Die skuldstrik span al stywer om SA

jana-van-deventer

Jana van Deventer is die hoof van finansiële markte by ETM Analytics. Foto: Sakeliga

Deur Jana van Deventer van ETM Analytics

Moody’s het sy jaarlikse spitsberaad oor Afrika suid van die Sahara in September in Johannesburg gehou. Vergeleke met die Standard & Poor’s (S&P’s)-kongres wat in April vroeër vanjaar gehou is, was die bywoningsyfer relatief laer. Die geleentheid het geen nuwe inligting van ’n wesenlike aard oor die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie opgelewer nie, maar tog ’n kykie gebied in Moody’s se siening van die land asook risiko’s wat vorentoe aan die graderingsfront kan wag.

Terwyl Moody’s oënskynlik traag is om Suid-Afrika se kredietgradering te verlaag, lyk ’n uiteindelike afgradering tot onder beleggingsgraad steeds onvermydelik, als in ag genome, tensy die regering momentum kan opbou met die inwerkingstelling van hervormde ekonomiese beleid.

Uit vorige ervaring lyk dit egter hoogs onwaarskynlik, en ETM Analytics se siening is daarom steeds dat dit vir die land moeilik sal wees om nie tot in rommelstatus af te gly nie.

Agteruitgang in die wêreldomgewing vererger die gevare vir plaaslike groeivooruitsigte

Die voorbereide praatjies was toegespits op faktore soos die styging in die effekteopbrengste van die belangrikste ontwikkelde markte, wat negatiewe opbrengste bied en toenemende risiko’s vir die wêreldekonomie inhou. Verder was groei, finansiële bestendigheid en politieke risiko’s die drie grootste gevare wat Moody’s uitgelig het wat betref die kwesbaarheid van ontluikende markte.

Aan die ander kant het Moody’s handel, demografie, tegnologie en OMB (omgewing-, maatskaplike en bestuursaangeleenthede) as potensiële veranderingsaandrywers van sukses geïdentifiseer. Sprekers het in al die verskillende sessies van die dag taamlik klem gelê op die OMB-aspek en dié maatstawwe sal verskerpte aandag geniet wanneer lande en maatskappye se graderings in die toekoms oorweeg word.

Die sessie wat op die soewereine gradering toegespits was, het bevestig wat baie reeds weet, naamlik dat die ekonomie onder groot druk bly en die land se groeipotensiaal deur strukturele knelpunte, onder meer, lae produktiwiteit, lae bruto vaste kapitaalvorming, gedempte sentiment en perke aan die hervormingsproses aan bande gelê word. Moody’s het sy vooruitskouings vir die bruto binnelandse produk (BBP) in 2019 en 2020 op onderskeidelik 0,7% en 1,5% gestel, wat beteken groei sal na verwagting in die komende kwartale versnel as mens in ag neem dat die BBP in die eerste helfte van die jaar met slegs sowat 0,4% op ’n jaargrondslag uitgebrei het.

Dit is onduidelik waaraan die hoër verwagte groei toegeskryf word en die risiko’s wat dié ramings in die gesig staar kan die syfers laer laat neig, gesien die toenemende druk wat die volwasse en afplattende internasionale sakesiklus meebring.

Dit gaan als oor die staatskas en volhoubaarheid van die staatskuld

Eskom het prominente aandag geniet. Die jongste reddingsboei word as ’n korttermynoplossing vir die staatsonderneming se enorme aantal probleme beskou en ’n reusetaak wag nog op die regering om die nutsmaatskappy te herstruktureer ten einde sy operasionele en finansiële volhoubaarheid (ook die volhoubaarheid van sy skuld) te verseker. Vrae oor Moody’s se siening daarvan om voorgeskrewe bates te gebruik om pensioenfondse te tap vir geld om Eskom uit sy verknorsing te red, is nie beantwoord nie.  Blykbaar is Moody’s se standpunt oor die kwessie dat te min besonderhede beskikbaar is om tot ’n konkrete gevolgtrekking te kom oor wat dit vir die land se kredietgradering kan beteken. Sy uiteindelike reaksie sal waarskynlik wees om dit teen te staan.

Moody’s het veral op fiskale besteding in die algemeen gefokus en sy standpunt het die indruk gewek dat die agentskap simpatiek staan teenoor die regering en die beperkings waarmee hy te kampe het, veral in die konteks van sy rol om herverdeling te bewerkstellig. Dit is duidelik dat die agentskap steeds ’n mate van vertroue het in die Ramaphosa-administrasie, wat deur Moody’s aangeprys word as “uiters hervormingsgesind”, al het die agentskap meermale beklemtoon dat hy skepties bly oor die regering se vermoë om hervormings wat broodnodig is vir groei, in te stel.

Wat die dinamika van regeringsinkomste betref, is melding gemaak van druk wat uit voortslepend gedempte groei voortvloei. Meer opmerklik was miskien die antwoord op ’n vraag oor of die kredietgraderingsagentskap ondersoek ingestel het na hoe die emigrasie van vaardighede moontlik strukturele druk op belastinginkome plaas. Anekdotiese bewyse dui daarop dat hoogs geskoolde individue groener weivelde in die buiteland opsoek en dié tendens die risiko inhou dat dit ’n reeds oorspanne belastingbasis verder wegkalwe.

Moody’s het aangedui hy sal die samestelling van die belastinginname en moontlike skuiwergate in die stelsel ondersoek en voorts gesê hy sal die emigrasiesyfers moet monitor om duidelikheid te verkry oor hoe dit die belastingbasis kan beïnvloed.

Wat die skulddienskoste betref: dit lyk na die komponent wat taamlik kommer wek, met goeie rede. Versuim om sy skuldterugbetalingskomponent te bedwing, hou groot risiko vir Suid-Afrika in. ’n Verdere verhoging in die land se risikopremie of agteruitgang in beleggersvertroue, byvoorbeeld, kan die terugbetalingslas proporsioneel laat toeneem deurdat rentekoerse verhoog.

Die agentskap hou die land se gevoeligheid vir sy skuldlas en beleidmakers se geloofwaardigheid, asook hul vermoë om te reageer, met ’n arendsoog dop.

Dit is insiggewend dat, ofskoon kommer oor die skuldlas steeds heers, Moody’s wel die struktuur van die land se skuld as ’n ondersteunende faktor uitgelig het. Dié siening berus op a) die termynprofiel van die land se skuldprofiel, b) hoe die grootste deel van die staat se skuld in rand gedenomineer is, en c) die regering se beperkte blootstelling aan buitelandse valutarisiko ondanks die groot persentasie buitelandse eienaarskap van plaaslike effekte. Laasgenoemde beklemtoon nietemin in watter mate Suid-Afrika aan ongestadigheid in die internasionale finansiële markte uitgelewer is.

Die kongres het geen klarigheid gebring oor wanneer ’n moontlike afgradering sal plaasvind nie, maar gegewe die agteruitgang in die fiskale dinamika en hoe vinnig die skuld/BBP-trajek steiler neig, is daar ’n wesenlike risiko dat die vooruitsig afwaarts aangepas sal word van stabiel tot negatief wanneer November se oorsig gepubliseer word. Dit is noodsaaklik dat die regering vinnig hervormingsmaatreëls in werking sal stel wat groei bevorder en die land se strukturele haakplekke uit die weg ruim ten einde die mediumtermyngroeipotensiaal te ondersteun.

Verder moet maatreëls getref word om die totale skuld/BBP-verhouding te stabiliseer. Sodanige maatreëls sal, na ons mening, werkbare omkeerplanne vir staatsondernemings moet insluit.

Foto: Sabine Peters/https://www.kredite.org/

Ten slotte

Terwyl die markte plaaslike bates ’n tyd gelede laer aangeslaan het om die land se gradering van onder beleggingsgraad te weerspieël, soos blyk uit die stewige risikopremie op staatseffekte en groter spreiding op kredietwanbetaling-ruilooreenkomste, sal dit nogtans vir sowel die ekonomie as beleggersentiment gevolge hê as Moody’s die land se kredietgradering uiteindelik tot rommelstatus afgradeer.

Dit lyk asof Moody’s in die truspieël kyk in sy beoordeling van onderliggende fundamentele faktore, veral wat fiskale en ekonomiese maatstawwe betref – wat natuurlik meebring dat hy met sy kredietontleding die agteros is. Die risiko is miskien mees tersaaklik vir maatskappye, want hul kredietgraderings neig om in pas met dié van die land te verander.

’n Gradering van onder beleggingstatus vir Suid-Afrikaanse maatskappye sal nie alleen die koste van hul skuld hoog hou nie, maar ook hul toegang tot kapitaal belemmer. Korporatiewe Suid-Afrika is reeds onder groot druk en om nog wind van voor te kry, sal hul winsgrense verder knou en die risiko van nog afleggings vergroot.

  • Van Deventer is die hoof van finansiële markte by ETM Analytics en ‘n gasskrywer op Sakeliga se webwerf.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van Sakeliga geplaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Cyril & Kie hoop goeie toneelspel sal die wèreld flous en sy geflikvlooi met leiers sakemanne se harte versag. Die lekker ou dae toe die ANC se trane hul beursie laat bult het is verby. Hul jammerspel het juis daartoe gelei dat swart inwoners traag is om verantwoordelikhede te aanvaar en misdrywe hoogty vier. Erger nog: Niks verbeter nie. Wie wil geld gooi na arrogante en onverantwoordelike lande… maak nie saak wat graderingsgroepe bevind nie.

Jerry ·

Korporatiewe Suid Afrika is ten volle bewus daarvan dat dit van hier af al die pad afdraande is, die dat daar gesamentlike georkestreerde positiewe veldtogte geloods word om beleggers te paai en mense te ontmoedig om te emigreer. Dit gaan mynsinsiens net daartoe bydra dat mense wie die erger ellende kon ontsnap, ook saam met die res daarin gedompel word, terwyl korporatiewe Suid Afrika bloot belange noodgedwonge buiteland toe gaan moet begin skuif, wat in sommige gevalle reeds aan die gebeur is. Die CR-administrasie is “uiters” hervormingsgesind in woorde, maar ongelukkig nie in dade nie, die dat daar dadels van gekom het met die herstrukturering van die staat en SOE’s asook dat geld nie meer in rand geleen word nie, maar in USA dollar. Die CR-administrasie het n welsynstaat geskep, daarvan getuig nie net die duisende onregmatige botallige poste by die staat en SOE’ nie, maar ook “grants” wat aan 18 miljoen Suid Afrikaners uitbetaal word. Geld word dus nie geleen om die ekonomie te herstel nie, maar om die gevolge van staatskaping te onderhou. Moody’s se oneerlikheid mbt SA se status dra daartoe by dat die CR-administrasie sonder streng voorwaardes aanhou om geld te leen en dit dan aanwend vir vrugtelose uitgawes, in plaas daarvan om dit aan te wend om te hervorm om die ekonomie te herstel. Sou die CR-administrasie geld by die IMF geleen het sou die streng voorwaardes hulle gedwing het om te hervorm, wat dus tans, nie die geval is nie!

Theresa ·

En wie moet ons bedank vir hierdie gemors…………….??!!

Gert ·

Herverdeling is maar net ‘n ander woord vir roof, waar mense se wettige besittings deur dwang afgevat word. Sommige noem dit weer sosialisme. Dit sal altyd lei tot ekonomiese agteruitgang.

Wielspore ·

Toe ek ‘n kind was, was ons 6 mense in die gesin, 4 seuns en ons ouers. Ons het in ons eie huis gewoon, daar was ‘n koei om te melk, paar hoenders om eiers te verskaf, lekker groot groente tuin met boorgatwater. Kos is gemaak op ‘n koolstoof wat ook die water warm gemaak het, elektrisiteit was minimaal gebruik. Hierdie metode van huishouding was volhoudbaar oor baie jare. Daar was geen raadgewers wat studies gedoen het en ons kom evalueer het om ons toekoms te kan bepaal. Die lewe was eenvoudig, my ouers het goeie werk gehad, ons as kinders het ook goeie werk gekry.
Vandag betaal ons mense om ons te vertel hoe sleg vorder ons, hoe bleek lyk ons toekoms, jou skuld is te veel, die meeste is doemprofete.
Nee regtig, uit my eie lewenservaring het meer as 98% van my bekommernisse nooit waar geword, ons word geleer om oor verkeerde goed bekommerd te wees. In die moderne tyd word ons nie geleer om kreatief te wees en self oplossing te vind.
Ons maak self ons eie lewens gekompliseerd!

"Positief" ·

Nog ‘n rede om rooskleurige sonbrilletjies te dra, ‘positief’ te wees en in die wonderlike land te WIL bly……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.