Die skril toon van openbare debatte

Nederland se Sinterklaas en Zwarte Piet. Foto: Brainfreeze.be

In Nederland was Sinterklaas vandeesweek op besoek by alle huisgesinne. Hy het presentjies vir al die soet kindertjies gebring.

Hy het tradisioneel ’n groep metgeselle by hom, met ringe in die ore, rooi gemaakte lippe en geklee in vrolike, veelkleurige en eksotiese klere. O ja – hulle is swart, en dus staan elkeen bekend as ’n Zwarte Piet.

Dis ’n heel gesellige kinderfees, een waarna alle kindertjies weke lank uitsien en uiteindelik byna bars van plesier, opwinding en vreugde.

Daar is net een probleem. Iemand het ontdek dat Zwarte Piet ’n uiting van rassisme is. Want Piet is ’n (swart) handlanger van (wit) Sinterklaas, en hy is die een wat stout kinders in ’n sak stop om weggevoer te word, en wat die lat dra waarmee stout kinders gepiets word.

Dis dus die swárt wat die negatiewe konnotasies oproep, en die wít wat kindergesiggies laat glimlag.

Dis nou ’n jaar of vier, vyf dat Zwarte Piet ’n steeds luidrugtiger debat in Nederland genereer. Mense sê mekaar sleg dat die see hulle nie kan afwas nie, en hulle doen dit (soos trouens in Suid-Afrika ook gebeur) dikwels terwyl hulle dapper agter skuilname wegkruip.

Maar Zwarte Piet is slegs die aanleiding. Die debat begin van die kinderfees en die vermeende rassisme daaragter verskuif na iets meer fundamenteels, te wete die beweerde rassistiese aard van die Nederlandse volkskarakter.

Onder die bekendste aanklaers is mense soos prof. Gloria Wekker, afgetrede antropoloog van Amsterdam, wat in 1951 as kind uit Suriname na Nederland gekom het. Of Sylvana Simons, ’n gewese televisie-aanbieder (ook swart) wat ’n mislukte oortog na die parlementêre politiek probeer maak het.

Wekker is die skrywer van ’n boek met die ironies bedoelde titel White Innocence. Haar standpunt is dat die Nederlandse volksaard op ’n rassistiese, imperialistiese en kolonialistiese verlede berus. “Die punt is,” het sy in ’n onderhoud met die weekblad Vrij Nederland gesê, “dat ons nasionale kulturele argief, alles wat oor ons nasionale identiteit tussen ons ore sit, tot stand gekom het op grond van ’n koloniale ryk wat 400 jaar bestaan het en waarin ras die beslissende faktor was.”

En dus leer Zwarte Piet die Nederlanders: “Ons wit mense is toonaangewend, ons is die meesters, ons is intelligent, ons weet hoe dinge gedoen moet word.”

Wekker en Simons se standpunt word verreweg nie deur alle swart Nederlanders gedeel nie. In 2013 is in ’n peiling bevind dat slegs ’n kwart van alle Amsterdammers van Surinaamse afkoms meen Zwarte Piet is ’n uiting van rassediskriminasie.

En sommige wit mense stem met Wekker en Simons saam. Net verlede week het ’n wit rubriekskrywer, Asha ten Broeke – sy neem gereeld uiters linkse standpunte in – in De Volkskrant vertel hoe haar eie afkeuring van Zwarte Piet deur haar mede- wit mense geprys word, terwyl swart mense wat dieselfde mening verkondig, verdoem word.

Dis die beste bewys hoe rassisties wit Nederlanders is, het sy geskryf. “Selfs as jy iets goeds doen, kan jy onderdeel wees van ’n verkeerde stelsel. Om ’n simbool te bestry sonder om daardie stelsel te deurgrond, sonder om krities te wees oor magsverhoudinge waarvan jy voordeel het, is op sy beste onvolledig en op sy slegste ’n skadelike idee.”

Dit herinner sterk aan ’n studiestuk wat prof. Samantha Vice, hoogleraar in filosofie aan Rhodes Universiteit, in 2011 geskryf het. Daarin het sy geredeneer dat, aangesien wit mense nie die voordeel wat hulle uit apartheid getrek het (en steeds trek) verdien nie, hulle ’n kultuur van nederigheid moet aanleer en hulle uit die politieke landskap moet terugtrek.

In ’n artikel het sy dit effens genuanseer: “I am not calling for apathy or withdrawal from all public life. Whites ought to work together with blacks to make the country better—we have plenty to contribute—but we should do it quietly and in the background, working on the selves that are cause for shame before we judge others.

Laat ek nou hier ʼn skokkende onthulling doen. Ek is wít. Blank, in die taal van die ou Suid-Afrika. Erger nog, ek is ʼn Afrikaner.

Nóg ʼn skokkende onthulling. Ek is (sidder) ʼn man!

Nog erger: Ek is nie skaam oor die feit dat ek wit, Afrikaans en manlik is nie. My gebrek aan skaamte berus op ʼn eenvoudige feit: Ek kan dit nie help nie. As jy iemand daarvoor wil blameer, pak die skuld op my ouers.

Dis nie dat ek dink my identiteit is noodwendig so fantasties of beter as ander sʼn nie. Dis eenvoudig ʼn neutrale feit – ek is wie ek is en basta.

Maar ek is ook gemaklik met wie ek is. Ek dra nie swaar aan my identiteit nie.

As akademiese historikus weet ek my mense het in die verlede baie foute gemaak waarvoor ek, as ek dit met die maatstawwe van die vroeë 21ste eeu moet beoordeel, skaam kan wees. Maar waar ménse is, word foute gemaak; dis eie aan die menslike aard.

Is die Afrikaners (of die wit Nederlanders) dan die enigstes wat foute gemaak het? Is hul foute só uniek en verderflik dat al die foute van ander in vergelyking verbleek?

Vat slawerny, ʼn besonder verwerplike saak waaraan wit mense hulle oor eeue heen skuldig gemaak het. Die Arabiere het dit egter op dieselfde skaal bedryf, om nie eens te praat van swart stamme wat gevangenes by hul vyande afgeneem en aan die slawehandelaars verkoop het nie.

Kom ons kyk na imperialisme. Ja, die Britse, Franse, Nederlandse en Portugese imperialisme kan sekerlik veroordeel word. Maar wat dan van dié van Shaka en Mzilikazi in die 19de-eeuse Suid-Afrikaanse binneland?

Waarom is húlle dan helde? Bevat dié dubbele standaarde dan nie ook elemente van rassisme nie?

Verstaan my goed – ek is nie besig om rassisme goed te praat nie. Uit ʼn Christelike oogpunt, as jy veral die Nuwe Testament ernstig opneem, mag jy niemand weens sy afkoms of posisie in die samelewing benadeel nie.

Maar kom ons wees almal bietjie nederig in ons benadering tot die openbare debat. Te veel mense – aan alle kante van die doringdraad – dink hulle wen die debat as hulle hul teenstanders slegsê.

Dis nie die geval nie. Jy vlek net jou eie tekortkominge oop.

Laat die heftigheid van die debat oor Zwarte Piet vir ons ʼn les wees om openlik en duidelik te verskil, maar ons toon minder skril te maak.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Eish ·

Sjoe, de Zwarte Hollanders snye de kaas vrekken dun!
Tragies dat alles so as n bedreiging gesien moet word en n rassistiese geurtjie moet kry. Waar gaan dit eindig?
Motors ry op swart wiele.
By n troue dra die bruid wit en by n begrafnis is swart en donker kleure meer gepas by die stemming.
Duisternis het in die Bybel n negatiewe konnotasie en lig n positiewe.
Kos verband houtskoolswart en is dus nutteloos.
Liberalisme is die speelbal van verveelde dwarstrekkers.

Basson ·

Kom ons laat druk T-hemde met die woorde : ‘TROTS WIT EN AFRIKAANS’ dan kyk ons wie gaan dit dra. Dalk ‘n toets om te bepaal hoe diep die ‘skuldgevoel’ al loop oor wie ons is :)
(Ek gun verseker ‘n iedere en ‘n elk ‘n plek in die son, so ook vir mense van my bevolkingsgroep want ons sonnetjie word maar baie beperk deesdae.)

Ek stem saam – dit grief my ook geweldig as Afrikaanses op ‘n baie platvloerse (en persoonlike) wyse andere net sleg-se, hier, op FB, ens ens. Dis eintlik skokkend om te sien hoe laag sekere mense kan daal in hulle ‘debatvoering’ / persoonlike aanvalle.

John ·

Wittes is ook as slawe na Noord-Afrika weggevoer. Sketse en beskrywings is beskikbaar, maar dit word weggepraat. Swart-Afrika wil eenvoudig koninklikes wees en begeer wit slawe, en om dit te bereik word ‘n omgedraaide redenasie gevoer. Punt. Dis ‘n bekende metode in die wen-verloor-spel. Daar is baie witmense wat graag hierdie rolle wil vertolk. Gee hulle die geleentheid. Orals op aarde is mense in ‘n stryd om mag en weelde gewikkel. Dit was nog altyd so. Regverdigheid en waarheid was ook nog altyd die wagwoorde in die spel, maar elkeen glo mos hy is reg. As Leopold kon sou hy oor 1 000 jaar weer hierdie selfde skrywe hier kon plaas en min sou verander het…

Nico K ·

As mens kyk waar die legende van Sinterklaas vandaan kom, naamlik dat hy en Swarte Piet van Spanje kom, dan moet mens vra hoe het Swarte Piet in Spanje gekom. En dit is natuurlik weens die feit dat die (nie wit) More van Noord-Afrika Suid- Europa binnegeval en jare lank regeer het. So Swarte Piet sou nooit in Spanje gewees het as dit nie was vir sy eie imperialistiese verlede nie.

Ben van Niekerk ·

Dankie Leopoldt. Ek kyk na die dinge om my in ons mooie land en ek wonder soos jy …
Kon die debat in die 1980’s nie ook minder bitsig teenoor dr. Andries Treurnicht en die
KP gewees het nie? Kon daar nie op ‘n redelike wyse na hulle stemme ook geluister word sonder om die etiket van “agter-die-berg” aan hulle toe te ken nie. Beslis het hulle ook planne gehad. Maar die georkestreerde debat was fel en vol haat en beterwetigheid! gelei deur redakteurs van ons eie nasionalistiese koerante – noord sowel as suid! Hy en sy party kon die skel debat nie weerstaan nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Ben, ek moet met jou saamstem; die debat was destyds onnodig bitsig. Maar vergeet nie: Die bitsigheid het van albei kante gekom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.