme weer hoogty sal vier. As ons terugdeins van die taak om ons arm bure te help, sal ons verval in vetes tussen die Kaap en Transvaal (deesdae Gauteng), tussen die Vrystaat en Natal (deesdae KwaZulu-Natal).

En die veiligheid lê ook nie meer in die laer van Cronjé nie, want as ons weifel, sal ons soos Israel omring wees deur ’n gordel van vyandige state. Dit is verstaanbaar dat dit gebeur het in die geval van Israel – omring deur die volgelinge van Allah. Maar hoe kan enigeen van ons soos die Europeër glo dat alle swartmense eenders is? Glo jy dan dat die Sweed en die Italianer eenders is? Is lede van die kabinet in Malawi nie produkte van ons sendingskole nie, en is ons predikante nie met ope arms ontvang by kerklike samesprekings in die Kongo nie?

Ek sien dit as ons roeping – ons lotsbeskikking – dat ons die volgende dekades ons plig moet doen vir Suider-Afrika deur die evangelie te verkondig  en die reik van ’n helpende hand.

Ons is soos die katalisators in die skeikunde – onontbeerlik. Sonder ’n klein hoeveelheid platinum sou daar geen chemiese reaksie en geen veredelde produk in die kraakproses van petrolvervaardiging wees nie. So is ek en jy as Afrikaners “katalisatore” vir die hele Suidelike Afrika.

Maar dit is ons lotsbeskikking dat ons baie skaduwees uit Afrika met ons het. ’n Mens kan nie van sy skaduwee ontslae raak nie. En is ons naam dan nie “Afrikaner” nie?

Feit is dat as ons al ons swart landgenote apart kon plaas, ons nog nie sou kon slaap as hulle nie eet nie. En dit geld nie alleen ons buurstate nie, want jy moet onthou dat Soweto, suid van Johannesburg, ’n groter bevolking het as Botswana of Swaziland.

Jy moet ook nie die beleid van afsonderlike ontwikkeling gelykstel met die minagting van ander nie. Die “Sahib”-mentaliteit van neersien op ander, sal ons nie baat nie. So ook die raad van die linkses wat self nie hulle probleme kan oplos nie.

Sluit dus jou oë vir die blaadjies wat alles oorskryf van die VSA en elders – hetsy dit raad van regs of van links. Hulle het geen oplossing vir hulle eie probleme nie, en hulle sal ook nie nodig hê om saam met ons s’n te leef nie.

Maar wees nugter en dink vir jouself! Vra die vraag hoe jy sou voel as jy in die ander man se skoene moes staan. En soek jou eie oplossings wat sal pas by die eise van Afrika.

Dit is ons plig om die hand van swartmense te sterk in sy eie stryd teen die ondermynende magte van ons tyd.

Ons wat die bevoorregtes is, moet die taak volbring. Ons moet ons brood breek met die minderbevoorregtes. Maar ons moenie aalmoese weggee nie. Ons moet hulle help om hulself te help, want:

Gee ’n man ’n enkel vis

en hy het ’n enkel dis;

maar leer hom om vis te vang

en jy help hom lewenslang!

’n Sendeling in Malawi, ’n mynwerker in Zambië, ’n helpende hand van ’n staatsamptenaar in Umtata en ’n medikus in Lesotho doen meer vir die voortbestaan van beskawing in Afrika as al die ydele geklets van bevreesdes. Die wit mediese studente wat ons arm buurstate help, kom nie terug met swarter hande nie, maar met witter harte.

Dit kos moed en werk en tyd en genade – maar ek glo dat ons nou moet sê:

“Ons luister nie na die bevreesdes nie. Ons kan en sal onsself orals handhaaf. Voorwaarts sonder vrees!”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

JWM ·

Insiggewende artikel. Ja, daar is werk vir ons almal. As jy n man regtig wil help, leer hom vis teel.

John ·

Dit is presies hoekom ons nou is waar ons is… Die’ storie is holrug gery. Almal wat Engels praat is nie Britte en almal wat Afrikaans praat is nie Afrikaners nie. Die FAK is ook gekaap deur die Nuwe Wereldorde…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.