Die sirkus agter die virusgordyn

Oudpres. Thabo Mbeki. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Julle onthou seker die donker tydperk in Suid-Afrika se post-apartheidgeskiedenis toe president Thabo Mbeki ontken het dat MIV vigs veroorsaak. En sy woede toe wetenskaplikes beweer het dat MIV deur seksuele omgang oorgedra word asof dit ‘n opmerking oor swart manlike seksualiteit was. Ook toe hy in die middel van die nag amptelike briewe na wêreldleiers gestuur het waarin hy wetenskaplike bewerings oor die oorsprong en oordrag van die MI-virus bevraagteken het. En die president se doelbewuste beperkings op die verspreiding van antiretrovirale medisyne, veral nevirapien om die oordrag van moeder na kind te voorkom. En toe die Harvard Law Review aangevoer het dat 330 000 mense tussen 2000 en 2005 onder Mbeki se bewind aan vigsverwante siektes gesterf het.

Nadat ek die aaklige tydperk van ontkenning in Suid-Afrika beleef het, kan ek nie glo dat ek nie besef het dat dit nie soseer gegaan het oor die ontkenning van die nuwe koronavirus wat meer as 3,7 miljoen mense wêreldwyd doodgemaak het nie, maar eerder die ontkenning van die óórsprong van dié dodelike siekte – dit deur wetenskaplikes wat van beter moes weet, veral dr. Anthony Fauci, direkteur van die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Allergieë en Oordraagbare Siektes (NIAID) en sy baas van die Nasionale Instituut van Gesondheid (NIH), dr. Francis Collins.

Dr. Anthony Fauci. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

Ondanks toenemende bewyse dat die virus uit die laboratorium van die Chinese Wuhan-Instituut vir Virologie (WIV) gelek het, het Fauci, met die hulp van die wêreld se voorste wetenskaplikes, vinnig ‘n deksel op dié bewering geplaas om redes wat duidelik geword het met die bekendmaking van sy kosbare e-posvonds (verkry deur die Wet op Vryheid van Inligting [FOIA]), asook deur bewyse van vorige toesprake wat op konferensies gehou is. Behalwe vir die verdoeseling om China nie te blameer nie, was dit baie duidelik dat Fauci die gain-of-function (GOF)-navorsing befonds het. GOF beteken die genetiese ontwikkeling van virusse om hul virulensie en oordraagbaarheid in menslike selle te verhoog en hierdie navorsing is deur die EcoHealth Alliance, onder leiding van dr. Daszak, een van Fauci se sterkste ondersteuners, gedoen. Hierdie feite het intussen aan die lig gekom en is bevestig deur The Hill (’n Amerikaanse digitale nuusagentskap) dat “die Nasionale Instituut van Gesondheid (NIH) die bedrag van $3,4 miljoen vanaf 2014 tot 2019 aan die niewinsgewende organisasie EcoHealth Alliance toegewys het. Die Wuhan Instituut vir Virologie het ‘n subskenking van $600 000 vanuit dieselfde kontrak ontvang met die uitsluitlike doel om vlermuis-koronavirusse oor ’n tydperk van vyf jaar te ondersoek. Fauci was in die verlede nog altyd ’n voorstander van winsgewende navorsing, maar hy en Francis Collins, direkteur van die NIH, het ontken dat die NIH bogenoemde navorsing in China befonds het”.

Daszak en sy span het die handtekeninge van 27 prominente wetenskaplikes verkry wat in ‘n amptelike brief in die mediese joernaal The Lancet gepubliseer is sodat die uitlekteorieë van die Wuhan-laboratorium as samesweringsteorieë afgemaak kan word en dus strook met die gesprekspunte van die demokratiese en sosiale media. Dié brief is, vreemd genoeg, deur niemand anders nie as dr. Daszak, waaronder ses van sy EcoHealth-werkers, opgestel.

Sen. Lindsey Graham. (Foto: EVELYN HOCKSTEIN/POOL/AFP)

Senator John Kennedy en Lindsey Graham het die Lancet-brief fel veroordeel en laasgenoemde noem dit ‘n “skande” wat hul botsing van belange met die Wuhan-laboratorium blootlê. “Hulle het hul eie bas probeer red. Hulle het ‘n brief uitgereik wat nie op wetenskap gegrond was nie, maar ‘n politieke dokument wat ten doel gehad het om mense, wat gesuggereer het dat die virus uit ‘n laboratorium kom, se geloofwaardigheid te probeer verwoes.”

Maak dit saak? Ja! “Indien [oudpres. Donald] Trump reg was [oor die laboratoriumlek], glo ek sou dit die uitkoms van die 2020-verkiesing verander het,” het Graham gesê. “En as ons al vroeg in 2020 kon bewys het dat dit ‘n laboratoriumlek uit China was, wat nie van nature plaasgevind het nie, sou die publiek wraak wou neem teen China, en na wie sou hulle hul wend, Biden of Trump?”

Steve Hilton van Fox News en gasheer van die program Next Revolution, het Fauci se vorige verslae van befondsingvoorstelle en uitlatings oor sy steun aan GOF-navorsing op wetenskapkonferensies nagespoor en dit met die e-posse vergelyk. Natuurlik het dit paniek onder sy groep wetenskaplikes veroorsaak toe wetgewers, wetenskaplikes en die publiek aangedring het op ’n ondersoek na ‘n moontlike viruslek uit die Wuhan-laboratorium, in teenstelling met hul konsensus dat die virus van dier na mens oorgedra is. Op hierdie trant het ‘n opmerking wat Fauci in Oktober 2012 in ‘n referaat vir die American Society for Microbiology gelewer het, geboemerang:

“In ‘n onwaarskynlike, maar moontlike ommeswaai van gebeure, wat sou gebeur as daardie wetenskaplike besmet raak met die virus, dit tot ‘n uitbreking lei en uiteindelik ‘n pandemie veroorsaak?” En voorts: “Wetenskaplikes wat op hierdie gebied werk, kan sê – soos ek inderdaad gesê het – dat die voordele van sulke eksperimente en die kennis wat daardeur opgedoen word, swaarder weeg as die risiko’s (my beklemtoning). Dit is meer waarskynlik dat ‘n pandemie in die natuur sal voorkom, en die noodsaaklikheid om voor te bly by so ‘n bedreiging, is ‘n primêre rede vir die uitvoer van ‘n eksperiment wat moontlik riskant kan wees.”

Teenstand van baie wetenskaplikes, waaronder Jamie Metzl, ‘n geopolitieke kenner van genetiese manipulasie vir die WGO, beweer dat die WIV in werklikheid GOF-eksperimente op virusse wat waarskynlik uit die Wuhan-laboratorium gelek het, uitgevoer het. Dit het Fauci en sy trawante paniekerig gemaak en hulle het voorgegee dat hulle nog altyd oop was vir die idee om die hipotese van ‘n lekkasie te ondersoek terwyl hulle terselfdertyd virusoordrag van dier na mens as oorsprong van die pandemie sterk voorstaan.

Oudpres. Donald Trump. (Argieffoto: Evan Vucci/AP)

Toe president Trump dit die China-virus genoem het en die grense met China vroeg in 2020 gesluit het, is hy ‘n rassis en ‘n hater van vreemdelinge genoem, aangepor deur vooraanstaande lede van die Demokratiese Party, soos speaker Nancy Pelosi en die hoofstroommedia, terwyl baie, selfs Fauci, op die ou end teësinnig toegegee het dat Trump se sluiting van die grens baie lewens gered het – dalk tot so veel as tweemiljoen.

Nietemin, met elke Trump Withuis-perskonferensie wat gereeld die jongste nuus oor die koronavirus verskaf het, het Trump sy span dokters nadergetrek om die status van die virus te verduidelik en raad te gee. Trump het dikwels skepties toegekyk hoe dr. Fauci rondgeval het tussen “geen maskers”, drievoudige maskers, die skuif van drempels vir kudde-immuniteit, geen inperkings tot drastiese inperkings.

Senator Rand Paul, ook ‘n dokter, het Fauci gekonfronteer om eerlik te wees oor die oorsprong van die virus, asook ten opsigte van sy ondersteuning vir GOF-navorsing en om ‘n verklaring wat hy ‘n ruk gelede gemaak het, te verduidelik. Dié verklaring lui: “Die idee is om genetiese inligting in die laboratorium te manipuleer om virusse so aansteeklik as moontlik te maak, sodat ons kan leer hoe om dit te beveg. Dit is ‘n edele bedoeling, maar ongelukke gebeur.”

Hy het Fauci ook gevra waarom hy in 2014 opdrag vir hierdie ondersoeke gegee het, ondanks Obama se verbod in 2014 op voortgesette befondsing vir “GOF-eksperimente op 22 terreine, onder meer SARS, griep en MERS, juis weens die verhoogde risiko van sulke eksperimente wat tot ’n pandemie kan lei”. Rand Paul wou ook weet of GOF-navorsing nog steeds befonds word, aangesien die Nasionale Instituut van Gesondheid (NIH) die verbod in 2017 opgehef het sonder om die Withuis daarvan in kennis te stel.

Robert Redfield. (Foto: SAUL LOEB/AFP)

Dis nogal eienaardig dat dr. Robert Redfield, voormalige direkteur van die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en voorkoming (CDC), wat gereeld saam met dr. Fauci tydens die Trump-perskonferensies verskyn het, hom onlangs van sy kollegas gedistansieer het en vir onbevooroordeeldheid in wetenskaplike geledere gevra het om albei hipoteses te kan nastreef:

“My beste opinie as viroloog: Ek dink nie dat dit geloofwaardig is dat hierdie virus van ‘n vlermuis na ‘n dier oorgedra is nie (ons weet nog steeds nie watter dier nie), daarna mense binnegedring het en dadelik geleer het hoe om van mens tot mens te versprei tot waar ons nou is: midde-in een van die grootste pandemies in die geskiedenis van die wêreld.” Maar nóg belangriker: “Redfield het aangevoer dat Covid-19 se vinnige verspreiding van mens tot mens in stryd was met die gedrag van ander dodelike koronavirusse met soortgelyke profiele (soos SARS en MERS), wat mense eers deur kontak met diere bereik het, maar baie stadiger versprei het.”

Baie ander wetenskaplikes breek nou geledere met Fauci en Collins. Tucker Carlson het onthul dat Alina Chan, ‘n bioloog van die Harvard School of Medicine en deel van ‘n span van 18 wetenskaplikes, in die Journal of Science erken het dat die koronavirus waarskynlik in die (nou berugte) Wuhan-laboratorium ontstaan ​​het. “Chan sê liberale wetenskaplikes het maande lank vir die Amerikaanse publiek gelieg oor die oorsprong ​​van die virus. Hulle het dit gedoen omdat hulle nie met president Trump geassosieer wou word nie – wat die hele tyd reg was oor die virus.

Tucker Carlson

“Chan het gesê dat sommige wetenskaplikes angstig voel ​​ten opsigte van die bespreking van die laboratoriumlek-hipotese in die openbaar, uit vrees dat hul woorde verkeerd geïnterpreteer of gebruik kon word om rassistiese retoriek oor die ontstaan ​​van die koronavirus te ondersteun. Trump het die beskuldigings dat die Wuhan-instituut, ‘n navorsingslaboratorium in die stad waar die eerste Covid-19-gevalle aangemeld is, verband hou met die uitbreking, aangeblaas en het dié patogeen by verskeie geleenthede die ‘Wuhan-virus’ ofKung Flu’ genoem.”

Fauci se skielike beroemdheid is slegs te danke aan die feit dat hy geweier het om Trump se vermoedens te bevestig, en het op die voorblad van tydskrifte verskyn, gewild geword onder rolprentsterre en die hoofstroommedia wat sy boek, Expect the Unexpected, wat binnekort verskyn, opgehemel het. Amazon en Barnes & Noble het dit egter geskrap. Die man se selfverheffing is eenvoudig verstommend, soos blyk uit ‘n gesprek met Chuck Todd van MSNBC: “Dit is baie gevaarlik, want baie van wat jy as aanvalle op my beskou, is eerlikwaar aanvalle op die wetenskap.” En deur aanvalle af te weer, verklaar die Groot Fauci homself nou sinoniem met die wetenskap!

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Die groot vraag is: Waarom nou die skielike bereidwilligheid om die laboratoriumlek-teorie te ondersoek? En waarom het president Biden skielik sy nasionale veiligheidsadviseur (NSA) opdrag gegee om die oorsprong van die virus te ondersoek en “uit te vind of dit ontstaan het deur menslike kontak met ‘n besmette dier of weens ‘n ongeluk in ’n laboratorium”?

Terwyl ek hierdie rubriek skryf, is daar in die Daily Mail van 21 Junie bekendgemaak dat dr. Daszak afgedank is uit die VN-kommissie wat Covid-19 tans ondersoek, toe ontdek is dat hy verantwoordelik is vir die brief in The Lancet, waarin die laboratoriumlek ontken is.

Interessanter is die gerug op 21 Junie deur News.com.au, dat die Chinese adjunkminister van staatsveiligheid, Dong Jingwei, in Februarie van China na die VSA oorgeloop het en plofbare materiaal van die Wuhan Instituut vir Virologie verskaf het.

Die kern van die saak is dat die “Trump Derangement Syndrome” nou sistemies geword het – dis belangriker om Trump verkeerd te bewys as om lewens te red.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adam Adriaan ·

Dit is die manier hoe die Jusiete die mensdom wil venietig. Wees net geduldig dan sal u sien wat nog stroomaf gaan gebeur. met die pandemie en die entstowwe.

Kattebol ·

Ons sê nog van die begin af dat die “vlermuis” – teorie onsinnig is. Ek weet nie of ek moet lag of huil oor die belediging van ons intellek nie.

Fluisterwind ·

Almal wil regeerder van die wêreld wees! Ek bespiegel, dat die virus deur VSA geplant is in China, met geld onder die tafel om dit in China vry te laat met die hoop dat dit China sou vernietig. Grawe ‘n gat vir iemand anders dan val jy self daarin!

Rupert Ashford ·

Die beste is dat selfs die wetenskaplike pers nou hulle geloofwaardigheid inboet in hierdie hele sage. The Lancet het nou ‘n hele paar keer hulle ten beste onbeholpenheid of ten slegste doelbewuste oneerlikheid tentoongestel in hierdie COVID proses. Dit het begin met die berig oor Hydroxichloroquine wat die Australiers hulle gedwing et om terug te trek, en voortgegaan met hierdie berig net om politieke punte aan te teken. Die wetenskaplike geraamtes begin nou oraloor uit die kas val met inligting wat onderdruk word of blatante oneerlikheid. Die vraag is nou: As wetenskaplikes bereid is om oneerlik te wees oor hierdie redelik obskure deel van die wetenskap, hoekom moet mens aanneem dat hulle sal onkreukbaar eerlik wees oor ander dele van die wetenskap waar daar tans baie groter bedrae geld op die spel is. “Trust the science” se hulle mos so graag.

Rosie ·

Dis alles haarfyn beplan. Hulle dra ook nie nou die mense se belange op die hart nie! Maak oop julle oë. Hulle wou Trump uit hê omdat hy nie met n hulle planne saam gestem het nie.

Heinrich ·

Uitstekende artikel Rhoda, baie dankie.
Die volgende manier van dink wat moet val is dat wanneer jy iets sleg uitwys wat iemand van ‘n ander rassegroep gedoen het, dat jy oombliklik ‘n rassis is. Dit is sottigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.